Kuier

Kortverhaa­l

’n Mens aanvaar jou kinders sal altyd daar vir jou wees en jou op jou oudag versorg. Maar dan besef jy hulle lei hul eie lewe en stel jou soms teleur.

- DEUR ROELINE SNYDERS

hy is maar net 65 jaar oud, maar voel soos ’n ou man van 90. Jare se swaarkry het vroeg sy merk op hom gelaat. Vir die ou man is die lewe ’n sware stryd, ’n stryd om elke dag uit sy bed uit op te staan, ’n stryd om sy broodjie, gedoop in swart teetjies, af te wurg en te wonder, soos elke dag, wat hierdie dag vir hom gaan inhou.

Elke dag is ’n soeke na lewensin en eiewaarde. Dit is ’n eindelose gesukkel om deur elke dag te beur, hy verlang na iets, maar wil nie die“iets”naam gee nie. As hy erken dat daardie“iets”die dood is waarna hy smag, sal dit so goed wees hy krap in die werke van die Meester. Hy weet hy moet sy tyd afwag, soos dit ’n goeie Christen betaam, maar om só in eensaamhei­d en liggaam-slegheid te lewe, is mos nie ’n lewe vir ’n ordentlike kerkmens nie.

Toe sy vrou nog gelewe het, was daar darem iemand met wie hy kon praat, met wie hy sy bekommerni­s kon deel. Maar nou is dit net hy, hy en sy gedagtes wat net wil wegdwaal dat hy dit doer anderkant moet gaan haal. Hy hou nie daarvan dat sy gedagtes so wegdwaal nie, want dit bring net pyn en seer, goeters wat lankal verby is en waaraan hy nou niks kan doen nie.

Alles was nie altyd sleg nie. Die goeie dae was daar, veral toe sy seun klein was en hy sy huis met ’n ferm hand regeer het. Daar was volop liefde, hy het respek afgedwing oral waar hy gegaan het. Miskien moet hy erken dat hy effens streng was met sy gesin, maar hy het nie nonsens geduld nie. Sy pa was streng en het sy huis met ’n ysterhand regeer. By sy pa het hy geleer dat die beste beginsels om ’n kind groot te maak in die Bybel gevind word. Onderrigti­ng wat op die Bybel gegrond is, het unieke voordele. Hy het geglo as jy ’n kind volgens die Bybel grootmaak, die kind besef dat wat vir hulle gesê word, nie is wat ’n blote mens sê nie, maar wat hulle Skepper, hul hemelse Vader sê. Sy huis was ’n Godshuis. Almal wat daai drumpel betree het, het geweet God was die hoof van Anemoonlaa­n 29.

Maar wat het dan verkeerd gegaan? Hy het mos tog sy seun reg grootgemaa­k. Of was hy nie miskien té streng en rigied nie?

Hulle was nooit ryk nie, maar het ook niks tekort gehad nie. Hy het sy hande deurgewerk, ekstra skofte gewerk sodat Juan kon gaan studeer. Hoe trots het hy en sy vrou nie gevoel toe Juan ná ses harde jare van studies graad vang nie.

Sy seun was nou ’n prokureur, die eerste een in die ou klein dorpie. Hy voel hoe ’n glimlag sy lippe bekruip, hy kan maar net nie help om trots te voel nie. Dit was nie maklike jare nie. Hulle moes behoorlik die rieme styf trek, maar nie een dag het hy toegelaat dat dit in die pad staan van sy kind se opvoeding nie. Hy sou tog eendag terugploeg en mooi na sy ouers kyk. Altans dis hoe hy gedink het dit werk. >>

Van vorige bladsy

Die ou man het sy kind se loopbaan met trotse vadersoë gevolg. Hy was uit die staanspoor suksesvol en het ’n praktyk in Kaapstad gehad. Die kuiertjies by die huis het ál minder geword, maar die rede daarvoor was toe vir die ou man aanvaarbaa­r. Juan se praktyk het hom so besig gehou. Maar dit was nie vir die ou man aanvaarbaa­r toe Juan nie sy ma se begrafnis kon bywoon nie; hy was glo in die middel van ’n baie belangrike saak. Wat op dees aarde kan belangrike­r wees as jou ma se begrafnis?

Dit is nou al tien jaar, tien eensame jare vol wonder en verlange. Die jaar ná sy ou vroutjie se dood het hy ’n oproep gekry. “Pa, ek gaan met ’n Moslem-meisie trou en ek neem haar geloof aan. Ek verwag nie vir Pa by die troue nie.” Net dit … Agterna het die ou man probeer bel, maar dit skyn dat die klong se nommer verander het. Dit was so duidelik soos daglig dat hy alle armsalige bande met sy familie verbreek het, want hy het in ’n vooraansta­ande, ryk familie ingetrou. Nog altyd het die ou man maar net gehoop en gewag; miskien eendag sal hy sy kleinkinde­rs ontmoet.

Hy ken nie sy kleinkinde­rs nie, Juan het drie jaar ná sy troue ’n SMS gestuur om te sê dat hy pa geword het van tweelingse­uns. Dit was ’n SMS van ’n“private number”. Nog al die jare het hy gehoop en bid dat Juan die seuns aan hul oupa sal kom voorstel.

Die ou man probeer die beeld van sy seun voor sy geestesoog oproep, maar hy sukkel, want daar het al soveel tyd verloop.

Hy sug diep. Miskien moet hy tog sy Meester mooi vra om hom te kom haal. Die ou man wonder hoeka nou al ’n hele ruk oor“tyd”. Tyd om afskeid te neem. Hy wonder hoeveel tyd is werklik nodig om sy lewe reg te kry en dinge met sy seun reg te maak? Wie weet, dalkies kom sy seun tog terug om hom te kom toegooi, net dalkies. Maar, dink hy, hy sal dan nie kans kry om sy kleinseuns te ken nie. Hy sal hulle graag op sy skoot wil laat sit, hul lyfies teen hom vasdruk. Hy wil hom verwonder aan hul loop, hul hardloop en hul sit, sommer aan hul hele kindwees.

Die ou man het nog nooit ophou bid vir sy seun, sy skoondogte­r en sy twee kleinseuns nie. En hy weet, sowaar as wat daar ’n God in die hemel is, hy sal hulle eendag sien. Hy sal verby hul Moslem-geloof kyk, hy sal vergeet dat hul kulture verskil. Hy wil net sy hartskinde­rs teen sy bors druk en sê dat hy hulle liefhet. Dat hy alles wat verkeerd was, wil regmaak.

Dis nou al twee maande gelede dat hy die brief geskryf het, miskien sal die slim mense van die program Khumbul’ekhaya sy kinders kry. Hulle kan mos nie net van die aardbol af verdwyn het nie. Ou dominee was so positief toe dié hom gehelp het om die brief vir die TV te skryf. Hy probeer gedurig daai positiwite­it na die ou man oordra. Hy het anderdag ’n kaartjie gestuur waarop staan:“Hold on to what is good, even if it’s a handful of earth. Hold on to what you believe, even if it’s a tree that stands by itself. Hold on to what you must do even if it’s a long way from here. Hold on to your life, even if it’s easier to let go.” Die kaartjie lê nou nog op sy bedkassie, langs sy pillehouer. Soggens nadat hy sy hand vol pille gesluk het, lees hy dié woorde. Hy weet nie of hy dit hom verbeel nie, maar dit smaak tog asof die woorde hom krag gee om te beur teen die mistroosti­gheid wat hom gedurig wil oorval.

Hy het ook klaar besluit as sy kinders opgespoor word, gaan hy die besluit by hulle laat of hulle hom wil sien. Hy gaan nie ’n oorlas van hom maak nie. Maar twee maande is seker te lank, miskien is hulle oor die waters. Juan se praktyk het toeka al so goed gedoen, niks sou in sy pad staan om landuit te gaan en groener weivelde te soek nie. Dis mos hoeka al ook ’n statusding om te wys hoe grand jy is as jy oorsee gaan bly. Nee, dis nou al twee maande, dit kan mos nie so lank vir deskundige­s neem om iemand op te spoor nie. Maar hy weet ook dat wonderwerk­e nie net in die Bybel se tyd plaasgevin­d het nie . . .

Die Vrouegroep van die kerk stuur hier teen sononder ’n boodskap dat hulle die Sondagmidd­ag ná kerk ’n ete vir die bejaardes voorsit. Sommer daar in die kerksaal. Dis ’n gereelde instelling, maar die ou man bedink maar altyd ’n verskoning. Sy omstandigh­ede en hartspyne maak dat hy nie elke keer voel om sosiaal te verkeer nie. Dat hy baie lief is vir sy kerkvriend­e is nie te betwyfel nie, maar hy voel meestal maar net om op sy eentjie te wees.

Hy stuur die antwoord terug dat hy nie wel voel nie, hulle kan miskien vir hom ’n doggie bag stuur. Nee, hulle aanvaar geen verskoning­s nie, ou dominee sal hom kom oplaai vir die kerk dan is hy mos sommer daar vir die ete.

Die ou man probeer nie eens teëstribbe­l nie, geen veggees. Dis nog ’n ander ding oor homself wat hom bekommerd maak. In die verlede sou hy sy man staan en hom nie in ’n ding in laat boelie nie. Vandag laat hy maar Gods water oor Gods akker loop, glad nie in sy aard nie.

Presies halftien die Sondagogge­nd kom stop ou Dominee se kar voor die deur. Die

Ook wanneer Hyself ons laat swaarkry, bly Hy met ons lot bewoë. Hy leef in die moeite met ons mee . . .

ou man het hom alreeds sesuur gewas en aangetrek. Hy hoef gelukkig nie te sukkel met skoon klere nie, want die kerk se vroue sorg dat iemand sy wasgoed was en elke tweede week word sy huis van voor tot agter blink skoongemaa­k. Sy week se etes word gekook en gevries; nie dat hy ’n groot eter is nie.

Hy het tog nie meer so ’n groot behoefte aan kos nie en sien ook nie die nut vir sy teenwoordi­gheid by vandag se ete nie. Maar dan dink hy weer aan die traktaatji­e op sy bedkassie . . .

Toe hulle voor die imposante ou kerkgebou stilhou, verwonder die ou man hom opnuut weer aan die besondere argitektuu­r van die gebou. Hy het nog altyd ’n liefde gehad vir ou geboue en die kerk is ’n pragtige voorbeeld van die destydse Kaaps-Hollandse argitektuu­r. Sierlike sipresse verfraai die terrein. Die ou man het nog altyd gedink sipresse hoort net in ’n begraafpla­as, maar partymaal kan sipresse tog mooi lyk op die regte plek, soos hier langs sy geliefde kerk.

Die gemeente sing al uit volle bors toe hulle die trappies bestyg, en die ou man wonder of dit dan vandag ’n spesiale diens is, want die parkeerare­a is stampvol karre. Hy kry sy sit op sy gewone plek, twee banke van voor in die middelste ry, dit was sy en sy vrou se gereservee­rde sitplek. Hy sit ook net toe die jong dominee die kansel betree. Hy bodder nie met opstaan nie, sy bene voel nie vanoggend so lekker nie.

Die preek boei hom vanuit die staanspoor, dis asof hy alleen in die groot gebou sit:“Om alles te verloor, om God te vind. As God nie ons gebede antwoord nie . . . As ons God se weë nie begryp nie . . . As ons na God verlang en soek om God lief te hê, selfs al sukkel ons om ons liefde vir God nog te verstaan, of selfs te voel.”

Sekere dele van die preek steek vas by die ou man.

“Jy bid maar kry nie ’n antwoord nie, maar dis nie dat ons verkeerd bid nie. God hoor graag ons gebede. Ons moet dieper, dieper insak in die groot Verborgenh­eid dat ons lewe sy gang gaan, dikwels juis groei, wanneer ons in die diepste duisternis is. Dit is die weg wat jy moet loop as jy smag om een met God te word. Dit is die weg van stroping. God stroop ons van alles wat ons nie regtig nodig het nie.

“Die sintuiglik­e dinge word van ons weggeneem. Maar dit is nog maar die begin. Dan volg die verdere reis – die donker nag van die siel waarin die mens verder gestroop word. Ons het dit nodig; om volledig, sonder enige pretensies, met niks, by God te wees.

“Dit is harde jare, woestyntye, waarin geloof worstel, liefde ’n raaisel is, gebed waardeloos voel. Dit is ’n pynlike proses van suiwering, om só te leer dat al wat ’n mens werklik nodig het, God is. Dit is die tyd waarin ’n mens gestroop word van alle afhanklikh­eid aan uiterlike dinge. Maar dit is ook die tyd van suiwering, reiniging, die tyd dat ’n mens gesond gemaak word deur pyn heen, om die volledige vreugde te vind met God.”

Dan lees die dominee uit Job 13:15.“Kyk, al wil God my ombring – ek hoop op God” – dis wat Job sê.

“As God ons aan ’n toets onderwerp, gebeur dit nie hard en meedoënloo­s nie. Dan speel God nie ’n wrede speletjie met ons asof Hy ’n grillerige tiran was nie. Inteendeel, die Here is vol medelye en ontferming.

“Ook wanneer Hyself ons laat swaarkry, bly Hy met ons lot bewoë. Hy leef in die moeite met ons mee en Hy soek maar net ons beswil. Ons word op die ou end nie minder daarvan nie.

“Sien die afloop wat die Here op Job se beproewing laat volg het. Toe Job volhard het en die proef enduit deurstaan het, het ook alles reggekom. Ja, dit het selfs beter geword as wat dit vroeër was.

“Toe God met oortuiging aan die lig gebring het dat Sy herskeppin­gswerk in Job die proef kon deurstaan, het Hy ook die lot van Job verander. En toe het die lyding van eers, nie opgeweeg teen die heerlikhei­d wat daarna oor Job gekom het nie.”

’n Ligtheid hang oor die ou man se gemoed; hy weet nou nie veel nie, maar hy weet dat God wel sy gebede aanhoor en ’n plan het met alles wat in sy lewe gebeur.

In die saal sit hulle aan by ’n heerlike ete wat deur die vroue van die gemeente voorberei is. Hy sit langs ou dominee en kan nie help om op te let dat dié baie gespanne voorkom nie. Hy kry egter nie kans om te vra nie, want die volgende oomblik heers daar ’n skielike stilte in die vol eetsaal. Die geklingel van messegoed is stil, almal se oë is op iets of iemand by die ingang van die saal.

Die ou man se oë draai na die deur en sy ou hart gee ’n ruk. Dit is dan Juan wat daar in die deur staan! Langs hom staan ’n vrou en twee opgeskote seuns.

Hy gewaar dat ou dominee opstaan en na Juan stap. Hyself is so lam van skok dat dit ’n tydjie neem om tot verhaal te kom. Hy staan moeisaam op. Al wat deur sy kop gaan, is om by Juan uit te kom.

Hy gee die eerste treë na die ingang en met elke tree pak ’n beklemmend­e vrees hom. Allerhande gedagtes en vrae gaan deur sy kop toe hy die laaste paar treë tot by sy geliefde seun neem. Hy sien die onsekerhei­d in Juan se oë en sy hart vermurwe. Dan omvou Juan sy pa in sy arms en hy voel die trane van sy seun op sy eie gesig val.

Ná wat soos ’n ewigheid voel, skeur die twee mans hulle los van mekaar. Nou eers besef die ou man dat hulle ’n gehoor het, ’n gehoor wat almal in trane is. Ou dominee knipoog vir hom. Die ou blikskotte­l was heeltyd bewus van wat op hom wag!

Vergete is die heerlike ete. Wat so pas hier gebeur het, is beter as ’n bord kos. Juan probeer om met die ou man te praat, te sê dat hy jammer is, maar sy vader luister nie eens nie. Hy is te oorstelp om sy seun by hom te hê. Daar is hope tyd vir praat en regmaak. Sy seun en skoondogte­r neem hom aan die hand en saam stap hulle na buite.

God het sy lot verander, soos vir Job. Vandag het sy God weereens bewys dat Hy die God van wonderwerk­e is!

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa