VOORBLADSTORIE: Expresso-aanbieders gesels oor hul pad na sukses
’n Voormalige dosent was op die kruin van sy loopbaan aan drank verslaaf. Ironies genoeg het hy ’n tesis oor alkoholisme geskryf, maar kon homself nie help nie.
hy het destyds sy meestersverhandeling oor alkoholisme gedoen en sê dit word deesdae landwyd in verskeie rehabilitasiesentrums as handleiding gebruik en hy het al verskeie artikels oor dié onderwerp vir internasionale tydskrifte geskryf. Ja, Basil Kivedo (66) het uitmuntende navorsingswerk oor alkoholisme gedoen en selfs al by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) in dié veld gewerk en só talle alkoholiste gehelp om nugter te word. En dít alles terwyl hy self ’n volslae alkoholis was en nie eens homself kon help nie – sy magdom kennis oor alkoholisme ten spyt . . .
Dít is die paradoks, sê Basil van Kuilsrivier in die noordelike voorstede van Kaapstad. Hy was in sy ergste alkoholisjare ’n dosent in geesteswetenskappe by die Universiteit van Wes-Kaapland en Universiteit van Kaapstad se sosiologie departemente. Daardie tyd kon hy nie ’n klas aanbied of selfs bestuur sonder dat hy ’n stewige dop ingehad het nie. Hy het ook só erg agteruitgegaan dat hy vir jare saam met bergies uitgehang en na hartelus gedrink het, “want hulle het hom nie veroordeel nie”.
Kuier het oor die jare al baie stories oor alkoholisme en alkoholiste vertel, maar nie een daarvan was so kontrasterend en ironies soos Basil s’n nie.
“Ek het vir 23 jaar navorsing oor alkoholisme gedoen en vir die vier jaar wat ek aan
Ek kon nie my eie probleem raaksien nie. Ek kon myself nie help nie. Basil Kivedo
my tesis (oor alkoholisme vir sy meestersgraad) gewerk het, was ek onder die invloed van drank. My tesis was 413 bladsye lank en nadat ek dit voltooi het, is dit uitgegee aan behandelingsentrums. Die paradoks is dat ek met soveel alkoholiste gewerk en hulle nugter gekry het, maar ek kon nie my eie probleem raaksien nie. Ek kon myself nie help nie,”vertel Basil.
Daar was tye wat hy selfs sy geliefde oupa, ’n biskop in die AME-kerk, gesmeek en omgepraat het om vir hom te gaan drank koop en ander tye wat hy sommer in sy ouma se japon (soms sonder klere) en pantoffels drankwinkel toe gestap het. Dan was daar ook daai tye wat hy selfs naskeermiddel gedrink het – alles net om sy allesoorheersende dors na drank te les. Dan het Basil allermins gelyk na die suksesvolle en begaafde universiteitsdosent wat hy was óf na die voorbeeldige hoërskoolseun wat vroeër gekant was teen drank en hom op debatsgeleenthede sterk daarteen uitgespreek het.
Maar in sy ergste drankdae het hy nie omgegee vir higiëne nie en het hy weke aaneen gelê en drink en getiep. Die laaste ding op sy gedagtes was om te was en skoon klere aan te trek. Hy het behoorlik gestink, maar dit het hom nie gepla nie. Want die alternatief – om nie te drink nie – was ’n hel op sy eie waarvoor Basil nie in daardie stadium kans gesien het nie.
Want as hy nié gedrink het nie, was die onttrekkingsimptome só erg dat dit vir hom gevoel het asof ’n leeu op sy rug spring en hy kon die pels letterlik vóél, vertel Basil. Ander kere het hy hom weer verbeel mense agtervolg hom en wanneer daar ’n klop aan die deur was, het hy ’n doodstyding verwag. Hy het ook pienk olifantjies en spinnekoppies voor sy geestesoog gesien of die vloer van sy kamer het in ’n plaas en later nasionale pad verander.
Maar die ergste was die diep en donker depressie waarin hy verval het en die selfmoordneigings. Hy het dan soos niks gevoel nie en het al twee keer probeer om ’n einde aan sy lewe te maak.
die liefde van sy VROU
Deur alles het sy vrou, Rochelle (51), ’n voormalige verpleegster, by hom gestaan, al het sy self deur ’n emosionele hel gegaan. Sy en Basil ken mekaar al jare omdat hy as jongman destyds by haar familie loseer het, maar hulle het eers in 2005 getrou toe hulle mekaar ná jare – en elkeen met ’n verbrokkelde huwelik en egskeiding agter die rug – weer ontmoet het.
Rochelle het eerstehandse ervaring van die skade wat drank kan doen, want haar pa was ook ’n alkoholis. En toe sy met Basil trou, het sy geweet van sy erge drankprobleem,“maar ek het ook die mens geken wat hy sonder die drank is”. Dit is juis dít wat Rochelle laat vasklou het aan haar huwelik, al was dit ’n bitter stryd. Daar was kere wat sy dit eenvoudig nie meer kon uithou nie en geryloop het na geliefdes toe net om weg te kom van Basil en sy alewige dronk toestand. Maar sy het elke keer weer teruggekeer, vertel Rochelle. Sy is oneindig lief vir Basil en het bly glo hy sal die drankduiwel eendag oorwin – en hy hét in 2007 in ’n bomenslike poging begin om sy lewe om te keer en is vandag nog skoon. Vir Basil was die keerpunt, wat gelyk het asof dit nooit gaan kom nie, die wete dat hy besig is om sy huwelik te verwoes en dat hy Rochelle finaal kan verloor as hy sou aangaan soos wat hy daai tyd aangegaan het. So, dit was uit en uit die liefde vir Rochelle en ’n familiekind, Thayne Strauss (10), wat in hul pleegsorg geplaas is, wat hom tot inkeer gebring het. Hy glo ook God het ingegryp toe hy nie meer op sy eie kragte kon staatmaak nie. Vandag deel hy sy storie“vir die hopeloses daar buite”
en Rochelle deel haar storie met vroue wat mans het soos die een wat Basil sedert 17-jarige ouderdom was. Die Kivedo’s glo die liefde en om biddend op jou knieë te bly, oorwin alles.
Die dRANKDUIWEL VAT HOM GOU
Basil se wortels lê in Port Elizabeth in die Oos-Kaap, waar hy as een van agt kinders grootgeword het. Basil sê hul gesin het ’n eenvoudige bestaan gevoer en hul aardse besittings was baie karig. Hy kom uit ’n tyd van plastiekgordyne en uitgesknipte koerant wat op kassies geplak was en as dekoritems gedien het. Klere was ook skraps en Basil het sy broers s’n geërf. Maar hoewel sy messelaarpa en naaldwerksterma gesukkel het om brood op die tafel te sit, het veral sy pa vir Basil aangemoedig en ondersteun om matriek klaar te maak. Spiritualiteit, waardes en moraliteit was ook baie belangrik in die lewe van die Kivedo-gesin.
Dit is ook dan met hierdie waardestelsel in plek dat Basil van ’n jong ouderdom af sterk gekant was teen alkohol en vasbeslote was om suksesvol te wees, al was mense van kleur se loopbaanopsies daardie tyd baie beperk.
“Op hoërskool het ek aan die debatspan behoort en byna al my praatjies het gegaan oor die gevare van alkoholmisbruik en ek het selfs plakkate daaroor gemaak. Maar toe is my eerste ervaring met alkohol op my matriekafskeid met drie bottels Old Brown Sherry saam met vriende, wat ons op Bethelsdorp gekoop het. Dit was een glasie en toe kon ek nie ophou nie,”vertel Basil oor die begin van sy dankprobleem.
Basil is ’n natuurlike storieverteller en het ’n aansteeklike sin vir humor. En hoewel ons oor ’n ernstige onderwerp gesels, dryf hy baie lekker die spot met homself, wat jou by tye hardop laat saamlag.
Oor daai eerste ontmoeting met die drankduiwel, voeg Basil by:“Ek moes ’n toespraak maak daai aand. Teen die tyd van die toespraak het my hemp agter uitgehang, ek was minus my das en een skoen, en ek wou daai aand ook onder die bendes in Schauderville inspring. Dit was heeltemal teenstrydig met wie ek was.”
Die drankduiwel het hom daardie aand netso gevat en Basil sal die teleurstelling op sy ma se gesig nooit vergeet toe sy die volgende oggend vir hom ’n glas water, Eno en suurlemoen bring om sy babbelas te dokter nie.
Maar dieselfde dag nog het die leuens begin en het Basil ’n storie opgemaak oor hy wat biblioteekboeke moes gaan ingee op Korsten.“Maar dit was net om by die kroeg uit te kom. My ma het nog vir my ’n 20c gegee waarmee ek daai tyd ’n hele drankwinkel kon koop en ek is met biblioteekboeke onder die blad by die kroeg in en het saam met groot manne begin gesels en twee dae van die huis af weggebly,”vertel Basil verder.
Hy het op 17 UWK toe gekom met daardie drankprobleem en het ’n regular geword in kroeë in Bellville in die noordelike voorstede van Kaapstad, sê Basil. Die drank het sy tong nóg losser gemaak en kort voor lank het Basil sommer ’n skare toeskouers in die kroeg gehad wat na sy stories kom luister het en vir hom drank gekoop het.
Toe hy later as dosent begin werk het, het hy 90% van sy salaris op drank spandeer en selfs ’n tas vol drank onder sy bed gehou.“Ek het sommer my oupa se nagmaalwyn ook gesteel.”
Teen die tyd dat Basil 24 was, het selfs sy oupa se vriende probeer ingryp deur hom na ’n AA-vergadering (Alkoholiste Anoniem) te vat. Die grapjas Basil is terug wanneer hy dié aand onthou:“My oupa se vriende het gesê hulle gaan my vat na ‘mense wat net soos ek is’toe dog ek, nóú gaan ons paartie!’Iemand het gepraat en ek dog praat jou praat klaar. Ons groep het in ’n sirkel gesit en ek sien almal bewe en wonder by myself of daar genoeg drank vir almal gaan wees? Maar toe kom die vroueondersteuningsgroep in met ’n groot urn en Marie en Eet-sum-more biscuits en burganza-tee (Five Roses)!”
Dié ingryping was onsuksesvol, want Basil het op pad huis al“drie lang soldate” (biere) by ’n smokkeljaart gekoop.
HUL PAAIE KRUIS weer
Dit was ook in hierdie tyd (in die jare tagtig toe Rochelle 16 was) dat hy by haar familie loseer het en hulle mekaar beter leer ken het. Rochelle het toe al gesien hoe erg Basil se onttrekkingsimptome is.
“Daai tyd as hy sy onttrekkingsimptome gekry het, het hy my gesmeek vir net een glasie en so geweldig gebewe dat alles uit die glasie geskud het. Dan het hy sommer vir ’n week nie gewas nie en stink hy later langs jou, want hy het net in die bed gebly en gelê en drink en getiep,”vertel Rochelle.
Basil was toe al ’n volwasse jongman en Rochelle nog ’n onskuldige tiener. Hy was toe verlief op haar, maar geweet sy is te jonk en het nie dinge verder gevat nie. Hul altwee het uiteindelik met ander mense getrou, maar mekaar weer raakgeloop toe albei alreeds geskei was. Hy was toe 53 en Rochelle 38. Basil was daai tyd die rektor van die Rekenaarskool Boland in Worcester.
“Ons het besef ons is lief vir mekaar en het in 2005 op my verjaardag (17 Februarie) in Worcester getrou,”vertel Rochelle liefdevol. Die liefde blom ná al die jare steeds tussen hulle.
DINGE RAAK MOEILIK
Soos tereg genoem was Rochelle bewus van Basil se drankprobleem en het hom
só aanvaar, maar erken dit was heeltemal ’n ander storie om ’n huis met ’n volslae alkoholis te deel.
“Dit het begin moeilik raak, want ek was nou in een huis met hom. Dit het ook skraps gegaan met die finansies omdat Basil baie van sy geld op drank spandeer het. Soms kon ek dit nie uithou nie en het dan Kaap toe gehike, maar dan bel hy aanmekaar en ek kan hoor hy is dronk. Dan gaan ek maar terug, want ek was bang hy drink hom dood,”deel Rochelle oor dié rowwe tye.
Sy sê voorts die patroon wat hy sou volg was om vir twee weke konstant te drink en het dan weer vir twee, drie maande opgehou.
Die tye wat Basil nugter was, het vir Rochelle laat moed skep dat dinge sou verbeter.“Ons was baie gelukkig omdat die tye wat hy gedrink het korter was as die tye wat hy nugter was,”sê sy.
Uit sy navorsing het Basil geweet hy is ’n beta-alkoholis (’n kroniese alkoholis), maar hy het dwarsdeur sy dronkenskap sy werke behou. Wanneer hy deur sy erge drinkperiodes gegaan het, het hy in ’n diep depressie verval en sy onttrekkingsimptome was onuithoudbaar en het hom al in die hospitaal ook laat beland.
“Ek het nie gaan werk wanneer ek gedrink het nie. Dan wou ek geen gordyne oop hê nie en het die foon van die mikkie afgehaal en die deure gesluit. Ek het weggekruip vir my krediteure en was te bang om (skuld)briewe oop te maak. Ek het met al die kosgeld gaan drank koop,”vertel Basil.
Rochelle beskryf hierdie tyd as baie depressing, want wanneer Basil in hierdie toestand was, wou hy nie eens hê sy moes die huis skoonmaak of die gordyne ooptrek nie. Hy wou nie gehad het mense moes weet hy is by die huis nie.
“Ek het niks selfbeeld gehad nie. Ek het twee keer selfmoord probeer pleeg, maar dit het nie gewerk nie. Ek het selfs drank in die tuinslang (uitgegooi) en in koekblikke weggesteek. Ek het met ’n bottel drank gaan slaap net om te drink tot ek weer uitpass as ek wakker skrik,” vertel Basil voorts.
Maar deur alles het Rochelle lankmoedig gebly, maar die uitwerking wat sy alkoholisme op haar gehad het, was nie maklik om mee te cope nie.
“My pa het ook ’n drankprobleem gehad, so ek het Basil verstaan. Ek het baie aande nie geslaap nie omdat ek bang was hy sterf in sy slaap. Baiekeer het ek hom jammer gekry omdat ek geweet het dis nie hy nie. Ek het hartseer gevoel, want dit was dieselfde met my pa. Natuurlik word jy gefrustreerd en voel magteloos en wil opgee, maar ek het gedink wie gaan na om kyk as ek dit nie doen nie? Dis waar liefde inkom,” voeg Rochelle by.
LIEFDE en GELOOF – dít red hom
En dit was juis die wete dat hy sy huwelik in gevaar stel en die vrees dat hy uiteindelik vir Rochelle kan verloor, wat vir Basil op 8 Januarie 2007 finaal tot sy sinne laat kom het. Basil was dié betrokke oggend op pad Mosambiek toe, maar was weer dronk en het nie eens geweet waar sy paspoort was toe sy rygeleentheid opdaag nie.
“Hy was nog op pad (lughawe toe) toe hy my bel en sê dis die laaste, maar ek het hom nie kop toe gevat nie, want ek het dit al gehoor. Hy was oor die jare ook al by klinieke, maar dit het nie gewerk nie omdat ander mense hom soontoe gevat het. Hy het nie uit sy eie gegaan nie,”vertel Rochelle.
Toe niks anders meer werk nie, het Basil homself uit desperaatheid tot geloof gewend en geestelike leiers soos ds. Jeff Fransman gevra om vir hom te bid. Ander mense wat ’n groot rol in sy herstel gespeel het met hul onvoorwaardelike ondersteuning is ds. Jurie van Rooy, Basie Killian, Fanie Human, Kosie Steyn en Aubrey Redlinghuis. Daar was ook vriende soos Karen Meiring en Muriel Langeveldt wat nooit moeg geraak het om te help nie.
Dit was ’n moeilike stryd om op te hou drink, maar Basil het dit reggekry, want hy weet Rochelle en Thayne het hom nugter nodig.
En sedert hy ophou drink het, het Basil met Rochelle se ondersteuning van 2011tot 2013 uitvoerende burgemeester van die Breederiviervallei-munisipaliteit geword. En vandag is hy ’n lid van die WesKaapse provinsiale parlement en voorsitter van die staande komitee vir onderwys.
“Aan God al die eer. My storie is vir die hopeloses,”sê Basil.
Met haar oë wat liefdevol op Basil rus, sluit Rochelle af:“Vir vroue wat met sulke mans getroud is, wil ek sê ek weet dis nie maklik nie. Maar probeer verder kyk as die alkoholisme en probeer saam met hom deur dit werk. Praat met die Here, gaan op jou knieë en vertrou. God werk op Sy tyd.”