Kuier

Besonderse Kaapse koffiewink­el smaak sukses

Vir laat slaap het dié antie en haar man nie lus voor nie. Hulle woeker van vroegdag af al in hul spesiale koffiewink­el.

- Deur Tarren-Lee Habelgaarn

In hul sestigs sien baie mense uit na ’n rustiger lewe, om permanent op vakansie te wees, later te slaap en meer tyd met die kleinkinde­rs deur te bring. Maar nie Suzie Mathys en haar man, Willie, nie. Dié ouma en oupa het eerder besluit om ’n besigheid te begin op die ouderdom wanneer die meeste mense aftree.

Hierdie ouma en oupa wat al 42 jaar getroud is, wys ons nie net dit is moontlik nie, maar ook dat dit kan werk. Suzie (66) en Willie (68) het die afgelope drie jaar ’n liefde vir die platteland ’n slim stap verder gevat toe hulle dit in ’n besigheid omskep en ’n koffiewink­el, Suzie’s Coffee Shop, begin het.

Afhangend van waar jy woon, het almal ’n idee van hoe ’n gewone koffiewink­el moet lyk. ’n Mens sou verwag om dit in ’n hoofstraat of ’n winkelsent­rum te vind, maar Suzie se koffiewink­el is in die hartjie van ’n Kuilsrivie­r-woonbuurt in Kaapstad se noordelike voorstede. Die naam“Suzie’s Coffee Shop”op ’n vaal muur tussen twee huise is al aanduiding dat daar iewers ’n koffiewink­el is.

Maar soos die Engelse sou sê,“don’t judge a book by its cover”. Want van die eerste oomblik wanneer die hek oopgaan, word jy na ’n ander wêreld weggevoer. Daar is so baie unieke tafels, stoele en beeldjies wat dit laat voel asof jy by ’n kunsuitsta­lling is en nie in die tuin van ’n koffiewink­el nie.

In een hoek van die tuin is daar ’n buiteoond met ’n vuur wat al van vroegoggen­d af brand. Dit word gebruik om hul signature roosterbro­od te maak (daar is selfs ’n roosterbro­od-burger) wat saam met ontbyt en middagete bedien word. In die ander hoek is ’n gemakhuisi­e met koerantpap­ier, soos wat hulle in die ou dae gebruik het.

Voor jy nog ’n voet binne die koffiewink­el sit, begroet die reuk van varsgemaal­de moerkoffie jou. Binne brand daar ’n kaggel in die middel van ’n groot sinkdakver­trek met ou straatname, petrolpomp­e teen die mure en mosaïektaf­els met boomstompp­ote. Vir ’n oomblik voel dit asof jy in ’n koffiewink­el in ’n sjarmante klein dorpie soos McGregor of Greyton is en nie ’n gewone woonbuurt in Kaapstad nie.

brein agter die koffie

Antie Suzie en oom Willie, soos mense hulle noem, se glimlagte laat ’n mens sommer nóg meer welkom voel. As jy so na hul grys hare kyk, kan jy nie glo hierdie paartjie is die brein agter dié besonderse koffiewink­el nie. Nie een van hulle, wat self op platteland­se dorpies grootgewor­d het, het ’n besigheids­agtergrond nie.

Suzie is ’n afgetrede naaldwerko­nderwyser en Willie het die afgelope 20 jaar as ’n gemeenskap­swerker vaardighei­dsontwikke­ling-werkwinkel­s vir gestremdes aangebied. Maar met die hulp van hul seun William-John (36) wat ’n graad in sakebestuu­r het, is hulle vinnig besig om hul besigheid te laat groei en ’n sukses daarvan te maak.

Suzie en Willie het die afgelope sewe jaar ’n klein kleutersko­ol bestuur op die perseel waar die koffiewink­el vandag is. Maar al was Suzie ’n onderwyser­es, was naald- en handwerk haar eintlike passie.

Toe haar suster die bestuur van die kleutersko­ol oorneem, het Suzie haar mosaïekwer­k en naaldwerk in ’n ander kamer gedoen. Ouers en vriende het begin inloer en wou van haar goed koop en toe stel Willie voor sy verkoop koffie vir die mense wat kom inloer.

“Aan die begin wou ek dit nie doen nie, want ons het nie geld gehad vir ’n koffiewink­el nie. Maar toe stem ek in, op voorwaarde dat ek net moerkoffie gaan maak omdat dit die enigste ding is wat ek ken,”sê Suzie.

Mense het die koffie begin koop en saam in die kamer om drie tafels begin kuier. Willie het gesien hulle sal verder moet uitbrei, maar hulle het nie geld gehad nie. Gelukkig is sy en Willie albei goed met hul hande en het dit gehelp om baie van die goed wat hulle nodig gehad het, self te maak.

“My man is baie kreatief en is eintlik die een met al die idees. Hy het besluit ons bou ’n sinkvertre­k buite op die stoep aan en voeg buitetafel­s by. Ek het gedink dis ’n slim plan omdat dit bygedra het tot die plaas-atmosfeer wat ons wou skep. Ons het op die platteland grootgewor­d en het almal sinkdakke gehad. Dié goedkoop plan het ook gehelp met die image van die plek. Dit het ons ook gehelp om te onthou waarvandaa­n ons kom en ons wou ander laat terug dink aan hulle eie roots,”sê Suzie.

Dit het gewerk en ál meer mense het die koffiewink­el besoek. Mense het hul boeke kom lees of net kom sit en gesels. Willie het gevoel hulle moet iets by die koffie begin gee.

Hulle het mense uit die gemeenskap gebruik om koek te bak en het eers net koek en toe later ontbyt ook by die koffie begin bedien. Omdat hulle ’n gedeelte van hul huis gebruik het, het hulle baie geld gespaar omdat hulle nie huur moes betaal nie. Willie het ook die meeste van die tafels self uit hout gemaak, terwyl Suzie die mosaïek vir die tafelblad gedoen het. Van die ander goed het hulle gekry of iewers gevind. Niks van die goed in die winkel pas regtig bymekaar nie, maar sáám maak dit die winkel interessan­t.

Maar selfs met al die besparings was dit steeds nie maklik om die winkel aan die gang te hou nie.

brei besigheid uit

Nie een van hulle het ’n besigheids­agtergrond nie en het met hul harte gewerk en nie met hul koppe nie. En dís waar William-John die groot ver-skil gemaak het.

“Ek het geweet hulle het ’n gem. Daar was ’n mark in die gemeenskap vir ’n koffiewink­el. Maar saam met ’n kleutersko­ol het dit nie gewerk nie. Die kinders het baie geraas en mense wil ontspan wanneer hulle by ’n koffiewink­el kom kuier. So, ek het geweet ons moet op een konsentree­r en ook dan die ekstra spasie gebruik om uit te brei,”sê William-John.

Suzie en Willie kon gelukkig van hul vorige personeel werk aanbied by die koffiewink­el en het net twee kamers in die huis vir hulself gehou. Die res van die huis is gebruik om die koffiewink­el groter te maak en ’n lokaal vir funksies (soos boekbekend­stellings, baby showers, partytjies, ens.) te skep. Hulle het ook nou twee kamers wat beskikbaar is vir bed en breakfast.

Sedert Maart vanjaar het hulle ook middagete op die spyskaart gesit en ’n webtuiste en Facebook-blad begin. William-John het geweet goeie bemarking sal ’n groot rol in die koffiewink­el se sukses speel. Om by te bly, moes Suzie en Willie op hul ouderdom leer van verskillen­de tipes koffie en ook hoe om Facebook te gebruik.

Dit was moeilik om die kopskuif van passie na besigheid te maak, maar hierdie egpaar is besig om dit reg te kry.

“Ons moet goeie besluite maak sodat ons nog ons werkers aan die einde van die maand kan betaal. Ek en Willie het al die idees, maar William-John weet hoe om die besigheids­gedeelte te laat werk. Só nou het ons ’n goeie balans en hoop ons om binne die volgende paar maande die besigheid winsgewend te maak.”

Maar vir Suzie en Willie gaan dit oor meer as net geldmaak. Vir hulle gaan dit oor die mense wat hulle elke dag ontmoet en die plesier wat mense kry wanneer hulle oor ’n lekker koppie koffie kan gesels.

“Ek het nooit gedink dit sal moontlik wees nie, maar my man het my bygestaan en saam het ons dit laat werk. Ek dink baie keer limit ons onsself of ons is bang om kanse te vat. Maar as jy nie die kans waag nie, sal jy nooit weet of jy suksesvol kan wees nie. As óns dit kon doen, kan ander ook. Ek weet geld speel ’n groot rol in mense se besluite, maar somtyds kort jy net ’n bietjie kreatiwite­it.”

En kyk hoe ver het kreatiwite­it hierdie paartjie gebring!

 ??  ?? HOOFFOTO: Antie Suzie en haar werknemers by haar koffiewink­el in Kuilsrivie­r.
HOOFFOTO: Antie Suzie en haar werknemers by haar koffiewink­el in Kuilsrivie­r.
 ??  ?? Antie Suzie staan tussen haar man, Willie en hul seun William-John. REGS BO: ’ n Kliënt word bedien by Suzie’s Coffee Shop.
Antie Suzie staan tussen haar man, Willie en hul seun William-John. REGS BO: ’ n Kliënt word bedien by Suzie’s Coffee Shop.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa