Kuier

Eerwaarde sê kies vergifnis hierdie Vadersdag

Vadersdag is ’n dag wat gevier moet word, maar vir baie is dit ’n seer dag omdat hulle sukkel om hul pa te vergewe. Kies vandag vergifnis en begin ’n nuwe pad van genesing.

- Deur karien muller * Eerw. Karien Muller is verbonde aan die VGKSA/URCSA Durbanvill­e, Kaapstad.

Vir sommige van ons in die bediening kan preke oor Vadersdag maklik kom, maar ek het ’n moeilike tyd om só ’n preek te maak. Want wat kan ek oor Vadersdag sê? Wat wil die Here hê moet ek sê?

En as ek so mag sê, tipies kom geen antwoord. Ek dink dit is die verkeerde vrae wat ek vra. ’n Beter vraag sou wees:“Here, watter les het U my geleer oor vaderskap?” In my geval, soos ek hierdie vraag oorweeg, kom hierdie les voor oë: Vergewe jou vader.

Baie keer by begrafniss­e van ouer mans of vaders het ek geleer dat een of meer van die kinders griewe teen die oorledene dra vir iets wat hy jare gelede gedoen het, of moes gedoen het en misluk het. My eie lewensverh­aal verskil nie veel van hierdie kinders s’n nie, behalwe die feit dat ek nooit die voorreg gehad het om my vader te ken of ontmoet het nie. Ek weet nie of hy nog lewe en of hy al gesterf het nie.

Dit het soveel onbeantwoo­rde vrae gelaat. Vrae soos: Waarom het hy my ma verlaat? Was hy nie lief vir my nie? Hoekom was hy nie daar nie? Is dít die rede waarom ek so bang is om mans of enigiemand wat te naby my kom toe te laat, of selfs dat ek nie kinders van my eie wil hê nie?

Vir ’n lang tyd het ek hierdie griewe teen my pa gedra. Met die hulp van Desmond en Mpho Tutu se boek, The Book of For

giving, het ek op ’n plek tydens my teologiese studies gekom om my pa te vergewe, om hierdie las ligter te maak. Ek het hom vergewe omdat hy mens, feilbaar en ja, vol foute, is. Maar wie van ons het nie foute nie? En ek self sou my kinders wil vergewe. Hy het dalk nie geweet wat hy gedoen het nie. Hy het dalk nie geweet wie hy is nie. Want ’n vader wat weet hy is ’n skepping van die Almagtige God en die verloste van ’n liefdevoll­e Verlosser, sal weet hoekom hy op aarde geplaas is. Hy sal sy rol as vader vervul en uitleef. Hy sal weet hy is hier vir ’n eerbare en hoër doel.

Aan die kruis het die Here Jesus Sy verraaiers gekyk en gebid:“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”(Lukas 23:34)

Vergewe die vader wat jou verlaat, seergemaak of verraai het. Om te vergewe, is nie om voor te gee dat die verwerping, seer of verraad nie gebeur het nie. Genesing en versoening vereis ’n eerlike afrekening. Vir Christene stel Jesus Christus die voorbeeld vir vergifnis en versoening. Hy het sy verraaiers vergifnis aangebied. Jesus, die Seun van God, kon maklik die tekens van die marteling en dood wat Hy verduur het, uitwis. Maar Hy het verkies om nie daardie bewyse uit te wis nie. Ná Sy opstanding het Hy aan Sy dissipels verskyn en in die meeste gevalle het Hy vir hulle Sy wonde en letsels gewys. Dít is wat genesing vereis. Gedrag wat skadelik, beledigend of vernederen­d is, moet in die lig van die waarheid gebring word. En die waarheid kan soms brutaal wees. Trouens, die waarheid kan die pyn vererger; dit kan dinge erger maak. Maar as ons werklike vergifnis en werklike genesing wil hê, moet ons die werklike seer in die gesig staar.

Maar uiteindeli­k kan niemand jou dwing om te vergewe nie. Ek kan jou vra om dit te doen. Ek kan jou op hierdie reis nooi. Almal van ons moet ons eie paaie, teen ons eie pas, loop. Almal van ons het ons eie verhale om elke dag te vergewe. As ek my lewenstori­e kon afsluit met een wens vir hierdie Vadersdag, sou dit wees dat ek nog een keer my vader in die gesig kon staar, om te sê:“Vader ek vergeef jou.”Hoe seer hy my ook al gemaak het.

Wat sal jou wens wees? Sal dit een wees van hoop en verlossing, of ellende, spyt en wraak? Uiteindeli­k word die vergifnis wat ons soek, deur ons eie menslikhei­d beskryf. Jy moet net binne-in jou hart kyk en dit ontdek – die krag ontdek wat dit het om jou lewe te verander en ons wêreld te verander. Elkeen het die vermoë om te verander.

Ons kan nie ’n wêreld skep sonder pyn, verlies en seer nie, maar ons kan ’n wêreld van vergifnis skep. Ons kan ’n wêreld van vergifnis skep wat ons toelaat om van die verliese en pyn te genees en ons verhouding­s te herstel. Jy kan vandag ’n wêreld van vergifnis in jou eie huis skep.

Want ’n vader wat weet hy is ’n skepping van die Almagtige God en die verloste van ’n liefdevoll­e Verlosser, sal weet hoekom hy op aarde geplaas is.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa