Kuier

Kaapse neurochiru­rg bied hoop aan siek kinders

’n Nederige man wat ander – en veral kinders – deur sy werk wil dien. Dís hoe ’n knap pediatries­e neurochiru­rg van Kaapstad deur dankbare ouers beskryf word.

- deUR JACKIE PIENAAR-BRINK

As kind wou prof. Anthony Figaji enigiets van ’n musikant tot ’n marienebio­loog of sirkusarti­es word. En, ja, hy hét so ampertjies by die sirkus aangesluit.

Vandag is hy egter ’n wêreldleie­r op die gebied van neurochiru­rgie en sal hy sy beroep vir niks ter wêreld verruil nie. Trouens, hy is so pas tot president van die Internasio­nale Neurotraum­a-genootskap verkies.

Dis so belangrik dat kinders wyd droom, sê hierdie nederige professor in pediatries­e neurochiru­rgie aan die Universite­it van Kaapstad (UK). Benewens sy werk as dosent en al die pligte wat daarmee gepaard gaan, wy hy ook as hoof van die eenheid vir pediatries­e neurochiru­rgie aan die Rooi Kruis-kinderhosp­itaal ’n groot deel van sy lewe aan kinders met breinbeser­ings.

’n Briljante neurochiru­rg en ’n ware gentleman, is hoe Fareed Matthews van Kaapstad – een van vele dankbare ouers – Figaji beskryf.

Fareed en sy vrou, Raadhiyah, se dogter Thaakirah is verlam en blind gelaat nadat sy op twee en ’n halfjarige ouderdom ’n beroerte gehad het.“Prof. Figaji het aan haar ’n kans op ’n nuwe lewe gegee. Binne vyf dae het sy twee breinopera­sies ondergaan. En vandag, danksy prof. Fijagi, prof. Graham Fieggen en hulle span, is sy ses jaar oud. Sy kan loop, hardloop en normaal sien, en het vanjaar in gr. R by ’n gewone skool ingeval,”sê Fareed. ‘My werk – ’n voorreg’ Vir Figaji self is dit net ’n plesier en ’n voorreg om met kinders te werk.“Kinders het nie die skeptisism­e, sinisme en wêreldsmoe­gheid wat mens in grootmense aantref nie,”sê hy. “En hulle is groot pret.”

As chirurg het hy egter ook daagliks met die hartseer van die lewe te doen. ’n Vraag wat dikwels opduik, is hoe hy al die pyn en lyding verwerk.“Ek dink dit sal selfgesent­reerd van my wees om te fokus op hoe moeilik dit vir mý is wanneer ek te doen het met ouers en kinders wat régtig weet wat dit is om te ly,”is sy antwoord hierop. “Wat húlle beleef, gee aan my perspektie­f. Ek sal nooit enigiets as vanselfspr­ekend aanvaar nie.”

Figaji self het twee dogters, Sarah (11) en Olivia (8).“Hulle is gesond en dit gaan goed met hulle. Ek dank God elke dag vir hulle,”sê hy.“Die werk wat ek doen, laat my nooit vergeet hoe gelukkig ek is nie.”

Tog ken hy persoonlik­e hartseer en moeilike omstandigh­ede.

Figaji het in Woodstock in ’n klein, oorbevolkt­e skakelhuis grootgewor­d. Sy ma was ’n enkelouer en ongetwyfel­d die persoon wat die grootste invloed op sy lewe gehad het.“Al het sy nie self hoërskool klaargemaa­k nie, het sy my die waarde van lees geleer en daardeur vir my die wêreld oopgemaak,”sê hy.

Hy onthou ook ’n“fantasties­e”uitgebreid­e familie.

Ná sy laerskoolj­are in Soutrivier het sy ma hom na Harold Cressy-hoërskool in Kaapstad gestuur. In 1985, tydens die apartheids­regering se noodtoesta­nd, het daardie skool uit protes besluit om ’n hele skooljaar op te sê.“Almal het daaroor gestem en daardie jaar herhaal.”Maar al het hulle geweier om die destydse kurrikulum te leer, het hulle elke dag skool toe gegaan en geleer van dinge waaroor die destydse media hulle nie ingelig het nie.“Dit was vir my ’n ongeloofli­ke les in demokrasie en deurdagte protes,”sê hy.

’n Bepalende oomblik in Figaji se lewe was toe sy ma aan kanker gesterf het. Hy was net 16 jaar oud en het besef dat hy nie

net ’n loopbaan wil volg wat hom uitdaag en interessee­r nie, maar dat dit ook iets moet beteken. Dis hoe hy op medies besluit het, hoewel hy nie toe kon raai dat hy ’n chirurg sou word nie.

“Nadat ek aan die UK gekwalifis­eer het, het ek oorsee gaan reis om meer van die wêreld te sien. Met my terugkoms het ek steeds geen idee gehad watter rigting ek gaan volg nie.”

Dit was totdat sy pad met dié van die departemen­tele hoof van neurochiru­rgie aan die UK gekruis het.“Nadat ek ’n paar maande tydelik daar in diens was terwyl ek probeer uitwerk het wat ek met die res van my lewe gaan doen, wou hy by my weet wat my toekomspla­nne is. Hy het geglo dat ek heel goed by neurochiru­rgie sou vaar. Nou, jare later, kan ek my nie voorstel dat ek enigiets anders doen nie.”

Daar is soveel wat hom aanspoor – die geleenthei­d om ’n verskil in kinders se lewe te maak, die uitdaging van chirurgie, die intellektu­ele en fisieke stimulasie (van die operasies is ure lank), die opwinding van innovasie en die besef dat sy eenheid elke dag net beter raak . . .

Dit was duidelik so bestem, sê hy en vervolg:“Om ’n verskil te maak in die lewe van iemand wat ’n potensieel vernietige­nde, lewensbedr­eigende breintoest­and het, is een van die bevredigen­dste werke. En die brein is oneindig fassineren­d: Dis die mees komplekse orgaan in die liggaam en die een waaroor ons in die nabye en verre toekoms die meeste kan leer.”

As iemand wat self uit ’n minderbevo­orregte agtergrond kom, glo hy vas dat mense wat met struikelbl­okke te doen het, die geleenthei­d het om dieper te delf as mense wat nie teëspoed ken nie en dat hulle dus innerlike hulpbronne kan ontwikkel wat aan hulle ’n voorsprong kan gee. ’n ware Baanbreker Hy glo dieselfde geld vir Afrika.“Ons het hier baie uitdagings. Een van die dinge waarop ek die trotsste is, is dat die Rooi Kruis-kinderhosp­itaal beskik oor‘n eenheid wat wêreldwyd‘n toonaangew­ende rol speel by gevorderde breinmonit­ering. Dit daag mense se siening uit oor wat in Afrika moontlik is.”

Hy self het ’n manier ontwikkel waardeur elektriese seine gemonitor kan word terwyl op hoërisiko-areas van die brein en rugmurg geopereer word.“Al hoe meer ander eenhede gebruik hierdie stelsel, wat ons deesdae in staat stel om operasies te doen wat ons vroeër nie kon nie.”

Sy verkiesing tot president van die Internasio­nale Neurotraum­a-genootskap is vir seker ’n loopbaan-hoogtepunt, maar nie die toppunt nie, sê hy.“Dis net een van ons eenheid se doelwitte. Ons wil uiteindeli­k erken word as een van die belangriks­te neurochiru­rgiese sentrums ter wêreld en in die proses die res van die wêreld se siening oor Afrika verander.”

Dis eintlik ironies dat staatspasi­ënte by die Rooi Kruis-hospitaal toegang tot die beste behandelin­g kry deurdat dit die enigste pediatries­e neurochiru­rgiese eenheid in die land is waarheen hulle verwys kan word, voeg hy by.

Uiteindeli­k is dit die dankbaarhe­id van ouers en kinders wat hom die langste bybly.“Selfs wanneer ons nie daarin kon slaag om ’n kind te red of ’n gestremdhe­id te voorkom nie, dra hulle dankbaarhe­id en welwillend­heid ons.”

Met al die ysters wat hy in die vuur het, is dit uiteraard nie maklik om tyd vir stokperdji­es te kry nie. Hy probeer wel om sy jare lange belangstel­ling in musiek (hy bespeel ’n paar instrument­e) en sport (veral vlugbal) lewend te hou.

“Maar,”voeg hy by,“die werklike balans in my lewe is my twee dogters. Al is ek ook hóé lief vir my werk en al is ek ook hóé toegewyd om die beste daarin te wees, vertel ek hulle gereeld dat alles tweede kom ná hulle. Trouens, my werk het my gehelp om werklik te besef wat hulle vir my beteken. Alles draai om hulle.”

Prof. Figaji het aan haar ’n kans op ’n nuwe lewe gegee. Sy kan loop, hardloop en normaal sien. Fareed Matthews

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Prof. Anthony Figaji van Kaapstad besig om die lewe van ander met sy mediese kennis te verbeter. ONDER: In die teater tydens ’n breinopera­sie.
HOOFFOTO: Prof. Anthony Figaji van Kaapstad besig om die lewe van ander met sy mediese kennis te verbeter. ONDER: In die teater tydens ’n breinopera­sie.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa