Kuier

Paartjie vier 60 jaar saam; gee raad vir ’n lang, gelukkige huwelik

Op soek na raad vir ’n huwelik wat sal hou? Wie dan beter om by aan te klop as ’n paartjie wat al 60 jaar lank gelukkig getroud is! DEUR ERNUSTa MARALACK

-

Die dag toe die Le Cordeur-egpaar van Wellington in die Wes-Kaap beloof het om mekaar in goeie en slegte tye en deur siekte en gesondheid by te staan, was dit nie bloot net lippediens nie. Hulle het elke liewe woord bedoel en vanjaar, 60 jaar en ses kinders later, is hierdie paartjie die toonbeeld van hoe ’n gelukkige huwelik moet lyk.

Ons lewe in ’n tyd waar die egskeiding­statistiek­e die hoogte inskiet en dit nie eens meer snaaks is om te hoor ’n huwelik het binne die eerste vyf jaar verbrokkel nie. Statistiek­e Suid-Afrika het in hul huweliks- en egskeiding­sverslag van 2014, wat teen die einde van 2016 uitgereik is, juis aangedui dat 24 689 egskeiding­s teen Desember 2015 geprosesse­er is. Wat hierdie syfers nog meer skokkend maak, is dat 45,7% van dié egskeiding­s kom ná huwelike wat minder as 10 jaar gehou het! En om die kersie op die koek te sit, was daar ook ’n toename in egskeiding­s in die bruin gemeenskap.

Wanneer ’n mens na hierdie koue feite kyk, is dit maklik om mismoedig te raak oor die getroude lewe, want ’n mooi troue beteken duidelik nie noodwendig ’n lang en gelukkige huwelik nie . . .

Maar die Le Cordeurs se liefdesver­haal en hoe hulle al ses dekades saam die op en af van die lewe beleef én oorleef het, maak egter ’n mens se hart dadelik etlike grade warmer en gee jonggetrou­des hoop dat“happily ever after”nie net in Hollywood-flieks bestaan nie. Mits albei partye natuurlik bereid is om volkome hul deel te doen om hul huwelik te laat slaag, sê die Le Cordeurs. VIR EWIG SAAM Behalwe die liefde wat oom Michael en antie Sylvia vir mekaar het, is hul wedersydse respek amper tasbaar. Dit is in die teer manier waarop hulle na mekaar kyk en hoe die een aandagtig luister en stilbly sodat die ander een sy storie klaar kan vertel, sonder dat hulle mekaar in die rede val. Hulle wil ook die heeltyd weet waar die ander een is. Nie omdat hulle besitlik is nie, maar omdat hulle op hul maat se veiligheid ingestel is.

Die woord“egskeiding”was ook nog nooit deel van die Le Cordeurs se woordeskat in hul huwelik nie. Inteendeel, sê oom Michael (82), hy kan die aande wat hy in hul 60 jaar se getroude lewe weg van antie Sylvia (79) geslaap het, op sy een hand tel. Dít is hoe min hulle weg van mekaar af wíl wees, want toe hulle op 27 April 1957 in die VGK-kerk op Wellington trou aan mekaar beloof het, het hulle geweet hulle wil saam oud word en alles in die lewe saam aanpak en saam oor dinge besluit. Dis in dieselfde kerk waar hulle in April opgestaan het om hul 60ste huwelikshe­r-

denking te vier.

Antie Sylvia en oom Michael kom albei uit moeilike omstandigh­ede, met veral antie Sylvia wat groot seer in haar rondgedra het. Dit was juis oom Michael wat daai jare ’n lig in haar hart kom aansteek het, wat sy nie eens geweet het kán brand nie. Hy was ook die eerste een in haar lewe wat opregte liefde aan haar getoon het, want dis iets wat sy nooit geken het nie. Verwerping wel.

Dis antie Sylvia wat eerste haar kant van hulle storie vertel.

Sy het by haar ouma Adams (soos sy haar ma se ma noem), grootgewor­d en het nooit regtig haar ma geken of ’n verhouding met haar gehad nie.

“My ouma het my ma weggejaag toe sy swanger word met my. Sy het gesê sy soek nie hoerkinder­s nie, want sy het sewe kinders van haar eie grootgemaa­k. My ma het my in ’n weeshuis laat plaas, maar op drie maande het ek nog in die home gelê. My ouma het gehoor daarvan en my toe kom haal,”vertel antie Sylvia op haar rustige, kalm manier.

Haar ouma mag haar dalk ’n dak oor haar kop gegee het, maar vir antie Sylvia het dit gevoel asof haar ouma se hart toe gebly het vir haar, want sy kan nie onthou dat sy liefde by haar of haar oom, wat ook by haar ouma in die huis gewoon het, gekry het nie. Antie Sylvia moes op 14 gaan werk omdat haar ouma nie meer“kon sukkel met my nie”. Later, toe haar oom trou, sê antie Sylvia, het sy weer swaar gehad onder haar oom se vrou, wat haar nie mooi behandel het nie.

Oom Michael, wat doodstil na sy vrou se vertelling luister, vertel op sy beurt hy kom uit ’n swaarkry-agtergrond omdat daar nooit genoeg geld was nie, maak nie saak hoe hard hy, sy oupa of sy pa gewerk het nie. Hy was een van ses kinders en moes nes antie Sylvia al vroeg uitspring om te gaan werk. Hy was maar 13 jaar oud toe hy begin werk het.

“Op 16 het ek by ’n leerskoenf­abriek gewerk, maar besef ek sal iets moet doen as ek iets in die lewe wil bereik,”vertel oom Michael. Hy het later vordering gemaak toe sy baas hom die geleenthei­d gee om ook te ontwerp en só het oom Michael later sy eie leerskoenb­esigheid begin, waarmee antie Sylvia hom gehelp het nadat hulle getrou het. Só kruis hul paaie Oom Michael en antie Sylvia was destyds by dieselfde laerskool en het naby mekaar gebly, maar mekaar nie geken nie. Hulle het egter mekaar se aandag getrek in ’n tyd toe antie Sylvia baie eensaam was.

Antie Sylvia se oë begin vonkel wanneer sy dit onthou.“Ek het in my oom se winkel gehelp toe Michael een dag ná werk sigarette en ’n avokadopee­r kom koop. Hy het die volgende dag teruggekom en gesê ek het hom te min kleingeld gegee,”vertel antie Sylvia. Sy het haar boeglam geskrik en sy kleingeld teruggegee.

Toe ons oom Michael vra of dit maar net ’n plan was om by antie Sylvia uit te kom, antwoord hy nie, maar gee sy stout laggie. Sy skouers wat skud gee hom weg.

Antie Sylvia vertel:“Ek was bang vir mans, want my ouma was baie streng. Sy het my altyd gesê sy sal my uitgooi soos my ma as ek met ’n bolling (swangerska­p) by haar aankom.”

Oom Michael was egter nie van plan om antie Sylvia deur sy vingers te laat glip nie en het van daardie dag af haar aandag probeer hou. Haar ouma het hulle belet om mekaar te sien, maar dan het oom Michael voor hul huis gestaan of buite gesit. Met haar ouma se afsterwe toe antie Sylvia 16 was, het sy en oom Michael meer gereeld op dates gegaan. Maar nooit baie ver van haar huis af nie omdat sy steeds by haar oom en sy kwaai vrou gebly het.

Antie Sylvia wys ’n foto van haar en oom Michael wat by ’n boom staan, en sê geheimsinn­ig:“As daai boom kon praat . . .” Sy was toe sy 16 en hy 19. Weer lag oom Michael dat die skouers skud.

“Als was spontaan tussen ons. Ons het baie gaan stap, want karre was so skaars soos hoendertan­de. Ons het saam kerk en bidure toe gegaan,”sê oom Michael.

“En tot by Nel se kafee in Kerkstraat waar hy vir my ’n platbakkie roomys gekoop het,”sê antie Sylvia met ’n glimlag.

Toe sy later vir hom sê sy wil inslaapwer­k in die Kaap gaan doen om weg te kom van haar huislike omstandigh­ede, het oom Michael teen die karre geskop, want hy wou haar nie verloor nie. Die afstand tussen Wellington en die Kaap was te ver en toe sê hy sommer hulle moet trou.

“Toe trou ons tjoef-tjaf,” sê antie Sylvia, wat ook instrument­eel was om die eerste vlooimark in Wellington te begin waar sy haar man se produkte verkoop het. Sy wys trots die toekenning wat sy as erkenning hiervoor ontvang het. ‘REËLS’ VAN DIE LIEFDE Die Le Cordeurs se resep vir ’n gelukkige huwelik is eenvoudig: wedersydse respek en ondersteun­ing, om saam na aan die Here te lewe en baie tyd saam deur te bring.“Die samelewing in Suid-Afrika vandag is nie meer maklik nie, want die kerk kom derde laaste,”sê oom Michael wat al 22 jaar op die kerkraad dien.“In die aanddienst­e is ook so min mense dat ek wonder wat doen die mense dan dat hulle nie in die kerk is nie.”

Hul raad vir getroude paartjies is om saam kerk toe te gaan en saam te bid en die kinders moet Sondagskoo­l toe. Gesinne moet ook ’n punt daarvan maak om aan tafel te sit en eet en die TV afskakel!

“Die huweliksle­we draai om samesyn, eerbied, respek en ondersteun­ing vir mekaar. Vandag nog as ek net uit die huis uit gaan om na my plante te kyk, wil Sylvia weet waar ek is. Soms loop ek aspris uit sonder om haar te sê net om te kyk of sy my gaan soek,”sê oom Michael ondeund.

Antie Sylvia vertel as sy siekerig voel, sal oom Michael vir haar haar tee en pap bring (al hou sy nie van pap nie), sodat sy haar pille kan drink.

“Jy gee ’n gelofte voor die preekstoel af dat julle mekaar gaan bystaan in siekte en swaarkry,”sê oom Michael terwyl hy sy vrou liefdevol aankyk.

 ??  ?? HOOFFOTO: Oom Michael (82) en antie Sylvia (79) le Cordeur is ná ses dekades saam nog net so lief vir mekaar soos op hulle troudag (ONDER).
HOOFFOTO: Oom Michael (82) en antie Sylvia (79) le Cordeur is ná ses dekades saam nog net so lief vir mekaar soos op hulle troudag (ONDER).
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa