Kuier

Kim Cloete en Clint Brink is trots op die taal wat hulle praat

Hul manier van Afrikaans praat is onlangs gekritisee­r, maar dié akteurs is min gespin.

- Deur Tarren-Lee Habelgaarn

As daar nou een ding is wat baie na aan hul hart lê, is dit Afrikaans, waar hulle vandaan kom en hoe hulle hul waardes uitleef. Só sê die akteurs Kim Cloete en Clint Brink, wat ’n paartjie in die kykNET-sepie Binnelande­rs speel. Dié twee het onlangs in die spervuur beland oor hoe hulle Afrikaans praat in die sepie. Kim en Clint het onder erge kritiek van dié sepie se kykers deurgeloop omdat die Afrikaans wat hul karakters met mekaar praat, verskil van die meer suiwer Afrikaans wat hulle met ander wit karakters in ’n profession­ele opset praat. En met Erfenisdag op 24 September het dit hul herkoms en die Afrikaans wat hulle praat, weer in die kollig geplaas. Verbeel jou jy het in ’n Afrikaanse huis grootgewor­d, maar die oomblik toe jy in ’n Afrikaanse omgewing begin werk, moet jy hoor“jou Afrikaans is te plat en jy moet jou aksent verander”. Maar dié duo is dit eens: Dít is die Afrikaans waarmee hulle grootgewor­d het en hulle hoef niemand daarvoor om verskoning te vra nie. Kim en Clint (albei 37), wat albei in Afrikaanse gemeenskap­pe in die Kaap grootgewor­d het, skaam hulle beslis nie vir hul manier van Afrikaans praat nie. Hulle hoop ander bruin mense embrace die manier hoe Afrikaans in hul onderskeie gemeenskap­pe gepraat word. Clint, wat in Paarl in die Boland grootgewor­d het, meen die Afrikaanse taalkwessi­e is iets wat al vir dekades ’n brandpunt is.

“Dit is die mooi ding van taal; dit hóéf nie dieselfde te wees nie en Afrikaans is nie ’n wit taal nie, maar vir jare was dit by mense ingedril dat die Afrikaans wat ons as bruin mense praat nie suiwer of standaard is nie.

Ek weet nie presies waar dit begin het nie, maar ek weet my ouma en ouer mense in die familie het altyd gesê,‘jy kan nie plat voor wit mense of in ’n profession­ele omgewing wees nie’,”sê hy.

“Ek dink dis hoekom bruin mense steeds hul aksent verander wanneer hulle met wit mense of in die werksplek is en ons kykers het dit agtergekom. Ek dink dis interessan­t, want ons oordryf nie ons aksent wanneer ons met mekaar praat nie. Die switch vind outomaties plaas, maar ek is geskok dat mense in 2017 nog deur aksente ontstel word,”sê Clint voorts.

“Dit is belangrik dat ons vir mekaar, maar veral vir jongmense die geleenthei­d gee om hulself uit te spreek soos wat hulle wil.

As ons kyk na die finansiële en politieke omstandigh­ede wat ons land tans raak, is daar groter dinge om ons oor te bekommer as taalverski­lle. Ons kan nie in 2017 verwag om vir mense te sê wie hulle moet wees en hoe om te lewe nie. Ons almal is uniek en mag ons eie identiteit embrace,” sê Clint gemaklik.

Deel van identiteit

Vir Kim lê haar Afrikaans haar baie na aan die hart. Dis deel van haar identiteit en iets waarop sy baie trots voel. Sy dink nie daar is ’n reg of verkeerd nie, daar is net Afrikaans. Sy het in ’n Afrikaanse huis in Bonteheuwe­l op die Kaapse Vlakte grootgewor­d, maar het ook Engels gepraat.

“Afrikaans behoort nie nét aan wit mense nie. Dit het ontstaan omdat mense ’n taal nodig gehad het om te kommunikee­r en in handel te dryf. Afrikaans het ’n bietjie Engels, Hollands en Bahasa (Indies) in. Dit behoort aan ons almal,”sê Kim.

Kim het vroeg in haar loopbaan geleer om outentiek te wees, nie net teenoor haarself nie, maar ook die karakters wat sy vertolk. Dis hoekom dit haar plak laat sak dat sy haar manier van praat moet verdedig.

“Die Afrikaans wat ek op Binnelande­rs praat, is hoe ek met my eie familie praat. Dit is nie aansit of aksentwerk nie. Ek is al baie keer oor die jare gesê ek praat plat Afrikaans en ek moet my aksent verander vir karakters, maar dan wil ek weet van waar die karakter vandaan kom en wat hulle agtergrond is. Ek en Clint se Binne

landers- karakters bly wel in Pretoria, maar het totdat hulle universite­it klaar gemaak het in Kaapstad gewoon. So om outentiek teenoor die karakter te wees, moet ons uitbeeld dat hulle van die Kaap is en op die Kaapse Vlakte praat hulle anders as in Pretoria.”

lewe IN GAUTENG

Soos haar karakter het Kim ook Kaapstad vir Gauteng verruil. Kim het die eerste keer Johannesbu­rg toe getrek toe sy 21 was en ná 12 jaar in die Goudstad, het sy besluit om terug te kom Kaap toe.

Sy was vir vier jaar in die Kaap en besluit om in 2015 terug te keer Johannesbu­rg toe. Kim sê dis anders in Johannesbu­rg en mense aanvaar mekaar makliker. Mense sien minder mekaar se verskille raak en is meer toeganklik. Sy sê sy het dit nooit regtig agtergekom nie, totdat sy weer terug Kaap toe getrek het.

“Die eerste jaar terug in Joburg was moeilik. Dit was ’n groot aanpassing. Ek het moeg teruggekom van die Kaap af. Sielsmoeg, fisies moeg en so ’n jaar gelede het alles weer in plek begin val. Ek het baie sielsfamil­ie en vriende agtergelaa­t toe ek Kaap toe gaan en dit was wonderlik om hulle weer te herondek toe ek terugkom. Nou gaan dit baie goed met my,”sê Kim.

Ook Clint se lewe het ’n ander draai geneem sedert Kuier laas in 2012 met hom gepraat het.

Clint en sy vrou, Steffi, het op 9 Augustus hul eerste huwelikshe­rdenking gevier. Hy het dié Namibiese model verlede jaar op sosiale media raakgesien, toe by die gym ontmoet en haar kort daarna uitgevra. Drie maande later is hulle getroud. Sedertdien het hulle saam ’n fiksheidsa­kademie begin waar hulle mense help om ’n gesonder lewe te lei.

Hulle albei neem ook gereeld deel in body building-kompetisie­s en het elkeen al ’n paar titels gewen.

“Ek het nooit gedink die getroude lewe kan so goed wees nie. Ek het ook nooit geweet jy kan een persoon so baie liefhê nie. Ons het baie in gemeen, maar omdat daar so ’n groot ouderdomsv­erskil (11 jaar) tussen ons is, beteken dit dat daar ook baie verskille is. Alles op ’n goeie manier, want sy kom van ’n ander generasie af en is minder gekondisio­neer deur ons land se geskiedeni­s. Ek kan sommige tye baie opgewerk word deur dinge wat ek dink nog verkeerd is en dit raak haar minder. Sy is meer easygoing en dit het my ook gehelp om dinge te laat vaar wat buite my beheer is,”sê hy.

Clint meen hul verskille sal hulle help om goeie besluite te maak wanneer hulle met ’n gesin begin.

Volgens hom het hulle albei by hul onderskeie families geleer hoe om hard te werk vir dit wat jy wil hê, hoe om ondersteun­end te wees, maar ook hoe om mekaar te respekteer. Hulle pas dit toe in hul huwelik, by hul fiksheidak­ademie en wil hul kinders dit ook leer.

Clint en Steffi praat Afrikaans en Engels en beoog om hul kinders in Engels groot te maak, maar sal steeds Afrikaans met hulle praat.

“Ongelukkig is daar meer geleenthed­e vir mense as jy Engels kan praat. Dit is ’n taal wat jy orals in die wêreld kan gebruik, maar ons is trots Afrikaans en wil hê ons kinders moet ook Afrikaans kan praat. Hulle kan self besluit waarin hulle meer gemaklik voel.”

Kim en Clint beklemtoon ons moet taal gebruik om brûe te bou en trots op ons eie manier van Afrikaans-praat te wees.

 ??  ?? HOOFFOTO: Clint Brink en Kim Cloete speel deedae ’n paartjie in die kykNET-sepie Binnelande­rs. LINKS ONDER: Tonele uit die sepie.
HOOFFOTO: Clint Brink en Kim Cloete speel deedae ’n paartjie in die kykNET-sepie Binnelande­rs. LINKS ONDER: Tonele uit die sepie.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa