VOORBLADSTORIE:
Aktrise June van Merch is in die fleur van haar loopbaan
Haar persoonlikheid is net so lewenslustig, opgewek en dinamies soos dié van die karakters waarmee sy kykers en gehore al vir langer as drie dekades vermaak. Maar steeds raak mens nooit moeg van die talentvolle June van Merch se aansteeklike lag nie. En op 54, sê sy, begin haar goeie jare nou éérs.
Met haar kenmerkende krulle, wat nou ál ligter geraak het met ouderdom, het SuidAfrikaners haar in 1999 vir die eerste keer in hul sitkamers leer ken as die snaakse fabriekwerker Patsy in die komediereeks Fishy Fêshuns.
Sy erken dat sy destyds nog baie selfbewus was en snaaks genoeg nie heeltemal gemaklik voor die kamera was nie, maar ’n mens kan dit amper nie glo wanneer jy na dié selfversekerde vrou luister wat nou so gemaklik in haar eie vel met Kuier gesels nie. June sê haar tyd vir terugstaan is verby.
Toe sy jonger was, moes sy dikwels met ondersteunende rolle tevrede wees omdat mense in die bedryf gemeen het sy is nie mooi genoeg om ’n romantiese hoofrol te speel nie. Maar nou, sedert sy ouer is en die bedryf ’n behoefte het aan aktrises wat ouer karakters kan speel, sê June kom sy tot haar reg.
veelsydige talent
Deesdae tree sy gereeld by kunstefeeste op en speel sy tans in twee televisiedramas op kykNET. June is te sien in Sara se Geheim en Die Boekklub en hoewel sy kinderloos is, gebruik sy dikwels haar verhouding met haar ma as inspirasie vir haar karakters.
June vertel met oortuiging – en daardie beklemtonende gesigsuitdrukings waaraan kykers al gewoond geraak het – dat die sukses wat sy nou in haar loopbaan smaak alles met haar selfvertroue en positiewe selfbeeld te doen het.“Be in the front row, het my ma altyd gesê toe ek ’n bietjie teruggestaan het. Nou is my tyd vir wegkruip verby. Ek het meer confidence en ek dink dit is hoekom mense nou meer van my sien. Soos jy ouer word, raak jy meer gemaklik met jouself en só kom die werk na jou kant toe. Wanneer jy jonk is, is jy nog vol anxiety en het jy nie heeltemal vertroue in wat jy doen nie, maar soos jy ouer word, verdwyn dit.”
Maar ’n mens skrik nie net eendag wakker en is gemaklik in jou vel nie. Dit is iets wat oor ’n lang tydperk gebeur en tref almal tydens verskillende fases van hul lewens. Vir June het dit in haar laat 30’s gebeur toe sy vir vyf seisoene aan die televisiereeks Going Up gewerk het.
Sy meen dit is waar sy geleer het om gemaklik voor die kamera te wees en waar sy ’n dieper deel van haarself leer ken het.
“Dit was ’n ander soort ervaring vir my. Ek sal nie sê dit was die bewustheid van die fame nie, want vir my het dit nog nooit daaroor gegaan nie, maar Going Up set me up for life. Dis waar dit begin het. Dit was my werk en dit was lekker vir my. Niks politics en negative egos nie.
“My wonderlike verhouding met Joe Mafela is iets wat ook baie spesiaal is vir my en dis daar waar hy my so baie geleer het. Dit was vir my regtig ’n goeie grondslag vir my confidence voor die kamera,”sê sy.
Al het sy nou die selfvertroue, sê June, kies sy nie haar rolle nie, hulle word eerder
gesien as ’n weerkaatsing van sekere fases van haar lewe.“Die rolle kies my. Hulle resonate amper by my. Met sekere fases van my lewe het sekere rolle opgedaag en dit is hoe ek werk. Vir almal is dit anders. Sara is ’n goeie voorbeeld, want dit is ’n bewuswording van my mammie.”
Sy glimlag en haar oë word helder wanneer sy van haar ma, Ousie (86), praat. Haar ma is oorspronklik van die Noord-Kaap, maar woon nou in Beaufort-Wes.“Sy is 86, maar Mammie praat nie soos ’n oumens nie en is selfs sterker as wat ek is,”sê June.
“Mammie se ma was die produk van ’n wit man. Toe my ma begin oud raak, het sy baie daarvan begin praat; daar was nooit voorheen daarvan gepraat nie. So, die resonansie van Mammie se bewuswording en my bewuswording van waar ek vandaan kom, gaan amper hand aan hand.
“Dit is interessant wanneer jy jou werk doen en dit geniet, dan gaan die tyd net verby. Jy worry nie meer oor tyd nie, jy vergeet eintlik daarvan. My longivity in hierdie bedryf het ook meestal te doen met die talent wat die Here my gegee het.”
June het die vermaakbedryf betree nadat haar Afrikaans-onderwyser vir haar gesê het sy moet drama gaan studeer en volgens June het daardie onderwyser iets gesien wat sy self nie raakgesien het nie.
Sy het toe drama op Stellenbosch geswot.“Almal van my ouderdom het maar met die skooltoere begin, waar ons die voorgeskrewe boeke van die st.10studente (matrieks) opgevoer het. So, daar het dit maar begin, dit het niks te doen met die so-called fame nie. ’n Bekendheid in die werk van die industry was nog nooit vir my belangrik nie. As jy ’n talent het en jy gebruik dit nie, volg hy jou amper,”sê sy.
“Sommige van ons het nie die luxury om te doen wat ons talente ons gee nie; jy sal sien jy kry somtyds onderwysers wat vreeslik is, want hulle moes nooit onderwysers HOOFFOTO: June van Merch vier nou haar goeie jare. BO: Sy speel tans ’n hoofrol in
Sara se Geheim op kykNET. REGS: Op 54 lyk sy beslis goed. geword het nie. Hulle moes miskien die matrone van ’n hospitaal geword het. So ek was gelukkig om my talente te kan uitleef.”
In moeilike tye
Maar tog, vertel June met ’n effens meer ernstige uitdrukking op haar gesig, dat dit nie altyd maklik in die vermaakbedryf is nie. In die winterfase van haar lewe, soos wat sy dit beskryf, het dit maar ook soms moeilik gegaan. Werk was baie skaars en in 2010 het dit so moeilik gegaan dat sy die verhoog vir die klaskamer moes verruil vir ’n inkomste. Sy sê dit is gedurende dié tyd dat dit moeilik geraak het om nie depressief te raak nie, maar sy troos haar daaraan dat ’n mens daardeur ook kom.
“Toe ek in 1979 op Stellenbosch was, het Mammie vir my gesê,‘my kind ek dink jy moet onderwys ook gaan swot’. Dit is wat ek gedoen het en dit is wat my uit my moeilike situasie uitgekry het. Ek het vir ses maande lank gaan skoolhou en dit het my ook weer in die bedryf ingebring. Ná ses maande het deure net begin oopgaan en toe is ek weer terug,”vertel sy.
Volgens June het sy nooit daaraan gedink om uit die bedryf te tree nie, al was dit nie altyd maanskyn en rose nie.
“Dit was ’n moeilike tyd, maar ek het geweet dit is net ’n stil tyd. Dit het natuurlik ook gehelp dat ek nie kinders het nie. Ek moes net vir myself en my honde sorg.
“Ek moes ook studente inneem sodat ek my bond kon betaal, maar die wintertydperk was goed. Dit gee ’n mens tyd om te dink. Dit stroop jou van alles, maar somtyds het ’n mens dit nodig. Dit gee jou nuwe perspektief. Só leer jy ook om te glo en dit hou jou humble,”sê sy. “Soms is die stroping ook nodig, die stroping van alles. Om moed te hou het ek baie keer vir myself ses snytjies brood gepak met regte botter daarop, want dit moet regte botter wees, en my fles koffie en dan het ek vir die dag rondom die Peninsula op my scooter rondgery. Maar ek het daardeur gekom en ek het dit alleen gedoen. ’n Mens saal nie ander met jou probleme op nie, maar gelukkig was my ouers ook altyd daar vir ondersteuning.” June, wat deesdae in Kaapstad woon, maar grootgeword het in Mosselbaai, het nog altyd ’n sterk verhouding met haar familie en veral haar ma gehad. “Mammie is die komediant. Sy is baie snaaks en sê die snaakste goed, dit is waar ek my komedie-talent kry. Sy is ’n NoordKaapse nooi en het nie regtig ’n formele opvoeding gehad nie, maar sy was die spreekwoordelike krag agter ons gesin. “Ek was eintlik Daddy’s girl en so agt jaar terug toe my pa siek raak, moes ek gaan help by die huis. Só het my verhouding met my ma net sterker geword.“My ma se unconditional love vir haar kinders en daardie sterk vrou is wat ek met Sara uitbeeld.” June sê reguit aftree is nie vir haar nie. Sy wil ’n tydjie afknyp om in ’n luukse karavaan deur Afrika te toer, maar sy beplan om nog lank in die bedryf te wees. “Ek gaan aanhou tot ek doodgaan of tot ek 80 is. Daar is baie jong talent en hulle is goed. Hulle hou ons op ons tone, maar die bedryf het ’n behoefte aan ouer karakters en ouer aktrises is yl gesaai. So ek is bly dat ek nou daar kan wees.”
Met sekere fases van my lewe het sekere rolle opgedaag en dit is hoe ek werk.