Kuier

LENDETJOPS

-

’n Lendetjop is die ware superster van braai. Presies soos ’n T-been-steak, maar uit lam gesny, is hy ook die duurste lamsnit. Hou die resep en braaiwerk eenvoudig sodat jy nie sy natuurlike smaak oordonder nie. Maak seker jy haal die vleis betyds van die kole af, anders gaan dit uitdroog. (vir 4 mense)

WAT JY NODIG HET

12 lendetjops 2 huisies knoffel 1 sopie vars roosmaryn (of tiemie of origanum, sien die opsies hieronder) 1 sopie suurlemoen­sap (vars uitgedruk) 2 sopies olyfolie Growwe seesout en swartpeper

LAATWAAI!

1. Maak een of twee klein snitte deur die vetstrook van elke tjop. Dit sal keer dat die tjops buig wanneer die vet gaar word en saamtrek. Jou gaste sal dan ook kan sien dat jy aandag gee aan detail in die voorbereid­ing van hul ete.

2. Kneus die knoffel of kap dit fyn, trek die roosmarynb­lare van die stingel af en voeg dit by die suurlemoen­sap en olyfolie. Roer dan die tjops daarin rond sodat die vleis alkante met ’n lagie marinade bedek is.

3. Laat die vleis marineer so lank as wat dit die vuur neem om uit te brand en kole te maak. As jy die vleis oornag wil laat marineer, doen dit gerus, maar voeg dan die suurlemoen­sap eers by wanneer jy die vuur aansteek.

4. Braai die tjops oor warm kole vir 8 – 12 minute totdat hulle daardie punt tussen medium-rou en halfgaar bereik waar lam die lekkerste smaak. Lendetjops wissel nogal in grootte en hoe warm jou vuur is, sal ook ’n rol speel in hoe lank dit neem om hulle te braai. Onthou die goue reël: As jy dink hulle is reg, is hulle waarskynli­k reg. Besonder klein lamstjoppi­es is al ná 6 minute reg, so gebruik jou goeie oordeel.

5. Maal die sout en peper oor die tjops terwyl hulle braai. As jy lui is, kan jy dit maar doen voordat hulle kole toe gaan, maar as jy dit byvoeg wanneer die vleis klaar op die kole is, sal iemand vra watter speserye jy gebruik en dan kan jy almal binne hoorafstan­d beïndruk deur te sê dat jy net sout en peper bysit omdat jy dinge eenvoudig wil hou met lendetjops.

EN . . .

• Die ander spesery wat altyd goed werk saam met lamsvleis is koljander. Koop gedroogde koljanders­aad en druk dit fyn met jou stamper en vysel. Strooi dit oor die tjops voor of terwyl hulle braai. • Dikker lendetjops moet so gebraai word dat drie kante van die tjop (die twee “gewone”kante en ook die vetstrook om die rand) elk ’n beurt kry om kole toe te wys. Braai eers die twee gewone kante en balanseer dan die tjops teen mekaar met die vetstroke na die kole se kant. Só sal die vet lekker bros braai. • Jy kan ook al die tjops saam op ’n sosatiesto­kkie inryg. Braai eers die vetkant vir ’n minuut of drie. Trek dan die stokkie uit en braai die twee vleiskante. • Ek het aanvanklik die resep met tiemie aangepak, maar in die Suid-Afrikaanse braaikultu­ur is ’n kombinasie van roosmaryn, olyfolie en knoffel ook ’n gewilde keuse vir lamsvleis. Dit was totdat ek iets nuuts geleer het op ’n Griekse troue. Daar het ’n familielid van die bruid my vertel dat origanum eintlik die regte krui vir dié resep is. Ek stel voor jy probeer al drie opsies en besluit watter een jy verkies. Onthou net: stadig oor die klippe met die kruie sodat jy die natuurlike smaak van die lam behou.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa