’n Saak tussen Mens en Dier
Sy is iemand wat in die hof kan kophou en nie op haar laat trap nie, maar nou kom maak ’n klein hondjie (van alle dinge!) die lewe vir haar bitter moeilik.
Tarren is nou al wragtig moeg en hoe sy die donker kringe onder haar oë gaan wegsteek, weet hemel alleen. Sy kon dit nie eers twee dae terug regkry nie, wat nog van twee dae later.
Sy lê en dink aan wat sy gaan sê as iemand haar weer vra oor haar moegheid. Laataand uit saam met vriende of laataand voorbereiding vir ’n saak, weeg sy die opsies vir haarself op.
Vir die hoeveelste keer die aand hoor sy hoe die skril geblaf al hoe nader kom, tot onder haar kamervenster. Sy wil nie hê haar kollegas moet uitvind dat dit ’n blaffende hondjie is wat haar so onderkry nie, haar reputasie kan dalk net skade ly. Definitief laataand voorbereiding besluit sy, dit kan net in haar guns tel. Gedurende haar besluitneming kom sy agter dat die skril geblaf opgehou het.
Sy draai op haar maag en druk oudergewoonte haar hand onder haar kussing in, vol hoop vir ’n bietjie nagrus. Sy het skaars haar oë toegemaak of die skril geblaf begin weer.“Verdomp, kry dit nooit einde nie!”skree sy moedeloos terwyl sy die kussing om haar ore vou.
Die vrou met die harde stem wat voor haar bly, het hoeka eendag met arms in die sye op die lastige troeteldier geskree. So ’n stem kan mos nuttig gebruik word om ook vir Diane, haar buurvrou, te oortuig om plan te maak met haar troeteldier.
Tarren besef egter alte goed dit is net wensdenkery. Die bure is te treurig om saam te staan. Sy het al langsaan gaan praat oor die irriterende hond. Sy het gevoel sy kon vir Diane te lyf gaan toe sy in haar eentonige stem sê“sy het nie geweet haar hond bother ander nie”. ’n Mens moet doof wees as jy dit nie kan hoor nie, wou Tarren antwoord. Gelukkig het haar mediator skills ingeskop en sy het die saak kalm met die vrou bespreek. Diane het hoog en laag belowe om plan te maak met die geblaffery. Tarren het selfs voor- gestel dat Diane ’n afskorting maak sodat die hond nie reg onder haar kamervenster kom blaf nie, maar niks het daarvan gekom nie. Die buurvrou groet nie eers meer nie. Hoe dit ook al sy, ’n plan sal sy moet maak. Sy sal nie nog ’n paar slapelose nagte oorleef nie.
Die volgende oggend jaag Tarren een ná die ander koppie koffie in haar lyf. Die moegheid pla en sy het ’n groot saak waarvoor sy moet voorberei. Terwyl sy haar motor uit die motorhuis trek, vang haar oog die wit en bruin Jack Russell waar hy by die kanthekkie staan. Noudat ek moet gaan werk, nou is jy stil, dink sy.
Op kantoor begin Tarren werk aan ’n plan. Sy tik“How to stop your neighbour’s dog from barking”op die Google-soekenjin in. Die eerste blokkie raad wat op die skerm verskyn, is: Talk to your neighbour. Been there, done that, dink sy.
Dit is egter die stuk oor die waterpistooltjie wat haar oog vang toe sy
vlugtig verder lees.
Teen haar beter wete trap Tarren die middag die brandstofpedaal totdat die snelheidsmeternaald verby die 60 beweeg. Sy is vasbeslote om die speelgoedwinkel nog oop te kry. Sy maak dit en besluit om die donkerblou waterpistooltjie in die winkel te koop. Sy het al genoeg strafsake gedoen om ’n paar tips te kry oor hoe om nie in die aand raakgesien te word nie. ’n Donker waterpistool is nommer een op haar lys. Sy het nie verniet die bynaam“Nononsense Tarren”gekry nie, vanaand wys sy die wit-en-bruin hondjie ’n ding of twee.
Voordat Tarren gaan slaap, maak sy seker dat die pistooltjie vol water is en sit hom binne grypafstand langs haar bed neer. Dit is eers ná ’n uur of twee dat die lastige hond weer begin blaf. Met die eerste geblaf spring sy vinnig uit haar bed en gryp die waterpistooltjie soos ’n soldaat wat reg is vir sy vyand. Tarren loop stadig met die pistool tot by die baksteenmuur.
Die muur is te hoog om te sien waar die hond staan, maar die geblaf gee haar ’n idee waar om te mik. Teen ’n skuinste hou sy die pistooltjie en sy begin verwoed die sneller aanmekaar druk. Met ’n getjank hoor sy hoe die troeteldier weghardloop en aan die anderkant van die meenthuis skuiling gaan soek. Dit voel vir haar asof sy sopas ’n groot saak gewen het toe sy by haar meenthuis instap. Sy hoop nou net die damn hond bly die hele aand weg van haar kamervenster af.
Die volgende oggend is Diane buite besig om iets in bokse te pak toe Tarren met haar vullissakke na die gesamentlike vullisdrom toe loop. Die hondjie is al onder Diane se voete en sy skop geïrriteerd na hom. Sy is so besig dat sy nie eers vir Tarren sien verbyloop nie.
Ná werk het Tarren skaars die motorhuis se elektroniese deur laat sak toe sy die gekling van hael teen haar vensters hoor. Tussen deur die klank van die hael hoor sy die getjank van die Diane se hond. Sy is nou nie self ’n dieremens nie, maar geen regdenkende mens sal sy troeteldier mos so in die hael los nie, dink sy verontwaardig. Ná ’n halfuur se getjank gryp Tarren die rooi sambreel uit haar kas en spring tussen die waterplassies deur na die muur toe. Die hael klits haar plek-plek terwyl sy op die krat naby die muur staan.
In die hoek sien sy die tjankende wit en bruin bondeltjie waar hy probeer wegkruip vir die hael. Soekend na ’n hondehuisie maak Tarren ’n fluitgeluid om te sien of Diane by die huis is, maar niks gebeur nie. Tarren is al op pad na Diane se kanthekkie toe dit ophou hael. Sy weet nie eintlik wat haar plan is nie, maar iets moet sy doen. Sy kan dit nie uithou met die getjank nie. Snaaks genoeg is daar geen slot aan die hek toe sy die skuifie oopskuif nie. Dit is die eerste keer dat Tarren die skerp gesiggie mooi sien en met die dreun van die weer begin die papsopnat hond te bewe. Waarin het sy haarself begewe? As Diane haar nou hier kry gaan sy glad nie gelukkig wees nie. Tarren is nog besig om te kyk vir skuiling vir die hond toe dit weer begin hael. Voor sy haarself kom kry, tel sy die hond op en hardloop sy vinnig na haar meenthuis toe. Haar rooi hare is gekroes, haar skoene maak ’n snaakse sjoesh-geluid en haar voete is yskoud toe sy by die huis kom. Sy kan skaars glo dat die bewende hondjie voor haar dieselfde een is wat snags so vol bravade blaf. Terwyl Tarren die hond met ’n handdoek afdroog sien sy die goue naamplaatjie met die naam Lenny om sy nek.
Teen kwart oor ses is die teëls voor Tarren se sitkamervenster al vuil geloop van al die uitloer na Diane se kombuisvenster. Gewoonlik brand Diane se kombuislig lankal teen dié tyd. Nooit sou sy kon dink sy sou so angstig voel oor ’n hond nie. Sê nou net Diane kom nie vanaand terug nie, wat doen sy dan. Haar huis is definitief nie toegerus vir diere nie. Sy voel reeds skuldig oor die afskorting, gemaak uit ’n wasgoedrak en twee stoele, waarin sy Lenny hou. Dit is al tienuur toe Tarren opgee en vir Lenny in die badkamer toemaak.
Vroeg die Saterdagoggend loop Tarren om na die meenthuis langsaan. Net toe sy aan die deur wil klop, vang haar oog die oop gleuf tussen die twee gordyne. Met hande teen haar gesig loer sy met een oog deur die venster. Aan die anderkant van die gordyne sien sy geen meubels nie. Toe sy die eienaar van die meenthuis bel, bevestig sy geskokte stem dat daar fout is. Later die dag kom kyk die eienaar van die meenthuis wat aangaan. “Al haar meubels is weg, sy skuld my nog ’n maand se rent en haar selfoon bly af,” verduidelik hy aan Tarren. Sy loop bekommerd van een vertrek na die ander. Wat gaan sy nou met Lenny doen? Toe Tarren die badkamer deur oopstoot en die spitsgesiggie met sy waaiende stert sien, besef sy hierdie denkbeeldige saak het sy verloor. Haar optrede teenoor die arme hondjie was niks beter as Diane s’n nie.
Sy het nog altyd geglo sy is ’n dapper, slim, regverdige vrou maar nie dié keer nie. Sy het boonop haar menslikheid ook agter gelaat. Sy moes vroeër besef het Lenny soek net aandag. Lenny het die saak vir simpatie en regverdigheid gewen. Die vonnis is ’n goeie huis vir die hondjie by Tarren se ma – en ’n les vir Tarren oor die belangrikheid van simpatie en dat ’n mens nie bevooroordeeld moet wees nie, hetsy teenoor mens of dier.