Kuier

SPEEL MET VUUR

Hy sê dalk die regte goed en laat haar weer jonk en jeukerig voel. Maar wil sy regtig met haar liefde en geluk dobbel? Deur Joanna Alexander

-

Prudence sit diep in gedagte, onbewus van die dokumente voor haar op die tafel. Haar ken rus in haar handpalm en haar elmboë is gestut op die harde tafelblad, maar al waarvan sy bewus is, is die deurmekaar gedagtes in haar kop.

Rede, skuldgevoe­l, opwinding en roekeloosh­eid dwarrel deurmekaar in haar kop rond, elkeen veg om gehoor te word … om die botoon te voer in die warrelwind wat in haar kop woed

“Waarmee is jy besig?”vra sy woordeloos aan haarself.

Sy weet sy’s besig om met vuur te speel, maar is dit haar nie beskore om ook vir een keer in haar lewe roekeloos en oneerlik te wees nie? Om ’n kans op ’n skelm avontuur aan te gryp nie? Sy weet immers wat is die moontlike gevolge …

Maar waarom voel sy dan so skuldig? Onwillekeu­rig bou die opwinding vanuit haar maag bietjie vir bietjie op totdat sy soos ’n simpel tienerbakv­issie sit en glimlag as sy aan hul skelm chats dink.

“Hei! Waaraan sit jy so diep en dink? Hier …”

Haar man, Charles, sit ’n koppie tee voor haar neer en vryf speels haar hare deurme- kaar. Hy weet sy haat dit.

“Jy moet daai dokumente klaar proeflees, Mevrou! Hou op sit en droom.”

Sy skrik skuldig uit haar mymeringe wakker, die opwinding heeltemal weg.

Sy glimlag vir haar man as hy in die rigting van hul slaapkamer stap.

Hy het reeds sy slaapklere aan en ’n koerant in sy hand. Sy kyk hom agterna.

Hy is nog steeds baie aantreklik en sy is ná twintig jaar nog steeds lief vir hom, maar … “Lekker slaap,”roep sy agterna. “Jy ook,”antwoord hy sonder om terug te kyk.

Sy weet nie waar het dinge skeef- of doodgeloop tussen hulle nie, waar het hulle verby mekaar begin leef nie, waar sy hom verloor het nie.

Hoe smag sy nie na sy aandag nie … net ’n kyk, net ’n aanraking … ’n geselsie nou en dan …

Sy kan nie onthou watter jaar laas hy vir haar gesê het hy’s lief vir haar nie.

Of voel hy nie net om haar so nou en dan teen sy bors vas te druk nie?

Sy wil hom so graag teen haar vasdruk en vra: “Is jy nog lief vir my?”

Maar hoe vra ’n mens dit aan iemand wat jou nooit meer in die oë kyk nie?

Iemand wat reguit vir jou sê hy hou nie meer van jou nie?

Iemand wat sê jy is te vet en hy is nie meer aangetrokk­e tot jou nie?

En môre dan is alles vergete en is hy kamma weer“lief”vir jou.

Die volgende oomblik skril haar foon en die chathead met sý foto verskyn op haar skerm. En so ook die opwinding in haar maag. Sy stel vinnig haar foon op vibrate. Sy weet dis ’n stout boodskap wat nou weer deurkom en sy kan nie bekostig om nog tyd te mors om te chat nie, maar sy kan haarself nie keer nie.

En voor sy haar kom kry, is ure verby en het sy nie ’n enkele dokument geproeflee­s nie.

Dis hy wat haar so deurmekaar het. Wat weer die verlede so helder in die gees kom roep het; haar heel eerste kamma-kêrel.

Hy het haar uit die bloute op Facebook ’n friend request gestuur en sy het hom sonder aarseling accept. Ten minste was daar iemand wat haar as vriend wou hê en met haar wou gesels … En sedertdien Kuier 58 | 17 MEI 2017

chat hulle daagliks op WhatsApp. Nou al vir maande.

Die meeste aande lê sy langs Charles en chat met haar vriend, terwyl Charles of koerant lees of op sy eie foon besig is.

Hy draai in elk geval net sy rug op haar en slaap.

Hoeveel keer het sy nie al die onderwerp probeer aanspreek en probeer verduideli­k hoe sy voel nie? Pure verniet. Maar … Die afgelope maande lewe sy weer. Sy voel weer soos ’n vrou.

Iemand kompliment­eer haar, hy luister na haar, al kla sy ook, hy stuur vir haar voice notes sodat sy weer sy stem kan hoor en hy stuur elke oggend vir haar ’n “Good morning”-boodskap. As sy vir hom ’n boodskap stuur, reageer hy, al is dit net om vir haar te sê hy kan nie chat nie, maar sal later reageer.

Nie soos haar man, wat al haar romantiese pogings om weer lewe in hul dooie liefdeslew­e te blaas, ignoreer nie. Deesdae het sy ten minste weer inspirasie om gewig te verloor. En om die lewe aan te durf!

“Ek is nog lief vir my man,”was haar woorde aan hom die eerste keer toe hy haar uit die bloute bel.“En ek het hom nog nooit verneuk nie.”

“Ek is ook baie lief vir my vrou, maar ons deel niks meer nie. Ek is verskrikli­k eensaam. Ek het iemand nodig wat my ook nodig het en na my luister, al praat ek nonsens.”

Prudence het gesug.“Ek verstaan presies wat jy bedoel, want dis my lewe.”

En nou wil hy haar ontmoet. Moet sy die risiko loop en hom ontmoet? Moet sy aanhou chat met hom? Of moet sy dit stopsit? Maar sy weet klaar wat is die antwoord …

“Ja, ek sal jou ontmoet,”het sy geantwoord toe hy haar bel. “Bedoel jy dit?”Hy het uitasem geklink. “Ja jong, for old times’sake. Ek wil weer jou lekker lag hoor …”

“Ja, Prudence, ons twee kon ons annerdag doodlag oor simpel goed, né?”

Maar sy kan nie verhelp om te wonder wat gaan in sy kop aan nie.

Sy wens sy kon ’n kykie in sy kop kry. Sy is nou so onseker of sy die regte ding doen. Sy’s darem nie meer ’n verspotte tiener nie.

Om haar reputasie en huwelik op die spel te plaas, is ’n risiko. Maar dan ook weer … watter huwelik? Dis nie asof sy veel het om te verloor nie. En … hy klink sincere as hy sê hy dink nog baie aan haar en hy is spyt hulle het destyds opgebreek.

En al die mooi goed wat hy vir haar sê? Goed wat haar man lankal nie meer vir haar sê nie.

Moet sy nie maar net hou by dit wat hy haar nou bied nie? ’n Oor, mooi woordjies, en die aandag wat sy nie by Charles kry nie? Hoekom dinge kompliseer?

Maar diep in haar hart smag sy na ’n hand wat sy oor haar vel kan voel streel, ’n mond wat saggies in haar oor sweet nothings fluister, iemand wat haar in haar oë kyk voor hy haar soen; iemand wat haar kan vashou en soos ’n begeerlike vrou laat voel en iemand wat net haar behoeftes as vrou kan erken. Iemand soos haar man, lank, lank gelede.

Anyway, sy weet mos waar sy met haar vriend staan en waar hy met haar staan: Hy’s lief vir sy vrou – en sy is lief vir haar man. Dié is net ’n tussenspel …

Alles gaan immers maar net daaroor om hul fisieke behoeftes te bevredig.

Prudence gaan slaap uitgeput, sonder dat sy ’n enkele dokument geproeflee­s het. Maar sy“good night”-boodskappi­e is alte romanties – terwyl haar man al lankal lê en snork.

Die ontmoetdat­um moet nou versigtig vasgestel en beplan word.

”Prudence, ek kon nie gisteraand slaap nie. Ek is so excited; en jy?”

“Ek’s ook excited, maar bang. Wat as dinge skeefloop, of as jou vrou of Charles uitvind? Ek kan ook nie slaap nie.”

“Moenie worry nie, niks sal skeefloop nie. Ek het als haarfyn uitgewerk. Ek moet oor ’n maand in Kaapstad wees vir besigheid. Dan vlieg ek jou op. Jy het ’n maand om ’n rede vir jou naweek in Kaapstad uit te dink. Hoe klink daai? By the way, ek kan nie meer wag om jou ná al die jare weer te sien nie.”

“Dis reg so. My hart wil ook nie stillê in my borskas nie.”

“Prudence, jy beteken baie vir my. Jou vriendskap, jou stoutighei­d en jou geduld om na my te luister as ek down is. Ek belowe, ek sal jou nie teleurstel nie. Trust me. Jy is té spesiaal vir my.”

“Ek trust jou en ek weet wat ons doen is so verkeerd, maar dit voel so 100% reg. Ons mag darem seker so nou en dan selfsugtig wees en net aan ons eie behoeftes dink, of hoe?”

Twee weke later, op ’n Vrydagaand en twee weke voor die groot ontmoeting, chat hy en Prudence weer. Hy sê die sweetste goed en Prudence blom.

Sy weet dat hy in hul geboortedo­rp is vir ’n begrafnis.“Ek wens ek was ook nou daar, dan kon ek jou nou gesien het,”klink Prudence werklik spyt.

“Ja, dit sou nice, maar risky gewees het, want hier’s te veel mense wat ons albei ken. Gelukkig is hier darem een van my baie ou skelmpies om die aand vir my lekker te maak. Ek wens jy was hier, Prudence. Chat later.”

Prudence se bloed kook behoorlik as sy dit lees. Haar hand wat die foon vashou, bewe liggies en haar eerste impuls is om onmiddelli­k vir hom te vertel waar hy kan gaan afspring, maar gelukkig, en met die uiterste inspanning, wen haar sober self.

Dit neem haar ’n hele paar minute om tot verhaal te kom en sy vermetelhe­id te verwerk, maar dan dring die besef eindelik tot haar deur dat sy geen reg op hom het nie.

Net soos sy deur hom mislei is, is daar seker hoeveel ander vrouens, ander skelmpies, wat in dieselfde strik getrap het … vrouens wat net so eensaam en afgeskeep soos sy voel . . . vrouens wat hy ook spesiaal laat voel het.

Sy besef hartseer dat sy ook maar net ’n skelmpie was en dat skelmpies nooit, ooit spesiaal sal wees nie; dat geen man ooit ’n skelmpie met respek sal behandel nie, want die respek is vir hul eie vroue beskore.

Sy stuur vir hom ’n soentjie en skakel haar foon af. Sy kruip saggies agter haar man se koue rug in.

Sy vee so ongemerk moontlik haar trane af en dank die Vader dat haar oë betyds oopgegaan het en dat sy hom nie ontmoet en dalk nog met hom intiem verkeer het nie.

Môre sal sy vir hom sê hul naweek saam is af. En dan sy nommer delete.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa