Kuier

MEESTERLIK­E SJEF:

Ou van Kaapse Vlakte kook nou storm los in Amerika

- Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Meer as twintig jaar gelede het ’n outjie van die Kaapse Vlakte ’n groot droom gehad om oorsee te gaan studeer en sodoende ’n sukses van sy lewe te maak. Hy was bereid om alles vir daardie droom te waag, al het min mense hom ’n kans gegee. Maar op net 18 is ’n vasbeslote Elderoy Arendse sak en pak New York toe om sy droom na te jaag.

Wanneer mense oor New York praat, dink jy aan die besige strate, Times Square, Broadway, geel taxi’s en wolkekrabb­ers. Daar is min stede ter wêreld wat jou aan glitz en glamour laat dink soos New York, maar vir Elderoy was sy eerste ervaring van dié stad allesbehal­we glansryk.

Danksy sy ma en suster het hy ná hoërskool die geleenthei­d gekry om Amerika toe te gaan.“As dit nie vir my ma en my suster was nie, weet ek nie wat ek vandag sou gedoen het nie. Ek is na Amerika waar ek die LaGuardia Community College bygewoon het, maar ek moes vir my eie studies betaal. Almal droom daaroor om die American dream te leef, maar ek was baie bang.”

Elderoy het vinnig besef dit gaan nie so maklik wees om in ’n vreemde land vir homself te sorg nie. Hy het ook gesukkel om werk te kry. Hy het begin moed opgee toe hy uiteindeli­k as ’n kelner aangestel is.

Wat toe begin het as ’n vinnige manier om geld te maak sodat hy vir sy studies kon help betaal, het gelei tot ’n kosreis wat hom uiteindeli­k die eienaar van sy eie restaurant in Los Angeles gemaak het.

Maar wanneer Elderoy (nou 43) sy storie aan ons via Skype vertel, begin hy by Manenberg op die Kaapse Vlakte waar hy as die jongste van tien kinders gebore is. Volgens hom was daar nie baie geleenthed­e vir jongmense gedurende sy grootwordj­are nie en het dit hom al in ’n paar moeilike situasies laat beland.

Elderoy sê hy hou nie daarvan om daaroor te praat nie, maar erken wel hy het ’n hele paar struikelbl­okke as jongmens ervaar.“Omdat jongmense in my gemeenskap min keuses gehad het en armoede ook ’n groot probleem vir baie was, het jongmense dikwels by misdaad betrokke geraak.

“Dit was moeilike omstandige­hede, maar dit was gedurende apartheid en dwelms en geweld was ’n groot probleem. Selfs tóé was bendes al ’n probleem en my ma wou nie hê ons moes by daardie goed betrokke raak nie. Ek het nie altyd die beste vriende gekies nie en het ook dom besluite gemaak.

“My ma wou altyd net die beste vir ons gehad het, my beskerm en seker maak dat ek van my slegte gewoontes en vriende wegkom. Sy het my na my ouer suster in Amerika gestuur,”sê hy.

Terug by die kos, vertel Elderoy hy het

vinnig besef die voedselbed­ryf is eintlik sy passie en nie rekeningku­nde wat hy toe studeer het nie. Hy wou eerder in die kombuis werk as voor in die restaurant.

Kos soos sy ma s’n

“Ek het geen kombuiserv­aring gehad nie, maar ek het geweet dit is wat ek wou doen. Die sjef van die restaurant het gesê hy sal vir my ’n kans gee, maar het bygevoeg dat ek eers vir ’n jaar skottelgoe­d moes was voordat ek ’n kans sou kry om enige kosvoorber­eiding te doen. Ek het gou bewys dat ek ernstig was oor die beroep en het hard gewerk totdat ek met kosvoorber­eiding kon help,”vertel Elderoy.

“Kook het so natuurlik vir my gekom. Ons het grootgewor­d met die lekkerste huiskos wat my ma vir ons gekook het. Ons het gehou van lekker eet en my ma het die beste bredies en Cape Malay-kosse gemaak. Ek dink ek het haar kos as inspirasie in die kombuis gebruik en ek gebruik dit vandag nog.

“Ek het kort nadat ek begin kook het, my studies gelos om my passie te volg. Oor die volgende nege jaar het ek in verskeie restaurant­e in New York gewerk en alles van die kombuis geleer.”

Sy loopbaan was besig om te floreer en dit het gelyk asof dinge vir hom begin uitwerk, maar hy het altyd huis toe verlang, na sy ma en familie wat in die Kaap agtergebly het. Ná amper 10 jaar in Amerika was hy nog nie weer terug in Suid-Afrika nie.

In 2002 het hy na Los Angeles verhuis, waar hy onder beroemde sjefs soos Gino Angelini en Jason Travi gewerk het. Elderoy beskryf hulle as die sjefs wat vir hom sy kookvaardi­ghede verfyn het en hom gelei het tot die styl van kookkuns waarvoor hy vandag baie lief is.

Onder leiding van Angelini, ’n Italiaanse sjef, het hy die basiese beginsels van eenvoudige Italiaanse kos geleer. Terwyl hy met Travi gewerk het, het hy meer Mediterree­nse kos begin kook en by hom aangesluit om sy eie restaurant, Fraiche, oop te maak. Elderoy het uiteindeli­k by Travi oorgeneem as hoofbaas toe Travi besluit het om met ’n gesin te begin.

Hy het begin naam maak en dinge kon nie beter gaan nie. Hy was in die proses om Amerikaans­e burgerskap te bekom toe hy hoor dat sy ma terminaal siek was.

“Ek en my ma het gereeld gesels, maar daardie dag het haar stem anders geklink. Ek kon hoor sy het iets op die hart. Sy wou nooit hê ons moet bekommerd wees nie, maar daardie dag kon sy dit nie meer inhou nie. Sy het vir my gesê dat sy baie siek is en dat die dokters nie vir haar baie tyd gee nie. Ek sal daardie oproep nooit vergeet nie. Ek wou onmiddelli­k op ’n vliegtuig klim en by haar wees, maar my ma het geweier,”sê hy.

“Sy het vir my gesê sy is orraait en dat sy graag wou hê dat ek eers my burgerskap moes kry. Sy wou hê ek moet my geleenthed­e gebruik en die beste lewe hê. Nadat ek Fraiche verlaat het, het ek vir die eerste keer in 16 jaar na Suid-Afrika teruggekee­r, maar toe is my ma reeds oorlede. Dit was hartseer, maar spesiaal om met familie te kon wees. Alles wat ek vandag bereik het, is danksy my ma se liefde en omgee. Daardie eerste besoek terug in Suid-Afrika was deel van ’n broodnodig­e vakansie en ek het my tyd gebruik om weer te connect met die kosse en geure van my jeug. Geïnspiree­r en revived, het ek teruggekee­r na Los Angeles waar ek by die Tender Greens-span aangesluit het.”

Nadat hy teruggekee­r het na Los Angeles het hy ’n nuwe liefde vir die lewe en kos ontwikkel. Hy was ook gereed om nuwe hoogtes in sy loopbaan te bereik.

In 2015 het Elderoy deelgeneem aan die Amerikaans­e kookkompet­isie Chopped. Dié kompetisie is soortgelyk aan

MasterChef, maar dit is meestal profession­ele sjefs wat teen mekaar meeding. Hulle is van die beste sjefs in Amerika en die program word weekliks deur duisende kykers wêreldwyd gekyk. Elderoy het sy deelname aan hierdie beroemde Food Network-program ter ere van sy ma gedoen en is die enigste Suid-Afrikaner wat al as kampioen aangewys is.

As deel van sy prys het hy 10 000 dollar (ongeveer R130 000) gewen en van die geld gebruik om weer by sy familie in SuidAfrika te kom kuier.

Hy het onlangs weer aan die kompetisie deelgeneem, waar hy teen ander kampioene gekook het vir 50 000 dollar (sowat R650 000). Hy het tweede in die eindronde geëindig.

ná al die harde werk

Danksy sy deelname aan die program kry hy vandag die beste tafel by enige restaurant en besoek hy New York gewoonlik vir werk of as ’n gas by ’n nuwe restuarant.

Vandag is hy die hoofsjef en medeeienaa­r van Tender Greens, ’n gewilde uithangple­k vir Hollywood-celebs. Daar het Elderoy al vir bekendes soos Charlize Theron, The Rock en Chris Brown gekook.

“Dit is ’n droom vir ’n sjef wie se eie oortuiging­s, kookstyl en plaas-tot-vurksensit­iwiteite vir hom belangrik is. My ma het altyd geglo dat ons baie vrugte op ons bord moet hê.

“Ons het nie altyd baie geld gehad nie en somtyds het dit maar swaar gegaan, maar my ma sou haar laaste geld gebruik om seker te maak dat daar vars groente en vrugte in die huis was.

“Vandag is al my sukses aan my ma te danke en word sy nog baie as inspirasie gebruik wanneer ek kook.

“Ek wens net sy was hier om dit met my te geniet.”

My ma wou altyd net die beste vir ons gehad het, my beskerm en seker maak dat ek van my slegte gewoontes en vriende wegkom.

 ??  ?? LINKS en BO: Elderoy Arendse (43) sê kook is vir hom so natuurlik soos kan kom. REGS ONDER: Sy ma was en is steeds sy inspirasie.
LINKS en BO: Elderoy Arendse (43) sê kook is vir hom so natuurlik soos kan kom. REGS ONDER: Sy ma was en is steeds sy inspirasie.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa