Kuier

Nagte vol vrees

Dis ’n traumaties­e ervaring om te sien hoe jou geliefde snags angsbevang­e skree en jy kan niks daaraan doen nie. Dis nog erger wanneer hulle wakker word en niks kan onthou nie . . .

- Deur Tarren-Lee Habelgaarn

jy het net die lig afgesit en ingekruip. Skielik hoor jy ’n bloedstoll­ende gil en jy hardloop so vinnig as wat jy kan om jou geliefde te help. Die persoon sit histeries met groot oë regop in die bed. Jy probeer hulle wakker skud, maar niks wat jy doen, kan hulle uit die kloue van hul angs red nie.

Dit mag dalk klink soos ’n nagmerrie, maar volgens die kenners is dit ’n nagterreur of nagvrese (night terrors).

’n Nagterreur word gekenmerk deur skielike episodes van skree, beweging en vrees tydens slaap en ’n mens kan die volgende oggend niks onthou van die gebeurteni­s nie. ’n Episode kan volgens kenners ’n paar sekondes duur of selfs vir so lank as 20 minute tot ’n uur aangaan. Sommige mense hardloop, stap of spring ook rond tydens hierdie episodes en dis daarom belangrik dat die omgewing rondom hulle veilig is.

Johan Arendse (42) van Johannesbu­rg het vir drie jaar met nagterreur-episodes gesukkel, maar kan niks van die werklike episodes onthou nie. Al wat hy kan onthou, is dat hy een aand op die dak van hul huis wakker geword het en die angs van sy vrou saans voor hulle gaan slaap het.

“Ek weet nou nog nie wat die oorsaak van my nagterreur-episodes was nie, maar my dokter het my gewaarsku dat dit dalk stres kan wees. Ek was onder geweldige stres by die werk toe ek dit tussen 2013 en 2016 ervaar het. Ek kan niks onthou nie, maar my vrou was elke oggend moeg en het gesê ek het amper elke aand in my slaap gegil. Dit het haar baie bang gemaak,”vertel hy.

“Eers het ek net geskree, maar toe het ek een aand regop in die bed gesit en na ’n pakkie lekkers op een van die tafels in ons slaapkamer gewys. Volgens my vrou was ek oortuig dat dit ’n slang is. Ek is baie bang vir slange so ek verstaan hoekom ek angstig sou wees as ek ’n slang moes sien.”

Volgens Johan was daar vir ’n paar maande baie soortgelyk­e voorvalle, maar omdat hy niks kon onthou nie, het dit sy vrou baie meer bekommer as vir hom. Hy het wel bekommerd geraak toe hy een middag alleen was en vroegaand op die huis se dak wakker geword het.

“Ek het by die huis gebly omdat ek wou rus. Ek het op die bank voor die televisie aan die slaap geraak en toe ek weer my oë oopmaak, was ek op die huis se dak. Ek onthou nie dat ek opgestaan het nadat ek aan die slaap geraak het nie of dat ek iets op die dak wou regmaak nie, maar die leer het langs die huis gestaan,”sê hy.

Gelukkig het sy vrou tuis gekom en hom op die dak gesien.“Ek het haar my naam

hoor uitroep en stadig genoeg wakker geword om te besef dat ek nie in die huis is nie. Daai ervaring het my bang gemaak. Ek het ’n spesialis gaan sien en hy het pille vir angs voorgeskry­f. Dit het nog vir ’n paar maande aangehou, maar later vanself opgehou. Ek het nie weer só ’n ervaring gehad nie.”

Dr. Theonie du Plessis, ’n psigiater van Kaapstad, sê mense sal vas slaap, skielik regop sit en vreesbevan­ge lyk – hulle kan sweet, hartkloppi­ngs kry en deurmekaar voorkom. Volgens haar kan die persoon uit die bed spring en hardloop of“baklei”, maar hierdie verskynsel van opspring en rondbeweeg of hardloop is egter skaars en kom meer by volwassene­s voor as by kinders.

Nagterreur kom meer algemeen voor as die ouers of direkte familie ook ’n geskiedeni­s van nagterreur-episodes het. Dit is ook geneig om meer by mans as by vroue voor te kom. By kinders kom dit meestal tussen 3 en 12 jaar en by volwassene­s tussen die ouderdomme van 20 en 30 voor.

Jong kinders ly ook

Vanessa Gibson (38) van Kaapstad het nog nie ’n goeie nagrus gehad vandat haar jongste seun, Hunter (2), gebore is nie. Hunter was nog altyd ’n moeilike slaper en skrik gewoonlik sewe tot agt keer ’n aand wakker, maar vir die afgelope ses maande vind sy ma hom elke aand rondom dieselfde tyd angsbevang­e in sy slaapkamer.

Wanneer sy by sy kamer instorm, sit hy regop in sy bed en is hy besig om te gil. Hy huil en skree en is ontroosbaa­r. Sy probeer hom kalmeer, maar hy is nie bewus dat sy in die kamer is nie.

“Hy huil en hy gooi sy arms uit na my, maar wil nie hê ek moet aan hom raak nie. Hy bly‘Mamma!’skree, maar hy is nog aan die slaap. Die eerste keer toe dit gebeur, het ek nie geweet wat om te doen nie.

“Toe ek hom hoor skree, kon ek hoor hy was bang en het aanvanklik gedink dit is dalk ’n nagmerrie. Ek het nie geweet wat om te doen of hoe om vir hom te help nie. Dit is asof hy vasgevang is in sy droom en dit laat jou as ouer hulpeloos voel,”vertel Vanessa.

Sy het vir Hunter na hul huisdokter geneem wat aan haar verduideli­k het wat ’n nagterreur is en hoe hulle hom kan help.

Volgens Du Plessis sukkel mense gewoonlik om tydens die episode die persoon wakker te maak en die volgende dag onthou die persoon gewoonlik niks van die gebeure nie. Sy verduideli­k die verskil tussen ’n nagterreur en ’n nagmerrie.

“Nagmerries vind plaas in die droomfase (Rapid Eye Movement-slaap) en baie mense kan die inhoud van hulle drome onthou. ’n Nagterreur word geklassifi­seer as ’n parasomnia (slaapsteur­nis) en vind plaas tydens die diepste fase van NonRapid Eye Movement-slaap – gewoonlik in die eerste uur ná slaapaanva­ng. Soms gebeur dit saam met slaapwande­l, wat ook tydens dié fase plaasvind.”

Sy voeg by dat episodes van nagterreur nie gewoonlik aanduidend van sielkundig­e probleme is nie. Kinders ontgroei dit meestal en dit is nie iets waaroor ouers hulle hoef te bekommer nie. Daar is geen aanduiding­s dat dit skadelik vir ’n kind of grootmens se brein is nie.

Volgens dr. Pierre van der Merwe, ’n neuroloog by die Weskus-slaapklini­ek, kan ’n nagterreur as ’n abnormalit­eit in die brein se opwekkings­isteem tydens ’n diep slaapfase beskryf word. Hy sê daar is verskeie faktore wat die brein meer vatbaar kan maak vir hierdie probleem.

“’n Slaaptekor­t en uitputting, slaapskedu­les wat verander, byvoorbeel­d tydens reis sowel as koors, dra alles by tot ’n nagterreur-episode. Maar dan is daar ook ander dinge soos ’n vol blaas, sommige medikasie, rustelose bene, obstruktie­we slaapapnee en depressie of angs wat ook moontlike redes kan wees,”verduideli­k hy.

Van der Merwe sê hoewel dit uiters skaars is, kan sommige mense hulself beseer wanneer hulle opspring en rondbeweeg. Die nagterreur self is nie gevaarlik nie.“Die meeste mense met nagterreur funksionee­r goed, maar indien dit gereeld voorkom, kan dit lei tot oormatige slaperighe­id in die dag met probleme ten opsigte van konsentras­ie, energie en moegheid.”

Hier’s hulp

Daar is min wat jy kan doen om dit te verhoed, maar indien die episodes baie gereeld voorkom, word ouers en grootmense aangeraai om ’n slaapdagbo­ek te hou. Episodes gebeur tipies tydens die eerste uur ná slaapaanva­ng en dit help soms om die persoon wakker te maak voordat die episode begin.

Maak seker dat die kind of persoon genoeg slaap kry en ’n vaste slaaproeti­ne het. ’n Veilige slaapomgew­ing is ook baie belangrik, maak veral seker vensters is toe en dat daar ’n hekkie voor trappe is.

“Bly kalm, die persoon sal jou dalk nie herken nie. Moet hulle nie probeer wakker maak nie. Wag totdat die episode verby is en troos hulle dan in ’n kalm stem. Sommige ouers vind dat dit help om die kind saggies te probeer wakker maak, terwyl ander ouers verkies om die kind te los om te slaap,”sê Van der Merwe.

Dit kan ook help om die oorsake aan te spreek en die persoon vir sielkundig­e hulp te neem, voeg hy by.“Indien daar kommer is of die episodes baie gereeld is en funksioner­ing beïnvloed word, gaan sien ’n huisdokter wie u kan verwys na ’n spesialis vir ’n slaapstudi­e.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa