ENTREPRENEUR: Vrou kry slim idee ná dogter se ongeluk
Ná die skok van haar dogter se ongeluk wou dié ma ander ook help om gou hulp te kry.
dis nie aldag dat iemand ná ’n slegte ervaring ’n gaping in die mark sien nie, maar dis juis ’n skrikwekkende oomblik in Janine De Grill (41) se lewe wat haar aan ’n idee laat dink het wat lewens kan red.
Janine van Fairways in die Kaap het ’n mediese armband, die Icelet (In Case of Emergency Bracelet), ontwikkel waarop belangrike inligting soos jou naam, adres, mediese toestande en naasbestaandes se kontakbesonderhede gestoor kan word. As jy jouself in ’n situasie bevind waar jy nie kan praat of kommunikeer nie, scan paramedici die QR-kode (quick response code) op die armband en al jou inligting sal dan op ’n app op hul selfoon verskyn.
Janine het in 2012 aan QR-tegnologie begin dink toe haar oudste dogter, Mea (toe 14), in ’n motorongeluk was terwyl sy in ’n private taxi was. Sy het ’n kopbesering opgedoen en kon nie praat nie. Sy het geen inligting by haar gehad nie en paramedici het nie geweet of sy aan ’n mediese fonds behoort nie. Haar behandeling is vertraag omdat paramedici geen inligting oor haar gehad het nie. Toe sy ná 45 minute haar bewussyn herwin het, kon sy daarin slaag om haar pa te kontak.
“Dit was in die middel van die dag en heeltemal onverwags. Toe ek die oproep ontvang, was ek in skok,”vertel Janine. Sy wou graag ander ma’s in soortgelyke situasies help. Janine se pa, wat in 2010 oorlede is, het ook aan Alzheimer se siekte gely en daarom is identifikasie ook die doel van die armband. Janine sê hulle het gereeld haar pa gevind waar hy rondry omdat hy nie hul straatadres kon onthou nie.
Enigiemand wat die app op hul selfoon het, kan die kode scan. Janine fokus dus op twee markte: Ouers wat die armbande vir hul kinders wil aankoop en mense met spesiale behoeftes; insluitend bejaardes en outistiese kinders. Jy kies self watter inligting jy op die kode gestoor wil hê en dit neem slegs ’n paar sekondes om te scan.
Die armband self is gratis, maar jy betaal R200 per jaar om dit te gebruik. Dit gee jou 24 uur van die dag toegang tot mediese nooddienste. In ’n noodgeval sal hulle na jou kom en jou behandel.“Verbeel jou ’n kind speel sokker en beseer homself. Daar is dan twee belangrike oproepe wat gemaak moet word: aan die nooddienste en jou naasbestaandes,”vertel Janine. Die armband gee jou ook toegang tot nooddienste se nood- mediese inligting, hulplyn en traumaberading.“As jy selfmoordneigings het, kan jy die hulplyn bel en hulle sal jou berading gee.” Vir kinders wat nie armbande by skole mag dra nie, het Janine ook ’n lapelwapen en AllMine label ontwikkel. Dié produkte het ook QR-tegnologie. Moeilike pad Maar Janine se paadjie tot hier het nie so glad verloop soos sy aanvanklik beplan het nie. Toe sy in 1999 met ’n onderwyskwalifikasie gradueer, het die regering in daardie tyd geen nuwe onderwysers aangestel nie. “Die keuse is dus vir my gemaak om níé in die onderwys te gaan nie. My lewe het toe ’n heel ander pad geloop.”
Janine het toe by ’n klerewinkel as verkoopsassistent en later in die winkelgroep se hoofkantoor gewerk. Sy het ervaring in verkrygingsbestuur (procurement) opgedoen, dit geniet en later besluit om ’n kwalifikasie daarin te kry terwyl sy vir ’n groot vervaardiger van kosmetiese produkte gewerk het.
Later het haar werk as procurement
manager by ’n drankmaatskappy haar met die vaardighede en kennis toegerus om ’n entrepreneur te word aangesien sy gereeld op haar eie kliënte moes ontmoet en bemarking moes doen.
Janine het dié werk gelos om konsultasies vir kleiner maatskappye te doen, waarna sy van 2015 haar aandag voltyds op haar eie klein onderneming, Meamyka Solutions, toegespits het om die mediese armband te verkoop. As entrepreneur het Janine voor vele uitdagings te staan gekom.
“Almal was mal oor die idee, maar dis ’n uitdaging om dit te verkoop. Jy moet buigsaam wees en jou teikenmark uitbrei. Jy moet ook vernuftig wees, veral wanneer jy nie ’n bemarkingsbegroting het om mee te werk nie,”sê sy. Só byvoorbeeld gebruik Janine gratis bronne soos skoolnuusbriewe en aanlynmedia in plaas daarvan om alles te print. Die meeste van haar kliënte het op Facebook oor die armband gelees.
Al gaan besigheid nie so goed as wat sy verwag het nie, bly sy positief, hoopvol en gemotiveerd dat sy haar doelwitte kan bereik. Sy het van haar pensioengeld gebruik om die besigheid te begin en een van haar grootste uitdagings is om fondse in te samel om die besigheid aan die gang te hou.
Die QR-tegnologie was daar, maar sy moes die sagteware ontwikkel en moet elke jaar haar lisensie vir die sagterware hernu, wat duisende rande kos.“Ek weet daar is groot potensiaal in my produk. Ek het al baie positiewe terugvoering ontvang, maar mense word besig en hulle fokus verander. Dit gaan alles daaroor om op te volg met mense. Ek het gedink dat die bestellings baie vinniger sou inkom. Maar dis nie alles doom and gloom nie.”
Al vat dit langer om sukses te bereik, gaan Janine nie opgee nie. “Dit neem drie jaar vir ’n besigheid om suksesvol te wees. As ek môre die geleentheid kry om terug te gaan werk toe, sal ek nie. Ek sal enigiets doen om ’n sukses van my besigheid te maak. Selfs as ek ’n deeltydse werk kry, sal ek dit net doen om my besigheid te ondersteun.”
Janine het in 2008 besef status en geld is nie alles nie, toe sy met non-Hodgkin Lymphoma, ’n soort kanker, gediagnoseer is. Die kanker was reeds in stadium vier en sy moes vier verskillende tipes chemoterapie ondergaan. Sy is sedert 2010 in remissie nadat sy ’n stamseloorplanting gehad het.“Dit laat jou verstaan wat regtig belangrik is, soos jou familie, kinders en die nalatenskap wat jy agterlaat. Mense moet kan staatmaak op jou.”
Janine is ’n getroude ma van twee en bestuur haar besigheid vanaf haar huis. Sy sê dis baie moeilik om ’n balans te handhaaf. “Wanneer jy by die huis is, dink almal jy is beskikbaar. Jy moet prioritiseer en by ’n skedule hou.”
Wanneer haar dogters eksamen skryf en 13:00 klaarmaak met skool, gee dit haar minder tyd om haar besigheid te bestuur. “Dit is dan baie moeilik om in‘businessmode’te bly.”
Janine het gevoel dis belangrik om haar kinders in die besigheid betrokke te kry en hulle verantwoordelikheid te gee. Haar dogters doen die data capturing, input dit in die kode en doen ook die verpakking. “Ek wil vir hulle ’n nalatenskap los en hulle moet verstaan wat die eise van ’n werkende vrou is.”Sy sê ook sonder haar man van 19 jaar se ondersteuning sou sy dit nie kon doen nie. MAAK ’n verskil Die Icelet gee reeds ’n paar mense gemoedsrus. Só was Lilian Adriaanse (42) van Kraaifontein“baie bly”toe sy daaroor op Facebook lees. Haar 21-jarige seun ly aan epilepsie vandat hy nege jaar oud is en kry stuipe. Hy het dit altyd by die werk gekry. Hy het dit ook een keer in ’n winkelsentrum gekry en mense het net rondom hom geskree en nie geweet wat om te doen nie.“Ek en my man werk en dit gee my peace of mind dat hy hulp sal kry indien enigiets met hom gebeur. Hy het nie baie uitgegaan met sy vriende nie. Die Icelet het sy selfvertroue ’n groot boost gegee. Nou gaan hy uit en as iets gebeur, kan hy net vir hulle sy armband wys, dan sal hy hulp kry. Dis moeilik, ek ken baie mense wat so iets soek,”vertel Lilian.
Volgens Russel Meiring, ’n woordvoerder van die nooddiens ER24, kan toegang tot noodsaaklike inligting soos mediese geskiedenis, operasies wat ondergaan is en allergieë soms die verskil tussen lewe en dood beteken.“Lede van die publiek word altyd aanbeveel om ’n vorm van identifikasie op hulle te hê, met belangrike mediese inligting en besonderhede oor hul mediese fonds, indien enige,”sê hy.
As iets gebeur, kan hy net vir hulle sy armband wys, dan sal hy hulp kry. Lilian Adriaanse