INSPIRASIE: Ontmoet Kovsies se nuwe rektor van Malmesbury!
Die nuwe rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat het groot planne vir die toekoms. DEUR Tarren-Lee Habelgaarn
Hy het op die platteland grootgeword en as kind het hy gedroom dat hy eendag groot dinge gaan bereik, net soos die mense in die wetenskapboeke wat hom geïnspireer het. Hy was nie seker presies wat dit sou behels nie, maar het geweet met harde werk sal hy in die toekoms ’n verskil in ons land maak.
Prof. Francis Petersen, oorspronklik van Malmesbury in die Wes-Kaap, het egter nooit gedink hy sal dekades later aan die stuur van een van die oudste universiteite in Suid-Afrika staan nie. Prof. Petersen (51) is in April as die 14de rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV) ingehuldig.
Die prof. beskryf homself as ’n plattelander in murg en been en al is dit ’n reusetaak om deesdae prof. Jonathan Jansen se skoene op die Kovsie-kampus vol te staan, skrik dié Swartlander nie sommer vir ’n uitdaging nie. Só het hy in 1983 kort ná matriek sy tuisdorp verlaat toe hy chemie aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer het. Daarna het hy sy doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad (UK) voltooi. Later is hy by dié universiteit as dekaan en later vise-rektor aangestel. Hy is ook die voormalige adjunk-visekanselier: institusionele innovasie van die UK en al langer as 20 jaar in die akademie. Alles begin by boeke Volgens prof. Petersen was hy altyd, selfs as kind, ’n doelgerigte, pligsgetroue mens – twee eienskappe wat hy meen belangrik is vir ingenieurs om hulle goed van hul taak te kwyt. Hy was baie lief vir lees en was nuuskierig oor die wêreld om hom. Hy is die tweede oudste van ses kinders en het nie altyd met baie grootgeword nie. Daar was ook min wat ’n mens op die platteland kon doen, maar boeke het hulle genoeg van gehad. Sy pa, Christiaan, was ’n onderwyser en sy ma, Mary, ’n huisvrou. Sy pa het gereeld vir die kinders boeke gebring om te lees en elke keer as die gesin stad toe gery het, het prof. Petersen se ouers ook vir hom ’n nuwe boek as ’n bederf gekoop. Hy meen dit is juis hierdie nuuskierigheid en liefde vir boeke wat hom in die akademie laat beland het.
“Wanneer ’n mens op die platteland grootword, is daar maar min dinge waarmee jy jouself kan besig hou. Deesdae is dorpies meer uitgebrei, maar voorheen was daar nie winkelsentrums en sulke goed nie. Jy het of vir Ma in die huis gehelp, gebrei, houtwerk gedoen of boek gelees,” sê die saggeaarde man terwyl hy lekker lag.
“In ons huis het boeke gewen en ek dink dit het baie te doen met my pa. Onderwysers was baie belangrike mense op die dorp en my pa was nogals streng. Hy wou altyd seker maak jy verbreed jou kennis, sodat jy beheer kan neem van jou eie lewe. Hy het altyd vir sy leerders en vir ons as kinders gesê ons moet dit wat ons weet, verbreed sodat ons nuwe moontlikhede vir ons en die gemeenskap kan skep.”
Prof. Petersen en sy sibbe het hul pa se lesse ter harte geneem en vandag is hy nie die enigste suksesvolle kind in die familie nie. Daar is onder sy sibbe ook ’n mediese dokter, ’n doktor in chemie asook onderwysers. Wetenskap en akademie sou maar altyd deel van hulle wees.
Oor haar kinders se sukses sê Antie Mary, prof. Petersen se ma, dit was nie altyd maklik met ses kinders in die huis nie, maar hulle het almal goed saamgewerk om vir haar en haar man te help.
“Ons het nie altyd geld gehad nie, maar ons het hard gewerk om vir hulle goeie waardes te leer en hulle maak ons so trots met alles wat hulle bereik. Maar dit is ook net deur die Here se genade.”
Volgens prof. Petersen het hy in baie verskillende boeke belanggestel, maar hy het veral van wetenskap-gedrewe boeke gehou, omdat dit“regtig vir ’n mens die geleentheid bied om nuwe moontlikhede uit te dink”, soos wat sy pa altyd vir hulle geleer het. Dit is ook hoekom hy ingenieurswese gaan swot het, sodat hy sy gedagtes kan laat gaan en nuwe moontlikhede kan skep.
Hy was nog nie dertig nie, toe hy ’n professor word. Hy het meer betrokke by navorsing geraak en begin klasgee, maar ná ’n paar jaar het hy die akademie verlaat omdat hy prakties wou ondervind hoe die wêreld daar buite bestuur word.
“Ek wou vir my studente realistiese verwagtinge skep. Om goeie waarde aan ’n akademiese instelling te bring, het ek gevoel moet jy weet wat die uitdagings en geleenthede in die praktiese werksomgewing is. Dit is die beste manier om seker te maak studente is goed voorbereid en dat hulle suksesvol in hulle beroep sal wees,” meen hy.
“Ek het as uitvoerende adjunk-president begin werk by Mintek, ’n Johannesburgse maatskappy wat fokus op die uitbereiding van tegnologiese navorsing om die bedryf te verbeter. Ek het ook gedurende hierdie tyd my vrou, Cheslyn, ontmoet. Later het ek vir ’n rukkie as strategiese hoof by Anglo Platinum gewerk, voordat ek teruggekeer het na die akademie as dekaan van die UK
se fakulteit ingenieurswese,”vertel hy.
“Jy sien, die ding met ingenieurswese is dat dit nie ’n roetine-werk is nie. Dit bied jou ’n baie goeie basis om ’n tegniese loopbaan te volg, ’n loopbaan in bestuur of selfs jou eie besigheid te begin. Dit leer jou ook om in ’n stelsel te dink en die vermoë om ’n hele klomp geraas rondom jou te filter sodat jy ’n goeie uitkoms kan kry.” ’n Kampus vir almal Dit is ook met hierdie uitkyk wat hy sy nuwe pos aanpak. Volgens prof. Petersen is sy plan om oor die volgende vyf jaar ’n omgewing te help skep waarin almal op kampus gemaklik en deel van ’n groter gemeenskap kan voel. Hy wil veral klem lê op inklusiwiteit. Hy beoog ook om dit heeltemal anders as sy voorganger te benader.
“Ek het groot skoene om te vul, maar ek dink ook mense is gereed vir verandering. Ek was aanvanklik bekommerd, maar ek is oorweldig deur die manier waarop die universiteitsgemeenskap my ontvang het. Ek dink mense besef niemand is dieselfde nie en ek het besef jy sal nooit almal gelukkig kan maak nie, maar ek gaan probeer.
“Prof. Jansen het ’n sekere styl gehad en ek dink hy het fantastiese werk by die universiteit gedoen, maar my benadering gaan nie noodwendig ’n radikale benadering wees nie. Ek sal nie noodwendig vinnige stellings maak sonder om hulle eerste te toets nie. Dit is waar my agtergrond met ingenieurswese my gaan help. As jy vir my met prof. Jansen wil vergelyk, dink ek dít is hoe ons verskil,”sê hy.
Prof. Petersen het reeds met ’n proses by die universiteit begin om ’n geïntegreerde transformasieplan te ontwikkel. Hy hoop dat hierdie plan Kovsies in ’n plek sal verander waar personeel en studente welkom voel en wil bydra tot die akademiese sukses van die instelling wat al 113 jaar oud is.
Hy sê studente is ’n belangrike deel van die universiteit en dit is belangrik dat hulle ’n baie sterk studente-gesentreerde universiteit is.
“Ons wil en ons gaan met hulle gesels. Ons wil weet wat hulle pla en waarvan hulle hou, en ons wil gesprekskanale oophou. Dit is ook belangrik om dié boodskap oor te dra op ’n manier wat nie as ’n dreigement beskou kan word nie.”
Weg van die kampus geniet hierdie pa van twee om saam met sy seuns, Curtis en Clayton, gholf te speel. Hulle besoek ook gereeld hul ouma op die platteland en hou dan daarvan om te gaan visvang. Volgens prof. Petersen is hulle ’n hegte gesin en was dit ’n groot aanpassing om sonder sy vrou en kinders Vrystaat toe te trek.
‘’My vrou kyk op die oomblik na die seuns. Ek probeer so gereeld as moontlik Kaapstad toe te kom, maar sodra ons ’n huis gekry het, sal hulle ook Vrystaat toe trek. Ek mis hulle baie, maar ons wou die trek en verandering so maklik as moontlik vir die kinders maak.”
Oor die toekoms van die universiteit probeer prof. Petersen om nie te vining dinge te verander nie, want hy meen hulle is almal nog besig om hul voete te vind.
Hy voel egter sterk daaroor dat jy nie ’n universiteit uit jou kantoor kan bestuur nie. Volgens hom moet die visekanselier aanhoudend met personeel, studente en die privaatsektor skakel om seker te maak almal stem ooreen oor die visie vir die kampus en hul kampusgemeenskap.
“Die Universiteit van die Vrystaat het baie hidden gems, maar dit word ongelukkig deur brandende kwessies (soos rassistiese voorvalle) oorskadu. My rol sal wees om ’n omgewing te skep waarin studente en die personeel gemaklik kan wees. En dit sal op ’n manier gedoen moet word wat nie wegneem van akademiese uitnemendheid nie, want dit bly die hooffokus van ’n universiteit. ”