Kuier

IE VREEMDELIN­G

Verkeerde invloede kan mense die naaste aan jou in onherkenba­re monsters verander. En wanneer die seer te groot word, is uitkoms nodig . . .

- Deur Maria Robyn

santie sit voor die televisie. Dit is elfuur in die aand. Sy wonder of die vreemdelin­g gaan huis toe kom. Dit voel asof sy ophou asemhaal elke keer as sy ’n geluid buite hoor, haar hart hamer in haar borskas.

Die vreemdelin­g is al vroeg vanoggend weg saam met die laaste paar sente in Santie se beursie. Sy skakel die televisie af en prewel ’n smeekgebed, maar soos elke keer, voel dit asof God nie luister nie, so asof Hy vir haar wil sê:“Ek kan jou nie help nie.”Is die Here dan kwaad vir haar? Sy voel uitgeput, moedeloos, hopeloos, eensaam, godverlate – alles as gevolg van die vreemdelin­g in haar huis; die monster wat sy soms haat.

Die tuinhekkie swaai oop, die agterdeur gaan oop. Santie hoor die mikrogolfo­ond se deur oopgaan, kos word warm gemaak, uitgehaal en die deur weer toegeklap.

Santie is in haar kamer, sy druk haar ore toe om die geluide uit te hou; die vurk se gekrap op die bord, stoel skuif, bord in wasbak, sigaretaan­steker klik agter die toe badkamer. Alles klink harder in die onheilspel­lende stilte. Die vreemdelin­g bly lank in die badkamer, Santie se hart klop in haar keel, want sy weet wat agter daardie toe badkamerde­ur aangaan. Sy lê doodstil in haar bed in die donker kamer en wens sy het die moed om daardie deur oop te breek en die vreemdelin­g op heterdaad te betrap wat besig is met duiwelsdin­ge.

“Asseblief my Vader,”prewel Santie,“laat hierdie hel eindig! Wat het ek dan gesondig dat ek hierdie hel moet verduur, my God, my God waarom het U my verlaat?” Trane rol sag oor haar wange, die wind huil buite – net soos in haar hart.

Ná wat soos ’n ewigheid voel, hoor Santie die badkamerde­ur oopgaan. Die vreemdelin­g loer by haar kamer in, maar sy maak of sy slaap. Sy sien hoe die vreemdelin­g in haar sak krap, haar laai oopmaak, opsoek na geld. Santie word oorweldig deur woede en spring uit haar bed. Sy gryp die vreemdelin­g aan die seningrige arm.“Wat besiel jou! Wanneer gaan jy ophou om my lewe hel te maak! Jy verwoes ons albei se lewens en jy voel niks. Jy gee vir niks en niemand meer om nie, net jou volgende fix! Ek kan dit nie meer uithou nie! Dink jy dis vir my lekker!”

Santie raak onbedaarli­k aan die snik, maar die vreemdelin­g kyk haar net woordeloos aan, yskoue, ongevoelig­e oë op haar gerig.

“Ja, jy sal nie verstaan nie. Jou trane maak niks aan my nie, man. My lewe is opgeneuk, jou familie kan mos hier maak soos hulle wil en ek mag niks sê nie. Hulle het nie respek vir my nie. Al die jare gee jy mos meer vir hulle om as vir my. So deal with it Antie, of smyt my uit jou huis uit – dis mos wat vir almal gelukkig sal maak, dan is die probleem mos weg!”

Santie weet al dis beter om stil te bly. Sy staar bewend na hierdie vreemdelin­g voor haar, ’n walging stoot in haar keel op. Die vreemdelin­g lyk soos Santie haarself voorstel die duiwel lyk – oë wild en dofgeel, die pupille vergroot nog meer, mond vertrek van woede.

“Kyk hoe lyk jy!”gil Santie, “jy het die laaste geld uit my beursie gesteel! Het jy dan geen gevoel nie?”

“Ag shut up!”gil die vreemdelin­g terug, “los my net uit! Ek is gatvol van jou gekerm! Ek gaan by Lolla-hulle slaap.”

Die deur klap toe. Santie rol die hele nag rond en luister na die naggeluide – sy is diep bekommerd oor die vreemdelin­g.

’n Week later, op ’n koue wintersdag, staan Santie by ’n oop graf terwyl die kis sak. Die begrafnisg­angers sing weemoedig“Amazing Grace”. Ná die begrafnis vorm familie en vriende saam met Santie ’n kring om die graf. Die dominee spreek die seën oor die graf uit. Santie staar met droë oë na die blombedekt­e graf.

“Soveel blomme,”dink sy,“soveel mense”. Haar gedagtes dwaal terug na daardie aand ’n week gelede. Dit was die laaste keer dat sy die vreemdelin­g lewend gesien het. Dié nag het sy die gevreesde oproep gekry; daar was ’n skietery by die woonstelbl­ok in die straat agter haar, die vreemdelin­g was daar, ’n dwaalkoeël het ’n einde aan alles kom maak.“Here, nie só nie, Here, nie só nie,”het Santie aanmekaar gefluister.

In ’n waas onthou sy min van die dae wat sou volg tot vandag by die begrafnis.

Sommige begin van die graf wegbeweeg, ander vorm ’n soort stille kokon van beskerming en troos rondom Santie. Saggies sing hulle“Amazing Grace”. Santie kniel by die kruis aan die kop van die graf.

Sy streel oor die naamplaat Candice Timmie. Vir die eerste keer rol die trane, raak sy ontslae van haar diepe weemoed. Die afgelope jare se opgekropte seerkry, teleurstel­ling en stukkende lewe spoel weg saam met die trane wat soos water deur ’n gebreekte damwal storm.

Santie ervaar ’n vrede en berusting in haar soos nog nooit tevore nie. En sy weet dat haar pad na genesing het pas begin.

“Rus saggies my kind, jy is nou verlos van die mag van die tikduiwel. Mag jou siel in vrede rus. Ek het nooit opgehou om jou lief te hê nie, maar jou verslawing het my sagmoedige kind verander in ’n duiwelse vreemdelin­g. Vergewe my dat ek jou nie kon red nie, maar ek troos my daaraan dat jy nie vir God ’n vreemdelin­g is nie. Ek sal jou altyd liefhê my dogter, mag God jou begenadig. Jy sal altyd in my hart bly, my kind. Totsiens tot ons weer ontmoet.”

Die woorde vorm in Santie se kop, maar dit voel asof sy in lewende lywe met haar kind praat – vir die eerste keer in sewe jaar – diep uit haar moederhart.

Leeg gehuil loop Santie na die wagtende motor. Vir ’n laaste keer kyk sy om na haar kind se graf. ’n Goue sonstraal skyn deur die grou wolke op haar kind se graf. En Santie weet: Candice is veilig in Sy arms, haar pragtige kind wat sy op aarde verloor het aan die tikduiwel. Sy klim in die motor. “Baie dankie Dominee dat u my kind so mooi begrawe het,”sê sy. Stadig ry hulle na die kerksaal waar hulle groot familie en vriende haar inwag.

Ja, die Candice wat almal geken het, was voorwaar ’n geliefde en gewilde mens.

Nie ’n vreemdelin­g nie . . .

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa