Kuier

BOODSKAP: Jy as vrou kan die wêreld verander net daar waar jy elke dag leef

- DEUR EERW. WILSON E. PRICE

Vrouedag is al ’n jaarlikse instelling in Suid-Afrika en tog opnuut ’n geleenthei­d om te fokus op veral die waardes wat deur die Bybelse vrou uitgestraa­l word. Hier dink ek veral aan Rigters 4:1 wat verklaar:“En sy het gesit onder die palm van Debora.”

Die verhaal van Debora, ’n doodgewone huisvrou, ontvou in die tydperk van die Rigters – ’n tydperk wat gekenmerk word deur die volk Israel wat weer in die oë van die Here gesondig het. Die kinders van Israel het na Debora vir regspraak gegaan.

Een van die juweeltjie­s in hierdie verhaal is hoe die Here ’n huisvrou oprig om die volk te verlos uit die hand van die magtige koning Jabin. In daardie tydvlak van die geskiedeni­s was hy die koning van Kanaän. Koning Jabin het 900 ysterwaens gehad en het die kinders van Israel 20 jaar lank swaar verdruk. Hy het ook ’n leërowerst­e gehad met die naam Sisera. Hy het strydwaens gehad en ’n menigte soldate. Saam het hulle dus ’n magtige vyand gevorm teen God se volk, die Israeliete.

Teen dié agtergrond gebruik die Here ’n huisvrou, Debora – die vrou van Láppidot – om as raadgewer op te tree en om God se volk van hierdie magtige vyand te verlos. Vanuit haar raadsaal, wat slegs onder ’n palmboom was, gee sy aan Barak, die seun van Abinoam, opdrag om 10 000 man van die kinders van Náfati en Sébulon met hom saam te neem om oorlog teen Jabin te gaan voer.

Barak pleit by die profetes Debora om saam na die geveg te gaan, maar sy profeteer dat hy nie die eer sal kry dat hy die magtige vyand doodgemaak het nie. Debora noem aan hom dat die Here sal Sisera in die hand van ’n vrou gee om Jabin dood te maak. In die hitte van die geveg vlug Sisera te voet en hy kom by die tent voor Jael aan. Jael was die vrou van Heber.

Ons lees dan dat die huisvrou Jael daarna in haar tent innooi. Sy versteek hom deur hom met ’n kombers toe te maak. Hy raak aan die slaap en sy neem dan ’n tentpen en ’n hamer en slaan dit deur sy slaap. Só kom nog ’n magtige vyand van God se kinders tot ’n einde, en twee doodgewone huisvroue kry die eer dat hulle God se vyand oorwin het.

Vir God is nie net enige gebou met prag en praal belangrik nie, maar ook ’n doodgewone huis – selfs ’n tent – waarin Hy aanbid word. Vir Hom is ook nie net ’n geleerde vrou alleen belangrik nie, maar ook ’n doodgewone vrou wat Hom dien en eer.

Tydens vanjaar se Vrouedag-viering word ons opnuut daaraan herinner dat jy as vrou slegs gewillig hoef te wees dat Hy vir jou as werktuig in Sy diens kan gebruik. Jy as vrou het nie nodig om die Here in weelde te dien nie. ’n Kombuistaf­el is net so goed. Vir God die Vader was ’n krip dan belangrik, want daarin het Sy Seun, Jesus Christus, aan die slaap geraak.

Jy as vrou kan ’n verskil maak in ons samelewing. Daagliks is daar duisende gewone vroue wat kinders, mans, kollegas en alle ander mense bemagtig om ’n verskil te maak. Jy as vrou kan gerus op hierdie Vrouedag onthou dat jy deur God self uitverkies is. Jy is werklik goed genoeg om ’n profetes te wees onder jou eie Debora-palm. * Eerw. Wilson E. Price is die senior leraar by Ebenezer A.M.E.-kerk in Bellville-Suid.

“Here, ons het baie Deboras nodig, want die Kanaäniete is steeds met ons. Help my, as vrou, om nie van die verdrukker­s deel te vorm nie. Daar is so baie vroue wat U bemagtig het om deel van U verlossing­splan te wees. Soms is dit nodig om net so drasties op te tree soos ’n Debora en Jael. Vader, as dit van U verlossing­splan deel is, laat dit so geskied. Ons as vroue weet dat U ons gewapen sal versterk in ons drastiese sending. Verlos ons uit die euwels van ons tyd. Amen.”

 ??  ?? Daagliks is daar duisende gewone vroue wat ’n verskil maak. Jy kan ook een van hulle wees.
Daagliks is daar duisende gewone vroue wat ’n verskil maak. Jy kan ook een van hulle wees.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa