Kuier

metrofail maak amok

Al is jy betyds vir die trein, wil dit nie sê die trein gaan betyds wees vir jou nie. Pendelaars sukkel elke dag en die base verstaan nie altyd nie . . .

- DEUR BRENDEN RUITER

‘Dear Metrorail passengers we apologise for any inconvenie­nce . . .”

As die blikstem eers só begin, weet jy dis een van daai dae. Jou trein is laat of dit gaan nie eens uitkom nie. En dis as jy gelukkig is om ’n afkondigin­g te kry, anders staan en wag jy minute of ure op die stasie sonder om te weet wat aangaan en of jy ooit by jou bestemming gaan uitkom.

Dié ongerief is iets wat menige Kaapse treinpende­laars al geleer het om mee saam te leef, maar behalwe die bykomende stres kan die alewige onsekerhei­d ook sielkundig­e letsels laat.

Só sê Charl Davids, sielkundig­e van Kuilsrivie­r in die noordelike voorstede van Kaapstad. Volgens Davids sien hy elke dag al hoe meer mense wat stresverwa­nte siektes ervaar weens probleme om betyds en veilig by die werk te kom.“Jy kan dit openbare vervoer-sindroom noem, maar die feit bly staan ek sien weekliks mense wat met sielkundig­e probleme sukkel omdat hulle openbare vervoer gebruik,”sê Davids.

Hy sê die onbetrouba­arheid van die openbare vervoerste­lsel is die oorsaak. “Die treine bly laat en mense kom laat by die werk. Net die wete dat jy laat kan kom, veroorsaak geweldige spanning by pendelaars. Van my pasiënte sê hulle het al waarskuwin­gs by hul werk gekry omdat hulle, ten spyte daarvan dat hulle vroeg opstaan, steeds laat kom. Ander voel weer nie veilig nie, want hulle moet reeds voor sonop uit die huis wees om betyds te kan wees. Onlangs was dit in die nuus toe ’n vrou van Bishop Lavis uit ’n trein gespring het omdat sy gevrees het sy gaan beroof word. Selfs ’n treinbestu­urder is doodgeskie­t terwyl hy aan diens was. Ander dinge wat spanning veroorsaak, is mans wat vroue onbetaamli­k betas of teen hulle skuur. In ’n oorvol trein is dit bykans onmoontlik om te weet wie jou betas terwyl jy dalk sakke ook in jou hand het. Dit is vernederen­d vir ’n vrou om te weet iemand wat nie haar man is nie, betas haar,”sê Davids.

Tans behandel hy pasiënte weens angsaanval­le.“Een van my pasiënte raak sommer duiselig as sy net daaraan dink dat sy weer stasie toe moet gaan. Die kans is goed dat sy dalk flou kan word in die trein en dan kan dit tot verdere probleme lei. Haar hele lewe is een van vrees vandat sy soggens vroeg uit die huis gaan totdat sy vanaand tuis kom. ’n Ander pasiënt se werksdag eindig om 16:00, maar reeds om 14:00 begin sy vrees vir wanneer sy weer moet trein toe. Dit het ’n invloed op haar produktiwi­eit en daar bestaan ’n wesenlike vrees dat sy haar werk kan verloor of uit haar werk bedank. Dit kan weer tot finansiële probleme lei, wat verdere span-

ning kan veroorsaak. Dit is voorwaar ’n bose kringloop en een wat nie ’n maklike oplossing het nie,”sê Davids.

Volgens hom kan die angsaanval­le lei tot hoër mediese onkoste.“Die angsaanval kan homself aanvanklik manifestee­r as hoofpyne of borspyne. Vir sommige kan dit voel asof hulle hartaanval­le kry. Dan gaan hulle elke keer dokters besoek, maar daar word nie by die wortel van die probleem uitgekom nie. Ek skryf briewe vir my pasiënte se werkgewers, maar vir hoe lank gaan die werkgewers geduld hê? Hulle kan later net besluit as die persoon nou al ’n sielkundig­e spreek, daardie persoon nie geskik is om te werk nie. Dit gebeur in baie gevalle.”

Probleme by die werk

Elrico van Schalkwyk van Kuilsrivie­r, wat vir die provinsial­e regering werk, sê hy was al in die moeilikhei­d omdat hy laat kom en moes uiteindeli­k spesiale reëlings met sy hoofde tref sodat hy nie sy werk verloor nie.“Ek is reeds 05:40 op die stasie sodat ek betyds kan wees vir wanneer ek 07:00 moet inval. Met die treine wat nooit op tyd was en soms sonder waarskuwin­g gekanselle­er is, was dit onmoontlik vir my om betyds by die werk te kom,”sê Elrico.

Volgens Elrico is die treine soms só vol dat mense hul lewens waag deur by die deure uit te hang.“Soms het ek geen ander keuse as om met my motor werk toe te ry nie, hoewel ek ’n maandeliks­e MetroPlus-kaartjie het. Dit bring bykomende uitgawes mee. Die hartseerst­e is dit blyk die probleem gaan nie binnekort opgelos word nie,”sê Elrico.

Hazel Boyce van Atlantis sê weer sy kom gereeld saans baie laat by die huis weens vertraging­s met openbare vervoer. “Jy leef met konstante stres wanneer jy reis. En vir my as vrou is dit bykomende spanning, want mens voel nie veilig sodra dit donker word nie,”sê Hazel.

Julius Koopman, eienaar van B&J Civils, ’n siviele ingenieurm­aatskappy in die Parow-nywerheids­gebied, sê hy is seker baie werkgewers voel blootgeste­l soos hy.“Ons probeer ons bes om die werkers die voordeel van die twyfel te gee as hulle laat is, maar dit raak later ’n geval van wat is waar en wat is nie. Sommige ouens kan dalk kanse vat en die‘treine was laat’- verskoning misbruik. Ek moes al baie ouens waarskuwin­gs gee, nie omdat ek wou nie, maar die laatkommer­y het produksie begin belemmer wat kan lei tot produksiev­erlies,” sê Julius.

Vicky Kock van Full Range Employers Organisati­on, ’n organisasi­e wat met arbeidskwe­ssies bemoeid is, sê daar moet ’n ooreenkoms tussen die werknemer en werkgewer wees oor hoe laatkommer­y hanteer word. Werknemers moet ook die reëls van hul maatskappy ken.“Sommige werkgewers is genadig en laat die werknemer toe om die ure wat hulle laat kom, in te werk waar ander weer nie so toegeeflik is nie. Dit hang ook baie keer af van die industrie waarin ’n persoon werk. Sommige ondernemin­gs kan nie funksionee­r wanneer al die personeel nie by die kantoor is nie,”sê Vicky.

Sy sê in die praktyk ontvang gereelde laatkommer­s gewoonlik eers ’n skriftelik­e waarskuwin­g wat vir drie maande geldig is. Sou die persoon weer oortree, kan nog ’n waarskuwin­g volg wat vir ses maande geldig is en daarna een wat vir nege maande geldig is. Sou die persoon in die waarskuwin­gstydperk weer oortree, kan ’n dissiplinê­re verhoor volg, wat tot verdere optrede, waaronder afdanking, kan lei. “Uiteindeli­k bly dit die verantwoor­delikheid van die werknemer om te sorg dat hy of sy betyds is by die werk. Dit is een van die grootste frustrasie­s onder werkgewers as hul werknemers nie betyds opdaag nie,” voeg Vicky by.

Tony Ehrenreich, leier van Cosatu in die Wes-Kaap, sê daar is nie politieke wil om die probleme met die treine op te los nie. “Die armes in die Wes-Kaap is in ’n groot penarie en niemand gee aandag aan hulle nie. Ek het nog nie gehoor van iemand wat al sy werk verloor het weens treine wat laat is nie, maar wel dat daar geld van pendelaars se salarisse afgetrek word. Dit is nou die werkers wat die minste verdien!” sê Tony.

Oplossings

Op korttermyn stel hy voor die MyCitibuss­e wat in die meer gegoede buurte van die Kaap ry, moet op die Kaapse Vlakte aangewend word.“Die mense in die gebiede waar die MyCiti loop, kan motors bekostig, maar hulle word steeds bevoordeel. Cosatu stel ook voor dat die treinkaart­jiepryse met 50% gesny word, want as pendelaars laat kom, word daar van hul salaris afgetrek. Ek twyfel egter of dit gaan gebeur. Op die langtermyn moet daar gekyk word na alternatie­we tye vir skoolkinde­rs of werkers,”sê Ehrenreich.

Riana Scott, woordvoerd­er van Metrorail in die Kaap, het by navraag verwys na ’n verklaring wat onlangs deur hulle uitgereik is. Luidens die verklaring het hul streeksbes­tuurder Richard Walker die staande komitee oor vervoer en openbare werke ingelig oor die verwoesten­de effek wat brandstigt­ing en vandalisme op treine het.“Die verlies van 101 treinwaens ter waarde van R312 miljoen is die grootste bydraer daartoe dat die streek teen 60% van sy kapasiteit werk. Dit dra daartoe by dat stiptelikh­eid met 20% gedaal het en kansellasi­es die hoogte inskiet,”lui die verklaring.

Walker sê verder in die verklaring die streek benodig 84 treinstell­e om die bestaande tydrooster te dek.“Die verminderd­e vloot word met minder waens as benodig, die sogenaamde kort trein, bedryf. Die spoed waarteen waens verlore gaan is vinniger as wat dit vervang word.”

Daar word glo 24 maande benodig om diensvlakk­e te verhoog.

Dit beteken dus dat die put van frustrasie vir Kaapse pendelaars in hierdie stadium eindeloos is. Vasbyt is dalk al wat gaan help . . .

 ??  ?? HOOFFOTO: Pendelaars wag vir treine wat laat of gekanselle­er is. REGS: Mense kyk vir uit vir die trein, maar die spoor bly leeg.
HOOFFOTO: Pendelaars wag vir treine wat laat of gekanselle­er is. REGS: Mense kyk vir uit vir die trein, maar die spoor bly leeg.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa