Kuier

Pappas kan ook primêre toesig oor hul kinders kry

Wanneer ’n paartjie se paaie skei, kán die pa as die kind se primêre versorger aangewys word – as dit die beste vir die kind is.

- DEUR tarren-lee habelgaarn

Mense sê altyd daar is niks sterker as die liefde van ’n ma vir haar kind nie, maar wat van die pa wat hemel en aarde sal verskuif om sy kind groot te maak?

’n Mens hoor gereeld stories van pa’s wat nie hul onderhoud wil betaal nie, nie eens op Kersfees of verjaardae iets vir hul kinders koop of tyd saam met hul kinders wil deurbring nie. Hoewel sulke gevalle ongelukkig wel ’n werklikhei­d in baie van ons gemeenskap­pe is, is dit nie altyd die geval nie. Vat maar ’n pa soos Irenaeus Philander (31) wat onlangs deur die hof as sy seun se primêre versorger aangewys is.

Al is hy nog jonk, verruil hierdie pa enige dag kuiertyd met die manne, ’n naweek weg of ’n werkvergad­ering om tyd saam met sy seun deur te bring. Irenaeus probeer nog aanpas by sy rol as die primêre versorger van sy seun, maar meen geen uitdaging sal ooit vir hom te veel wees nie, want dit is die lewe wat hy gekies het.

‘My kind kom eerste’

Om sy seun, Kiaren (7), daagliks by hom te hê en hom met goeie waardes groot te maak, is vir Irenaeus die belangriks­te ding in die wêreld. In ’n ideale wêreld sal elke kind in ’n huis grootword met ’n ma en pa wat vir hulle omgee. Maar weens verskeie redes werk dinge nie altyd só uit nie en lyk almal se prentjie van hul perfekte gesin anders.

Vir Irenaeus en Kiaren is dit net hulle twee in die huis. Kiaren is nog in kontak met sy ma en spandeer elke tweede naweek by haar in die Suid-Kaap, maar wanneer dit by alledaagse take soos was, eet, huiswerk doen en sportoefen­inge kom, is dit sy pa wat in beheer is.

In hul huis in Vredekloof in Brackenfel­l, in die noordelike voorstede van Kaapstad, heers daar ’n warm atmosfeer. Dit is ’n weeksdag en Irenaeus het vinnig van die werk gejaag om Kiaren by die skool op te laai. Wanneer hulle by die huis kom, is dit skoolklere uittrek en huiswerk doen, voordat dit tyd is vir aandete. Volgens Irenaeus eet hulle soms ’n takeaway as hulle vir ’n pizza of ’n burger lus het, veral op Vrydae as Kiaren goed by die skool of in sport gedoen het, maar op die meeste aande probeer hy vleis met groente kook sodat hulle gesond kan eet.

Elke dag het natuurlik sy eie uitdagings, maar volgens Irenaeus hanteer hulle dit soos dit kom.

“Dit is maar moeilik om ’n enkelouer te wees, of jy nou ’n man of ’n vrou is, dit gaan ’n groot aanpassing wees wanneer jy van twee voltydse ouers na een toe skuif. Dit is wel baie belangrik dat kinders steeds met albei ouers ’n verhouding het, maar die een wat voltyds na die kind kyk, gaan eers ’n bietjie sy voete moet vind,”sê hy.

“Maar ek gee nie om nie en as ek ’n vergaderin­g moet uitstel of planne moet verander, is dit goed so, want my seun is die belangriks­te ding vir my. Jy kan weer ’n vergaderin­g reël of saam met jou vriende gaan kuier, maar jou kind moet altyd eerste kom. Ons het nou al ’n lekker roetine, maar soms is dit maar swaar. Ons moet al vroeg aan die gang wees sodat ek hom by die skool kan kry en betyds by my werk kan wees. Sommige oggende is hy nog aan die slaap wanneer ek hom was of aantrek. Ek staan al voor 05:00 op om vir ons kos in te pak, myself klaar te kry en dan begin ek vir hom gereed kry.”

Volgens Irenaeus het hy al baie vriende verloor omdat mense nie verstaan hoekom sy seun nie voltyds by sy ma woon nie, maar hy voel ’n pa het net soveel reg soos ’n ma om na hul kinders om te sien.

“Baie familie en vriende kon nie verstaan toe die hof-ondersoek begin het nie en ek oorspronkl­ik aansoek gedoen het om my seun se voltydse versorger te wees nie. Ek en sy ma was nie meer saam nie en ons kon nie self ooreenkom kom nie. Ons moes maar ongelukkig toe ’n middelman

kry om vir ons te help,”vertel hy.

“Mense dink ’n pa moet net onderhoudg­eld betaal, maar wat as ons ons kind wil versorg? Ek het ’n sterk verhouding met my pa en wou dieselfde band met my eie seun hê. Onlangs was daar ’n hashtag wat die rondtes gedoen het op sosiale media (#menaretras­h) en ek was baie kwaad daaroor. Ja, daar is mans wat sleg is, maar dit is nie ons almal nie. Ek sal enigiets vir my seun doen, en as dit beteken ek moet wasgoed was, kos kook en huiswerk doen, dan doen ek dit met liefde.”

Dís Wat die wet sê

Wanneer dit by die kind se versorging kom, het albei biologiese ouers sekere regte en verantwoor­delikhede in terme van onderhoud, toegang en toesig. Primêre sorg kan aan ’n pa toegeken word as bewys word dat hy fisiek of emosioneel ’n beter verhouding met die kind het. Hoe hulle besluit waar die kind sal woon en wanneer elke ouer die kind mag sien, hang gewoonlik van die ouers af, maar wanneer hulle nie self kan besluit nie word die besluit in die hof se hande gelaat.

Hoewel die wet sedert 1990 baie verander het en ’n pa nou gelyk aan ’n ma as ’n primêre versorger gesien word, is dit steeds moeiliker vir ’n pa om as primêre versorger aangewys te word, aangesien ’n ma outomaties volgens die wet as primêre versorger gesien word omdat sy geboorte aan die kind geskenk het.

’n Pa kan ook vir primêre sorg aansoek doen as hy en die ma ten tyde van die kind se geboorte getroud was, of as hulle nie getroud is nie en hy kan bewys dat hy wel tot die kind se versorging bygedra het.

werk saam, ouers

Volgens Bertus Preller, ’n familiereg­teen egskeiding­prokureur, is dit nie meer vreemd dat ’n pa as primêre versorger aangewys word nie. Dit gebeur glo meer as wat mense dink, maar daar is nie spesifieke reëls nie.

“Elke saak verskil en kan nie met ’n ander saak vergelyk word nie. Wanneer ouers dit nie self kan uitwerk nie, word die hof genader. Daar word verskeie ondersoeke gedoen om elkeen se omstandigh­ede by die huis te bepaal en hoe hulle verhouding met die kind is,”sê hy.

“Die hof kan besluit om die gesin vir berading te stuur of kan dadelik ’n besluit maak. As een van die ouers ’n drank- of dwelmprobl­eem het, of as daar bewys kan word dat hulle die kind mishandel, maak dit die hof se besluit makliker. Maar waar albei ouers geskik is, speel die kind se verhouding met die ouers ’n groot rol. Die hof kyk na die kind se verhouding met elke ouer. As ’n pa primêre toesig oor die kind wil hê, sal hulle kyk na sy verhouding met die kind en hul verhouding met die ma. Dit is belangrik om te verstaan dat die hof altyd in die belang van die kind sal optree en veral kyk na hoe die kind reageer.”

Volgens Bertus geld dieselfde reëls vir ’n ma en pa wanneer dit by onderhoud, toesig en toegang kom. As ’n pa die primêre versorger is, moet die ma onderhoud betaal en dit word deur die kind se koste bepaal. Die ma mag ook gewoonlik elke tweede naweek die kind sien en elke tweede vakansie, sowel as Moedersdag.

“Die hof is baie streng met die reëls wanneer dit by toesig kom en alles word fyn uitgewerk, maar hoe die ouers dit implemente­er, hang van hul verhouding af. As hulle ’n goeie verhouding het, sal die ouer wat toesig het die kind toelaat om die ander ouer buite die voorgeskre­we tye te sien. Die ouer wat toesig het, sal dalk selfs vir die ander ouer soms vra om na die kind te kyk as hulle vasbrand. Maar as die ouers nie ’n goeie verhouding het nie, word die hofbevel gewoonlik streng toegepas.”

Sielkundig­e Judy Mbolo sê die trauma wat ’n kind gedurende ’n egskeiding- of toesighofs­aak ervaar, hang alles van die ouers af. Volgens haar is dit belangrik dat ouers nooit voor die kind baklei nie, dit kan tot erge sielkundig­e probleme lei.

“Ouers moet onthou dat dit nie oor húlle verhouding of probleme gaan nie. Hulle moet kyk na wat die beste vir die kind of kinders is,” sê sy.

“Die proses moet ook aan die kinders verduideli­k word sodat hulle bewus is van wat aangaan en dit minder traumaties sal wees. Hoe ouers dit hanteer en wat hulle vir die kinders vertel, hang van die kinders se ouderdom af. Ouers hoef net genoeg te deel sodat die kind nie wonder hoekom dit gebeur en of dit hulle skuld is nie.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa