Kuier

WAT DIE HART VAN VOL IS

In ’n hartelose wêreld kan ons as ouers ons kinders help deur hulle te leer dat daar tog ook ’n mooi kant aan die lewe is.

- Deur R. M. Arendse

Sy wurm haar koppie dieper onder my linkerarm in en lê haar sagte wang styf teen my bors. Ons blessing. Ek en sy, vroegoggen­d hier in my broeistoel, toegewikke­l in ons sagte fleece kombersie. Voorheen was dit my tyd, stiltetyd, introspeks­ie-tyd, kwaliteit-tyd. Nou is dit ons tyd. En as Pagoed nie reeds werk toe is nie, is dit ons drie se tyd.

Ons hartsbeker loop oor. Sy het ons verras, hierdie parmantige klein klits; nou agt maandjies oud. Nadat ek my dogter 16 jaar gelede vir aanneming opgegee het, het baie water in sterk strome vir my see toe geloop.

Die aanneming het alles uit my geput. Die proses voor en daarna. Die veroordeli­ng, die verwerping, die oorbegin . . . die aanvaardin­g.

Die vermoede van kanker in my baar op die ouderdom van 26. Die toetse en genadiglik die finale negatiewe uitslag. Die miskraam.

Die manier waarop dit gebeur het, die agterna, die verkeerd gaan van so baie dinge voor dinge weer reggekom het. Die lewe. Soos dit maar met ons almal gebeur.

Dan die uiteindeli­ke besef dat jy nog steeds, ná alles, die naam“Vrou”werd is.

Vir 16 jaar, elke jaar, het my ma my op my kind se verjaardag en op Moedersdag gebel en gelukgewen­s, moed ingepraat.

Nooit, vir 16 jaar lank, het ek gevoel dat ek dit verdien om Moedersdag te vier nie, want ek het haar nie grootgemaa­k nie, ek het net aan haar geboorte geskenk. Maak nie saak hoe ontsettend lief ek haar het of hoe ek daagliks na haar verlang nie. Geluk het my weer ná jare nader gehark en saam het ons vorentoe gekyk. Maar my arms en moederskoo­t was leeg. Vir amper 10 jaar het ons probeer, gehoop. Ons het probeer en later laat gaan, maar tog heimlik ’n tikkie hoop bly vertroetel. En juis toe – op 40-jarige ouderdom, gebeur sy sommer net so. Ons het sommer gehuil, so groot was hierdie nuus vir ons. Waar jy sou dink dat sommige vriende en familie gelukkig sou wees hieroor, was daar negatiwite­it, die ongevraagd­e kommentaar en die “nay-sayers”. Selfs die dokters met hul“high risk”wat hulle oor en oor tot satwordens toe herhaal. Maar ons het die geraas begin uitsluit en net vorentoe gekyk, gefokus op dit wat belangrik was. Die Here het ons harte geken. Ons hoef ons nie teenoor mense te regverdig en verduideli­k nie. Soos soveel ander, het ek ook al die gatkant van die lewe goed leer ken . . . juis daarom waardeer ek die mooi wat nou in my rigting gedraai word. Sy vroetel hier teen my bors en rek haar behaaglik uit, net om weer met ’n tevrede suggie terug te sak en verder te slaap. Ek sidder as ek dink dat ons haar eendag die wye wêreld moet instuur. Hierdie wêreld wat so wreed en ongenaakba­ar geword het, so sonder omgee.

’n Wêreld wat maak dat jy niemand meer met jou jong kinders wil vertrou nie, waar jy oë agter jou kop moet hê en gedwing word om elke woord en aksie rondom jou kind op te weeg en uit te meet.

En ek besef dat ek in hierdie dag en era nie ’n hulpelose kind met slap handjies mag grootmaak nie.

Hoe keer ’n ouer dat die morsigheid in hierdie lewe nie van sy klappe aan jou kindlief toedien nie?

Jy kan nie, maak nie saak hoe ’n goeie ouer jy is nie. Jy is ook net mens.

Wat ons kan doen, is om die fundamente­le beginsels stewig vas te lê, want aan die einde van die dag kan ons nie ons kinders se lewe vir hulle leef nie.

Maar ons kan ’n voorbeeld stel, ons kan beskikbaar wees om te luister, raad te gee, vas te hou – ’n anker te wees.

Solank ons in gedagte hou dat daar dalk ’n tyd sal kom wanneer hulle hul eie keuses gaan maak en ons net kan hoop en bid dat hul opvoeding ’n riglyn vir daardie besluite gaan wees. Selfs dan moet ons nog kan lei, want ouerskap het nie ’n vervaldatu­m nie – dít het ek by my ma geleer.

Leer ons kinders dat daar ook ’n mooi kant aan hierdie lewe is sodat hulle die onderskeid kan tref wanneer die lelike kant homself aan hul wil voorstel.

Leer hulle van die Here.

Ek sidder as ek dink dat ons haar eendag die wye wêreld moet instuur. Hierdie wêreld wat so wreed en ongenaakba­ar geword het, so sonder omgee.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa