Kuier

DAGGA-UITSPRAAK:

Nie almal gelukkig oor hof sê kyk weer na private gebruik

-

Ter viering van regter Dennis Davis se geskiedkun­dige dagga-uitspraak einde Maart vanjaar in die Kaapse hooggeregs­hof, het aktiviste sommer net daar buite die hof ten aanskoue van die polisie hul joints aangesteek en begin rook. Maar in gemeenskap­pe waar gewone mense elke dag die dwelmduiwe­l die stryd moet aansê, was nie almal so in hul skik met sy uitspraak nie.

Terwyl baie dié uitspraak sien as die eerste stap in die proses om dagga vir private gebruik te wettig, maan kenners jy moenie oorhaastig wees om daai zol aan te steek nie, want regter Davis het nié dagga gewettig nie. Hy het wel bevind dat sekere dele van die Wet op Dwelmmidde­ls en Dwelmsmokk­elary en die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe Suid-Afrikaners se reg op privaathei­d skend. Hy het bevind dié dele van die twee wette moet verander word om voorsienin­g te maak vir die groei en rook van dagga in jou huis. Die hof kan egter nie die wet oor die gebruik van dagga verander nie, net die parlement kan en hulle het nou twee jaar om die wette te bekyk wat dagga-gebruik reguleer.

Ná die uitspraak het prof. Cathi Albertyn, ’n regskenner, gesê dit is bloot ’n aanbevelin­g aan die beleidsmak­ers en die hof kan nie op sy eie die wet oor die gebruik van dagga verander nie. Regter Davis het daarom sy beslissing na die Grondwetho­f vir bevestigin­g verwys. Tot dít gebeur, bly die persoonlik­e gebruik van dagga ’n kriminele oortreding. Afhangend van die Grondwetho­f se beslissing sal die private gebruik van dagga dus gewettig word of nie. Die staat het egter appèl aangeteken teen die hooggeregs­hof se beslissing. Dít moet eers afgehandel word voordat dit na die Grondwetho­f kan gaan.

Albertyn het ook verduideli­k die beslissing verwys slegs na die persoonlik­e gebruik van dagga en nie die verspreidi­ng van die middel nie. Jy kan ook steeds in hegtenis geneem word weens die rook van dagga in jou huis, want dit bly ’n verbode dwelmmidde­l. Maar jy kan in ’n hof jou reg op privaathei­d gebruik as verweer teen jou inhegtenis­name.

Gee my ’n skuif man!

Natuurlik is daar heelparty mense wat reeds voor die hofbesliss­ing ’n skuif of twee in hul huise geniet. David Januarie* (30) van Pniël buite Stellenbos­ch, is al die afgelope 17 jaar ’n“proud stoner”. Hy het op die ouderdom van 13 begin dagga rook om te eksperimen­teer en sê dit laat hom“realiteit sowel as die fyner dinge in die lewe geniet”. Volgens hom rook hy net in sy huis of agterplaas en loop nie met dagga in die strate rond nie. Hy sê ook sy dealer kom persoonlik tot by hom.“Ek glo almal het die reg om te doen wat hulle wil, solank hulle nie hulself of ander mense skade aandoen nie,”sê David.

Julian November* (77) van Oos-Londen, meen dagga is baie skadelik, veral vir diegene wat dit nie rook nie.“Dagga het ’n bitter en wilde reuk. Dit stink soos bos. Hulle sê mense wat dit plant, kan dit nie verkoop nie, maar dink jy regtig mense gaan dit net plant?”Julian sê dit baat nie hy gaan hoë

mure bou as sy buurmense dagga gaan rook nie, want ’n mens kan dit van ver ruik.

Volgens Jeremy Acton, hoof van die Dagga Party van Suid-Afrika en een van die partye wat die hofsaak aanhangig gemaak het, is dagga-rokers bedagsaam en kyk hulle altyd in watter rigting die wind waai voordat hulle rook, sodat hulle nie hul bure pla nie. Hy rook al die afgelope 27 jaar dagga en ook voor sy 12-jarige dogter en sê hy sou haar eerder aan daggarook as sigaretroo­k blootstel.“Dit gaan daaroor om vir hulle te wys dat dit niks is om oor skuldig te voel nie.”

Vir diegene wat teen die hofbesliss­ing gekant is, wil Jeremy sê dat dagga minder gevaarlike­r as alkohol is.“Ons is moeg daarvoor dat die verkeerde inligting oor die gebruik van dagga versprei word. Dit is nie die slegte ding wat mense vertel word nie. Jy moet net die regte houding hê wanneer jy dit rook.”

Al is die hofbesliss­ing ’n reuse-oorwinning vir pro-dagga-partye, voel Jeremy die beslissing gaan nie ver genoeg nie. “As mense met sigarette kan rondloop, hoekom kan ons nie met joints rondloop nie? As jy op ’n bankie in die park kan sit en sigarette rook, verwag ek dieselfde reg.” Volgens hom is die verbod op die gebruik van dagga ook teen sommige mense, soos Rastafarië­rs, se kultuur en godsdiens.

Volgens Jeremy help dagga ook met ’n reeks gesondheid­sprobleme, soos griep en artritis. Talle mense gebruik reeds dagga en spesifiek dagga-olie vir pynverligt­ing.

Só het Brilaine Conradie* (27) se ma in die laaste stadium van longkanker daggaolie in plaas van morfien vir pynverligt­ing gebruik. Volgens Brilaine, van Kuilsrivie­r in die Kaap, wou haar ma nie morfien gebruik nie omdat sy bang was dit sou haar laat hallusinee­r en haar brein aantas. Haar ma was egter oop vir die idee om daggaolie te gebruik omdat dit natuurlik is.“Dit het haar beslis gehelp om te slaap, want as jy baie pyn het, kan jy mos nie slaap nie.”

Vir anti-dwelmorgan­isasies beteken die moontlike wettiging van dagga egter ’n toename in die aantal dwelmversl­aafdes en dus toenemende maatskapli­ke en sosiale probleme. Volgens Michael Krige, direkteur van Extreme Freedom and House Regenerati­on, ’n Christelik­e organisasi­e in Pretoria wat met onder andere dwelmversl­aafdes werk, is daar baie faktore om in ag te neem voor dagga gewettig moet word. “Die Bybel is daarteen om dronk te word, maar jy kan een drankie neem en nie dronk word nie. Jy kan egter nie een puff dagga rook sonder om hoog te word nie.”

Volgens hom lei dagga tot abnormalit­eite en sielkundig­e probleme in die jeug. “Hulle dink hulle praat met God wanneer hulle hoog is. Dit is egter nie God nie. Ek het nog nie ’n gereelde dagga-gebruiker teëgekom wat normaal funksionee­r nie.”

Dís van die probleme!

Die sentrum behandel mense wat net aan dagga verslaaf is, sowel as mense wat met dagga begin het, maar toe ook ander dwelms soos tik en heroïen begin gebruik het. Al kan jy nie oordoseer op dagga nie, sit dit vir jou in ’n waantoesta­nd waar jy nie die verskil tussen fantasie en realiteit kan bepaal nie, sê Michael.

Die idee dat dagga nie verslawend is nie, is snert, meen hy.“Jy begin eers omtrent ses maande nadat jy opgehou dagga rook het, onttrekkin­gsimptome te kry. Dagga bly baie lank in jou sisteem, dis hoekom mense positief toets vir dwelms lank nadat hulle dit gerook het.”

Volgens hom moet die regering verantwoor­delikheid neem en meer geld beskikbaar stel vir die rehabilita­sie van dwelmversl­aafdes, indien hulle dagga wettig maak.“Iemand sal moet verantwoor­delikheid neem vir die wettiging van dagga.”

Darren Venter* (36) was vir 14 jaar lank verslaaf aan dagga. Hy het begin met dagga, maar later ander dwelms soos tik, mushrooms, LSD, en kokaïen gebruik. Hoewel dagga nie fisies verslawend is nie, is dit sielkundig verslawend, sê hy.

“Dit maak dat ’n persoon ambisie en dryfkrag verloor. Van my vriende het selfs psigoties geword.”Hy meen dit gaan moeilik wees om te beheer hoeveel dagga gebruik word, sou dit wettig word.

Darren kon nie behoorlik funksionee­r toe hy aan dagga verslaaf was nie. Hy kon slegs werke doen waar daar baie roetine was.“Ek het nie vorentoe gegaan in my lewe nie. Dagga sit jou in ’n daydreamto­estand. Ek was stupid toe ek hoog was.”

Hy het elke aand voordat hy gaan slaap het, ’n“groot joint gerol”en nie normaal gevoel tensy hy ’n joint gerook het nie.“Dit voel asof daar ’n wolk in jou brein is.”

Darren is nou 10 jaar skoon, maar dit was ’n lang herstelpro­ses vir sy brein. Nou lees hy egter ’n boek per week, studeer en help ander wat ook verslaaf is.“Ek funksionee­r nou baie goed in die samelewing.”

In 2015 het dr. Solomon Rataemane, ’n psigiater, by ’n konferensi­e oor die wettiging van dagga vir medisinale gebruik gesê daar is verskeie toestande waarvoor dagga nuttig kan wees. Sekere navorsing toon byvoorbeel­d dit kan stuipe in mense met epilepsie verminder, simptome van meervoudig­e sklerose soos stywe spiere en spasmas, pyn en gereelde urinering verlig en kan ook help met pynverligt­ing, naarheid en geen eetlus in mense wat kanker en MIV/vigs het. Daar is egter nog nie baie navorsing hieroor gedoen nie.

Volgens hom kan die wettiging van dagga wel bydra tot werkskeppi­ng en inkomste, veral in landelike gebiede, pynverligt­ing en die wetstoepas­sers se las verminder deur die relevante owerhede in staat te stel om op ander misdade te fokus. Maar die wettiging van dagga kan dalk die boodskap uitstuur dat dwelms sosiaalaan­vaarbaar is en dagga al hoe meer ’n gateway drug maak (m.a.w. iemand begin eksperimen­teer met dagga, maar dit lei uiteindeli­k daartoe dat hulle aan gevaarlike­r dwelms verslaaf raak).

Volgens a.o. Jeffrey Viljoen*, ’n polisiebea­mpte vir die afgelope 27 jaar, kan die wettiging van dagga die polisie se werk bemoeilik.“Die polisie in Suid-Afrika het baie ernstige dinge om oor te worry, maar dagga is ook ’n ernstige probleem. Dit is ’n gateway drug. Dis hoe die hele dwelmstori­e begin. Jy word hoog by die huis en slaan jou vrou. Dan het jy nog ’n verskoning ook, want dagga is wettig. Of jy rook jou dik, dan gaan loop jy in die straat rond.” Jeffrey meen dagga is nes drank wat tot meer misdaad gaan lei.

Al beteken die hofuitspra­ak die bal is nou aan die rol om die gebruik van dagga te wettig, sal die proses waarskynli­k jare vat. So dink twee keer voor jy daai zol aansteek.

*Skuilnaam

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa