Outjie is wel klein, maar staan uit met prestasies
Hy mag dalk klein van postuur wees, maar dié jongman het groot drome vir sy toekoms en hy gaan dit beslis bereik.
Dit is nie meer vir Darren van Roodt of sy familie snaaks as iemand uit die bloute vra hoe oud hy is wanneer hulle byvoorbeeld in die winkels is of vir hom sê“no children allowed”nie.
En wanneer ’n groot vrou vir hom vra of sy hom op sy voorkop kan soen, soos wat onlangs by sy gradeplegtigheid gebeur het, sal hy ewe nonchalant“ja”sê, want hy weet baie mense dink hy is net 13 . . . al is hy al 23 jaar oud.
Dié Kaapse jongman het in April sosiale media aan die gons gehad en ook tradisionele media se aandag getrek, toe hy sy BSc Honneursgraad in Rekenaarwetekenskap (cum laude) aan die Universiteit van WesKaapland (UWK) verwerf het.
Mense was beïndruk en saam met hom bly dat hy sy graad met lof geslaag het, maar kon nie glo Darren, wat die gesig van ’n tienerseun het, is eintlik al in sy vroeë twintigs nie!
Maar daar is ’n mediese rede vir sy jeugdige voorkoms. Toe Darren ses jaar oud was, is ’n groeisel op sy brein ontdek. Die groeisel was gelukkig nie kwaadaardig nie en is verwyder, maar dit het egter Darren se groei aangetas – soveel so dat hy dalk vir altyd so jeugdig kan lyk.
Kuier móés eenvoudig by Darren en sy familie gaan kuier om die storie agter die storie te kry, maar ongelukkig was dié slimkop alreeds in Johannesburg waar hy nou as programmeerder by Rand Merchant Bank werk.
Ons het telefonies met Darren gesels, maar dit was toe ons sy familie, pa Stanley (50), ma Jill (47), susters Caren-Lee (25) en Terri-Lee (20) en ouma Christine Talmakkies (68) by sy ouerhuis in Maitland Village ontmoet, dat ons kon sien hoekom hy so nonchalant kan wees en hom glad nie ontstel as mense hom konstant vra hoe oud hy is nie.
In Darren se ouerhuis is daar warmte en baie liefde en word daar gelag en geterg. En in dié huis was Darren nog nooit anders behandel of opgepiep nie, ondanks sy toestand. Wat vir Caren-Lee en Terri-Lee gegeld het, het vir hom ook gegeld en Darren het van kleins af baie gou vrede daarmee gemaak dat hy anders as sy portuurgroep lyk. Hy was nog altyd net positief, vertel sy ouers.
“Ons almal in die huis is kort, so ek sien niks snaaks aan Darren nie. Vir ons is hy normaal,”sê Terri-Lee.
Caren-Lee lag wanneer sy byvoeg Darren was oor die jare ’n lekker“money-saver” omdat hy by konserte byvoorbeeld die prys van kinderkaartjies betaal het.
“Ons het sy lengte aanvaar, want nou is hy ook my lengte en ek is nie alleen meer die kortste man in die huis nie!”voeg Stanley laggend by. WAT SÊ DARREN? Een ding is seker, Darren klink nie soos ’n tienerseun nie. Hy het ’n diep stem en gesels soos ’n selfversekerde jongman wat weet wat in hom steek en wat hy uit die lewe wil hê.“Ek was nog op laerskool
toe die groeisel verwyder is en dit het my daarna nie meer gepla nie. Ek het jonger gelyk en was korter, maar vir my was ek geensins anders nie. Ek het nog altyd alles gedoen wat ek wou.
“Aan die begin van my universiteitsdae het mense gevra wat ek daar maak. Een keer het iemand in die klas gedink ek is iemand anders se broertjie !” vertel Dar ren, wat vir twee jaar op Rand Merchant Bank se graduandi-program geplaas is.
Hy gaan nou die geleentheid kry om in verskeie departemente binne hierdie groot bankgroep te werk en ervaring op te doen. Daarna is daar kans dat hy permanent aangestel kan word, sê Darren.
kon sig verloor
Nes sy familie is Darren duidelik nie gepla oor sy lengte of sy jeugdige voorkoms nie en laat hy dit hom nog minder terughou in die lewe. Want die Van Roodts weet hulle het baie om voor dankbaar te wees, aangesien dinge soveel anders kon gewees het as die operasie destyds nie ’n sukses was nie.
In 2000 was daar ’n 50/50-kans dat Darren ná die operasie om die groeisel op sy brein te verwyder, sy sig kon verloor en nie meer normaal sou kon funksioneer nie, óf dit kon ’n sukses wees en hy sou normaal kon aangaan met sy lewe, verduidelik sy ouers.
Gelukkig en tot hul groot verligting was dit laasgenoemde.
Jill vertel met haar swangerskap het Darren breech gelê en is gedraai toe sy op so sewe/ agt maande swanger was. Hy is gevolglik met ’n keisersnee gebore.
Soos wat hy groter geword het, was daar op die oog af niks fout met Darren nie, maar toe begin hy gereeld kla van erge hoofpyne.“Hy was nog op crèche toe hy soggens en smiddae gekla het sy kop pyn,” begin Stanley vertel.
“Ek dog toe dis oor hy nie eet of wil skool toe gaan nie dat hy so kopsere gekry het. Maar ons het ook later begin wonder wat aangaan toe Terri twee was en Darren vier, maar hulle ewe groot was,”voeg Jill by.
Stanley raak emosioneel wanneer hy die aand onthou toe dinge begin ontrafel het, en kort voor lank moet Jill, Caren-Lee, TerriLee en ouma Christine almal tissues nader trek om die trane af te vee. Die vrolike gelag vir ’n oomblik stil.
Jill neem die vertelling by Stanley oor wanneer sy sê toe Darren ses jaar oud was, het hy een aand by sy tannie, wyle Magdalene Chapman, oorgeslaap toe hy siek word. Hulle het hom na die Conradiehospitaal in Mitchell s Pla ingeneem, waar dokters gesê het iets is beslis fout met Darren.
Hy is later na die Rooi Kruis-kinderhospitaal verwys en toe na Groote Schuurhospitaal vir verdere toetse.
Dokters het op X-strale gesien Darren het ’n groeisel op sy brein en hulle wou so gou moontlik opereer.
“Dokters het gesê die groeisel kan Darren se groei en gesiente (sig) beïnvloed. Die operasie was nege ure lank en die dokters het vir ons gesê die groeisel lyk asof dit deel was van ’n neus, maar dat dit nie kankeragtig was nie. Dit was ’n baie delikate operasie en baie lank, maar die Here het ons deurgedra.
“Toe ons hom ná die operasie besoek, was sy kop toegedraai. Ek sê toe vir hom, ‘hello my boy’en toe sê hy‘hello Mommy’. Ek was so bly toe hy dadelik my stem herken. Ek het net gesê, ‘dankie, Here’,”vertel Jill oor haar blydskap daardie tyd toe sy uitvind haar enigste seun het heel aan die anderkant uitgekom.
Darren was in totaal vir ses weke in die hospitaal om aan te sterk en het met sy ontslag gou aangepas en presies verstaan wat met hom gebeur het. Hy kon op sewejarige ouderdom al sê hoeveel pille hy moes drink en sommer homself ook met die groeihormone inspuit.
“Toe Darren uit die hospitaal kom, was hy klaar ’n grootmens én sommer sy eie dokter.
“Hy moes ook daarna baie koeldrank drink en dit was ’n benefit vir ons ook,”spot Caren-Lee en lig weer die atmosfeer van somber na vrolik.
’n blink TOEKOMS
Darren se toekoms het ná hierdie operasie oopgelê voor hom en sy ma-hulle sê dit lyk asof hy toe nóg slimmer anderkant uitgekom het. Hy het altyd belanggestel in elektroniese speletjies en tegnologie en wou altyd goed verander, vertel Caren-Lee.
Toe die Reach fora Dream Foundation vir hom ’n Playstation 1 skenk, was Darren nie tevrede om net die games te speel nie. Hy wou die mannetjies groter maak en die karretjies vinniger laat ry.
Darren sê hy was nog altyd lief vir tegnologie en was altyd die eerste een in die huis om byvoorbeeld uit te figure hoe ’n nuwe selfoon werk. So ’n loopbaan in hierdie rigting het natuurlik gevolg.
Oor watter drome Stanley vir sy seun het, sê hy hy weet Darren mik altyd hoog en sal enigiets vermag wat hy wil.
Maar dis Darren wat meer duidelikheid oor sy toekomsdrome gee wanneer hy sê:“My groot droom is om ’n sagtewaremaatskappy te hê sodat ek onderwys- en gemeenskap s kwessies deur middel van tegnologie kan oplos.”
En dit lyk asof hy sterk op pad is boontoe, want, sê Caren-Lee trots, haar broer gaan klaarblyklik binnekort sy tesis oor ’n alternatiewe manier om drones te beheer in Spanje aanbied.
Nee kyk, Darren van Roodt is inderdaad klein maar getrain – en bleddie slim ook!