Kuier

sy sit disleksie op sy plek

Sy het haar disleksie oorkom deur hard te werk en nou het sy graad gevang en is nog lank nie klaar nie!

- DEUR JACKIE PIENAAR-BRINK

Wanneer mense die woord“disleksie”hoor, neem baie dalk aan iemand is dom. Maar Melissa Titus (23) van Goodwood in die Kaap, wat pas haar universite­itsgraad met lof (cum laude) geslaag het, het hierdie wanopvatti­ng behoorlik op sy kop gekeer.

En sy is nog lank nie klaar nie, want sy werk reeds aan haar volgende graad.

Maar al het sy hierdie hoogtepunt bereik, weet Melissa alte goed hoe dit voel as mense jou onderskat net omdat jy ’n leerproble­em het . . .

Einde graad 7 het Melissa haar onderwyser opgewonde ingelig dat sy by ’n hoërskool aanvaar is wat vir sy hoë akademiese standaard bekend was. Die onderwyser se reaksie bly haar tot vandag toe by.“Is jy seker?”wou sy weet, en Melissa het geweet hoekom sy twyfel. Dit was omdat sy ’n disleksiel­yer was wat remediëren­de klasse ontvang het en hard moes werk vir selfs gemiddelde punte.

“Waarskynli­k hét ek net by daardie skool ingekom omdat my ouer suster, Lisa, reeds daar was,”sê Melissa sag,“maar dit wys maar net hoe daar altyd beperkings op mense geplaas word.”

swak punte

In graad 8 aan daardie einste skool is sy tot klaskaptei­n verkies.“Ek kan onthou dat ek in een toets regtig baie sleg gedoen het,” vertel sy. Die registeron­derwyer het haar eenkant geroep en meegedeel dat sy as klaskaptei­n nie sulke lae punte kan kry nie.

Jonk soos sy was, was dit vir Melissa die keerpunt en sy het besluit om hierdie kritiek as motivering te gebruik eerder as om moed op te gee.“Dit was net daar wat my rêrige harde werk ingeskop het.”

Vandag kan sy as rolmodel vir enigiemand met disleksie dien. Nie net het sy twee onderskeid­ings in matriek behaal nie, maar ook haar BCom-graad met lof aan die Universite­it van Wes-Kaapland (UWK) geslaag.

“Moet ons nie op face value neem nie”, smeek sy namens almal met disleksie.

Die woord disleksie is saamgestel uit die Griekse woorde“dys”en“lexis”wat“swak met taal”beteken. Disleksiel­yers sukkel om te lees, wat uiteraard ook beteken dat hulle sukkel om te spel en skryf. Een van die duidelikst­e tekens is die omkering van woorde (“een”sal byvoorbeel­d as“nee”

gelees word) of van letters soos b en d.

Melissa was in graad 4 toe die onderwyser haar en ’n paar medeleerde­rs een vir een na haar tafel toe geroep het sodat hulle iets vir haar kon lees. Van die letters in daardie leesstuk was verkeerdom, soos wanneer jy na ’n geskrewe stuk in ’n spieël kyk, onthou sy. Daar was ’n rede daarvoor. Die onderwyser het hulle vir disleksie getoets en daar is vasgestel dat Melissa dit in ’n baie erge graad het.

Stryd met lees

Stel jou voor jy kan om die dood nie uitwerk watter kant toe ’n“b”of ’n“d”moet wys nie.“Dit was vir my bitterlik confusing,”vertel Melissa.“Ek het ook spelfoute gemaak. Die onderwyser het die disleksie natuurlik opgetel omdat ons in graad 4 werk moes begin ingee.”

Sy kan nie uitgepraat raak oor die ongeloofli­ke ondersteun­ing wat haar ouers, Shaun en Colleen, haar van dag een af gebied het nie – ’n pad wat hulle daarna ook geloop het met haar broer, Luc (17), wat ook spesiale behoeftes het. Al was hulle effe teleurgest­eld dat die disleksie nie vroeër by haar opgelet is nie, het hulle onmiddelli­k na maniere begin kyk waarop sy gehelp kon word. Intensiewe remediëren­de klasse het gevolg, terwyl sy ook weekliks ’n opvoedkund­ige terapeut besoek het. Haar ouers het ook gesorg dat sy, soos aanbeveel is, baie ekstra leeswerk doen.

Kyk mens na Melissa se werkboeke, verstom die netjiese handskrif jou. Dis nóg iets waaraan sy baie hard gewerk het nadat ’n onderwyser haar op grond van ’n spesifieke vraestel ingelig het dat handskrif die verskil tussen ’n slegte en ’n goeie punt kan beteken.

Tot vandag toe skryf sy elke liewe ding wat sy leer in daardie netjiese handskrif neer.

“Ek dink ek het oor die jare my disleksiep­robleem grotendeel­s oorkom, hoewel ek sommige dae nog met links en regs sukkel,”sê Melissa, wat in Goodwood grootgewor­d en skoolgegaa­n het.

Sy het mettertyd verskeie“tricks”aangeleer om dinge makliker te maak. Só het Melissa in ’n stadium besef dat wanneer sy die woord“bed”reg neerskryf – met sowel die“b”as die“d”wat na die regte kant toe wys – kan sy bo-op die woord ’n man- netjie teken wat op ’n bed lê. Daarna het sy gereeld haar“bedmannetj­ie”-metode ingespan wanneer sy met hierdie twee letters gesukkel het. Deesdae leer sy dit selfs vir die kinders vir wie sy Sondagskoo­lklasse gee, lag sy.

Disleksiel­yers memoriseer baie keer hoe woorde in hul geheel lyk, al kan hulle dit nie klank nie, vertel sy. En sy self het baie keer net op grond van die konteks van ’n storie geraai watter woord op die eerste letter sou volg.

Dis nie net letters wat hulle kan pootjie nie. Syfers ook.“Veral as ek moeg is, kan ek vandag nog iets soos die nommers vir die kragboks verkeerdom intik. Of iemand sal 021 sê en ek sal dit as 012 oordra,”vertel sy.

Ondanks die ekstra klasse en harde werk, het Melissa se ouers haar nooit laat voel of sy ’n beperking het nie.“Ek het ook normale dinge gedoen soos om blokfluit te leer speel. My pa glo dat selfs dit my gehelp het omdat mens mos note moet leer lees en ook teorie moet doen,”sê sy.

Kyk mens vandag na hierdie selfversek­erde jong vrou, is dit moeilik om te glo dat sy op skool baie min selfvertro­ue gehad het. Sy was veral baie angstig wanneer sy voor die klas moes lees.“Kinders lag mos maar as mens ’n fout maak.”

Sy vertel dat haar laerskoolp­unte nie te great was nie, en aanvanklik ook nie haar hoërskoolp­unte nie. Geleidelik het sy dit egter reggekry om haar punte te verbeter totdat sy matriek met onderskeid­ings in besigheids­tudie en wiskundige geletterdh­eid geslaag het.

Aanhouer wen

Omdat sy wiskundige geletterdh­eid as vak gehad het, moes sy‘n oorbruggin­gsjaar met ekstra wiskundemo­dules doen om BCom op universite­it te kan studeer.

Die sprong van skool na universite­it was groot, gee Melissa toe, maar sy het nie laat slaplê nie en vriende gemaak met studente wat net so ernstig oor hul studie gevoel het soos sy.

Toe, aan die einde van haar tweede jaar, ontvang sy ’n toekenning vir beste student in die verlengde program van die fakulteit Ekonomiese en Bestuurswe­tenskappe.

Nie in haar wildste drome het sy gedink dat sy ’n akademiese toekenning sou ontvang nie en skielik het sy besef dat sy in staat is om op universite­it uit te blink.

“Omdat jy so hard werk en daarvoor erkenning kry, druk jy jouself net nóg harder. En in die proses begin jy al meer in jou eie vermoëns glo. Elke jaar daarna was ek op die dekaan se lys vir A-gemiddelde­s,”vertel Melissa trots.

Sy het mettertyd ’n liefde vir psigometri­e ontwikkel en doen tans haar honneurs in industriël­e sielkunde. Die meisie wat in graad 7 nie geglo is toe sy vertel het dat sy aan ’n hoërskool met ’n hoë akademiese standaard aanvaar is nie, droom nou van ’n meestersgr­aad, registrasi­e by die SuidAfrika­anse Raad op Gesondheid­sberoepe en ’n suksesvoll­e loopbaan.

“Onthou net, jy is nié dom nie,”is haar boodskap aan leerders met disleksie.“Wat vandag vir jou na‘n struikelbl­ok lyk, kan die rede vir sukses later in jou lewe wees. Jy het net ’n probleem met lees en skryf en dalk om jouself uit te druk. Werk hard. Lees ekstra. Sit daardie ure in en jy sal definitief die vrugte daarvan pluk.”

Sy het ook ’n boodskap aan ouers: “Ondersteun julle kinders, erken dat hulle ’n disability het en neem stappe om hulle te help. Ek weet van ouers wat nie wíl weet dis ’n probleem nie. Dis moontlik om disleksie te oorkom. Dit gaan baie uitdagend wees en dit gaan nie altyd heeltemal gefix kan word nie, maar mens kan steeds probeer.”

 ??  ?? HOOFFOTO: Melissa Titus by haar gradeplegt­igheid waar sy haar graad met lof ontvang het.
HOOFFOTO: Melissa Titus by haar gradeplegt­igheid waar sy haar graad met lof ontvang het.
 ??  ?? ONDER: Melissa wys haar netjiese handskrif waaraan sy hard gewerk het.
ONDER: Melissa wys haar netjiese handskrif waaraan sy hard gewerk het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa