Kuier

Liesl Laurie wil nou teruggee aan haar ouma én Eldo’s!

Ondanks haar arm kinderjare is dit vir haar lekker om nou terug te kan gee aan haar mense van Eldo’s.

- DEUR Tarren-Lee Habelgaarn

Deesdae kan sy dit bekostig om haar familie te bederf en enige skoen te koop wat haar hart begeer. Maar dit was nie altyd só nie. Liesl Laurie (26) se lewe het heeltemal verander sedert sy twee jaar gelede as die mooiste vrou in Suid-Afrika gekroon is. Maar al geniet sy nou die wete dat sy nie elke sent hoef om te draai nie, is sy steeds bewus dat haar huidige omstandigh­ede weer in ’n oogwink kan verander.

Deesdae is sy bekend en herken mense haar oral, maar wanneer sy nie op radio Jacaranda FM of TV is nie, is sy steeds dieselfde Liesl van die township, sê sy.

Sy het glad nie ryk grootgewor­d nie. Soms het dit so sleg gegaan dat haar ouma by die bure blikkies baked beans of ’n bietjie suiker moes gaan vra.

Vandag woon Liesl in ’n spogbuurt in die noorde van Johannesbu­rg, sy het ’n vrou wat haar help by haar huis en ’n klerekas van enige meisie se drome, maar volgens haar is hierdie dinge net wêreldsgoe­d.

Liesl meen al geniet sy nou die beste wat die lewe jou kan bied, lewe sy steeds só dat sy sonder dit kan leef as sy moet.

Om finansieel gemaklik te kan leef, beteken baie meer vir haar as net ’n nuwe huis of spogmotor. Dit het haar gehelp om ’n sterker band met haar familie en veral haar ma, Karen Laurie, te kan bou, omdat niemand hulle meer oor geld hoef te bekommer nie en hiervoor is sy veral dankbaar.

Liesl het kort nadat sy gekroon is, uit Eldorado Park getrek, maar dit sal altyd haar huis wees. Vir haar sal sy altyd haar ouma Lorrain se kind wees en hierdie gemeenskap en sy mense sal altyd ’n spesiale plek in haar hart hê.

Sy het by haar ouma grootgewor­d en Liesl sê daar was nie altyd geld nie, maar haar ouma het altyd gesorg dat daar iets warm was om aan te trek en iets om te eet. Oor die jare het hul verhouding net sterker geword en Liesl voel dit is nou haar beurt om vir haar geliefde ouma te sorg.

goeie kinderjare

“Ek sal altyd my ouma se kind wees en dit is hoekom ek nog soveel as moontlik Eldo’s besoek. Sy is nou 75 en het baie opgeoffer om seker te maak dat ek alles het wat ek nodig gehad het. Maak nie saak of dit geleenthed­e, reis of ’n gemaklike lewe was nie, sy het alles opgeoffer om vir ons ’n lekker lewe te gee. Nou kan ek seker maak dat sy ’n lekker lewe kan geniet,” sê Liesl.

“Sy verdien dit en al het ons nie altyd baie gehad nie, het sy gesorg dat ek alles kry. Dit is net reg dat ek dit nou vir haar doen en dit is hoekom ek nog altyd in Eldo’s is. Die gemeenskap het my deur die jare gedra en beteken baie vir my. Almal weet nou al dat my ma aan dwelms verslaaf was, maar my ouma het altyd vir ons probeer beskerm en verduideli­k wat aangaan. Ek het nie altyd verstaan nie, maar noudat ek ouer is, verstaan ek beter en kan ek en my ma beste vriende wees.” Die internet het onlangs gegons met foto’s van mense wat buite Eldorado Park betoog en elke nou en dan word die misdaad- en dwelmprobl­eme in Eldo’s ook bespreek. Maar dit is nie wat Liesl onthou wanneer sy met ’n groot glimlag en sprankelen­de oë oor haar grootwordj­are

gesels nie. Die donkerkopm­odel meen dwelms en geweld was nog altyd deel van die mense van Eldo’s se lewe, maar toe sy ’n kind was, het die grootmense hulle daarteen beskerm en onthou sy net hoe sy met die kinders in die straat gespeel het en vakansies by haar niggies in die flats deurgebrin­g het.

“As kind het jy ’n innocence wat jou teen baie goed beskerm. Alles wat ’n mens in die nuus lees oor Eldo’s het seker rondom my gebeur, maar my ouma en die gemeenskap het ons beskerm. Soveel so dat ek nie geweet het my eie ma was verslaaf nie.

“Al wat ek van my kinderdae onthou, is hoe ons marbles en tops in die strate gespeel het. Daar was ook nie geld vir vakansies nie en dus was my gunsteling­ding om skoolvakan­sies by my niggies in ’n ander gedeelte van die township deur te bring.

“Ons het in die huise gewoon en hulle in die flats. Dit was altyd vir my die lekkerste om daar te gaan kuier. Al die kinders in die buurt het saamgespee­l en iemand het altyd vir almal ’n bompie of

chips gekoop.

“Dit is sulke herinnerin­ge wat my soms pla, want wanneer ’n mens dit regkry om die township te verlaat, is dit hierdie goed wat jou kinders nooit sal ervaar nie.

“In die stad ken mense nie regtig hul bure nie, maar in plekke soos Eldo’s is almal almal se kinders en gee mense vir mekaar om. Hulle is nie net bure nie en ek hoop my kinders sal dit kan ervaar.

“Hulle was almal daar en het gehelp om my die beste te gee sodat ek kan groei, so hulle mag maar nou in die sukses ook deel,” vertel Liesl met ’n breë glimlag.

‘Haar eie mense’

Maar hierdie besige model wat deesdae ook haar eie programme op radio en TV aanbied, gaan nie net terug na Eldorado Park toe vir sy mense nie. Sy doen ook weekliks haar hare, wenkbroue en naels daar.

Al het sy die beste salonne naby haar huis, verkies sy steeds om haar plaaslike mense te ondersteun, nie net omdat sy op so ’n manier kan teruggee aan haar gemeenskap nie, maar ook omdat niemand haar so goed kan versorg soos die mense wat haar al jare ken nie.

Dit is ook tyd wat sy gebruik om saam met haar familie deur te bring. Die aand toe sy gekroon is, was die eerste aand wat haar familie in ’n spoghotel soos Sun City kon oornag. Maar sedertdien kon sy dit bekostig om hulle nie net in Eldo’s te bederf nie, maar ook in van die luuksste salonne, eetplekke en hotels.

Liesl hou nou baie daarvan om te reis en gaan hou deesdae vakansie in lande soos Mexiko en Jamaika wanneer sy nie werk of tyd saam met haar kêrel, die SA Idols

aanbieder, ProVerb, deurbring nie. “Ons gaan nie baie uit nie en ek begroot vir alles wat ek doen, so wanneer ek wel myself of my familie bederf, sê ek altyd vir hulle dit is orraait om van die prys te vergeet. My ouma sal nog altyd die goedkoopst­e ding bestel, maar dan weet ek dit is nie regtig wat sy wil hê nie.

“Om tyd saam met ’n geliefde of familie deur te bring, is moeilik en dit is veral moeilik om ’n verhouding te hê wanneer albei in die kollig is, maar ons hou dit so privaat as moontlik en dit werk vir ons.”

Volgens Liesl is sy die prankster en grapjas onder haar familie en vriende. Al kom sy stil en skaam in die openbaar voor, kan ’n mens dit glo wanneer sy tussen die foto’s grappe op stel maak en almal laat lag. Maar wanneer sy voor die kamera of op die radio is, is dit werk en is sy ernstig.

“As jy iets in die lewe wil hê, moet jy daarvoor werk, jy kan nie verwag dat alles vir jou gegee moet word nie. Dit is iets wat ek altyd vir die jeug sê wanneer ek praatjies doen. Hulle moet bereid wees om hard te werk en alles in te sit om sukses te behaal.

“Al moet jy as ’n intern begin, sal dit die moeite werd wees. Ek dink deur om onder te begin, wys ek ook vir die kinders dat selfs wanneer jy beroemd is, moet jy bereid wees om te werk vir dit wat jy wil hê; nie alles word onmiddelli­k vir jou gegee nie.”

 ??  ?? HOOFFOTO: Liesl Laurie (26) van Eldorado Park, het by haar ouma grootgewor­d, maar nog altyd alles gehad wat sy nodig het. Vandag kan en wil sy vir haar familie ’n beter lewe gee.
HOOFFOTO: Liesl Laurie (26) van Eldorado Park, het by haar ouma grootgewor­d, maar nog altyd alles gehad wat sy nodig het. Vandag kan en wil sy vir haar familie ’n beter lewe gee.
 ??  ?? KLOKSGEWYS (van links) : Liesl het ’n groot versamelin­g skoene en dié paar duur Louboutin-hakskoene is haar gunsteling; sy is in 2015 as Mej. Suid-Afrika gekroon; saam met haar ouma Lorrain en haar ma, Karen.
KLOKSGEWYS (van links) : Liesl het ’n groot versamelin­g skoene en dié paar duur Louboutin-hakskoene is haar gunsteling; sy is in 2015 as Mej. Suid-Afrika gekroon; saam met haar ouma Lorrain en haar ma, Karen.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa