Kuier

Wat die hart van vol is

Beamptes betoon soms geen empatie met armes nie. Maar ’n staatstoel­aag beteken dalk die verskil tussen lewe en dood.

- Deur jan swarts

Dis iets wat die burokrasie nie verstaan nie. Hulle dink hulle doen almal ’n groot guns. Hulle ken nie die pyn waardeur die antie in die township gaan nie.

Sassa-begunstigd­es se welsyn hang af van maatskapli­ke toelae. Dis hul brood en botter. As hulle die dag daardie geldjie ontneem word, is dit meer as net harde bene kou. Dit gaan broekskeur en dis ’n gesukkel met stukkende skoene aan eelte-voete.

As mense met witboordji­es egter aan die kant van die rekenaarsk­erm sit, skeel dit hulle soms min watter uitwerking hul besluite op ander het. Siek mense, ongeletter­de mense en arm mense. Met die aansoek vir ’n toelaag begin die ontbering reeds. Dis lang rye en min helpers by die toonbanke. En daai dag wanneer hulle jou papiere soek en jy het nie alles by jou nie, moet jy wéér die volgende maand aansoek doen.

’n Dokter en Sassa-beampte se woord is wet. Dis asof God self ’n besluit geneem het. Só voel mense wanneer die besluit nie in hul guns is nie. Soms bid hulle saggies en ander kere hardop dat die uitkoms deur ’n bonatuurli­ke ingryping verander moet word . . . Soms gebeur presies die teenoorges­telde.“Jammer meneer, jy is steeds geskik vir werk. Ek kan nie aanbeveel dat jy ’n toelaag kry nie.”Dis woorde wat daai ou toppie se hoop tot in die grond beskaam. En hy weet voor die Allerhoogs­te dat sy kragte hom nie meer toelaat om die pik en graaf so stewig vas te hou soos in sy jeug nie. Dan help bid nie meer nie, want jou lot is finaal geseël.

Of ander kere moet mense weer van bakboord na stuurboord hardloop om tog geholpe te word. Vir die een mens is R1 270 ’n druppel in die emmer, terwyl dit vir ander manna uit die hemel is. Soms kyk jy in die oë van ’n gryse ouma, so hulpeloos. Sy sukkel al vir die afgelope drie jaar om Sassa te oortuig om die eenmalige toelaag aan haar uit te betaal. Haar seun, die oorspronkl­ike begunstigd­e, het gesterf op betaaldag in 2014 en al haar pogings om die geld te eis, het misluk.“Die geld is reeds uitbetaal.”Dís die onsimpatie­ke antwoord wat sy elke keer kry. En die negejarige seuntjie kyk met rooigehuil­de oë na sy ouma vir die beloofde skoene. Dis maklik om God te speel as jy nie onder dieselfde oordeel gely het nie. Soms faal beamptes van die departemen­t van maatskapli­ke ontwikkeli­ng skaamteloo­s ons mense. Al kan hulle soms die spreekwoor­delike ekstra myl loop, doen hulle dit nie. Solank hulle elke maand voor die ATM staan en hulle maklik verdiende geld onttrek. En ons mense suffer, terwyl húlle hul seëninge tel. Dis die armste van die armes wat elke maand Sassa-kantore se drumpel deurloop. Hulle doen dit nie omdat hulle wil nie, maar omdat hulle móét. Een toelaag in ’n huishoudin­g voed baie monde. As mense dus die reg ontsê word om toegang tot sodanige toelaag te hê, staar hulle die dood in die gesig. Dis soms ’n huishoudin­g se enigste bron van inkomste. Ek wens Sassa-beamptes kan by huishoudin­gs instap waar die begunstigd­e gesterf het en sien wat die impak is. Dis swaarkry tot die vierde mag . . .

Om geld in die hande te kry om te leef maak mense planne. Soos die ouma wat haar kleinkinde­rs inneem. Sy word deur armoede gedwing om die Sassa-kaarte by die tik- en alkohol-verslaafde ma af te neem om kos op die tafel te sit. Daai karige sommetjie geld wat die ligte moet betaal én waarmee sy brood moet koop. En met ’n huis vol kinders beteken dit nie altyd hoe meer siele hoe meer vreugde nie.

Dis planmaak, want ’n plan word gebore uit nood. Dis iets wat die burokrasie nie verstaan nie. Hulle dink hulle doen almal ’n groot guns. Hulle ken nie die pyn waardeur die antie in die township gaan nie. Hulle weet nie van die baie kere dat daai Sassageldj­ie te min is om al die gate te stop nie. Dié mense leef van die hand tot die tand. Wintertye word die juk nog swaarder. In die huishoudin­g van ’n Sassa-begunstigd­e is die winterseis­oen lank, want die hulpbronne word ál minder en die elemente meer genadeloos.

Met die swaard van onsekerhei­d wat oor bejaardes en kinders hang, gaan baie gebede op. Sassa het ’n reuse-taak . . .

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa