Kuier

Anties van Kaapse Vlakte leer jeug brei vir ’n beter toekoms

Vrywillige­rs van ’n breiklub vir kinders op die Kaapse Vlakte glo dis noodsaakli­k om vir kinders basiese vaardighed­e te leer.

- DEUR ELMARINE ANTHONY

in Seawinds, ’n“stiller”area in Lavender Hill op die Kaapse Vlakte, staan vyf anties opgewonde rond. Hier en daar skuif hulle goed reg in die plaaslike senior klub se container. Natuurlike lig skyn deur die deur en vensters wat ’n lekker atmosfeer skep. Dis hier waar sowat 30 kinders vir die afgelope jaar bymekaar kom om te leer brei.

Die anties sit verskillen­de kleure wol en breinaalde voor elke stoel neer. Antie Connie Abrahams (62) het met die idee vir die Young Knitters Club vorendag gekom toe haar kleinkinde­rs ’n skooltaak gekry het waartydens hulle moes brei. Sy moes toe vir hulle die projek doen omdat hulle nie kon brei nie. Sy was ook verstom dat haar bure se kinders ook nie kon brei nie. Sy het besluit om die taak aan te vat om die kinders te leer brei.

Antie Connie het toe reeds ’n maand vroeër besluit sy wou“iets sag doen”om die kinders van die strate af te hou. Sy wou ook hê kinders moet na die basiese dinge van die lewe terugkeer en besef dat die waarde van die lewe nie net is om by ’n winkel in te stap en alles te koop nie.

“Kinders van vandag kan nie meer naald- of breiwerk doen nie, al is dit hoe eenvoudig. Hulle stap net by ’n winkel in en koop alles. Hulle moet sit en leer en hulself challenge,” sê sy.

Ek erken toe aan antie Connie dat ek self een van“vandag se kinders”is wat nie kan brei nie. En dan om net te demonstree­r hoe maklik dit is om te brei, begin antie Connie my touwys maak. Sy staan agter my rug en oorhandig breinaalde en wol. Sy wys eerste vir my hoe, maar doen dit te vinnig omdat dit so natuurlik vir haar kom. Ek staar verward na haar. Dan gee sy vir my die breiwerk en ek wend ’n poging aan, maar kry dit glad nie reg nie.“Konsentree­r . . . stadig . . . nee dis verkeerd,” sê sy. Ek voel stupid omdat die vrywillige­rs en later die kinders dit so maklik laat lyk.

Tussen die breiery deur vertel antie Connie haar storie verder en haar gedagtes gaan terug na toe sy op laerskool begin brei het.“Ons was agt of nege jaar oud. Ek het ’n juffrou gehad – juffrou Smith. Sy het vir ons geleer brei en ons het baie pak gekry as ons nie reg kon brei nie.”Hulle het gebrei met wit wol wat altyd vuil geword het.“Die wol het vuil geword en by die tyd wanneer daai stukkie werk moet teruggaan na die skool, dan is daar hardly enige wol oor, want ons het altyd afgebreek en weggegooi. Ons was baie bang ons kry pak op ons vingers,”skerts antie Connie.

Dié ma van vier dogters en ouma van ses kleinkinde­rs meen vakke soos brei- en naaldwerk, koskook en houtwerk moet weer in skole geïmplemen­teer word. Een van die redes, volgens haar, is omdat dit iets is wat kinders van die strate afhou.“Die bende-aktiwiteit­e in ons gebied is terrible. Dis my passie om die kinders net meer bewus te maak dat daar iets anders in die lewe as net bendes is.”

daar ís nog hoop

Lavender Hill was nie altyd die tuiste van gewelddadi­ge bendes soos dit vandag is nie. Antie Connie en haar familie het op die ouderdom van 12 vanaf Steenberg, wat nie ver hiervandaa­n is nie, verhuis nadat haar pa, ’n plaaswerke­r, verdrink het.

“Hier was baie sokker- en netbalspan­ne. Kinders kon speel en in die strate loop. Dit

was lekker om in Lavender Hill te bly. Vandag word oumense beroof wanneer hulle hul pensioen gaan haal en skoolkinde­rs wanneer hulle huis toe loop van die skole af. Dis hartverske­urend om te sien wat nou hier in dié plek aangaan.”

Volgens antie Connie, wat ’n huiswerker was, is die plek self fine en die mense nice, dis net die bendes op die strate wat die plek so deurmekaar maak. Sy meen kinders kan hul omstandigh­ede oorkom en dat hulle nie net in Lavender Hill hoef te bly nie.“Jy kan enigiets in die lewe bereik, ten spyte van die bendes en skietery, al beteken dit jy brei klere en begin ’n besigheid deur die klere te verkoop.”

Toe antie Connie begin het, was daar op die eerste dag slegs 10 kinders wat sy geleer het. Vandag leer sy en haar vrywillige­rs, wat almal pensioenar­isse is, byna 200 laerskoolk­inders – die 30 wat na die container toe kom en die res almal by skole in die gemeenskap. Die klub se vrywillige­rs bied drie dae per week ná skool breiklasse by die skole aan, en Saterdae in die container vir kinders tussen die ouderdomme van 7 en 14. Hulle stel baie keer hul lewens in gevaar wanneer hulle na die skole toe stap om breiklasse te gaan gee. Op pad terug van die skool af sê hulle ook vir die kinders op die straat om huis toe te gaan. “Wanneer die skietery begin, hardloop die kinders deur die skietery in plaas van om weg van dit af te hardloop. Dis hoekom ek dankbaar is vir my vrywillige­rs, want hulle sê vir die kinders, nie hiernatoe nie, daarnatoe en dies meer’.”

Die breiklub gaan nie net daaroor om te brei nie, vertel antie Connie.“Dis van lekker sit en gesels en vra hoe gaan dit in die huis. As daar seer in die huis is, is ons ook seer.”

Sy onthou ’n voorval waarin een van die seuns sy tweejarige sussie in ’n ongeluk verloor het.“Ons het hulle pyn gevoel, hom omhels en hom gehuisves in ons harte. Dis ook een van die redes hoekom ons die breiklasse gee, net om nader aan die kinders te wees.”

‘Dit help met die stres’

Die vrywillige­rs kry ook baie uit die klasse. “Daar gaan baie goed in ons huise aan en dit vat die stres weg om hier te kom sit met die kinders. Dit help vir ons om met mekaar te gesels oor die lewe. Die kinders kom sit ook hier om te relax. Brei help met die stres,” vertel Lisa Smith (65).

Gustina Lyners (67) sê sy dink nie eens wanneer sy brei nie.“Jy relax net en doen jou ding. Saterdae brei die kinders vir drie ure, maar hulle wil soms nie eens huis toe gaan nie omdat hulle dit so baie geniet. Dis belangrik vir mense om te weet hoe om sulke dinge te doen. In ons dae was dinge soos kook en brei belangrik. Kan jy brei? Jy moet ons kom join,”nooi sy.

Drie van die kinders loop opgewonde by die container in. Hulle groet en sit onmiddelli­k by ’n tafel en begin brei. Antie Lisa gaan by elkeen om, staan agter hulle en kyk hoe hulle brei.“That’s it, there you got it. There you knit, that’s right,”sê sy vir die kinders. Hulle praat nie en konsentree­r net op hulle breiwerk. Die klub is tans besig met ’n projek vir vanjaar se Mandeladag. Hulle brei sewe komberse wat aan die plaaslike ouetehuis geskenk gaan word. Elke skool brei ’n kombers en die vrywillger­s gaan die res brei. En om komberse en serpe vir die minderbevo­orregtes te skenk, is een van die redes hoekom Trinity Solomons (11), ’n gr. 6-leerder by Square Hill Primêre Skool, so baie daarvan hou om aan die klub te behoort. Dit het haar twee weke geneem om te leer brei en dit was moeilik aan die begin, maar dis nou maklik, sê sy terwyl sy sit en brei. “Brei en hekel is baie pret,”vertel sy met ’n glimlag.

Darren Naidu (11) van Prince George Primêre Skool, wys brei is nie net vir meisies nie. Sy ouma het hom twee jaar gelede geleer brei en sedertdien help hy haar klere brei wat hulle dan verkoop. Hy sê sy ander seunsvrien­de spot hom nie omdat hy brei nie.“Ek leer nou vir hulle ook hoe om te brei,”vertel hy, terwyl hy op sy breiwerk konsentree­r.

Die brei-materiaal word voorsien deur Learning In Reach, ’n organisasi­e wat hom beywer om’ n vroeë kin der ontwikkeli­ng sentrum in Lavender Hilltestig. As deel hiervan ondersteun die organisasi­e naskoolse projekte soos die breiklub. Antie Connie verkoop ook worsrollet­jies en tweedehand­se klere om geld in te samel.

Leanne Reid, hoof van Learning In Reach, sê hulle het slegs die materiaal voorsien.“Antie Connie se breiklub is nie Learning In Reach nie. Sy het dit alles self moontlik gemaak. Sy is ’n ongeloofli­ke sterk vrou. Dit is fantasties om te sien hoe seuns en meisies uit vrye wil betrokke raak en hoe gefokus hulle is wanneer hulle brei.”Sy sê die organisasi­e wil nou fondse insamel sodat die vrywillige­rs ’n toelaag kan kry.

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Antie Connie Abrahams van Lavender Hill leer veral laerskoolk­inders brei. HEEL LINKS: Antie Connie wys van die items wat die klub gebrei het.
HOOFFOTO: Antie Connie Abrahams van Lavender Hill leer veral laerskoolk­inders brei. HEEL LINKS: Antie Connie wys van die items wat die klub gebrei het.
 ??  ?? REGS: Antie Connie saam met van die lede en vrywillige­rs van die Young Knitters Club in Lavender Hill.
REGS: Antie Connie saam met van die lede en vrywillige­rs van die Young Knitters Club in Lavender Hill.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa