Kuier

net soos pappa

Hy wil ook leer visvang, net soos sy maatjies. Maar hoe kry hy sy pa weg van die TV en bier af?

- DEUR Ronelle Strydom

dieter gaan sit op sy gunsteling­stoel en trek die TV remote nader. Die rugby begin amper. Vandag mis hy hierdie game vir niks. Hy tel die bottel bier van die tafel voor hom af op. Net toe hy die doppie wil oopdraai, kom sy sesjarige seuntjie, Mickey, die sitkamer binne en klim op die bank langs hom. Sy ogies vang die bier in sy pa se hande.

“Hallo, Pappa, drink Pappa alweer?”Dieter is vir ’n oomblik sonder woorde. Hy kyk na Mickey.“Is dit lekker, Pappa, kan ek ook ’n slukkie kry?”Dieter kyk na sy bier en dan weer na Mickey.“Nee, Mickey, jy’s te klein om drank te gebruik.”

Mickey kyk na sy pappa en die onskuld op sy gesig gaan Dieter nie ongesiens verby nie.“As ek groot is, kan ek dan ’n slukkie kry?”Dieter skud sy kop.“Nee, Mickey, drank is sleg vir jou.”Hy sit die toe bier weer terug op die tafel. Mickey skuif nader aan sy pa.“As ek eendag groot is, wil ek net soos Pappa wees. Dan wil ek ook bier hê en drink soos Pappa”.

Dieter kan nie glo wat hy hoor nie. Sy sesjarige seuntjie het geen benul wat drank is of wat dit aan ’n mens kan doen nie.“Nee, Mickey, jy moet dit nooit doen nie. Drank is sleg vir ’n man.”Mickey is half verward. Hoe kan sy pa sê drank is sleg as sy pa elke dag drink? Hy het gedog dis wat pappas maar doen. Hulle drink elke dag.

“As drank sleg is, hoekom drink Pappa dan?”Dieter weet nie waar sy seuntjie so skielik aan al die dinge kom nie.

“Mickey, Pappa drink net omdat Pappa wil ontspan.”Wat anders moet hy vir sy seuntjie sê?“Ek wil ook ontspan,”sê Mickey dan onskuldig. Dieter voel skielik ongemaklik. Mickey praat nou bietjie te veel en hy wil sy bier drink en die rugby kyk. “Mickey, gaan kyk wat doen jou ma. Pappa wil rugby kyk.”Mickey sit nog nader aan sy pa en kruis sy armpies voor sy bors.“Nee, ek wil nie. Ek wil saam met Pappa ontspan. Meisies is boring.”

“Hoekom gaan speel jy nie met jou karretjies nie?”probeer Dieter weer om sy seuntjie te laat speel, sodat hy in vrede die rugby kan kyk. Mickey sit sy sit.“Nee, ek is nie lus vir karretjie speel nie, ek sit sommer ’n rukkie hier by Pappa.”

Dieter is half geïrriteer­d. Ná al die jare voel hy skielik ongemaklik met sy seuntjie wat langs hom sit en skielik so baie te sê het. Die kind is altyd êrens besig om te speel, maar kies juis vandag om langs hom te kom sit. Die rugby gaan begin. Sy bier word warm.

Maar Mickey sit waar hy sit.

“Pappa, hoekom drink Pappa elke dag?” Dieter sien hoe die bal afgeskop word, maar sy seuntjie se woorde tref hom tussen die oë.“Pappa wil nooit met my speel nie. Jaco en Nathan se pappas speel altyd met hulle.”Mickey se ogies staar na die TV terwyl hy praat.“Weet Pappa, Jaco sê sy pappa het hom leer visvang en net so groot vis uitgetrek.”Hy strek sy armpies uit om vir sy pappa te wys hoe groot die vis was.

“Nathan sê hy dink Jaco jok, want die vis wat sy pappa uitgetrek het, was net so klein.”Hy wys met sy handjies hoe klein die vissie was.

“Pappa, hoe vang ’n man vis? Ek wens Pappa kan my ook leer.”

Dieter hoor vaagweg die rugbykomme­ntator sê die eerste drie is gedruk, maar sy aandag is vandag glad nie by die game nie. Mickey praat en praat hier langs hom en hy sien en hoor niks.“Mickey, wil jy nie net ’n rukkie stilbly sodat ek die game kan kyk nie?”sê Dieter half streng. Mickey sit al stywer teenaan hom.“Wil jy nie bietjie opskuif nie?”Hy druk Mickey half weg met sy elmboog.“Nee, Pappa is lekker warm.”

Mickey skuif nog stywer teen Dieter vas.“Ek hou daarvan om so langs Pappa te sit en te ontspan,”sê hy asof hy ’n groot meneer is.“Pappa moet mos ’n vriend hê wat saam Pappa die rugby kan kyk. Ek is kamma Pappa se vriend.”

Dieter is heel uit die veld geslaan met Mickey se woorde.“Mickey, kan jy asseblief nou stilbly sodat ek TV kan kyk? Ek mis die hele game.”Mickey bly ’n paar sekondes stil, dan begin hy weer praat.“Pappa, as ek eendag groot is, gaan ek ook rugby speel, dan kan Pappa my ook op die TV sien. Dan kan Pappa lekker drink terwyl Pappa vir my kyk. Sal Pappa trots wees op my?”Dieter sit stomgeslaa­n en luister na sy seuntjie wat langs hom sit en skielik kry hy skaam. “Mickey, natuurlik sal Pappa trots wees op jou.”Mickey kyk nou met blink ogies na sy Pappa.“Sal Pappa regtig trots wees op my? As ek op TV is, sal Pappa na my kyk, nè? Dalk kan ek Jaco se pa vra om saam my te gaan en dan kan ons visvang ook op die TV. Pappa kan hier op die bank sit en drink. Dan kan Pappa sien hoe ek ’n vis uittrek saam met Jaco se pa, nè, Pappa?”

Dieter se volle aandag is nou by sy seuntjie. Hy voel die knop in sy keel en skielik haat hy homself. Sy seuntjie wil hê hy moet hier sit en drink terwyl ’n ander man hom leer dinge doen wat hy, Dieter, sy eie pa, eintlik saam hom moet doen. Watse pa is hy vir sy kind? Hy kyk na Mickey en besef sy seuntjie het groter geword. Wanneer laas het hy aandag aan sy kind gegee. Hy besef sy seuntjie se ogies het niks gemis nie. Hy moes elke dag aanskou hoe sy pa drink. Dag ná dag. Daar was nooit tyd om met sy kind te speel nie. Drank en TV was vir hom belangrike­r.

Hoe het dinge so ver gegaan? Wanneer laas het hy sy vrou hoor lag? Istelle kla nooit nie. Sy sorg dat die huis skoon is en sy bord kos staan elke dag gereed wanneer hy by die huis kom.

Dieter besef skielik hoe hy sy gesin afskeep en dit ter wille van sy eie gewoontes. Vandag vat dit ’n sesjarige seuntjie om hom dít te laat besef. Dieter staan op en skakel die TV af. Hy gaan sit weer en tel Mickey op sy skoot.

Istelle kom by die deur in en kyk verwonderd na Dieter en dan na die TV. Sy wonder wat nou aan die gebeur is. Dieter mis nie sommer ’n rugby-wedstryd nie en hy bring sy dae voor die TV deur. Dan hoor sy hom praat:“Hoe lyk dit ek en jy gaan vang sommer vandag nog so bietjie vis, grootman?” Hy gewaar Istelle in die deur staan en sy oë gaan rus vraend op haar.“As Mamma ’n mandjie pak, mag sy dalk saamkom?”

Istelle glimlag net. Mickey spring opgewonde op en trek Dieter aan sy hand. “Dankie, Pappa! Dankie! Dankie!”

Mickey kan sy opgewonden­heid nie keer nie. Hy kyk met hoopvolle ogies na sy ma.“Asseblief, Mamma, kan ons?”

Istelle het reeds die mandjie uit die kas gehaal en sit dit op die tafel neer.“Ja, Mickey, mits julle darem vis huis toe bring.” Sy kyk na Dieter en hy sien die blydskap in sy vrou se oë.“Ek gaan kyk gou of daai visstokke nog in die garage is. Dis seker al so vol stof”. Hy loop uit die vertrek en Istelle volg kort op sy hakke. Sy weet nie wat vandag hier gebeur het nie, maar sy sal vinnig genoeg uitvind.

Mickey staan ’n oomblik stil en dink Jaco en Nathan gaan hul ore nie glo nie. Hy en Pappa gaan visvang. Net soos hulle dit saam met hul pa’s doen. Wow, hy moes baie soet gewees het! Hy wonder wat Pappa vandag laat besluit het om vis te gaan vang. Mickey voel skielik so trots en baie spesiaal. Hy wil vir die wêreld uitskree hoe gelukkig hy is. Hy het die beste pappa in die hele wye wêreld. Liewe Jesus het tog sy gebed verhoor. Hy het elke aand gebid dat Pappa hom moet raaksien en ook dinge saam met hom doen. Hy wil ook leer om ’n man te wees soos Jaco en Nathan. Nou kan hy Maandag by die skool saam met hulle praat, sonder om skaam te kry. Hy kan nie wag om ’n visstok vas te hou nie.

Mickey se oë sien skielik die onoopgemaa­kte bottel bier wat nog net so op die tafel staan. Hy kry die mooiste glimlag en dink met trots . . . Pappa kan as hy wil.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa