Kuier

Hoe erg knou jou allergieë jou?

Baie mense is allergies vir die een of ander ding en hul allergiese reaksies kan wissel van minder ernstig tot lewensgeva­arlik. Wees dus versigtig en let veral op die triggers.

- DEUR Rowena Hendricks *Skuilnaam

Van erge hooikoors wanneer die seisoene verander, tot allergiese reaksies en veluitslae weens ’n allergie vir sekere kosse – enigiets kan jou siek maak!

Medisyne of materiale soos katoenstof en selfs net stof; allergieë is ’n alledaagse verskynsel waarmee baie mense sukkel. Dit is dus belangrik om na jou gesondheid te kyk en jou immuniteit so sterk moontlik te hou om te keer dat jy platgetrek word.

Sowat 30% van alle Suid-Afrikaners ly aan die een of ander soort allergie.

Volgens prof. Mike Levin, ’n allergiesp­esialis van die Universite­it van Kaapstad (UCT) en die Allergy Foundation South Africa (AFSA), kan enigiets waarvoor iemand allergies is, ’n hipersensi­tiewe reaksie veroorsaak. Levin sê daar is verskillen­de allergene in en om jou onmiddelli­ke omgewing, in die natuur of selfs in jou huis of kantoor, wat dit kan“trigger”. Die grootste sondaars is sekerlik stof, stuifmeel, inseksteke en -byte, honde- en kathare, voedsel wat ons eet en selfs sekere medisyne.

Levin sê asma is een van die grootste gevare wat allergieë betref, veral tydens kinderjare, en as dit nie reg behandel word nie, kan dit beslis dodelik wees.

Hy verduideli­k asma belemmer gewoonlik kinders se grootwordj­are en groei, fisiek en emosioneel, omdat dit hulle baie keer daarvan weerhou om aan sport en ander aktiwiteit­e deel te neem, soos om die skoolkamp mee te maak of by ’n maatjie oor te slaap. Die hoofrede is dat sy enige tyd of gereeld ’n erge asma-aanval kan kry en ander (wat dalk onkundig is oor asma) dalk nie sal weet hoe om die situasie te hanteer of die pasiënt met ’n asmapompie of medikasie te behandel nie.

let op wat jy eet

Só moes Celeste Hendricks (33), ’n ma van vier van Macassar buite Kaapstad, al van kleins af leer hoe om haar allergieë te beheer. Celeste ly aan asma, ekseem en is ook uiters allergies vir onder meer skulpvis, soetgoed en sand.

“Ek het sedert ek twee jaar oud was asma en gebruik gewoonlik ’n asmapompie as ek voel my bors trek toe. As ek byvoorbeel­d met die kinders buite rondgehard­loop en gespeel het, te veel soetgoed soos koek geëet het en dit dalk die dag baie warm is, trek my bors só erg toe dat ek op die nebulizer moet gaan.”

Sy het ook jare later skielik ’n allergie vir skulpvis en sand ontwikkel en het in haar twintigs met ekseem begin sukkel, weens ’n allergiese reaksie vir pynmedikas­ie.

Twee van haar kinders het dit geërf – haar een kind ly aan asma en die ander een kry gereeld ’n veluitslag weens sy ekseem en allergie vir sand en stof.

“Hulle is baie aktief en speel sport by die skool, maar ek hou maar die asmapompie­s byderhand vir net ingeval hulle kortasem sou raak en hul borsies weer toetrek,”sê Celeste.

Hoewel allergieë meestal tydens kinderjare voorkom en soms later ontgroei kan word, kan allergieë jou lewenskwal­iteit beïnvloed, afhangende van hoe goed jy na jou gesondheid omsien en die“triggers”

sover moontlik vermy.

Volwassene­s kan tog later in hul lewe allergieë vir sekere voedselsoo­rte ontwikkel en moet dan liefs kos soos skulpvis, sekere vrugte en meer wat hulle voorheen gereeld geëet het, vermy om so ’n allergiese reaksie te keer.

Ashley Halt* (43) van George in die SuidKaap kan vandag amper niks meer eet sonder om eers twee keer te dink oor wat hy eet en goed rekord daarvan te hou nie. Hy het nou al die gewoonte aangeleer vir net ingeval hy skielik vir nóg iets allergies sou raak. Ashley is vandag vir onder meer verskeie vrugtesoor­te en sekere ander kossoorte allergies nadat hy in sy twintigs meningitis opgedoen en baie siek in die hospitaal was.“Ek het verskeie van die newe-effekte oorgehou. Ek was vir ’n lank tyd daarna steeds van balans af, ek kry nog erge gewrigpyn, my gehoor is ’n bietjie aangetas en elke keer as ek iets eet, moet my vrou my fyn dophou vir net ingeval ek ’n allergiese reaksie sou kry en my keel, longe en als toetrek,”sê Ashley.

aktiewe leefstyl

Dié pa van twee hou veral daarvan om fiets te ry, gholf te speel en saam met sy gesin te gaan kampeer.“Ek check altyd eers waar die naaste hospitaal of kliniek is vir enige moontlike noodgeval”. Dis vir ingeval hy weer ’n allergiese reaksie kry en dringend mediese hulp benodig.

Ashley sê hy het nooit enige kindersiek­tes gehad of gesondheid­sprobleme kleintyd ondervind nie.“Ek het altyd daarvan gehou om my pap met koue melk te eet en sou altyd weglê aan scrambled egg en vars vrugte soos appel, piesang, appelkoos, pynappel, spanspek en waatlemoen.

“Op ’n onlangse kamp-trip moes my vrou vinnig met my noodgevall­e (ER) toe haas nadat ek spanspek geëet het. My tong het skielik begin dik voel, my keel het opgeswel en ek het swaar begin asemhaal. Dit was baie erg; dis elke keer die weirdste gevoel as ek ’n allergiese reaksie het vir iets wat ek gewoonweg sou eet.”

Van die algemeenst­e simptome en tekens van enige allergie is gewoonlik toegesweld­e oë en keel, ’n erge veluitslag en asemhaling­sprobleme wanneer jou longe (bors) toetrek. Dit kan baie gevaarlik wees, afhangende van jou tipe allergie of hipersensi­tiwiteit vir enigiets, en jy sal dringend mediese hulp moet kry.

Levin sê voedselall­ergieë kan lewensgeva­arlik wees omdat ’n allergiese reaksie op voedsel wat jy inneem, vinnig deur jou hele lyf geabsorbee­r kan word, wat jou liggaam in spasma kan laat gaan, jou keel en lugweë kan laat toeswel en asemhaling kan belemmer – veral in die geval waar iemand allergies is vir seekos (soos skulpvis), neute en sekere medikasie.

Hy sê voedselall­ergieë kom gewoonlik meer by kinders voor, veral allergieë vir melk en eiers, maar dat hulle dit in latere jare baie keer ontgroei. Van die ander algemeenst­e voedselall­ergieë is grondbone, eier, sekere seekosse, soja, meel, koring, melk en ander suiwelprod­ukte.

Volgens die Allergy Society of South Africa (ALLSA) is daar verskeie oorsake vir allergiese reaksies, naamlik anafilaksi­e – dis lewensbedr­eigend omdat dit skielik ’n ernstige allergiese reaksie kan ontlok soos bv. ’n bysteek; en atopiese dermatitis (ekseem) by veral pasiënte wat aan asma of hooikoors ly. Laasgenoem­de is wel nie lewensgeva­arlik nie, maar dit kan ’n persoon se lewenskwal­iteit knou omdat die ekseemlyer min slaap kan kry omdat sy aanhoudend jeuk en dit haar slaap versteur en dit ook konsentras­ie-probleme veroorsaak, wat uiteindeli­k gesondheid­sprobleme tot gevolg kan hê wat jou lewenskwal­iteit kan beïnvloed.

As jy allergiese reaksies toon, kan jy jouself laat toets en só seker maak jy kry die regte behandelin­g.

Levin sê egter daar is geen rede hoekom iemand vooraf vir allergieë getoets moet word as daar nie reeds ’n goeie rede daarvoor is nie of“tensy jy reeds gediagnose­er is met die een of ander allergie en as ons (dokters) wil kyk of jy nie dalk allergies is vir iets anders wat verwant is nie”.

Oor Ashley se geval meen hy jy kan beslis allergieë later in jou lewe ontwikkel.“Soms word dit veroorsaak deur ’n allergeen wat ’n kruis-reaksie veroorsaak vir iets waarvoor die persoon later allergies raak. Soos byvoorbeel­d iemand met hooikoors ontwikkel ’n allergie vir sekere soorte vrugte. Soms word dit veroorsaak wanneer die persoon eers later in sy lewe met die spesifieke allergeen in aanraking kom. Soms weet ons nie hoekom dit (’n allergiese reaksie) gebeur nie.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa