Kuier

WAT DIE HART VAN VOL IS

As vroue onderskat ons dikwels ons rol in die samelewing en hier op aarde. Maar God het ons perfek in Sy oë geskape.

- Deur anneeda pekeur

Waar daar ’n vrou is, daar is die hartklop van die huis. Jou gebed as vrou is wat alles in die lewe in stand hou.

Moedersdag . . . Vrouedag . . . Te min dae om al die wonderlike vroue in ons gemeenskap en midde te vier. Ek kyk so rondom my en besef net weereens hoe bevoorreg ons is om oumas, oumagrootj­ies, mammas, nannas, susters en niggies te hê. Vele kere is ons vroulike familie nie bloedverwa­nt nie, maar in ons lewe saamgeweef deur lojaliteit en omgee.

Só ontmoet ek ’n tydjie terug ’n groep vroue, van alle oorde, grootte, agtergrond en stand. Ons kom bymekaar vir ’n vroueoggen­d waar ons mekaar ondersteun, gesels en lag, maar ook ’n traan stort oor al die ou pyne wat ons as vroue ervaar. Nooit voel ek onwelkom of ontuis nie, geen agteraf geskinder of getwis nie. Net volwasse vroue wat omgee vir mekaar en mekaar ondersteun.

My hart was so bly en verheug, want ons het bymekaar gekom op Wêreld Endometrio­se-dag. En al was ek die enigste een daar met dié siekte, het hierdie vroue kom luister na hoe ons mekaar kan bystaan en ondersteun. Daar was onder andere ook ’n pragtige dame wat aan PCOS (polisistie­se ovariële sindroom) ly.

Dis alles vrouesiekt­es, wat ons ekstra hormonaal maak en vele uitdagings bied, maar deur al die gejaag het ons verskeie lewenspaad­jies deur ’n Hoër Mag saam geloop en ons verenig in ’n kleurvolll­e groep wat mekaar kon vind.

Binne ’n paar uur was ons soos ou hartsvrien­de, dit was so bevrydend om te kan deel en te hoor: Jy is nie alleen nie, ons almal gee om. Ek het weer gesien en net besef; vrouwees is ’n seëning. Ons is uniek, met baie welbehae geskep. As vrou het ons die vermoë om diep te voel, te ontleed en om te gee. In elkeen van ons skuil die kapasiteit om lief te hê en te versorg; net soos ’n vrouehart kan. Ons kan stille trane stort, maar ook sterk wees wanneer dit van ons verlang word. Ons as vroue kan saamstaan en mekaar bemoedig en oplig deur ’n sagte woord, ’n drukkie of net ’n stille gebed. Vroue is die anker van enige gesin en daardie plek wat sy vul, is onvervangb­aar. As vrou is jou werk net nooit klaar nie, want vrouwees het vele fasette en vele seisoene – alles in een persoon saamgeweef. En só, terwyl ek my storie in stampe, stote, lag en huil vertel aan hierdie groep vroue, sien ek hoe Ouma en Mammie ook stil-stil snik, want saam stap ons die pad van ontdekking in ons rol. En heel later, terwyl ons foto’s neem en mekaar groet, besef ek net weer hoe vrouwees ons almal saamweef. Die pyne en giere en hormonale uitbarstin­gs, asook my daaglikse endometrio­se-uitdagings, chroniese pyn en kinderloos­heid, is nie net my kruis nie. Dis ook my medevroue se kruis, want hulle voel my pyn, hulle voel my vrees en my hart, so gekneus.

Deur ’n storie van pyn kom daar ook hoop en nuwe lewe en vriendskap­pe. So uniek is ’n vrou dat sy alles wat die lewe haar kant toe slinger, goed of sleg, kan omskep in karaktervo­rming en hoop vir die dag van môre.

So hiermee wil ek eer bring aan alle vroue. Moet nooit jouself as gering ag omdat vroue as die swakker geslag gesien word nie.

Vrou, jy is wonderlik en magtig geskape. Jy is heel en pragtig; selfs jou tekortkomi­nge of gebrekke is goed genoeg. Jy as vrou maak die lewe net bietjie meer draagliker vir diegene rondom jou. Wees jouself, jy is volkome vrou.

Wat ook al jou benaming en rol in die familie mag wees, of jy Mamma of Ousus of Nanna is, jy word waardeer en gerespekte­er, want sonder jou as vrou is geen huis ’n tuiste nie. Jy is die anker, die hoeksteen wat alles aan mekaar vashou.

Waar daar ’n vrou is, daar is die hartklop van die huis. Jou gebed as vrou is wat alles in die lewe in stand hou.

Vrouwees is kompleks en ons hoor tog so baie: Wie sal ooit die spesie verstaan? Maar vroue, wees trots, want jy is voluit God se trots. Besef jy is ’n rots. Standvasti­g en pragtig.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa