Jong vrou help dowe ouers kommunikeer in die horende wêreld
Sy moes baie aanpassings maak met twee dowe ouers, maar sy help hulle al van kleins af oor die weg kom in ’n horende wêreld.
dis doodstil in die huis. Voor jou is ’n geluidlose dolle gewaai en geswaai van arms en hande soos die mense voor jou kommunikeer sonder dat jy ’n woord verstaan. En soos wat hulle opgewonde of kwaai word, word die bewegings ál groter en meer baldadig.
Vir ’n horende mens is hierdie dalk ’n vreemde prentjie en ervaring, maar stilte is iets wat nog altyd deel was van die borrelende Kim Bergman (18) deesdae van Nyanga, ’n township op die Kaapse Vlakte, se lewe.
Terwyl ander kinders se ouers hulle opgewonde leer hoe om klanke na te boots en geluide na te maak, moes Kim by ander kinders van haar ouderdom leer praat. Dít terwyl sy terselfdertyd gebaretaal moes aanleer.
Albei Kim se ouers is al van jongs af doof. Mildred (49) het ’n virus opgedoen toe sy twee jaar oud was en doof geword. Haar pa, Jan (43), is deur ’n kar omgery toe hy agt jaar oud was en het sy gehoor verloor.
Kim moes van kleins af al die brug tussen haar dowe ouers en die buitewêreld wees. Met die jare het Kim al hoe meer haar ouers se“tolk”geword en aanvanklik het sy gewonder hoekom kon haar ma nie verstaan nie en hoekom was mense so onbekwaam om met haar te kommunikeer?
Aanvanklik was sy daardeur ontmoedig. Maar sy het geleer om haar realiteit te aanvaar. Haar ouers is bloot doof en sekere aanpassings moes gemaak word. Maar verder is hulle ’n normale gesin.
En vandag, so jonk as wat sy is, is Kim die gom wat haar gesin bymekaar hou omdat sy hul tolk in ’n horende wêreld is. Sy was skaars vyf toe haar ma swanger word met haar broer. Kim moes die skakel tussen haar ma en die dokter wees.“Ek het elke keer saam haar dokter toe gegaan om te vertaal. Soms het die dokter woorde gebruik en ek het nie ’n clue gehad wat hy sê nie,”sê Kim.
Sy onthou ook haar eerste dag van skool.“My ma het vir die sekretaresse iets probeer sê, maar hulle het nie mekaar verstaan nie. Ek was moedeloos vir my ma se part.”
’n Ander normaal
Deesdae is Kim ’n ou hand met tolking. (Sy was ook die tolk vir Kuier se onderhoud.)
Elke keer as haar ouers ’n belangrike vergadering of ’n doktersbesoek het, moet sy saamgaan. Partykeer voel dit soos ’n swaar las en verantwoordelikheid.“Min mense praat gebaretaal en sonder my sal my ouers sukkel en nie die hulp kry wat hulle nodig het en verdien nie.”
Omstandighede soos hierdie het Kim gedwing om vinnig groot te word. So moes sy tussen vyf- en agtjarige ouderdom haar ouerhuis verlaat omdat sy nie plek in ’n Kaapse skool kon kry nie, maar dit het haar geleer om vinnig aan te pas by haar omstandighede.
Ten spyte hiervan, beskou Kim haar lewe as normaal.“Ek het nooit gedink ons is weird nie. Ek het net geweet daar is doof
en daar is praat.”Sy moes egter van kleins af leer om vir haarself op te staan, want haar ouers kon haar nie op daardie manier bystaan nie.“In situasies waar ander kinders hulle ouers skool toe kon bring, moes ek my probleme self oplos.”
Kim vertel dissipline in ’n dowe huishouding is maar dieselfde as in enige ander huis – as jy stout was moet jy deurloop! Die enigste verskil is haar ouers raas met hul hande, nie met hulle monde nie.
Haar ouers het deur die dowe gemeenskap van Kaapstad ontmoet en is kort daarna getroud. Al is albei doof, het hulle van die begin af geweet hulle wil kinders hê en dat hulle gebrek nie in die pad gaan staan nie.
struikelblokke
Dinge wat die meeste van ons as vanselfsprekend aanvaar, kan probleme veroorsaak in ’n dowe huishouding. Hoe antwoord jy die telefoon, weet as daar ’n boodskap deurkom of dat iemand aan die deur klop as jy nie kan hoor nie? Kim se pa sê as sy nie by die huis is nie, ignoreer hy gereeld die buitewêreld. Kim lag en sê een van haar grootste “irritasies”is wanneer hulle TV kyk. Baie keer wil haar ouers hê sy moet vir hulle in spanningsvolle oomblikke verduidelik wat gesê word of hoekom sy lag. Soms sal sy graag net eintlik rustig die fliek wil sit en kyk. En hoe geseënd was hulle nie om vir Kim te kry, wat van moederskoot af al haar groot verantwoordelikheid met soveel grasie en entoesiasme aanvaar het. Dis een ding om ’n baba te wil hê, maar verbeel jou jy word wakker in die middel van die nag en jy weet nie of jou baba slaap of dalk histeries huil nie. Jan sê hulle moes kort-kort gaan seker maak dat Kim oukei is en of sy nie honger of koud was nie. Met haar boetie, Keith se koms (nou 13), was dit Kim se werk om haar ouers te laat weet as hy ongelukkig was. (Mildred was nie by die onderhoud nie, sy was besig met vrywilligerwerk.) Jan erken dit maak hom partykeer hartseer dat hy nie sy kinders kan hoor gesels en lag nie. Maar hy het lankal aanvaar dít is sy lewe en dit help nie om daaroor te tob nie. Daar is te veel ander seëninge – soos Kim se positiewe gesindheid. “My ouers vertel ek het amper natuurlik gebaretaal aangeleer. Ek was vreeslik nuuskierig en het altyd gekyk as hulle twee gesels het en probeer na-aap,”sê Kim. Jan lag en vertel partykeer as hulle “grootmensdinge”wou gesels, het Kim probeer uitwerk wat aan gaan. Hulle het egter gou besef hoe vroeër sy leer, hoe beter en dat sy dalk eendag selfs ’n tolk kan wees. Gebaretaal is nie maklik nie en nie almal kan dit bemeester nie. Kim se jonger broer is nog lank nie vlot nie en sy moet meesal die middelman tussen hom en hulle ouers wees. Dit maak Jan droewig dat hy en Keith nie regtig behoorlik kan kommunikeer nie. Hoe het sy dan leer praat? Kim vertel sy het altyd baie maatjies gehad en het by hulle leer Engels en Xhosa praat. Praat was duidelik nog nooit ’n probleem vir hierdie borrelende jong dame nie!
Op vyf het haar ouers na Khayelitsha getrek. Dit was tyd vir haar om met skool te begin, maar hulle het gesukkel om vir haar ’n plek êrens te kry. Kim se ma het haar toe vir ’n jaar na familie in die Oos-Kaap gestuur, nie net vir ’n plek in ’n skool nie, maar ook om haar ander familie te leer ken.
“Ek het by ’n antie gebly en alhoewel sy my goed behandel het, het ek verskriklik my ouers gemis. Aanvanklik was ek baie bang, omring deur vreemdelinge in ’n plek wat ek nie ken nie. Ek was so gewoond daaraan om in ’n doodstil huis te bly waar ek enigiets kon sê en doen wat ek wou, want niemand kon my hoor nie. Ek het gou besef dat ek stiller moet wees en myself sal moet begin gedra,”lag Kim.
Ná ’n jaar kon haar ouers steeds nie ’n plek vir haar in ’n Kaapse skool kry nie en sy is Ceres toe gestuur om by haar pa se broer te gaan bly. Ewe skielik is Kim gedompel in ’n hele ander omgewing, waar sy nie eens Afrikaans kon verstaan nie.
“Mense het altyd gesê‘Jinne, kyk die meisiekind. Hou vir haar kwaai met haar Engels’.”Op dieselfde manier wat sy gebaretaal, Engels en Xhosa geleer het, het sy Afrikaans ook aangepak – deur nuuskierigheid, baie te luister, te kyk wat om haar aangaan en met baie deursettingsvermoë.
’n Jaar later het agtjarige Kim teruggekeer na haar ouers toe en moes weer gewoond raak aan ’n dowe huishouding. “Ek was so bly om terug te wees. Dis so ’n verligting om weer hard en baie te kan praat en myself te wees. Maar skielik was alles so stil! Dis die eerste keer dat ek besef het my huis is anders.”
Jan vertel hy is ontsettend trots op Kim en dit maak sy hart bly dat sy daar is om hulle te help. En dat hy haar kan vertrou in ’n wêreld wat hy nie altyd verstaan nie.
Kim se ervaring het by haar ’n bewustheid gekweek van die realiteite van derduisende mense wat met gestremdhede leef. Sy beplan ’n loopbaan wat brûe kan bou tussen mense met gestremdhede en die res van die wêreld, maar wil ook ’n tolk word in die ander tale wat sy praat.
“Partykeer kry mense my jammer omdat my ouers doof is. Hulle dink daar is iets missing in my lewe. My lewe is vir my normaal. My ouers het dieselfde behoeftes en drome soos ander mense. Die enigste verskil is hulle kan nie hoor nie.”