Kuier

Benni IN DIE AREA

Hy het oorsee gaan sokker speel en baie mense het gedink hy sal nooit terugkom nie, maar nou ís hy weer in die Kaap – by sy taal en sy ma se lekker kos – en dié keer as ’n afrigter.

- DEUR Tarren-Lee Habelgaarn

hy het dalk amper vir twee dekades in die buiteland gewoon, maar wanneer jy met Benni McCarthy (39), nuwe afrigter van die Cape Town Citysokker­klub, gesels, kom jy gou agter hy is steeds net Benni van die Kaap.

Dié voormalige internasio­nale sokkerspel­er kan deesdae beskostig om enigiets te koop wat sy familie en veral sy kinders se harte begeer. Hy besit luukse sportmotor­s en huise en sy gesin woon in een van Skotland se spog-woonbuurte. Maar vir eers het hy teruggetre­k Kaap toe vir sy nuwe werk as sokkerafri­gter. En volgens hom is hy nog besig om sy voete te vind.

Jy sou dink ná soveel jaar in die buiteland sou hy ’n aksent ontwikkel het of glad nie meer Afrikaans kan praat nie, maar niks daarvan nie! Benni, wat soms meer by die lughawe as by die huis is, wag eerder in ’n Wimpy as in een van die luukse besigheids­wagkamers en gedra hom glad nie soos ’n sokkerlege­nde nie. Inteendeel, hy is heeltemal plat op die aarde.

Volgens Benni, wat in Hanover Park op die Kaapse Vlakte grootgewor­d het, is dit juis goed soos Afrikaans en sy gunsteling- Kaapse kosse wat hy die meeste mis wanneer hy oorsee is.

“Dit gaan ook lekker wees om weer om die draai van my ma te wees. Ek sien uit na haar bederf, veral terwyl my vrou en kinders nog in Skotland is.

Afrikaans bly sy taal

“Ek kry nie baie kans om Afrikaans te praat nie, behalwe as ek met my ma praat. Die ouer mense hou mos nie van change nie. Change is nie ’n goeie ding vir hulle nie. As ek van Afrikaans switch, skel sy my lekker uit en vra of ek my wil slim hou, want hoekom praat ek Engels as dit nie is hoe sy my grootgemaa­k het nie. Ek moet nie kom dink ek is ’n wit Engelse man met my posh Engels nie. Sy hou my op my tone,”vertel hy met ’n glimlag op sy gesig.

Benni kan ook nie uitgepraat raak oor Kaapse kos en sy gunsteling-eetplekke nie.

“Niks kom naby jou eie huistaal en kos nie. Jy sal my altyd in die Wimpy kry wanneer ek op die lughawe is, want hulle waffles is my ultimate favourite. Ek eet dit met vanilla-roomys en stroop. Ek moet ook altyd vir Golden Dish (in Gatesville naby Athlone) besoek wanneer ek by die huis is. Maar my ma se hoendertam­atie-bredie is ook ’n groot wenner. Ek hou so baie daarvan , ek het seker gemaak my ma leer my vrou hoe om dit te maak. Dit het tyd gevat, maar nou dink ek sy maak dit dalk beter as my ma.”

Om nader aan sy familie te woon, is iets waarna hy uitsien, maaar selfs sy familie was verstom toe hulle hoor Benni trek terug Suid-Afrika toe.

Benni het onlangs sy afrigterku­rsus voltooi en sê hy sien uit na die lang ure se harde werk en om sy ervarenhei­d met die spelers van Cape Town City te deel. Hy wil ook nuwe talent inbring, want hy meen dit hou die senior spelers op hul tone.

“Ek dink almal het verwag dat ek ’n internasio­nale span sou afrig, maar toe hierdie geleenthei­d oor my pad kom, het ek gevoel dit sal perfek wees om my eerste werk as afrigter in my eie land te vat, waar dit alles vir my begin het. Dit het soos ’n full circle-oomblik vir my gevoel en ek is baie

opgewonde om met hierdie ongeloofli­k span talentvoll­e mense te werk,”sê hy.

“Cape Town City het regtig verlede seisoen hulself as ’n top-sokkerspan bewys en ek is hier om daarop te bou. Ek was verbaas oor hoe humble hulle almal is – hulle is ’n great span. Hulle het nie net die talent nie, hulle is ook nie bang om hard te werk nie. Ek dink dit is ook minder druk om in my eie land te begin as afrigter, omdat ek die taal en kultuur verstaan.

“Dit is steeds ’n groot taak, maar ek dink wat vir my anders gaan wees is die feit dat ek die spelers nie net tegnies sal kan afrig nie, maar ek verstaan ook die druk en die emosionele kant. Baie van hierdie spelers kom van die Kaapse Vlakte en ek verstaan hul omstandige­hede. Ek dink dit is belangrik dat ons ook later meer met die jeug moet werk en hulle meer betrokke by sport kry. Dit is great vir hulle om te sien hoe mense uit hul eie gemeenskap groot dinge kan bereik en dit sal die span ook laat goed voel. Ek wil ’n agrigter wees met wie die manne kan gesels, maar ek gaan hul limits ook push en hulle op hul tone hou.”

Oor die emosies en druk wat ’n profession­ele sokkerspel­er moet hanteer, kan jy Benni niks vertel nie. Daar was talle dae toe hy wou tou opgooi, veral toe hy oorsee gewoon het. Maar hy het deurgedruk, want hy wou vir sy familie voorsien sodat hulle uit hul gevaarlike woonbuurt kon trek en nie meer finansieel so swaarkry nie.

Vir Benni was dit aan die begin baie moeilik om oorsee aan te pas. Hy was maar 20 jaar oud toe hy Nederland toe is om daar vir Ajax Amsterdam te gaan speel.

Dankbaar vir sy kans

Hy onthou voordat hy oorsee gegaan het, het ’n uitstappie na die V&A Waterfront soos ’n Europese ervaring vir ’n jong seun van Hanover Park gevoel.

“As kind was dit vir my ’n luxury trip as ek city centre in Kaapstad of Cavendish Square toe moes gaan. Die Waterfront het soos Europa vir my gevoel, so toe ek Holland toe vlieg om sokker te speel, was dit ’n groot ding en alles was nuut vir my. Ek kon nie net huis toe gaan as ek verlang het nie. Ek was nou aan die anderkant van die wêreld en dit het maar swaar gegaan. Ek moes ’n nuwe taal leer praat, wat mense gesê het amper soos Afrikaans is en dit klink só, maar dit is heeltemal anders,” sê hy.

“So ja, dit was ’n groot skok vir my om daardie transition te maak. Maar vir my was dit die kans van ’n leeftyd wat ek ontvang het en ek moes die beste daarvan maak. Ek het vir myself gesê as ek dit maak, dan sou dit vir my die kans bied om my familie uit Hanover Park te kry en vir hulle ’n beter lewe te gee.

“Die kans wat ek nou kry kan my hele familie se lewe verander – en dit het. Dit is wat my daar gehou het en my sterk gehou het. Ek het geweet ek moet hard werk om suksesvol te wees. As dit nie my motivering was nie, sou ek seker al lankal by die huis gewees het.“

Die dag toe hy vir sy ma ’n huis in Constantia kon koop, was die dag toe hy persoonlik gevoel het hy het sukses bereik. Maar om daar te kom was nie maklik nie. Dit was wel die moeite werd, meen hy.

“Toe ek Suid-Afrika verlaat, het ek R1 500 ’n maand verdien en skielik oornag het ek meer as 10 miljoen dollar in my rekening gehad. Dit was nie altyd maklik nie, maar vandag het ek vrede, want ek weet ek het bereik wat ek wou. Ek sal eendag kan sterf met die wete dat ek vir my familie ’n beter lewe kon gee.

“Dit is ook lekker om vir my kinders te kan koop wat hulle wil hê. As hulle in die winkel vir iets vra hoef ek nie altyd nee te sê nie, ek kan ja sê want ons kan dit bekostig. My gesin is my alles en ek is so lief vir my kinders. Dit is anders met meisies, maar ek geniet hulle baie,”sê hy.

Bennie se vrou, Stacey, ’n Skotse model, is steeds in Edinburg met sy vier kinders Lima (5), Allegra (9), Miya (11) en Minna (12). Hulle sal vir eers daar bly en later by Benni aansluit.

“Ons gaan vir eers tussen Skotland en Suid-Afrika travel, totdat ek my voete gevind het. Ek wil graag op my werk kan konsentree­r en dinge hier reg kry voordat ek hulle permanent oorbring. Ons wil ook nie die kinders te vinnig uit hul roetine haal nie, maar ek is opgewonde oor alles. Vir nou is dit werk eerste, want ek weet sodra hulle hier is sal hulle my weer om hul pinkies kan draai.”

 ??  ?? HOOFFOTO: Benni McCarthy is die nuwe afrigter van Cape Town City. REGS: In 2006 was hy die tweede beste doelskiete­r in die Engelse Premier League.
HOOFFOTO: Benni McCarthy is die nuwe afrigter van Cape Town City. REGS: In 2006 was hy die tweede beste doelskiete­r in die Engelse Premier League.
 ??  ?? REGS: Benni en sy Skotse vrou, Stacey. MIDDEL: By sy kinders Lima, Miya, Minna en Allegra. REGS ONDER: In 2004 het Benni en sy FC Porto-spanmaats geseëvier in die Champions League. HEEL ONDER: Benni het sy profession­ele sokkerloop­baan by Seven Stars begin.
REGS: Benni en sy Skotse vrou, Stacey. MIDDEL: By sy kinders Lima, Miya, Minna en Allegra. REGS ONDER: In 2004 het Benni en sy FC Porto-spanmaats geseëvier in die Champions League. HEEL ONDER: Benni het sy profession­ele sokkerloop­baan by Seven Stars begin.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa