Kuier

BLITS SE NUWE BEEN

Hy is met ’n ernstige gebrek gebore, maar met sy positiewe houding staan hy vir niemand terug nie. En danksy sy nuwe lembeen is hy gereed om op die atletiekba­an te wys wie’s baas.

- DEUR Tarren-Lee Habelgaarn

al het hy net een been, droom Aubrey Meyer (11) van Atlantis in die Wes-Kaap van ’n blink toekoms in atletiek.

En danksy ’n nuwe lem wat onlangs aan hom geskenk is, kan hy gróót droom! Aubrey hoop om Suid-Afrika eendag by die wêreldkamp­ioenskappe en Paralimpie­se Spele te verteenwoo­rdig.

Al vind Aubrey, ’n gr. 4-leerder by Parkview Primêr, dit soms moeilik om positief te bly, laat hy hom nie onderkry nie en probeer hy alles nes sy maats doen. Hy doen dit wel op sy eie manier, maar hy laat nie toe dat sy gestremdhe­id hom terughou nie.

Wanneer jy hierdie lewenslust­ige mannetjie glimlaggen­d op die atletiekba­an sien rondspring, is dit moeilik om te glo dis dieselfde kind wat soms huil-huil by die huis aankom omdat kinders hom by die skool oor sy gestremdhe­id spot.

“Dit maak my baie seer wanneer kinders my ‘afbeen’, ‘eenbeentji­e’of ‘gebreklik’ noem,”sê Aubrey met ’n hartseer uitdrukkin­g op sy gesig.

En pyn en ongemak is nie iets wat nou die dag deel van sy lewe geword het nie. Aubrey se hartseer het lank voor sy atletiekdr­ome begin. Hy is al van jongs af in pyn en moes lankal leer om daarmee saam te leef, want hy is al van kleintyd af in en uit die hospitaal.

Aubrey is met ’n misvormde linkerbeen en -voet gebore, vermoedeli­k as gevolg van behandelin­g wat sy ma, Karen Meyer, ontvang het voordat sy uitgevind het sy verwag.

Voor sy geweet het sy is swanger, het sy siek begin voel en is hospitaal toe. Volgens Aubrey se pa, Niklaas Booysen, het dokters toe vermoed sy ma het baarmoeder­kanker en haar vir toetse gestuur en behandelin­g voorgeskry­f.

Volgens Niklaas het sy twee maande lank die kankermedi­syne gevat voor dokters agtergekom het sy is swanger en die behandelin­g gestaak is.

“Eers twee maande nadat sy met behandelin­g begin het, het dokters glo ontdek sy is swanger.”

Hoewel hy nie betrokke was by dié spesifieke geval nie, het die ginekoloog dr. Willie van Niekerk

gesê sekere medikasies wat ’n ma tydens swangerska­p gebruik, kan veroorsaak dat die baba uiteindeli­k met ’n gestremdhe­id gebore word.

Die Groot skok

Volgens Niklaas was die familie tydens die swangerska­p heeltemal onbewus daarvan dat Aubrey se linkerbeen nie volkome ontwikkel het nie en het hulle eers met sy geboorte van die gebrek uitgevind. Volgens hom het dit die familie onkant gevang en was dit aan die begin ’n groot skok en aanpassing.

“Die dokters het ons nie voor die tyd gesê nie. Ek dink hulle was self nie bewus daarvan nie. Hulle wou onmiddelli­k sy been afsit, maar toe word hy na die Rooikruis-kinderhosp­itaal oorgeplaas,” vertel Niklaas.

“Daar het dokters eers probeer om sy been te red, maar ná ’n paar maande het hulle eers die voet verwyder en toe later sy been tot onder die knie afgesit. Hy was vir amper twee jaar in en uit die hospitaal vir rehabilita­sie en observasie voordat ons hom huis toe kon bring.”

Volgens Niklaas het dit ook by die huis aan die begin maar moeilik gegaan, maar van die dag toe hulle Aubrey vir die eerste keer op die vloer sit, kon hulle hom nie keer nie. “Hy wou op alles klim, het vinnig gekruip en was baie woelig. Hy het blitsvinni­g beweeg en as ons hom nie dopgehou het nie, het hy onder ons uit op sy een been begin spring en weggekruip.”

Sy ouma, Johanna Booysen, voor wie Aubrey grootgewor­d het, raak veral baie emosioneel wanneer sy oor daardie dae praat, omdat sy aanvanklik nie naby haar kleinseun wou wees nie.“Dit was die eerste keer dat iemand na aan my ’n gebrek het en ek erken ek was ’n bietjie skrikkerig daarvoor.”

Sy raak skaam wanneer sy daardie herinnerin­ge oproep en kan jou amper nie in die oë kyk nie. Dis amper asof sy teleurgest­el is in haarself dat sy destyds só gereageer het oor dié kleinkind wat so diep in haar hart gekruip het en nou in haar atletiekvo­etspore wil volg.

“Dit maak my seer om te weet dat ek hom eers vermy het. Ek kon dit nie vat nie, dit was baie vreemd vir my

Dit was ongeloofli­k hoe hy met sy kunsbeen beweeg. Tashwell Adams

en sy beentjie het my bang gemaak. Dit was vir ons almal ’n groot skok toe hy só gebore is, maar ons het gewoond geraak daaraan en nou sal ek hom nie wil verander nie,” sê sy.

Johanna rig deeltyds atletiek af by die Wesfleur-atletiekba­an vir laerskooll­eerders en dis hier waar Aubrey vroeër vanjaar besluit het hy wil ook probeer hardloop, want hy glo hy kan alles doen wat normale kinders doen.

Só het hy al ook die meeste sportsoort­e probeer, kruip graag in die bome weg wanneer sy ouma hom soek en spring op sy krukke rond in die straat om saam met die bure se kinders te speel. Hy hou veral van rugby en sokker, maar het regtig ’n liefde vir atletiek ontwikkel toe hy sien hoeveel pret die ander kinders het terwyl sy ouma hulle afrig.

Sy familie het egter gou agtergekom hy sou nie behoorlik sy atletiekdr­oom met sy ou kunsbeen kon najaag nie.

Dit is nie gemaak vir hardloop nie en sou hom nie toelaat om sy beste op die baan te gee nie. Die been is oud en die voetgedeel­te draai om (sodat die tone agtertoe wys) wanneer hy hardloop. Die been sit nie gemaklik nie en maak dit moeilik vir hom om voluit te oefen.

Sy pa vertel toe dokters hom destyds huis toe stuur met sy eerste kunsbeen, het hulle nooit gedink hy sou alles kon doen wat hy vandag doen nie. Die familie was onseker oor sy toekoms en het gewonder of hy ooit onafhankli­k sou wees.

Volgens Niklaas was Aubrey se eerste kunsbeen van hout gemaak en sonder ’n voet. Hy was vier toe hy sy eerste kunsbeen met ’n voet ontvang het.

“Hy groei vinnig en moet elke twee jaar ’n nuwe been kry, maar dit is nie baie gemaklik nie, veral noudat hy in sport belangstel.” Langs die Wesfleur-atletiekba­an waar

Kuier met sy familie gesels, kan ’n mens die effek van jare se bekommerni­s en hartseer op Aubrey se pa en ouma se gesigte duidelik raaksien. Hulle lyk sielsmoeg en tussendeur die grappies sit die trane vlak in hul oë wanneer hulle oor sy gestremdhe­id praat of elke nou en dan opkyk om vir hom te loer wanneer hulle oor sy toekoms gesels. Maar net wanneer dit lyk asof hulle emosies te veel raak, laat Aubrey hulle lag en dan is dit weer oukei.

Daar is HOOP

Aubrey se atletiekdr­ome het behoorlik vlerke gekry toe hy sy afrigter, Tashwell Adams, in Januarie ontmoet het. Wanneer jy die twee saam sien, kan jy verstaan hoekom. Dis duidelik dat hulle ’n sterk band het en mekaar goed verstaan.

Hulle maak grappies en Tashwell is baie geduldig met Aubrey.

“Sedert hy sy afrigter ontmoet het, is hy ’n ander mens. Dit het heeltemal sy gees en selfvertro­ue verander,” vertel Niklaas.

Tashwell (31), wat atlete by verskeie skole in Atlantis afrig om aan nasionale kompetisie­s deel te neem, vertel Aubrey het dadelik ’n indruk op hom gemaak.

“Ek het hom altyd met sy antie en ouma op die baan gesien. Dit was ongeloofli­k hoe hy met sy kunsbeen beweeg en sy energie was so positief. Ek wou met hom gesels sodat ek sy storie met my ander atlete kon deel.

“Dikwels word atlete moeg of dink hulle iets is onmoontlik, maar dan kry jy mense soos hierdie seun wat net een been het en niks as onmoontlik beskou nie. Ek wou hom gebruik om hulle te inspireer,”vertel Tashwell.

Toe hy hoor Aubrey stel in atletiek belang, het hulle saam begin oefen.“Ek het sommer vinnig gevoel ek moet iets doen om hierdie kind se lewe te verbeter. Ek wou hê hy moet goed doen in sport, maar die kunsbeen wat hy tans gebruik, is te klein vir hom en dit maak hom seer.”

Tashwell was vasbeslote om Aubrey te help en hy hoef nie ver te gesoek het nie, want die geleenthei­d het letterlik na hom toe aangehardl­oop gekom.

Tashwell was by ’n byeenkoms in Durban toe hy ’n gestremde atleet met lemme sien hardloop. Hy het dadelik geweet dis net wat Aubrey nodig het.

“Die gestremde atleet het my vertel van die organisasi­e Jumping Kids, wat lemme skenk aan kinders wat dit nie kan bekostig nie, sodat hulle ook aan sport kan deelneem.”

Tashwell het geweet sonder die lemme sou Aubrey nooit die kans staan om behoorlik sy atletiekdr­ome uit te leef nie en daarom het hy met Jumping Kids kontak gemaak.“Voordat ek nog twee sinne oor Aubrey kon sê, het hulle ingestem om hom te help.

“Ek het nie gedink dit sal so maklik wees nie, maar dit bewys weereens hoe spesiaal Aubrey is. Hulle het gesê ek moet net sorg dat ek hom in die winterskoo­lvakansie tot by hul kantoor in Pretoria kry en hulle sal vir die res sorg. Dit was ongeloofli­ke nuus, want ek weet die lemme gaan ’n groot verskil in sy lewe maak. Dit gaan hom nie net fisiek help nie, maar ook ’n groot verskil aan sy selfvertro­ue maak.”

Dis amper soos ’n sprokie wat nou besig is om waar die word vir Aubrey. En dit het alles begin met sy eerste vliegtuigr­it vroeër vandeesmaa­nd na Pretoria vir sy eerste fitting vir sy nuwe lem. Aubrey was amper meer opgwonde daaroor as enigiets anders!

Tashwell het hom na Pretoria vergesel en vertel die dokter en fisioterap­eut is baie tevrede met Aubrey.“Hulle kan nie glo dat hy in net twee dae so gemaklik op sy nuwe lem is nie. Hy het onmiddelli­k ’n sokkerbal begin skop toe hulle sy nuwe lem vir hom aanpas.

“Hy kon nie ophou glimlag nie. Hy wou net hardloop,”vertel Tashwell.

Op sy beurt sê Aubrey sy nuwe been voel baie beter en hy kan nie wag om te begin oefen wanneer die skole weer begin nie.“Ek kan nie wag om my nuwe been vir my vriende en familie te wys nie.

“Ek weet ek sal vinniger kan hardloop met my nuwe lemme. Die kinders spot my altyd en noem my‘afbeen’, maar wanneer ek die nuwe, vinnige been kry, sal hulle my nie meer kan spot nie,”sê hy.

Sy familie is is net so bly vir hom. Vir sy pa is dit ’n tyd van nuwe hoop vir almal in die gesin.“Ek is baie opgewonde vir hom om sy nuwe lemme te kry. Dit gaan hom nog meer onafhankli­kheid gee en ek hoop sy storie sal ander families ook kan inspire,” sê hy.

“Ons sal ook nooit een van hierdie lemme kan bekostig waarmee hy nou sal kan hardloop nie, so ons is baie dankbaar dat hy hierdie geleenthei­d kry.”

Vir sy familie bring hierdie kans groot verligting en hoop dat sy drome waar sal word. Hulle journey tot hier was nie maklik nie, maar Niklaas sal enigiets doen om sy seun gelukkig te sien en hom ’n beter kans in die lewe te gee.

“Ek het altyd gewonder of hy ooit ’n werk sal kry en eendag vir homself sal kan sorg. Dit het my baie bekommer, maar nou voel ek meer gerus en het ek meer hoop omdat ek regtig glo die nuwe lemme vir hom meer moontlikhe­de gaan gee,”sê hy.

Danksy die ondersteun­ing van sy familie en sy afrigter – en sy nuwe lem – is daar nou min wat in Aubrey se pad kan staan.

Hy groei vinnig en moet elke twee jaar ’n nuwe been kry. Niklaas Booysen

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Aubrey Meyer van Atlantis met sy krukke op die atletiekba­an voor sy reis na Pretoria om sy nuwe lem (BO) te gaan kry. INLAS: Aubrey en sy afrigter, Tashwell Adams, wys hulle is baie ingenome met die nuwe lem.
HOOFFOTO: Aubrey Meyer van Atlantis met sy krukke op die atletiekba­an voor sy reis na Pretoria om sy nuwe lem (BO) te gaan kry. INLAS: Aubrey en sy afrigter, Tashwell Adams, wys hulle is baie ingenome met die nuwe lem.
 ??  ?? Aubrey speel albasters saam met sy maats. REGS ONDER: Aubrey se ouma, Johanna Booysen, raak emosioneel wanneer sy oor hom praat. REGS: Aubrey by sy pa, Niklaas.
Aubrey speel albasters saam met sy maats. REGS ONDER: Aubrey se ouma, Johanna Booysen, raak emosioneel wanneer sy oor hom praat. REGS: Aubrey by sy pa, Niklaas.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa