wat jy moet weet Alles
’ n Garnishee order op jou salaris is vir baie ’n straf wat jare kan aanhou, maar danksy nuwe wetgewing is daar tog hulp.
As jy reeds raap en skraap om elke maand met jou geld uit te kom, kan ’n garnishee order (loonbeslagorder) jou skippie sink, want dit beteken geld word van jou salaris of loon afgetrek nog voor jy ’n sent gesien het.
As jy geld by ’n instansie geleen het en dit later nie kan terugbetaal nie, kan dié instansie ’n garnishee order teen jou laat instel. Die gelduitlener kry dan ’n hofbevel wat jou werkgewer verplig om elke maand ’n deel van jou salaris af te trek totdat jou skuld vereffen is.
Sommige uitleners het boonop in die verlede misbruik gemaak van dié orders deur mense uit te buit en baie Suid-Afrikaners is net nog dieper in skuld gedompel.
Vir sommige, soos Denver Louw* (48) van Atlantis buite Kaapstad, het ’n garnishee order jare se swaarkry beteken. Hy is in 2010 vir vyf jaar onder skuldadministrasie geplaas en daar is ’n garnishee order teen hom. Ná sewe jaar is sy skuldeisers egter nog nie klaar betaal nie. Hy sê dit is as gevolg van al die opgehoopte rente en kontakkoste wat hy moet betaal wanneer die skuldeisers hom bel.“Die mense wat bel, wil net weet wanneer ek ’n payment gaan maak, maar wil nooit na my kant van die saak luister nie. Hulle is daarom useless vir raad,”sê Denver.
Volgens Denver is die opgehoopte rente ook gedeeltelik sy baas se skuld wat soms vir maande lank sy garnishee-paaiemente afgetrek het, maar nooit oorbetaal aan die prokureurs, wat aangestel is om die skuld in te vorder nie.
Wat Denver ook moedeloos maak, is dat die bank wat hy geld skuld einde verlede jaar vir hom gesê het hy skuld hulle nog net omtrent R1 000, terwyl die prokureurs sê dis nog meer as R3 000. Die saak is steeds nie opgeklaar nie en hy weet nie waar presies om na hulp te soek nie. Maar Denver is nie alleen nie. Ook Michelle White* se ou, Robin*, het ’n garnishee order teen hom gehad wat al in November 2014 uitgereik is. Die aanvanklike skuldbedrag op die garnishee order wat die prokureurs laat aflewer het, was R11 354 en die totale bedrag wat maandeliks afgetrek is, was R800. Die statement van die prokureur wys ná drie jaar egter die bedrag wat hy steeds skuld, is R8 532.
“Die skuld moes teen die tyd al heeltemal afbetaal gewees het. Ons het dit aan die prokureur gerapporteer, maar geen terugvoer gekry nie. My ou se werkgewer is ook nie tegemoedkomend nie, en ons kan nie uitvind waarheen die geld is wat dan elke maand afgetrek is nie,”sê Michelle.
Hulle het intussen self regshulp ingewin. Hulle is aanbeveel om alle bewyse van betaling van haar ou se kant af bymekaar te kry, asook om by sy werkgewer aan te dring op ’n statement wat alle betalings reflekteer en om dan die balans te debateer.
Michelle en Robin is deur regshulp aangeraai om eerstens by die Departement van Arbeid vir hulp aan te klop, want as daar geld van Robin se salaris afgetrek is sonder om dit aan die prokureurs oor te betaal, behoort die departement hulle te kan help. Hierna moet Robin aansoek doen by die hof om die garnishee order te kanselleer omdat dit in werklikheid reeds betaal is. Robin se payslips is die bewys. Die prokureurs sal dan die geld van die werkgewer self moet verhaal.
Die werkgewer is dus verantwoordelik om die geld wat hy van Robin afgetrek het, maar nié aan die prokureur betaal het nie, uit sy eie sak aan die prokureur te betaal.
Hoe gebeur dit?
Samantha Lotze, ouditbestuurder by Summitfin in Gauteng, sê garnishee orders het die afgelope paar jaar in die soeklig gekom nadat gelduitleners dit misbruik het en sulke orders sommer deur ’n klerk van die hof laat instel het, in plaas van ’n magistraat.
Die wetlike stappe om toe te sien dat die paaiemente wat in só ’n order gestipuleer word, wel deur die skuldenaar bekostig kan word, is nie gevolg nie. Baie orders is ook uitgeneem by howe ver van waar die skuldenaar woon of werk. In sulke gevalle is die garnishee order nooit gekanselleer sodra die skuld afbetaal is nie en is aangehou om die paaiement af te trek en die gelde in te samel.
Maar nou maak nuwe wetgewing dit al hoe moeiliker vir gelduitleners om garnishee orders teen mense wat geld skuld, te bekom. Die Konstitusionele Hof het verlede jaar beslis dat garnishees slegs deur ’n magistraat (nie ’n hofklerk nie) goedgekeur kan word en slegs in ’n hof wat na aan jou is.
’n Instansie of gelduitlener mag sy skuldinvorderingsprokureur opdrag gee om met ’n garnishee order voort te gaan sodra ’n verbruiker nié ’n skuldterugbetalinguitspraak kon nakom nie, sê Samantha. LINKS: ’n Garnishee order kan ’n groot invloed hê op die bedrag wat jy uiteindelik huis toe vat.
Só werk die proses:
Die verbruiker versuim om sy skuld te betaal.
Die kredietverskaffer (of gelduitlener) stel ’n prokureur aan om die skuld in te vorder.
’n Seksie 129-kennisgewing word na die verbruiker (persoon wat geld skuld) gestuur.
Die verbruiker moet dié vorm teken of in die hof verskyn.
Die verbruiker kom nie terugbetalinguitspraak na soos in die kennisgewing uiteengesit nie.
Die gelduitlener se prokureur doen daarna aansoek by die hof om ’n garnishee order teen die skuldenaar se werkgewer in te stel.
Die werkgewer moet maandeliks die paaiement vir die garnishee order van die werknemer (skuldenaar) se salaris aftrek en aan die skuldeiser betaal.
Voordele vir die skuldeiser:
Die garnishee order is ’n aftrekking wat van die skuldenaar se salaris gemaak word (“payroll deduction”). Dit beteken dat dit ’n versekerde manier is om geld van iemand af terug te kry.
Die invorderingsprokureur stel die loonbeslagorder in teen die skuldenaar se werkgewer. Dus word daar ’n derdeparty geskep wat in die aanspreeklikheid vir die skuld deel.
Die skuldenaar se werkgewer word geforseer om gehoor te gee aan die garnishee order se reëls. Indien nie, sal die bedrag van sy eie bates verhaal word. Werkgewers bevraagteken selde die geldigheid of wetlikheid van só ’n order.
Nadele vir verbruiker/skuldenaar
’n Hofbevel word op jou verbruikerskredietprofiel gelaai. Dit maak dit moeilik vir jou om in die toekoms weer krediet te leen, want hierdie hofbevel beïnvloed jou kredietgradering negatief.
Hierdie hofbeslissling verjaar eers ná 30 jaar. Dit maak dit baie moeilik om die beslissing te laat terugtrek. Jou skuld moet eers afbetaal wees voordat die bevel verwyder word.
Niemand wil graag sy geldsake aan sy werkgewer bekend maak nie. ’n Garnishee order vat ’n groot deel van die vertroulikheid tussen jou en die instansie vir wie jy skuld, omdat jou geldsake nou aan jou werkgewer ontbloot is.
Invorderingsprokureurs sit dikwels rente en insamelingsfooie by die paaiement wat jy moet terugbetaal. Jou skuld word dus meer as wat dit in werklikhheid is.
Het ek beheer oor aftrekkings?
Samantha verduidelik invorderingspraktyke word tans aangepas om verbruikers beter te beskerm. Dit beteken dat daar in die nabye toekoms eers ’n finansiële assessering van jou geldsake gedoen sal word voordat ’n garnishee ingestel kan word. Die beste sou wees om maar vroegtydig te verseker dat jy met jou gelduitlener ooreenkom oor terugbetalingsmetodes. Só kan jy seker maak dat jy nie ’n garnishee teen jou naam kry nie.
Mag ek die paaiement bevraagteken?
Samantha sê as jy sukkel om die paaiement te betaal (jy het dus nie veel oor om van te leef as die paaiement af is nie), mag jy die invorderaar kontak en op ’n kleiner bedrag onderhandel. Dit is egter in die invorderaar se hande om die bedrag te verander of nié.
Wat jy moet weet
As die skuld verjaar het, kan dit nie ingevorder word nie.
Jurisdiksie van die bevel en die garnishee moet binne die area wees waarin jy bly of werk.
Kry die hulp van ’n skuldberader of finansiële welstandadviseur om te kyk dat alle fooie wat gehef word (bo en behalwe die skuldpaaiement self) in lyn is met dit wat aan prokureurs voorgeskryf is om te eis. Samantha beveel aan dat jy onmiddellik ’n skuldberader gaan sien wanneer jy ’n Seksie 129-kennisgewing of dagvaarding (om in die hof te verskyn) kry. Só ’n persoon kan jou help om jou geldsake te bestuur en onderhandel oor skuldafbetaling voordat jy in die posisie kom wat jy ’n garnishee order kry. *Skuilnaam
Garnishee orders het die afgelope paar jaar in die soeklig gekom nadat gelduitleners dit misbruik en sommer deur ’n hofklerk laat doen het. Samantha Lotze