Kuier

Lewendig aan die brand GESTEEK

-

Ons leef in ’n tyd waar ons selde ’n oog knip as ons ’n vrou sien loop met ’n blouoog. Sommige van ons sit selfs die TV harder wanneer ons hoor hoe die buurman skel en sy vrou huil terwyl hy haar slaan. Môre groet ons mekaar met ’n glimlag en maak of alles oukei is terwyl daar kinders in daardie huis onder die geweld ly en emosionele letsels opdoen. Dít is die gesig van huishoudel­ike geweld wat ’n hartseer norm geword het.

Maar die storie van Charilene Scheepers (32) van Malmesbury buite Kaapstad dwing ons om huishoudel­ike geweld in die gesig te staar en om ons eie apatie daarteenoo­r te konfrontee­r. Terselfder­tyd stuur dit wat met Charilene gebeur het ’n dringende waarskuwin­g uit aan mishandeld­e vroue: dis vandag dalk ’n klap en vuishou, maar dit kan môre of oor ’n jaar soveel erger wees . . .

Want dit was so amper of Charilene het haar lewe op die pynlikste en wreedste manier denkbaar verloor en dit aan die hand van ’n man wat eens sy liefde aan haar verklaar het en op die hande gedra het. Charilene was ’n mishandeld­e vrou, maar die laaste aanranding was nie ’n blouoog of kneusplek wat oor ’n week gaan verdwyn nie.

Vandag sit Charilene met permanente letsels aan haar gesig, rug en arms wat altyd ’n herinnerin­g gaan wees van die duur prys wat sy vir liefde betaal het.

Sy is deesdae afhanklik van haar ma om take vir haar te doen wat ons as vanselfspr­ekend aanvaar. Haar ma help haar om haarself te was en aan te trek; en om haar hare of dié van haar dogters, Keesha (12) en Kay-Lynn (10), reg te maak. Boonop weet sy nie of sy ooit weer sal kan werk nie.

voel nutteloos

Charilene was eers ’n energieke en werkende vrou en ma, maar nou is sy iemand wat vandag geen keuse het as om elke dag om te sit nie. Sy is geskend en voel nutteloos en waardeloos en dit alles omdat sy probeer wegkom het van ’n abusive verhouding. Sy het net mooi genoeg gehad van die wantroue, konstante slanery en ek-is-jammer-ek-sal-dit-nieweer-doen-nie-beloftes ná die tyd.

Maar ongelukkig vir Charilene het haar ekskêrel, Antwa Cloete (37), haar nie so maklik laat gaan nie . . .

Haar lewe het op 8 Desember 2016 vir ewig verander toe Antwa dié dag by haar werk instap. Hy het eers petrol op haar gegooi en haar toe, voor kollegas en klante, aan die brand gesteek. Charilene het ten tyde van die voorval as bestuurder by ’n kroeg, Zu’Bar in Wellington, gewerk.

Hy het homself daarna aan die polisie gaan oorgee.

Lt.kol. André Traut, provinsial­e polisiewoo­rdvoerder in die Wes-Kaap, het die voorval bevestig en bygevoeg“die beskuldigd­e het na bewering ’n geel houer in sy hande gehad waarna hy die vloeistof oor die klaagster gegooi en (haar) aan die brand gesteek het”.

“Die beskuldigd­e het die toneel verlaat en homself aan die polisie oorgegee. Hy was daarna gearrestee­r op ’n klag van poging tot moord,”lui Traut se verklaring.

Antwa is ook van opsetlike saakbeskad­iging aangekla. Hy het skuld beken op die aanklagtes en was sedert Desember in aanhouding.

Charilene vertel hy het op 18 Augustus vanjaar ’n pleitooree­nkoms met die staat aangegaan en agt jaar tronkstraf gekry, waarvan twee jaar opgeskort is.

Sy is baie verlig dat sy nie deur ’n verhoor hoef te sit waar sy Antwa elke dag sou moes face nie.“Die saak is klaar. Dit (die tronkstraf) was die beste wat ek kon kry, dalk kon dit minder gewees het as daar ’n verhoor was omdat hy nie vorige oortreding­s het nie. Ek was skrikkerig, want ek was nog nooit in ’n hofsaak nie. Ná vandag (18 Augustus) voel ek meer gerus. Ek wil net die interdik teen hom agter die rug kry.”

Maar al is die hofsaak agter die rug, sit Charilene met letsels wat haar altyd aan Antwa se wrede daad gaan herinner.

Charilene sê Antwa het altyd vir haar gesê,“as ek jou nie kan kry nie, gaan niemand jou kry nie”. En hoewel hy haar fisiek mishandel het, het sy nie in haar wildste drome gedink hy sou so ver gaan om haar aan die brand te steek nie.

Waar ons met Charilene oor hierdie verskrikli­ke voorval gesels, is sy geklee in navy blou leggings, ’n ligblou langmoutop en ’n serp om haar nek. Haar hare is mooi uitgeblow en met die eerste oogopslag is die letsels nie so opmerklik nie.

Maar dis wanneer jy reg in haar

gesig en na haar hande kyk dat die letsels ’n verhaal van hul eie vertel, want klere kan nie alles bedek nie. Net om na haar hande te kyk, laat jou ineenkrimp, want jy kan jouself indink oor hoe seer dit moes wees toe die vlamme daardie dag die vel van haar hande afgevreet het.

En dis wanneer sy met behulp van haar ma, antie Martha, haar linkerarm vir ons wys, dat ook die letsels hier jou maag laat draai. Sy het die dag van die voorval ’n kortmou-werkhempie aangehad en haar arms het die ergste gebrand. Haar regterarm het tydens die voorval ook gebreek toe sy gly en val terwyl sy probeer wegkom van Antwa. Dit sowel as haar regterwysv­inger kan steeds nie reguit nie. Haar regterarm het nog oop wonde daaraan en Charilene, so dapper as wat sy is, sien sy nie kans om dit vir ons te wys nie. “Dit lyk te lelik,” sê sy sag. In die voorkamer van die huis waar ons gesels is baie foto’s van Charilene voor die voorval en daarop glimlag sy en lyk gelukkig. Dit is in skrille kontras met die vrou wat voor ons sit. Ja, sy glimlag nog en laat steeds foto’s van haar neem, maar eers as haar arms bedek is en haar hare in haar gesig en oor haar nek hang.

“Dis nou nog fine, maar ek worry klaar oor die somer. Wat maak ek dan? Hy wou my spoil sodat niemand anders my aankyk nie. Ek dink die heeltyd aan wat as hy ’n way het om by my uit te kom?”noem sy die vrae waarmee sy worstel, hardop.

Maar hoe gaan jy van ’n gelukkige verhouding tot een van uiterste geweld waarin iemand jou aan die brand steek?

Wanneer Charilene haar storie begin vertel, is daar steeds verwarring en ongeloof in haar oë. Want toe sy en Antwa by Zu’Bar – waar sy vir vyf jaar gewerk het – ’n paar jaar gelede ontmoet het, het hulle vinnig gekliek. Sy het in die Paarl gebly en saam met Antwa, ’n taxi-bestuurder, na haar werk in Wellington gery. Hulle het mekaar beter leer ken en die liefde het begin blom. Toe hulle sowat vyf maande uitgaan, het Charilene en Antwa saam ingetrek.

“Als was hunky dory. Ek het nooit ’n tekort aan enigiets gehad nie. Elke week kon ek in die salon gaan sit. Daar was baie spoiling moments,”sê Charilene oor die goeie dae. Hulle was twee jaar saam.

Charilene het tot soggens tweeuur gewerk wanneer die kroeg toemaak en die eerste krake het begin wys toe hy baie wantrouig teenoor haar begin raak het. Sy het ook stories gehoor dat hy ontrou was, maar het nooit bewyse gehad nie. Hulle was een jaar en drie maande saam toe dinge een aand ’n gewelddadi­ge wending neem. Dit was die begin van vele aanranding­s en die“klassieke”siklus van huishoudel­ike geweld het begin. Hy sou haar slaan en dan die volgende dag om verskoning vra en selfs geld vir dokter en medikasie gee, vertel Charilene.

“Ek en ’n vriend het een weeksaand gekuier toe ’n boodskap van my werksmense deurkom en Antwa sommer my foon stukkend kap en my klap voor my vriend. Hy het my daarna elke keer geslaan. As ek nie op sy boodskappe reply het nie of as ek hom uitvra oor die cheating rumours, sou hy trip (sy humeur verloor).”

Sy sê toe hy haar die eerste keer slaan, was sy geskok en wou terugtrek Malmesbury toe,“want ek het geweet as dit een keer gebeur, gaan dit weer gebeur”. siklus begin “Nadat ek begin praat het oor wat Antwa gedoen het daai eerste keer, het sy kollegas gesê hy doen dit met al die vroue in sy lewe. Ek het heeltyd gesê ek gaan (hom verlaat), maar hy het geweet ek het nêrens gehad om na toe te gaan nie,”sê Charilene.

Haar twee dogters is nie Antwa s’n nie en sy vertel Keesha het in ’n stadium ook by hulle gebly en hy het haar sommer voor haar dogter aangerand waarna Keesha“histeries sou raak”.

“Hy het my al gedreig hy gaan petrol oor my uitgooi en my aan die brand steek. Ek was altyd skrikkerig vir hom.”

Charilene het intussen probeer om ’n plek van haar eie te kry sodat sy kon wegkom van haar verhouding met Antwa. Toe sy wel ’n blyplek kry, het sy probeer aanbeweeg, maar Antwa het glo aanhoudend boodskappe gestuur en belowe dat hy sou verander.

“Ek het toe nog gewonder of ek hom nog ’n kans moet gee, maar het besluit om dit nie te doen nie,”sê Charilene.

Al was hulle nie meer saam nie, het hulle nog met mekaar gepraat. Toe Antwa haar egter een aand in Augustus laasjaar weer aanrand, het sy vir die eerste keer ’n saak teen hom gemaak. Ander kere het sy nie ’n saak gemaak nie omdat die houe altyd op haar lyf was waar mense nie kon sien nie. Hierdie keer was“my gesig gespoil”en omdat dit Vrouemaand 2016 was en daar so ’n groot fokus op vroueregte was, het haar vriende haar aangemoedi­g om ’n saak te maak. Sy self het sterk genoeg gevoel om dit te doen. Sy het ook haar eie blyplek gehad.

Tussen Augustus en Desember verlede jaar het sy op ’n manier veilig gevoel, want Antwa kon nie by haar uitkom nie. Haar landlord het hom die perseel verbied en by die werk was sy tussen mense.

Maar op 8 Desember 2016 het hy wel by haar uitgekom . . .

Charilene se oë word donker wanneer sy vertel sy het daardie dag heeltyd ’n snaakse gevoel gehad.

“Antwa het my voor sewe (die aand) ge-WhatsApp om te sê hy gaan sy foon kom haal wat hy vir my gekoop het. Hy het in Malanstraa­t gestop en gevra ek moet uitkom, maar ek sê nee, want ek was besig met kosmaak in die kombuis (by haar werk). Hy het by die kombuis ingekom en sy foon gevat,”vertel sy.

Toe Antwa weg is, het Charilene weer die onheilsgev­oel ervaar en sy het selfs vir Antwa se baas laat weet hy was daar. Sy het haar baas ook gevra om in te kom en het van haar vriende wat by die kroeg was so lank as moontlik daar probeer hou.“My gesighare het regop gestaan en ek het net snaaks begin voel. Ek het net warm geraak en snaaks gevoel,”onthou Charilene haar voorgevoel­ens. En toe kom Antwa vir ’n tweede keer. Charilene sê sy was agter die counter saam met die kroegman toe Antwa op Zu’Bar se stoep staan met sy hand agter sy rug en na haar roep. Hy het by die kombuisdeu­r en agter die counter ingekom, steeds met sy een hand agter die rug, waarna sy gehardloop het om haar pepper spray te kry en na hom gespuit, vertel sy verder. Sy weet egter nie of sy hom raak gespuit het nie.

sy vat vlam

“Toe gooi hy my met petrol en steek my aan die brand. Die moment toe ek die vlamme voel, dink ek ek brand dood. Ons (sy en haar kollega) het skoon vergeet van die brandbluss­ers en water gegooi om die vlamme te blus. Ek het daar gestaan en na my arms gekyk wat al wit was van die velletjies. Ek het ook baie rook ingeasem,”herleef Charilene haar vlammehel terwyl sy afkyk na haar geskende hande.

“As die vlamme jou vat, voel dit jou vel trek saam en jy kan nie aan jouself vat nie. Ek het die heeltyd warm gevoel – selfs toe die vlamme al geblus is. Dit is nie ’n lekker gevoel nie. Ek sal dit nie eens vir my grootste vyand toewens nie,”vertel Charilene met ’n gesig wat vertrek asof sy weer die brandende sensasie ervaar.

Twee mans (een kollega en een oudkollega) het met haar Paarl-hospitaal toe gejaag en daar gekom, onthou Charilene hoe sy geskreeu het van pyn.

“Dit het gevoel hulle sien my nie. Ek het warm gevoel en dit het gevoel of die vlamme nog in my gesig is, maar dit was nie. Hulle het my klere afgeknip, maar ek het die hitte gevoel. Ek onthou drie dokters was by my en hulle het nog ’n aartjie in my voet gesoek toe pass ek uit.”

Charilene is oorgeplaas Tygerbergh­ospitaal toe waar sy vir drie weke was. Sy het net 20% brandwonde opgedoen, maar dit was die rookinasem­ing wat die grootste skade aangerig het.

Antie Martha onthou toe sy haar jongste dogter in verbande gesien het.“Toe ek by die hospitaal instap en ek haar sien lê, het ek gedink‘nou moet ek sterk wees’. Haar gesig was toe (verbind) en sy was aan ’n klomp masjiene gekoppel. Ek het na haar geroep, maar sy het nie reageer nie. Ek het die Here gevra om haar te spaar ter wille van haar kinders en ons familie,”voeg sy hartseer by.

En terwyl baie mense Kersfees en vakansie gehou het einde verlede jaar, het Charilene toe eers haar bewussyn herwin. Sy het in totaal drie operasies ondergaan en was altesaam vir 50 dae in die hospitaal.

“Toe ek wakker skrik, was die warm gevoel weg, maar ek kon weens die rookinasem­ing nie praat nie. My tong was glad, want dit het nie vel oor gehad nie. Ek kon saans nie slaap nie, want ek was bang Antwa kom terug. Terwyl ek daar gelê het, was ek kwaad, want ek sou vakansie gehou het en ek het na my kinders verlang,”voeg Charilene by.

En terwyl Charilene probeer voortgaan met haar lewe, sê Antwa se ma, Elizabeth Cloete, sy wil nie eintlik iets sê nie omdat wat tussen Charilene en Antwa gebeur het, vir haar ook ’n raaisel is.

“Ek is Antwa se ma en is bitter teleurgest­eld. Ek het hom nie so grootgemaa­k nie. Ek is ’n Anglican en my kinders was grootgemaa­k met Sondagskoo­l en werk in die kerk by die altaar. Antwa en Charilene was in ’n verhouding en ek weet nie wat tussen hulle aangegaan het nie. Ek meng nie in my kinders se lewens in nie. Ek weet nie wat in sy kop aangegaan het nie en ek weet nie wat hom daarnatoe gedryf het nie. Daar is baie praatjies en ek hoop ek sal antwoorde kry,”sê Elizabeth.

Charilene mag dalk hierdie voorval oorleef het, maar sy is nie meer die mens wat sy was nie omdat sy nou so afhanklik is van ander.“Ek kan nie eens vir my ma ’n aartappel skil of my kinders help om goed uit te knip vir hul huiswerk nie. Ek het ná skool nog nooit nié gewerk nie. Ek voel soms baie geïrriteer­d met myself, want ek is net hier.”

Sy voel in ’n mate ook soos ’n gevangene, want sy vrees steeds vir haar lewe al is Antwa in die tronk. Maar ten spyte van haar intense vrees, wil sy haar storie van abuse vertel sodat sy haarself kan help gesond word en om ander vroue te waarsku: Mishandeli­ng kan jou lewe kos.

KRY HULP

Besoek www.westerncap­e.gov.za vir Wes-Kaapse skuilings vir mishandeld­e vroue.

People Opposed to Women Abuse – www.powa.co.za / 011 591 6803

Famsa – www.famsa.org.za / 011 975 7106/7

 ??  ?? LINKS: Charilene kyk na ’n foto van haarself voor die voorval. BO: Charilene en Antwa in hul gelukkiger dae. REGS: Charilene wys die letsels wat sy as gevolg van die brand het.
LINKS: Charilene kyk na ’n foto van haarself voor die voorval. BO: Charilene en Antwa in hul gelukkiger dae. REGS: Charilene wys die letsels wat sy as gevolg van die brand het.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa