BEWEEG AAN NÁ SELFMOORD
Hoe tel jy die stukke op en probeer jy aanbeweeg wanneer ’n geliefde selfmoord probeer pleeg?
Die dood is ’n onvermydelike deel van die lewe en dis ’n pad wat ons almal op die een of ander stadium gaan stap.
Ten spyte hiervan bly dit steeds vir baie mense moeilik om ’n geliefde se dood te verwerk en te aanvaar.
Wanneer ’n geliefde selfmoord gepleeg het (die term“selfdood”word ook deesdae al hoe meer gebruik), kan dit dinge net moeiliker maak omdat diegene wat agterbly, ook met baie onbeantwoorde vrae sit.
Dit is vrae waarop hulle nooit antwoorde sal kry nie; nie uit die mond van hul geliefde wat selfmoord as hul einde gekies het nie.
Geliefdes wat agterbly, sit ook gewoonlik met skuldgevoelens en wonder of daar iets is wat hulle kon doen om hul geliefde se dood te voorkom.
Hulle sit met vrae oor hoekom en waarom – iets wat die rouproses verleng en uiteindelike genesing uitstel.
Diegene in hierdie bootjie sit met onbeskryflike hartseer, wat gepaardgaan met ’n gevoel van hulpeloosheid. Dis ’n hartseer wat dit laat voel asof daar ’n konstante knop in jou keel is. Dis ’n hartseer wat dit laat voel asof jou hart uit jou borskas wil val.
ALMAL ROUVERSKILLEND
Verskillende mense rou verskillend en sal ook ’n geliefde se selfmoord op verskillende maniere hanteer. Sommige wil oor hul geliefde praat, terwyl ander verkies om liewer nie oor die selfmoord te praat nie.
Sommige voel dalk skaam oor die wyse waarop hul geliefde gesterf het, omdat daar steeds ’n groot stigma aan selfmoord kleef. Sommige is bekommerd oor wat die mense sê. En wanneer jy uitvind dat mense jou vir jou geliefde se selfmoord blameer, kan dit nóg moeiliker wees om die hartseer en die skuldgevoelens te verwerk – ook omdat jy dan minder ondersteuning ontvang.
Vir familie wat agterbly, kan dit moeilik wees om ná ’n selfmoord as gesin saam te kom, maar dis belangrik dat hulle besef hulle het mekaar in die rouproses nodig. Die gesin kan dalk saam ’n boom plant ter nagedagtenis van die oorledene.
Dit kan ook makliker wees om as gesin mekaar deur die rouproses te ondersteun en saam die mooi dinge van jul geliefde se lewe te onthou.
As gesin het julle elkeen jul eie verhouding gehad met die geliefde wat hul eie lewe geneem het; en elkeen kan hom of haar op hul eie manier onthou.