Kuier

Sue se passie sukses deur

Sy is een van Afrikaans.com se jong ambassadeu­rs, op haar gemak agter die mikrofoon en trots Afrikaans.

- Deur Alita Steenkamp

Jy kan nie haar klokhelder, vrolike stem mis nie. Wanneer Sue Pyler weeksdae om 12:00 saam met medeaanbie­der, Ettienne Ludick, die middagskof op RSG beman, kan ’n mens nie anders as om tuis te voel in die geselskap van dié kletskous nie. En dis duidelik dat sy elke oomblik agter die mikrofoon geniet. Sue is altyd gereed met ’n kwinkslag en sy geniet dit behoorlik om haar mede- aanbieder se siel uit te trek. Ettienne het op sy beurt ook glad nie op sy mond geval nie en gee haar weer genoeg van haar eie medisyne. Die twee maak ’n gedugte span.

Hoewel Johannesbu­rg deesdae haar tuiste is, was dié meisiekind se grootwordj­are in George, daar aan die voet van die Outeniquab­erge. Sue is een van Afrikaans. com se jong ambassadeu­rs en sy sê hierdie geleenthei­d het vir haar werklik ’n nuwe platform geskep om haar liefde vir Afrikaans uit te dra. Afrikaans lê haar besonder na aan die hart en dis veral die wonderlike Afrikaans wat sy kleintyd in haar grootouers se huise gehoor het, wat haar toe al bekoor het. Woorde soos“kittel”vir ketel, “pampier”en“ertappels”, was hoe hulle gepraat het en idiome soos:“Moenie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie”, was deel van hulle omgangstaa­l.

Vir Sue is dit belangrik om met mense, veral haar luisteraar­s, te kommunikee­r in ’n Afrikaans wat hulle verstaan, en daarom het sy soveel waardering vir die manier waarop Afrikaans.com al die verskillen­de variante van ons mooi taal omarm.

Sue het kleintyd daarvan gedroom om ’n mediese dokter te word. Sy was reeds in haar matriekjaa­r toe haar onderwyser­es juffrou Louise Louw van die Hoërskool Outeniqua haar talent raakgesien het en haar ingeskryf het vir ’n nasionale dramakompe­tisie. Sue het die kompetisie gewen asook ’n gasverskyn­ing in ’n sepie.

“Indien ek medies gaan swot het, sou ek beslis in die verkeerde teater beland het,”sê Sue en sy skaterlag.“Ná skool het ek ’n gap-jaar gevat en alles gedoen waaroor ek nou nog dol oor is. Ook ’n bietjie gemeenskap­sradio in George, en daar het die gogga gebyt en ek besluit om drama te studeer. In die tydperk wat ek by ’n gemeenskap­sradiostas­ie in Brackenfel­l gewerk het, het Haidee Muller van RSG my gebel en gevra of ek belangstel om Befonk, die jongmenspr­ogram op RSG, aan te bied. Só het ek agter die mikrofoon by RSG beland en dit was heerlik! Twee jaar later het Magdaleen Kruger, RSG se stasiebest­uurder, my gebel en gevra om Johannesbu­rg toe te kom en met Ettienne Ludick Middag op RSG aan te bied,”sê sy.

Die aanpassing in die Goudstad was vir haar groot, veral wanneer die donderwolk­e toesak en hael begin val. Maar met verloop van tyd het sy daaraan gewoond geraak. Sue lag wanneer ’n mens haar vra wat sy doen wanneer sy naweke ’n bietjie tyd vir haarself het.“Slaap,”sê sy onomwonde,“elke denkbare oomblik.”

Sy is dol oor haar selfoon en soggens kan sy nie wag om op Facebook te gaan en te gaan lees wat almal te sê het nie. Facebook vertel ook van die seer en die swaar in die lewe, maar dit laat jou altyd dankbaar voel en besef hoe heerlik dit is om elke dag wakker te word en te weet jy word nog ’n dag gegun, sê Sue.

“Wat luisteraar­s nie sal weet nie, is dat al ons voorbereid­ing vir ons program in Engels gedoen word. Soms moet ons direk vertaal wanneer ons op lug is en dit is nogal ’n uitdaging. Tog bly dit vir my ’n voorreg om in Afrikaans uit te saai.”

Sue se groot droom is om sommer binnekort haar eie televisiep­rogram te kan aanbied. Sy het in Julie vanjaar 27 jaar oud geword, en soms voel sy asof sy nog nie naastenby alles gedoen het wat sy moes nie. Dan herinner mense haar wel dat daar nog baie tyd aan haar kant is om by al haar drome uit te kom.

Wat maak Sue Pyler opgewonde, is die laaste vraag in haar rigting.“Om te kan praat! Ek love dit om te praat. Vir my was die grootste straf as kind as ek aangesê is om stil te bly. Dit is so ’n groot voorreg om daarmee my geld te verdien. En dit boonop in Afrikaans. Ek kan vir niks meer vra nie!” Gaan lees haar profiel by www.afrikaans. com/oor-ons/ambassadeu­rs/sue-pyler

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa