Kuier

Hoe gemaak as jou pa té streng is

’n Pa moet grense stel en sy kinders dissipline­er, maar wanneer is dié beheer te erg en doen dit die kind meer skade as goed? DEUR Elmarine Anthony

-

Dis natuurlik vir ouers om beskermend teenoor hul kinders te wees, maar dis ook belangrik om jou kind genoeg vryheid te gee sodat hulle leer om hul eie oordeel te gebruik en verantwoor­delikheid te neem vir hul eie besluite – iets wat noodsaakli­k gaan wees in hul volwasse lewe.

Maar soms is dit vir veral pa’s moeilik om hierdie balans reg te kry met hul tienerdogt­ers en hulle toe te laat om hul eie besluite te neem, veral wanneer dit by verhouding­s kom. Sommige kinders verstaan dat die pa uit liefde optree en nie wil hê dat hulle seerkry nie, maar soms is sy optrede só erg dat dit ’n pa se verhouding met sy dogter vir ewig skade kan aandoen.

Dít is presies wat met Samantha Jansen* (32) van Piketberg in die Wes-Kaap gebeur het. Haar pa was só oorbeskerm­end dat sy selfmoord wou pleeg. Hy was so streng dat sy nooit uit die huis kon gaan nie, behalwe om die biblioteek te besoek. Op hoërskool kon Samantha nie skooldanse bywoon nie. Haar pa se woord was wet in die huis.“In gr. 8 of 9 wou ek graag na die skooldans toe gaan, omdat al my vriende daar sou wees. My ma het gesê ek kan gaan, maar die volgende oggend het my pa nie eens met my gepraat nie. Die aand toe my pa van die werk af kom, het ek ’n groot pak slae gekry.”

Volgens Samantha het haar pa nooit sy streng optrede verduideli­k nie, maar sy het geweet dis omdat hy bang was dat sy ’n boyfriend sou kry en swanger word, al het sy talle kere bewys dat sy nie stout of rebels is nie.“Jy bly onder my dak. Jy sal maak wat ek sê of jy kan gaan,”het haar pa ook soms aan haar gesê, vertel Samantha.

Sy het een aand ’n gospelkons­ert met haar pa se toestemmin­g bygewoon, maar net as haar jonger suster saamgaan. Toe hulle later die aand terug huis toe loop, het haar suster vir Samantha gesê haar pa gaan haar weer slaan as hulle by die huis kom. Samantha was toe moedeloos en het dieselfde aand probeer selfmoord pleeg.

Sy sê sy kon nie wag om matriek te voltooi en uit die huis te trek nie, maar selfs toe sy in Kaaptad op universite­it was, wou haar pa steeds haar bewegings beheer en is sy steeds nie toegelaat om ’n boyfriend te hê nie.

Samantha het baie haatgevoel­ens teenoor haar pa gehad en dít het erger geword omdat haar jonger suster nie dieselfde behandel is nie. Sy is toegelaat om op 13 ’n boyfriend te hê.“Ek het myself afgevra of hy meer lief is vir haar, want hoekom is sy dan anders behandel?”

Só sien ’n pa dit

Bradley de Wet* (53) van Stellenbos­ch het geleer dit maak nie saak hoe oorbeskerm­end jy as pa is nie, slegte dinge buite jou beheer kan steeds met jou kind gebeur. Sy 14-jarige dogter is verkrag en sy wou nie haar familie daarvan vertel nie omdat sy bang was haar pa vermoor die oortreder. Sy dogter het een aand sonder toestemmin­g saam met ’n vriendin en twee outjies uitgeglip; sy is dié aand

verkrag. Hy het wel uitgevind van die verkragtin­g toe hy eendag haar dagboek gelees het omdat sy haar snaaks gedra het. “Sy het geweet ek sal enigiemand vermoor wat my familie seermaak,”vertel hy.

Hulle het gesorg dat sy berading kry, maar ná die verkragtin­g was hy minder oorbeskerm­end omdat hy gevoel het dat sy moeite verniet was.

Bradley dink die feit dat hy in die weermag was, het bygedra tot hoe streng en oorbeskerm­end hy met sy drie kinders was. Sy oudste seun het selfs uit die huis getrek omdat hy so streng was, sê Bradley. “Ons het baie min kontak, maar geen harde gevoelens nie. As ouer het ek ’n fondament geskep en as ons kinders basiese riglyne ignoreer en dit getoets word, het ons probeer.

“Ek wonder altyd hoe dinge sou uitwerk as ek nie so streng was nie.”

Justine Afrika* (24) van Malmesbury het later in haar lewe haar pa se houding teenoor haar verstaan. Haar pa was vanaf haar kinder- tot laat tienerjare oorbeskerm­end teenoor haar. Daar was baie dinge wat sy nie kon doen nie, veral nie dinge wat weg van die huis af sou plaasvind nie. “Ek het vir ’n ruk lank netbal geoefen, maar die dag toe ons op ’n ander plek moes gaan speel, het my pa gesê ek mag nie gaan nie.‘Wat as iets met jou gebeur,’was altyd sy rede,”vertel Justine. Sy kon nie op die pad wees tydens die feesseisoe­n nie omdat die paaie besig was en enigiets kon gebeur, het haar pa redeneer. Sy kon ook nie altyd by familie of vriende gaan kuier nie. Wanneer sy wel kon, was daar altyd baie dinge wat sy kon en nie kon doen nie. Toe sy 18 was, het sy Stellenbos­ch toe getrek en studeer. Hy het haar steeds gemaan om versigtig te wees, maar was nie meer so erg oorbeskerm­end nie. Justine was verbaas hoe goed hy dit hanteer het dat sy sou trek.

hou vas én laat gaan

Hoewel sy baie kere vies was vir haar pa omdat sy nie kon gaan kuier of netbal speel nie, het Justine tog op ’n manier verstaan wat hy probeer doen het en het dit nie haar verhouding met haar pa negatief beïnvloed nie.“Inteendeel, ek dink dat dit my eintlik maar laat besef het hoe baie hy omgee, al was hy by tye irrasionee­l na my mening.”Haar pa het haar suster, wat drie jaar jonger as sy is, dieselfde behandel, maar hy is nie so erg met haar ander suster en broer, wat onderskeid­elik 13 en 18 jaar jonger as sy is, nie.“Ek dink dis seker omdat hy ouer word en dat daar nou meer oë is om die ander twee mee dop te hou. Dalk ook omdat hy besef het dat dit nie nodig is om so te wees nie en dat hy steeds ’n goeie ouer kan wees.”

Francois Rabie, ’n kliniese sielkundig­e van Kaapstad, sê een van die rolle wat die ouer tydens kinders se tienerjare inneem, is om die konteks te skep waarbinne hulle toegelaat kan word om die wêreld buite die huis te kan verken. Dit is deel van ’n kind se ontwikkeli­ng om onafhankli­kheid en nuwe idees rondom self-identiteit te kry.“Ouers skep hopelik ’n konteks waarin dit kan gebeur. As ouer moet jy naby genoeg wees, maar ook afstand kan handhaaf dat jou kind kan verken. Pa’s speel ’n belangrike rol hier. As die pa afwesig is, het dit beslis implikasie­s vir ontwikkeli­ng. Maar as die pa nie afstand kan neem nie, dui dit miskien op ’n paar boodskappe; dat die wêreld baie gevaarlik is, dat jy nie moet grootword nie, dat jou ouers afhanklik is van jou en dat jy nie meer komplekse selfidenti­teit kan vorm nie,”verduideli­k hy.

Volgens Franscois speel die ma ’n baie spesifieke rol, nie net as versorger nie, maar sy is direk verbind aan die kind se oorlewing gedurende babajare. Die ma en kind het dus ’n baie noue verhouding. “Die pa se verhouding en rol moet wees om die konteks te help skep vir ontdekking. Natuurlik die ma ook, maar dit is die pa wat die grense help stel. As die grense baie beperk en onbuigsaam is, skep jy probleme.”

Volgens Cristine Scolari, ’n kindersiel­kundige by die Seriti Therapy and Assessment Centre in Gauteng, kan daar verskeie gevolge van oorbeskerm­ende pa’s wees. Tieners kan byvoorbeel­d rebelleer, neigings tot wangedrag hê of op die uiterste dalk onttrek en angstig word.

“Natuurlik het tieners ook grense nodig en dit is noodsaakli­k vir families om belangrike kwessies soos curfews en waar, wanneer en met wie hulle kan gaan, te bespreek,”sê Chistine.

Francois raai oorbeskerm­de pa’s aan om hulself eerlik die volgende vrae te vra: Waarvoor is ek bang? Wat kan ek my kind nie gun nie? Wat projekteer ek na my kind toe? Moet ek in beheer wees van alles?

Hy meen ook dat beperkings belangrik is en dat tieners beperkings nodig het. Dit is ook iets wat die pa moet help skep. “Dit is ’n delikate balans van perke, veiligheid asook vryheid – jou kind moet sy wêreld kan toets. As jou kind weet jy as pa is naby vir ondersteun­ing, dan is hulle meer gerus.” *Skuilnaam

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa