Kuier

Vrou kies om blymoedig te bly en ander met dié virus te help

Sy is al 20 jaar lank MIV-positief, maar dié ma en ouma is die toonbeeld van blymoedigh­eid. En so op haar eentjie probeer sy om die stigma rondom MIV/vigs af te breek.

- DEUR JACKIE PIENAAR-BRINK

Twee jaar nadat Berenice Fernandez getroud is, het ’n beproewing oor haar pad gekom wat sy nie in haar wildste drome kon voorsien het nie.

Sy is skielik vir ’n polis afgekeur en – realis wat sy is – het twee moontlikhe­de dadelik deur haar gedagtes geflits: Dis óf omdat sy kanker het óf omdat sy MIV-positief is.

Haar eie ma was toe reeds oorlede en sy het dadelik haar jare lange geestelike mammie, Joan Jantjies, gebel en gevra om saam met haar dokter toe te gaan. Daar het hulle gehoor dat sy inderdaad MIVpositie­f is.

Hoewel dit ’n skok was, was die moeilikste deel vir die gelukkig getroude Berenice om huis toe te gaan en die nuus aan haar man oor te dra. Omdat Ronald negatief was, het sy besef dat sy dit by ’n vorige kêrel moes gekry het. Sy het haar net nooit laat toets toe sy en Ronald getroud is nie.

Uiteraard het die uitslag groot spanning op hul huwelik geplaas, al het die diep gelowige Berenice van dag een af besluit dit gaan haar nie onderkry nie.“Ek dink dit sou bietjie makliker gewees het as ek nie getroud was nie en nie nodig gehad het om iemand anders daaroor in te lig nie,” sê sy sag.

Dis nie die einde nie

Berenice-hulle het in daardie stadium in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte gewoon waar sy bedags admin en projekbest­uur vir haar man se konstruksi­ebesigheid gedoen het. Hulle het nie saam kinders gehad nie, maar wel albei kinders uit vorige verhouding­s en huwelike.

Soos verwag kon word, was Ronald heeltemal onkant gevang deur die nuus. “Ek dink nie mens kan jou prepare daar-

voor nie. Dit was daardie eerste paar jaar moeilik om daardeur te werk of eintlik meer om as couple saam met dit te leef,” onthou sy.

In 2005 het Berenice en Ronald besluit op ’n egskeiding.

“Ek het verstaan dit was moeilik vir hom. Dit was vir my ook moeilik, maar ek het die uitslag dadelik aanvaar. Dit was vir hom net te emosioneel. Ek dink nie hy kon daarmee deal nie.”

Maar, lag Berenice skielik, daar was darem toe ’n gelukkige einde.

Ná die egskeiding het sy steeds vir haar man gewerk en nie een van hulle het met ander mense uitgegaan nie.“Ons het baie daaroor gelag en albei gesê ons het net ons geld gemors. Ons moes liewers bymekaar gebly en die ding deurgesien het.”

Twee jaar later is hulle toe weer getroud. “Ons het net besluit hierdie nonsens kan nou end kry.”

Hul tweede huwelik was awesome, lag sy weer.“Dit het vir my gevoel soos ’n fairytale.”

Sy het net een voorwaarde gehad: Die troudag moes op dieselfde datum wees as die eerste een.“Ek wou nie twee datums hê nie en Ronald het gesê dit werk vir hom ook. Dan hoef hy nie twee datums te onthou en twee keer presente te koop nie!”

’n Verdere bonus was dat haar man negatief getoets het totdat hy twee jaar terug op 59-jarige ouderdom aan ’n hartaanval oorlede is.

Intussen het Berenice, wat haarself as 46 jaar jonk beskryf, ouma geword van drie kleinkinde­rs, nou tussen die ouderdomme van drie en vyf. Sy het na Belhar getrek, waar sy tans by Joan woon en as administra­teur vir siviele ingenieurs werk.

Persoonlik voel sy so geseënd dat sy – danksy die antiretrov­irale middels wat sy neem – nog gesond is, kan werk, en haar kinders en kleinkinde­rs kan geniet. In kort: Sy lei ’n vervulde lewe.

Daar is egter ook hierdie oorweldige­nde behoefte by haar om ander MIV-positiewe mense te oortuig dat hulle nie in sak en as hoef te sit nie. Sy weet dat baie lyers dit probeer wegsteek, iets wat sy van die begin af geweier het om te doen.

Berenice woon die MIV/vigsklinie­k by die Mitchells Plain-daghospita­al by en het besluit om haar besoeke daar te laat tel. Sy gesels met vroue en moedig hulle aan om na hulself te kyk omdat ’n mens – ten spyte van die diagnose – nog steeds ’n vol lewe kan lei.

“Dit is heeltemal onnodig dat mense met MIV neerslagti­g is. En ek dink ek kan‘n verskil maak.

“Ná jare se bywoning raak ’n mens gewoond aan die mense wat jy gewoonlik daar sien,”vertel sy.“Nuwe kliënte (ons noem hulle nie pasiënte nie) staan dadelik uit. Van hulle word van die maternity-eenheid af daarheen verwys. Dit is hartverske­urend om te sien hoe sommige meisies/vroue dit hanteer. Van my kant af kan ek net na hulle uitreik, veral as ek sien dis die eerste keer dat hulle daar is of pas uitgevind het van hul diagnose. Ek verkies een-tot-een-kontak.”

jy het steeds ’n keuse

Daar is een so ’n meisie met wie sy al ’n lang ondersteun­ingspad stap.“Sy is ook deur ’n vorige kêrel infect en het eers daarvan uitgevind toe sy by haar verloofde swanger geraak het. Sy het gevra dat ek hom ook ontmoet. Hul kind is nou al vyf jaar oud.”

Volgens Berenice het hierdie vroutjie laat val dat sy nooit sou geweet het hoe om die uitslag te aanvaar as Berenice nie daar was vir haar nie. Sy glo ook nie dat sy sonder Berenice se ondersteun­ing die kliniek sou besoek het nie, doodeenvou­dig omdat dit vir haar te moeilik sou wees om te aanvaar dat mense haar daar sou sien en besef sy is MIV-positief.

Nie almal wil egter dadelik met Berenice gesels nie. Dan sal sy maar net uitkyk vir die persoon en later weer probeer.

Iets wat Berenice nooit sal doen nie, is om voorskrift­elik te wees. Dis vir haar wel baie belangrik om uit te lig dat diegene met MIV ’n gesonde lewe kan lei. En dit probeer sy doen deur haar eie verhaal te vertel.

“Baie kan nie glo dat ek al so lank MIVpositie­f is nie. Ek wil my storie ’n platform maak om vir hulle as inspirasie te dien.”

Die hartseer is dat baie jong meisies onder die wanindruk verkeer dat hulle vanweë hul ouderdom nie nodig het om nou al die antiretrov­irale middels te neem nie en dit eers veel later in hulle lewe hoef te doen.

Berenice weet ook van twee meisies in hul vroeë twintigs wat besluit het om wraak te neem omdat hulle albei MIV-positief getoets het.“Hulle voel dis onregverdi­g dat hulle infect is en dat die betrokke mans niks vir hulle gevoel het nie. Daarom is hulle uitgangspu­nt hoe meer mans hulle kan infect, hoe beter. Hulle gaan nou net uit om fun te hê.”

Sy het gevoel sy breek toe sy dit hoor, sê Berenice.“Hulle is so jonk en so lewenslust­ig. Ek kan probeer om ’n verskil te maak, maar op die ou einde is dit hulle besluit of hulle die advies gaan aanvaar.”

En feit is: In hierdie stadium kleef daar nog ’n redelike stigma aan MIV/vigs. Die meeste mense met wie sy te doen kry, maak nie hulle status aan hul families bekend nie en soms ook nie eens aan hul partners nie.

“Ek dink die hele gevoel van swartgalli­gheid rondom MIV/vigs speel ’n groot rol. Ek dink nie mense hanteer dit vir wat dit regtig is nie. Vir my is dit net nóg ’n siekte. Ek het ’n face-or-fear-houding teenoor alles in die lewe. En ek het gekies om MIV te face.”

 ??  ?? LINKS: Berenice Fernandez (46) van Belhar wil die stigma rondom MIV/vigs afbreek. REGS: Berenice saam met haar geestelike ma, Joan Jantjies, wat haar nog al die pad volkome ondersteun het.
LINKS: Berenice Fernandez (46) van Belhar wil die stigma rondom MIV/vigs afbreek. REGS: Berenice saam met haar geestelike ma, Joan Jantjies, wat haar nog al die pad volkome ondersteun het.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa