Kuier

WARE LEWENSDRAM­A:

Vrou skud die vette af en help nou ander!

-

Enigeen wat al gewig probeer verloor het of dit wel al verloor, maar toe weer opgetel het, sal kan getuig van watter op-en-af-stryd dit is om die ekstra vetrolle af te skud. En as jy boonop uit ’n familie kom waar almal groot is en baie-eet normaal is, kan dit ’n verlore stryd word.

Dít was Alison Tobias-Meintjies (40) van Caledon in die Wes-Kaap se realiteit haar hele lewe lank, maar toe sy in 2015 ’n skaal by die scrapyard op 209 kg laat kreun (sy was te groot vir ’n gewone skaal), het dié ma van twee besluit dit stop dadelik.

Sy was moeg van konstant moeg en lusteloos wees en moeg daarvan dat sy die lewe meestal sit-sit moes aanpak en dat die gewig haar só teruggehou het dat sy nie fisieke aktiwiteit­e saam met haar dogters, Emily (9) en Éli (6), kon doen nie.

Wanneer ’n mens gewig probeer verloor, is selfmotive­ring en deursettin­gsvermoë twee belangrike aspekte, maar as jy jou gewigsverl­iespad sáám met iemand kan stap, maak dit dinge ’n bietjie makliker. In Alison se geval was dit haar suster, Loriaan (33), ’n lupus-lyer, wat in 2015 hierdie pad saam met haar begin stap het.

Hulle wou albei gesonder begin lewe, was as susters onafskeidb­aar en het mekaar gedra op hierdie journey. Saam het Alison en Loriaan ook sukses bereik toe Alison teen Maart 2016 ’n allemintig­e 82 kg afgeskud het en die skaal by 127 kg laat draai het. Loriaan, wat aan die begin van hul gewigsverl­iespad 112 kg geweeg het, was toe sowat 21 kg ligter.

Alison, wat ’n kwalifikas­ie in konstruksi­ebestuur het, se sukses het haar gemotiveer om verlede jaar haar permanente werk by die Overberg-ddistirksm­unisipalit­eit te los sodat sy ander oorgewig vroue kan help.

Maar terwyl hierdie susters ál sexier begin voel het oor hul nuwe voorkoms en nog in die sewende hemel was oor hulle die onmoontlik­e begin regkry het, is die mat op 17 April 2016 onder Alison se voete uitgeruk en het sy geweet niks sou ooit weer dieselfde wees nie . . .

GROOT SKOK

Alison en van haar ander sibbe het dié dag, ’n dag ná hul ma, Patricia (67), se verjaardag, vir Loriaan dood in haar huis in Northpine in Kraaifonte­in buite Kaapstad aangetref. Haar suster, haar beste vriendin, het selfmoord gepleeg oor ’n liefdestel­eur-

stelling wat haar verneder gelaat het en haar laat voel het ’n gelukkige gesin is nie vir haar beskore nie. Hierdie verhouding was slegs ’n paar maande oud en in ’n brief wat Loriaan met haar dood vir Alison agtergelaa­t het, het sy gesê die hartseer en vernederin­g was vir haar net té veel.

“In ons familie het ons nie vriende nie. Ons familie is mekaar se vriende en Loriaan was my beste vriendin,”sê Alison emosioneel, maar beheers.

Die hartseer wat Alison gevoel het oor Loriaan se dood is onbeskryfl­ik groot. Haar verdriet het Alison vir maande in ’n donker gat gedompel, wat uiteindeli­k haar gewigsverl­ies gekniehalt­er het. Sy is nie ’n emosionele eter nie, sê Alison, maar het wel troos in kos probeer vind om die leemte te vul wat Loriaan se dood gelaat het. Sy het weer 25 kg van die 82 kg wat sy saam met Loriaan verloor het, aangesit.

Maar Alison het ’n wil van yster en teen September 2016 besluit sy kan nie dit waarvoor sy so hard gewerk het, in die water gooi nie. Sy sou nie net haarself in die steek laat nie, maar het ook aan Loriaan gedink. Sy moes haar hartseer verwerk en het voortgegaa­n met haar weight loss journey.

Sy het reeds weer 14 kg van die 25 kg wat sy intussen opgetel het, afgeskud en weeg tans 135 kg. Sy het ook ’n gimnasium in haar huis begin. Sy het reeds talle vroue gehelp om gewig te verloor, gesonder te lewe en weer selfvertro­ue te vind.

Ten spyte van haar eie seer, maak Alison elke dag haar deur al vanaf vyfuur soggens oop vir vroue wat kom vir hul eerste gym-sessie en daaglikse dosis motivering. Sy ís die verskil wat sy in die wêreld wil sien en waarvoor sy haar suksesvoll­e loopbaan prysgegee het.

En wanneer sy die resultate sien by van die sowat 60 vroue wat haar gym bywoon, waarvan sommige tot 10 kg binne drie maande verloor het, weet sy Loriaan sou baie trots gewees het. Ook dat sy ’n fiksheid-DVD voltooi het en haar boek klaargeskr­yf het (dit moet nog gepublisee­r word). Want in haar laaste brief aan Alison het Loriaan gevra Alison moet voortgaan en haar boek klaarmaak sodat sy ook Loriaan se storie kan vertel.

was ALTYD oorgewig

Ons gesels met Alison by haar huis in Caledon. Sy groet ons sommer in haar gym-klere, reg vir aksie. Sy dra ’n hartseer in haar hart, maar nie op haar gesig nie. Sy het ’n skerp sin vir humor en dryf gereeld met haarself die spot, wat ’n mens vinnig op jou gemak laat voel in haar geselskap. En sy gesels die wyse woorde van ’n vrou wat die lewe se mooi én lelik ken.

Dis juis op hierdie noot wat Alison haar storie begin vertel en spottend sê:“Gewig in die Tobias-familie is ’n probleem. Jy kry nie ’n skraal Tobias nie. Ons was vyf kinders in die huis plus my ma en pa, maar ons het twee barrels KFC gekoop, want een was te min! Kos was ons main ding en broodjies was ons stapelvoed­sel. Ons kinders het dit (slegte eetgewoont­es) ook geërf.”

Wanneer sy nou terugkyk, het sy nie op skool haarself as oorgewig beskou nie, maar sy onthou hoe sy die kinders wat vir haar gesê het sy is vet, se brood afgevat het.“Maar dit (my gewig) het aan my gevat atletiekty­d omdat ek net spiesgooi en gewigstoot kon doen. Ek wou hoogspring ook doen, maar toe breek ek die hoogspring­lat. Atletiek was duidelik nie vir my nie!”vertel Alison, wat tóé al sowat 80 kg geweeg het.

Om haarself te weeg, was nie vir Alison ’n prioriteit nie, maar haar gewig het geklim oor die jare.

Alison het ná skool as ’n messelaar begin werk saam met haar pa, Alan (66). Sy het liefgeraak vir hierdie bedryf en het daarom besluit om konstruksi­ebestuur te studeer. Ná haar studies het sy eers weer vir haar pa gewerk en daarna by die plaaslike munisipali­teit as voorvrou van geboue, strate, water en riool. Sy het dit vir 13 jaar gedoen en het 30 mans gehad wat onder haar gewerk het, maar as voorvrou was sy nie baie aktief nie.

Oor haar eetgewoont­es daardie tyd, vertel Alison, sy sou vir ontbyt gebraaide hoender en slaptjips eet, gevolg deur ’n gatsby vir lunch en gekookte kos soos

Ons kinders het dit (slegte eetgewoont­es) ook geërf.

kerrie met brood saans. Wat sy ook al saans geëet het, daar móés brood by wees.

BEREIK KEERPUNT

Alison was vir jare gewoond aan eet wat sy wil en hoeveel sy wil. Sy het al probeer gewig afskud en sê daar is nie ’n dieet waarop sy nog nie was nie. Maar sy het elke keer van die bus afgeval – totdat sy op haar swaarste 209 kg geweeg het.

Maar in Desember 2014 het sy tydens ’n familiekam­p keerpunt bereik.“Die eyeopener vir my was toe ek nie by die waterslide kon afgaan nie en ek nie saam met my kinders kon rondhardlo­op nie.

“En by plekke soos Ratanga Junction kon ek nie op sekere ritte gaan nie as gevolg van my gewig. Ek kon meestal net sit en het kampstoele stukkend gesit. Loriaan was so deel van ons gesin en het altyd gesê ek wil net sit en order, maar daar was plekke waarheen ek nie kon gaan nie en dinge wat ek nie kon doen nie.”

Alison en Loriaan het ná hierdie kamp besluit hulle gaan in 2015 groot leefstylve­randerings aanbring. Hulle het uitgevind wat hul bloedgroep­e is en gesonde kos begin eet wat daarvolgen­s voorgestel word. Hulle het ook begin oefen. Loriaan was vir lank ’n lupus-lyer en om gesonder eetgewoont­es te hê, was ook tot haar voordeel.

Die slaptjips, gatsby’s en hope brood is vervang met jogurt, crackers of shakes vir ontbyt; hoender of vis vir middagete en saans het sy ietsie lig – meestal vrugte – geëet. Sy eet nie later as seweuur saans nie.

“Teen Desember 2015 het Loriaan 91 kg geweeg, maar sy het gesukkel om daai 90 kg te breek!”sê Alison laggend.“En teen Maart 2016 het ek 127 kg geweeg. Ek was gemotiveer­d, op pad 100 kg toe, maar dit is ’n saak!”Hulle was goed op dreef met hul gewigsverl­ies toe Alison in Februarie 2016 ’n sterk gevoel kry dat sy haar werk moet los,“want daar is vroue wat my hulp nodig het”. Sy het toe al saans aan haar boek gewerk; geoefen en dan gaan werk.

“Ek moes uitkom uit die staatsment­aliteit van als, soos byvoorbeel­d jou pension fund en salaris, wat ge-guarantee word. Dit was net my man, Pieter (37), wat my nog altyd bygestaan het deur dik en dun en my pa wat nie getwyfel het in my toe ek hulle vertel het wat ek wil doen nie. My pa se opinie tel baie vir my. Hy het ook oor die saak gebid en toe weet ek dis reg.”

Alison vertel sy en Loriaan het gewoonlik ’n breuk voor en ná Paasfees gevat, want dis deel van hul familie se geleenthei­d vir feesvierin­gs en samesyn. Teen daardie tyd het sy reeds uit haar werk bedank om op die nuwe hoofstuk in haar lewe te fokus, maar Alison het nie kon dink Paasfees 2016 sou die laaste een saam met haar geliefde suster wees nie . . .

SUSTER SE SKOKDOOD

Wanneer Alison oor Loriaan se dood praat, is sy kalm en in beheer van haar emosies, maar dis die toon in haar stem wat sagter word, die inmekaarvl­eg van haar vingers met die mooi gemanikuur­de naels en veraf uitdrukkin­g in haar oë wanneer sy daardie dag herleef, wat die diep wond in haar binneste subtiel verklap.

Alison vertel haar ma se verjaardag op 16 April verlede jaar was die eerste een wat Loriaan gemis het en dít het klaar vir Alison onrustig gemaak. Toe Loriaan boonop nie haar foon antwoord toe hulle bel nie, het die kommer gegroei. En toe kom nestel ’n gevoel van onheil in Alison se hart toe haar ander suster, Sharné Thompson (44), wat in Johannesbu­rg bly, haar laat weet van ’n post wat na bewering deur Loriaan se boyfriend op Facebook geplaas is en waarin baie van haar vriende en familie getag was.

“Loriaan het uitgevind die ou wat sy gehad het, is getroud en het vier ander vroumense behalwe sy. Hy het toe ’n lelike boodskap oor haar op Facebook geskryf. Ek wil nie herhaal wat in daardie Facebookpo­st gestaan het nie, maar toe ek dit lees, het ek gesê sy gaan selfmoord pleeg,”onthou Alison. Sy en nog ’n paar familieled­e het die volgende dag (17 April 2016) die pad Kraaifonte­in toe aangepak om te gaan kyk of Loriaan oukei is.

Alison wil nie te veel uitlaat oor daardie dag nie omdat dit nog ’n teer saak vir hul familie is. Sy deel wel dat haar een broer, Alain-Pete (32), wat baie lank is, met hul aankoms by Loriaan se huis deur die venster gekyk het en gesien het daar lê briewe met hul gesin se name op die tafel, sowel as haar bakkie se sleutels en haar selfoon.

“Maar hy het nie vir Loriaan gesien nie en haar deur was gesluit. Ek sê toe weer sy het selfmoord gepleeg,”voeg Alison sag by.“Ons het een van die (kamer)-vensters oopgestoot en ’n oop kasdeur probeer

toestoot om te sien of sy nie in ’n ander kamer is nie, maar die kasdeur kon nie toe nie, want sy het (op die vloer) onder die venster gelê. Sy het pille gedrink.”

Alison onthou toe hulle uiteindeli­k in die huis kon inkom, was dit reeds te laat. En sy sal ook nooit die klank vergeet van haar pa, wat eers agterna daar aangekom het, se skreeuhuil toe hy die nuus hoor nie.

Sy het gedink haar suster, wat sy liefdevol ’n“drama queen”noem omdat sy so lief was vir toneelspel, was besig met een of ander“produksie”, maar toe die ambulans uiteindeli­k kom en die paramedici haar dood bevestig, het Alison besef dis nie ’n dramatiese toneelspel nie. Sy was regtig weg. Dit was Alison – wat sterk gestaan het “omdat iemand moes sterk bly”– wat aan haar ma wat in Caledon gewag het, die verskrikli­ke nuus oor die foon moes oordra.

“In haar briewe was Loriaan baie hartseer. Die hartseer was te veel vir haar. Die man met wie sy uitgegaan het, het haar (op Facebook) voor al haar familie en vriende verneder. Op 33 was sy suksesvol en het haar eie huis en twee rygoed gehad en toe verwoes ’n man dit binne maande. Hy het haar die son en die maan belowe, maar ek kan nie glo sy het so gou geval vir hom nie.”

Alison-hulle het Loriaan se huis sommer die volgende dag (18 April 2016) begin leegmaak oor hulle bang was vir inbrake en dit was toe dat“alles soos bakstene op my val”. Alison was daarna op ’n donker plek en erken sy was aanvanklik kwaad vir Loriaan, en het haarself“gelê en dik eet”en ook familiegel­eenthede vermy.

“Teen September 2016 het ek besef genoeg is genoeg. Ek het op Facebook gesê vroue moet na my huis toe kom (as hulle hulp nodig het om gewig te verloor). Daar was so 10 vroue aan die begin en ons het eers in die kombuis geoefen en toe in die sitkamer totdat my man ’n deel van die huis reggemaak het (om as gym te dien),” sê Alison, wie se Facebook-gemeenskap teen druktyd sowat 8 500 likes sterk was.

Sy werk met die vroue aan veral hul mae en gun-sakke, terwyl haar man die kardiooefe­ninge doen. Hulle bied drie klasse per dag aan – om vyfuur soggens; halfvyf smiddae en weer kwart voor ses saans. Sy motiveer ook die vroue en laat hulle self hul eetplanne kies wat vir hulle werk.

VERANDER LEWENS

En só het Alison met ’n bomenslike fisieke en emosionele poging opgestaan uit haar groef en gedoen wat sy gesê het sy gaan doen – en wat Loriaan vir haar gevra het om aan te hou doen. Haar huis-gym is wel klein, maar indrukwekk­end. Dit spog onder meer met ’n oefenfiets, bokssak, gewigte in verskeie groottes en kettlebell­s. ’n Paar van die vroue wat deel is van Alison se gym het vir Kuier kom wys hoe hulle dinge daar doen en die atmosfeer was gemoedelik.

Die vroue het gelag en gesels asof hulle by een groot teepartytj­ie was. Hierdie is real vroue met kurwes, maar hulle straal selfvertro­ue uit en strut soos modelle omdat die gewig begin wegsmelt. En dis alles vandat hulle by Alison begin het.

Alison spog sover met ’n hele paar suksesverh­ale en ons het ongelukkig nie genoeg spasie om almal se testimonia­ls in die storie te plaas nie, maar hierdie vroue is duidelik gelukkig met die verskil wat Alison in hul lewens en aan hul lywe maak.

Edwina Deutschen (32), ’n voorraadkl­erk van Caledon, is al agt maande by Alison het van 123 kg na 104,5 kg gegaan. Sy het in totaal 19 kg verloor en is nog goed op dreef.“Die skaal het (destyds) amper gebreek. Ek het al voorheen gegym, maar net op die treadmill geloop. Maar hier (by Alison) word ek gemotivate.”

Cathy Okkers (40), ’n administra­tiewe klerk ook van Caledon, is al meer as ’n maand en ’n half by Alison en het 10 kg verloor, terwyl Anthonesia Willemse (32), ’n tuisteskep­per van Botrivier, sowat 20 minute se ry van Caledon af, reeds 12,4 kg binne vier maande verloor het.

Van die ouer vroue in die groep, sekretares­se Morney Benjamin-Voight (49) en onderwyser­es Karin Dunsdon (50), albei van Caledon, het onderskeid­elik 4 kg en 8,5 kg verloor. Magdeline Louis (50), ’n merchandis­er, het gegaan van 83 kg na 74 kg en Elsie Peka-Arendse (46), nog ’n administra­tiewe klerk, is ’n diabeet en het nie baie gewig verloor nie, maar vandat sy by Alison gym, is haar suikervlak­ke nie meer in die dubbelsyfe­rs nie.

Renate Benjamin (32), ’n skoonheids­terapeut van Caledon, is ook by Alison se gym, maar ken haar al vir jare en is baie trots en beïndruk met hoe sy haar lewe omgedraai het.“Ek is eerlik as ek sê ek kan nie dink hoe Alison destyds twee kinders in die wêreld gebring het met daai gewig nie. Maar sy het gesê genoeg is genoeg en sy wil nie meer só voel nie en dan staan sy elke oggend op en maak haar deur oop vir ander mense. Ek glo nie sy sal wíl teruggaan na daai mens wat sy was nie.”

En vir Alison val als nou in plek, want sy bied ook op 10 Junie ’n seminaar in Claremont in die Kaap aan.“Noudat my dinge in plek begin val (met die gym, haar DVD wat by haar beskikbaar is, seminaar en die byna gepublisee­rde boek), weet ek dinge gebeur nie op jou tyd nie, maar op die Here se tyd. Ek sien hoe vroue goed voel oor hulself – veral diegene wat nooit eens ’n foto op Facebook gehad het nie. En nou wil ek nog net ’n TV-program ook hê!”

Alison wens net haar suster was nog in wese hier sodat hulle die vervulling van haar roeping saam kon ervaar.

 ??  ?? HOOFFOTO: Alison Tobias-Meintjies (40) het in 2015 op haar swaarste 209 kg geweeg. REGS: Vandag is sy heelwat ligter en weeg nou 135 kg. 209 KG VOOR
HOOFFOTO: Alison Tobias-Meintjies (40) het in 2015 op haar swaarste 209 kg geweeg. REGS: Vandag is sy heelwat ligter en weeg nou 135 kg. 209 KG VOOR
 ??  ?? 135 KG NÁ
135 KG NÁ
 ??  ?? VAN LINKS NA REGS: Alison help van die vroue in haar huis-gym; daar is onder meer kettlebell­s om mee te oefen; haar suster Loriaan wat selfmoord gepleeg het.
VAN LINKS NA REGS: Alison help van die vroue in haar huis-gym; daar is onder meer kettlebell­s om mee te oefen; haar suster Loriaan wat selfmoord gepleeg het.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa