Kuier

Plant die saad

Dié skoolhoof glo elke kind kan uitstyg en geleenthed­e aangryp. En met ’n groentetui­n wys sy hóé dit gedoen word.

- DEUR Brenden Ruiter

Sy het die kwalifikas­ies om by enige gegoede skool te gaan werk, maar dit is in die arm gemeenskap­pe waar sy ’n verskil kan maak en waar haar hart lê. Alison February (48), hoof by die Laerskool Melton in Eersterivi­er buite Kaapstad, het al in haar loopbaan by verskeie skole in blootgeste­lde gebiede skoolgehou. Met ’n meestersgr­aad in die onderwys sou mens dink sy kan kies en keur tussen van die beste skole in die provinsie. “Ek was al in Atlantis, Bishop Lavis en Delft, en nou hier. By ander skole is dit dalk makliker, want hulle het alles tot hul beskikking, maar hier in ons gemeenskap­pe is daar baie te doen en dis ons plig om ons mense te bemagtig in alle fasette van die lewe. ’n Onderwyser se taak is om die leerders, maar ook die gemeenskap op te voed. Watter waarde sou ek nou toevoeg tot die lewens van mense wat alles het? Hier is baie werk in dié gemeenskap,”sê Alison in haar kantoor met die woorde van Matteus 19:26 teen die muur: “Maar Jesus het hulle aangekyk en vir hulle gesê:‘By mense is dit onmoontlik, maar by God is alle dinge moontlik’.”

Geen verskoning nie

Die gemeenskap waarin die skool is, gaan gebuk onder grootskaal­se maatskapli­ke euwels soos drank- en dwelmmisbr­uik, geweld teen vroue en kinders en algehele sosiale verval, maar dit skeel Alison min. “My pa is dood toe ek drie jaar oud was en my ma moes vier kinders alleen grootmaak. Hier is baie kinders in die skool wat sonder een of albei ouers grootword en ek wil hulle wys dat jy kan uitstyg, maak nie saak wat jou omstandigh­ede is nie. Ons leerders moet weet dat daar ’n wêreld vir hulle blootlê buite Kleinvlei en as hulle hard werk, sukses binne hul bereik is.

“Ek is oorspronkl­ik van Malmesbury, waar my ma ’n kleremaaks­ter was, maar dit was nie ’n verskoning om niks met my lewe te doen nie. My ma is die groot dryfveer agter my sukses. In daardie jare was die keuse van beroepe maar min vir bruinmense, maar ek is nie ’n oomblik spyt dat ek in die onderwys beland het nie en sien dit as my roeping. Ek wil vir die kinders daar buite sê dat ek ook ’n sogenaamde Sassa-kind is. Daardie jare is dit net iets anders genoem, maar ons moes ook welsyngeld kry. Dit is niks om oor skaam te wees nie en vandag kan ek wys wat ek met die geleenthei­d gedoen het,”sê Alison in wie se familie baie onderwyser­s is.

Alison wil nie krediet vat nie, maar toe sy drie jaar gelede by Melton kom, was dit ’n onderprest­erende skool. Thinus Ferreira, kringbestu­urder van Onderwysdi­strik-Oos, kring vyf van die Wes-Kaapse Onderwysde­partement, sê Alison het baie bygedra tot die ommekeer van die skool.“Sy doen wonderlike werk. Hierdie skool is baie ver van waar dit eens was,”sê Thinus.

Charmaine du Preez, ’n ouer van een van die leerders by die skool, eggo wat Thinus sê.“Alison weet wat sy wil hê vir die skool. Sedert haar koms het dissipline verbeter en daar was ook opgraderin­gs by die skool, want sy wil net die beste vir haar leerders hê. Kwaliteit-onderwys is vir haar ononderhan­delbaar,”sê Charmaine.

Denise Roelf, opvoeder by Melton, sê Alison is só op die kinders ingestel dat sy selfs afwesiges gaan soek.“Sy pak sosiale probleme aan en skakel met ouers. Sy dra die skool op die hart,”sê Denise.

Ook die leerders het net lof vir die verskil wat sy in hul lewens maak. Mbalentle Mlunguza, hoofmeisie, sê Alison se uitstaande kenmerk is hoe sy haar oor leerders ontferm.“Sy gee om vir ons veiligheid. As ’n leerder weet ek Juffrou sal altyd daar wees vir my en die ander,”sê Mbalentle.

Die man wat verantwoor­delik is vir toegangsbe­heer en veiligheid by die skool, Bernhard van der Rheede, sê mense kan maklik Alison se vriendelik­heid onderskat. “Sy is van die vriendelik­ste mense wat ek ken, maar sy is ook verskrikli­k streng. Sy hou ’n ferm hand op die skool en sy aktiwiteit­e. Wat my veral opval, is hoe haar fokus op die toekoms is en hoe sy dinge in plek kry sodat goed in die toekoms kan uitwerk. Sy is voorwaar ’n positiewe energie by die skool,”sê Bernhard.

Alison wil egter niks van lofsange hoor nie en sê sonder haar hardwerken­de personeel sou die skool nie wees waar dit vandag is nie.“Ek glo in samewerkin­g en wanneer ’n skool se personeel en die gemeenskap saamwerk, kan daar veranderin­g wees. Hier by Melton het ons ’n duidelike plan oor wat ons wil doen en waarheen ons wil beweeg en ons werk hard om daardie plan suksesvol uit te voer. Ek is bevoorreg om personeel en ’n beheerligg­aam te hê wat skrik vir niks en die belange van die leerders op die hart dra.

“Ons dink nie aan verskoning­s nie, maar vind geleenthed­e en maniere om akademiese, sosiale en gemeenskap­like groei by die leerders en ouers aan te wakker.”

Sommer by die ingang van die skool is die uitvoering van die skool se planne al sigbaar. ’n Oop stuk grond wat eens net dor was, is bewerk en groente word geplant.“Een van ons opvoeders, Charlton Arendse, kom uit ’n familie wat weet van landbou en in 2014 het ons met die tuin begin. Aanvanklik wou ons net die stuk grond benut, maar die idee het uitgebrei. Vandag kweek ons groenboont­jies, kool, uie, patat, kropslaai, wortels en beet. Hierdie produkte word in die skool se sopkombuis gebruik sodat die kinders voedsame kos kan eet, maar ons het ook besef dat dit nie help as ’n kind net by die skool voedsame kos eet nie. Ons verkoop dus van die produkte teen ’n appel en ’n ei aan ouers. Baie het ons al kom bedank, want dit is die enigste manier hoe hulle groente kan bekostig. Naburige skole se opvoeders kom ook gereeld groente koop en steek kers op oor hoe om hul eie tuine te begin en volhoubaar te bestuur.

“As ons skool ’n voorbeeld kan wees vir ander in die gemeenskap sal ons gedeelteli­k in ons doel geslaag het om die dorp ’n beter plek te maak vir almal wat daarin woon,”vertel Alison.

Die tuin word nie bedreig deur die droogte in die Wes-Kaap nie, aangesien hulle reeds sedert 2015 ’n boorgat het.

Die skool wag ook nie op aalmoese om dinge gedoen te kry nie en het sommer self ingespring om ou skoolbanke te restoureer. By die skool was ’n vertrek vol ou banke wat deur een van die opvoeders, Ivor Roos, reggemaak is en nou so goed en selfs beter as die oorspronkl­ikes is.

“Dit is moeilik om ondernemin­gs te kry om hande saam met ons te vat en deur goed vir onsself te doen, wys ons dat ons nie wil bakhand staan nie. Ons kinders moet leer om dinge vir hulself te doen ten einde hul omstandigh­ede te verbeter.”

Maar die trots van die skool is hul jaarlikse Sewes-rugbytoern­ooi. Die toernooi is vanjaar in sy vyfde jaar en groei in gewildheid.“Skole kom ver om aan die toernooi deel te neem en sommiges begin al vroeg in die jaar navraag doen.

“Was dit nie vir dié toernooi nie, sou sommige van die kinders nooit in aanraking met ander kinders gekom het nie. Dit is belangrik dat kinders blootstell­ing kry aan hoe ander kinders dinge doen, en hoewel die toernooi een van ons grootste geldinsame­lingsgelee­nthede is, lê sy waarde meer daarin dat ons die gemeenskap kan saamsnoer,”sê Alison.

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Alison February (48) glo dat sy as skoolhoof haar roeping uitleef. LINKS: Die skool se groentetui­n. INLAS: Alison saam met Charlton Arendse, wat gehelp het om die tuin aan te plant.
HOOFFOTO: Alison February (48) glo dat sy as skoolhoof haar roeping uitleef. LINKS: Die skool se groentetui­n. INLAS: Alison saam met Charlton Arendse, wat gehelp het om die tuin aan te plant.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa