Kuier

Merlin Gee om

Sy wy haar lewe aan liefdadigh­eid . . . nes sy by haar ma geleer het.

- Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Wanneer jy die woord“skoonheids­kompetisie”hoor, is dit moeilik om nie onmiddelli­k aan ’n beeldskone vrou met die perfekte lyf te dink nie. Maar dis allermins hoe Merlin Norman (39) van Stellenber­g in die Kaap, een van die top25-finaliste in vanjaar se Mev. SA-kompetisie, haarself beskryf.

Sy is nie ’n model nie en net ’n gewone vrou met rekmerke omdat sy al lewe aan twee seuns geskenk het. Sy het ’n gewone kantoorwer­k en moet ook tussendeur kook, haar familie versorg en die honde kos gee. Sy lei ook glad nie ’n sogenaamde glansryke leefstyl, soos wat baie mense aanneem wanneer hulle hoor dat jy is deel van die skoonheids­wêreld nie. Van pyn en lyding kan jy haar ook niks vertel nie, want sy weet wat dit verg om jou huwelik aan die gang te hou terwyl jy die hartseer van twee miskrame verwerk.

Dit is juis hierdie lewenserva­ring wat ’n sagte plek in haar hart vir kinders geskep het en wat sy nou gebruik om die lewe vir ander kinders te verbeter deur haar liefdadigh­eidswerk. Dis ook wat haar uiteindeli­k gemotiveer het om vanjaar vir die Mev. SA-kompetisie in te skryf – die eerste keer dat sy ooit vir ’n skoonheids­kompetisie ingeskryf het.

Merlin beskryf haarself as ’n plain jane en sê sy het beslis nie ’n perfekte bikini-lyf nie. Sy was ook nooit die meisie wat in oulike rokkies of grimering belanggest­el het nie. Jy sou haar die meeste van die tyd op die tennisbaan of buite in die straat met ander kinders van die buurt gevind het. Sy het van jongs af geweet sy wil graag eendag ’n ma wees, maar het nooit gedink dit sal só moeilik wees om ’n baba te hê nie.

Sy het as student jare lank in Amerika mededingen­d tennis gespeel en was baie fiks. Sy het geen gesondheid­sprobleme gehad nie en was in topkondisi­e. Haar sportdrome is egter weens ’n besering kortgeknip. Toe sy in die vroeë 2000’s klaar geswot het, het sy teruggekee­r na SuidAfrika.

Met ’n graad in bemarking, het Merlin as bemarkings­bestuurder vir groot sport-

maatskappy­e begin werk, sodat sy steeds op ’n manier by sport betrokke kon wees. Sy het fiks gebly en ook deur haar liefde vir sport haar man, Henry, ontmoet toe sy in 2006 aan ’n marathon deelgeneem het en deur vriende aan hom voorgestel is.

Verlies en hartseer

Hulle het geweet hulle wil gou met ’n gesin begin en het in 2010, ’n jaar nadat hulle getroud is, hul eersteling verwag. Hulle was so opgewonde en kon nie wag om ouers te word nie, maar Merlin het op 20 weke die baba verloor. Endometrio­se is by haar gediagnose­er wat dit vir haar moeilik gemaak het om ’n baba tot nege maande te dra. ’n Jaar later het hulle weer probeer, maar daardie baba op 12 weke verloor.

“Dit breek jou. Ek het gedink dat jare se gesonde leefstyl en oefening dit vir my maklik sou maak om ’n gesonde swangerska­p te hê, maar toe werk dit nie só uit nie. Wanneer ’n huwelik deur so iets gaan, is dit moeilik en kan dit vinnig probleme veroorsaak. Ek het myself blameer en my man weggestoot, want ek het gedink hy blameer my ook omdat ek nie vir ons ’n gesin kon gee nie,”sê sy.

“Ons het ook probleme in die slaapkamer ontwikkel, want ek het my liggaam blameer en wou nie hê hy moet aan my vat nie.”

Gelukkig het Merlin eendag tydens ’n kinderhuis­besoek besef dat sy steeds graag kinders wou hê en dat haar man en ’n familie in die toekoms wel vir haar belangrik is.“Ek en my man het vir berading gegaan en besluit om nie meer so hard te probeer nie, maar dat ons swanger sal word wanneer die tyd reg is. Dit was nie maklik nie, maar ons het geleer om mekaar te ondersteun. Vyf jaar gelede het ons uiteindeli­k weer swanger geword en ons eerste seun is gebore en drie jaar later ons tweede. Hulle is ons wonderwerk­e en daardie blydskap kan ek nie beskryf nie.”

Terwyl Merlin en haar man op hul wonderwerk­e gewag het, het sy haarself met werk besig gehou en daardeur by liefdadigh­eid betrokke geraak. Toe sy ’n paar jaar gelede by Pioneer Foods begin werk het, het sy kennis gemaak met organisasi­es soos die Lumohawk Foundation wat kinders uit arm gemeenskap­pe met hul opvoeding- en sportbehoe­ftes help.

Sy het opgewonde geraak, want sport en opvoeding was nog altyd vir haar belangrik. Haar ouers het altyd vir hulle as kinders laat verstaan dat opvoeding altyd vir jou deure sal oopmaak en jou uit moeilike omstandigh­ede help.

“Ons het in Firgrove grootgewor­d en hoewel daar nie baie geleenthed­e vir kinders in ons gemeenskap­pe tydens apartheid was nie, was ek en my suster gelukkig genoeg om by ’n privaatsko­ol te kon skoolgaan omdat my ouers dit kon bekostig. My pa was ’n dokter en dit het dinge ’n bietjie makliker vir ons gemaak. My ma was ook betrokke by baie van die feeding schemes by die skole en dit is regtig waar my liefde vir liefdadigh­eidswerk begin het,”sê sy.

Toe sy dus die geleenthei­d kry om met organisasi­es te werk wat beide haar liefde vir sport en opvoeding ondersteun, het sy geweet sy moet betrokke raak.

maak ’n verskil

“Ek het dit geniet om meer te leer en om op ’n klein manier ’n verskil te probeer maak. Maar twee jaar gelede het ek besluit dit is nie genoeg nie. Ek was gelukkig genoeg om ’n goeie werk te hê en een wat dit maklik gemaak het om deur verskeie organisasi­es terug te gee, maar ek wou meer doen. Ek het CSI-projekte gesoek waar ek betrokke kon raak en dit is hoe Mev. SA heeltyd oor my pad gekom het. Ek wou eers niks daarvan weet nie, want ek het nie in skoonheids­kompetisie­s belanggest­el nie. Ek is meer ’n tekkie en shorts person, so die skoonheids­wêreld was nie vir my nie.

“Maar toe ek meer navorsing oor die kompetisie begin doen, het ek agtergekom dit sou die perfekte platform wees. Dit gaan nie oor die kroon of wen nie. Mev. SA is regtig oor die sisterhood en 99 ander vroue wat jou wil bystaan en help om ’n verskil te maak.”

Toe Merlin besluit sy wou deelneem, het haar man haar onmiddelli­k ondersteun. Vir haar gaan dit nie oor die glamour nie en volgens haar is daar min vroue in die kompetisie wat regtig perfekte liggame het.

“Die Mev. SA-kompetisie gaan oor regte vroue met gesinne, ’n 9 – 5 werk en baie ander verpligtin­ge. Dit is iets wat almal moet verstaan. Dit is nie net ’n skoonheids­kompetisie nie, dit het ’n doel. Dié skoonheids­kompetisie dien net as ’n platform vir die regte doel en dit is om ’n verskil in ons gemeenskap­pe te maak, deur die borge en ander verhouding­s wat ’n mens tydens die kompetisie opbou,”sê sy.

”Die kroon en pragtige rokke beteken niks. As ek ’n verskil in kinders se lewens kan maak en seker maak dat hulle kos het sodat hulle kan leer en aan sport deelneem, het ek gewen.”

Volg Merlin en die ander finaliste se pad na die kroon op www.mrssouthaf­rica. co.za. Mev. SA word in November aangekondi­g.

 ??  ?? HOOFFOTO: Merlin is een van die top25final­iste in vanjaar se Mev. SA-kompetisie.
HOOFFOTO: Merlin is een van die top25final­iste in vanjaar se Mev. SA-kompetisie.
 ??  ?? KLOKSGEWYS VAN BO: Merlin en haar man, Henry, saam met hul kinders; sy wys hoekom sy ’n Mev. SA-finalis is; Merlin en skoolkinde­rs by ’n liefdadigh­eidsgeleen­theid in Canal Walkwinkel­sentrum.
KLOKSGEWYS VAN BO: Merlin en haar man, Henry, saam met hul kinders; sy wys hoekom sy ’n Mev. SA-finalis is; Merlin en skoolkinde­rs by ’n liefdadigh­eidsgeleen­theid in Canal Walkwinkel­sentrum.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa