Kuier

Spyt kom altyd Te laat

Dit maak nie saak wat jy as kind doen nie of hoe erg dit is nie, ouers se harte en deure bly altyd wawyd oop.

- DEUR Roeline Snyders

amanda knyp haar oë toe teen die skerp sonlig wat deur die taxi-ruit skyn. Nog net so ’n uur se ry dan is sy by die huis.

Langs haar sit haar kêrel met oorfone in. Tommy lyk asof hy in ’n ander wêreld is, sy kan maar net raai na watter soort musiek hy luister. Was dit nie miskien ’n fout om hom saam te nooi nie? Sy ken tog haar familie. Sy wonder of hulle hom sal aanvaar. Sy weet mense wonder wat sy in hom sien, maar sy is lief vir hom. Sy uiterlike is bedrieglik; oorringe, hangbroek en ’n traak-my-nie-agtige houding. Sy sidder as sy dink wat van haar sou geword het as dit nie vir Tommy was nie. Hy het haar rustig gemaak, rede gegee om te lewe.

Hierdie reis is nie iets waarna sy uitsien nie. Sy kry so ’n beklemmend­e gevoel op haar maag as sy aan haar ma dink.

Drie jaar gelede is sy van die huis af weg. Glad nie op goeie voet nie. Sy sien nou nog hoe haar pa se trane teen sy growwe wange afgeloop het toe sy vir hulle sê dat sy Kaap toe gaan om werk te gaan soek. Hulle wou nie hê sy moes gaan nie, maar sy het haar glad nie bekommer oor wat hulle wou en nie wou hê nie. Dis haar lewe. Sy moes net wegkom van die klein dorpie waar almal alles weet van jou besigheid. ’n Skaamheid bekruip haar as sy dink aan hoe sy die dorp verlaat het.

Haar pa het haar daai oggend by die taxi-staanplek gaan aflaai. Hy het die hele pad nie ’n woord gesê nie. Voordat sy in die taxi kon klim, het hy net haar hand geneem en ’n koevert daarin gedruk. Toe het hy stadig met krom skouers omgedraai en na sy motor gestap.

Die trane het eers sonder keer gekom toe hulle al ’n hele ent uit die stowwerige dorpie is.

Sy probeer haar gedagtes ’n ander koers inslaan, maar kry dit nie reg nie. Sy weet sy moet die verlede los waar dit is. Maar hoe kan sy aangaan as sy môre langs haar pa se graf moet staan en weet dat hy vir die afgelope drie jaar stukkend was oor haar?

Tommy het gesmeek dat sy haar ouers moet bel om ten minste net te sê dat sy oukei is. Sy was te hardegat om te erken dat sy verkeerd was.

In haar matriekjaa­r het sy dinge aangevang waarop sy glad nie trots is nie. Sy weet vandag dat sy verkeerd was, wens sy kan die tyd terugdraai. Sy moes geweet het dis moeilikhei­d om op ’n getroude man verlief te raak. En dan was hy boonop haar geskiedeni­sonderwyse­r in matriek.

Vanaf die heel eerste dag van die skooljaar, was sy malverlief op die lang, lenige man met die gitswart bos hare. Hy het ook nie ’n geheim daarvan gemaak dat sy hom geval nie. Dat sy met vuur speel, het sy geweet, maar het elke keer die stem van haar gewete stil gesus. Sy dink nou terug en probeer uitpluis hoe dit alles gebeur het. Maar hierdie man met sy sagte stem en hart sterker as ’n leeu s’n . . . Hoe hy geduld met haar gehad het, haar buie kon laat verdwyn deur net vir haar te sê“maatjie”. Hy kon haar laat lag. Sy het geglo hulle harte klop dieselfde. Nee, Jaco Beukes was haar trouman, só het sy geglo.

Hul skelm oomblikke het al roekeloser

geword en dit was onvermydel­ik dat haar skoolwerk daaronder sou ly. Haar ouers het gepraat en later gesmeek. Dominee het ook gekom, maar niemand kon haar anders oortuig nie. Die aande wat sy nie huis toe gegaan het nie, was sy saam met hom in ’n motelkamer. Sy het dan in die vroeë oggendure ingesluip.

Dit was op só ’n keer dat daar harde woorde geval het tussen haar en haar ma. Ná daardie stry het die kloof tussen ma en dogter ál groter geword.

Sy is lief vir die man en hy gaan sy vrou los, want hy wil met háár wees. Hy het tog gesê dat hy nie lief is vir sy vrou nie. Sy was blind. Só blind dat sy nie die openlike gespot van haar vriende en bure raakgesien het nie.

Haar ouers het ook nie skotvry daarvan afgekom nie en het amper elke dag naamlose oproepe ontvang. Hulle moes die lelikste dinge aanluister. Sy was oortuig dat niemand haar geluk gun nie, dat mense maar net jaloers was op haar.

Amanda besef nou dat sy soms soos ’n besetene opgetree het. Almal wat dit gewaag het om in die pad van hierdie verhouding te staan, is as die vyand gesien. Sy besef sy het opgetree soos een wat dwelms gebruik het. Haar sinne was totaal en al verdoof.

Toe het die departemen­t van onderwys ingetree, tugverhore is gehou en een oggend was hy net weg. Die departemen­t se bevinding was dat die onderwyser ver buite sy grense beweeg het. Hy het onverantwo­ordelik en onwys opgetree. Hy was die opvoeder en moes van beter geweet het. Sy het slegs ’n skrobberin­g ontvang, maar niks was meer dieselfde vir haar nie. Sy het belangstel­ling in haar skoolwerk verloor. Sy het hom probeer bel, maar sy foon was af.

Toe kom die skokkende nuus. Jaco het sy vrou en toe homself om die lewe gebring. Daar was ’n brief wat die polisie gekry het wat aan haar gerig is. Sy kon haarself nie eers sover kry om dit te lees nie, maar het dit tog later oopgemaak.

Jaco smeek om vergifnis omdat hy haar lewe opgemors het. Hy is glo jammer dat hy dit so ver laat gaan het; sy was vir hom net tydverdryf. Sy was gewillig. Sy moet aangaan met haar lewe, hy het nog altyd sy vrou liefgehad en dit is hoekom hy hulle albei doodskiet. Net dit.

Niemand kon haar oortuig dat sy ’n slagoffer was van ’n manipulere­nde man nie. Sy het geglo sy was die tragiese heldin van ’n liefdesver­haal. Niemand, nie eens haar familie, het haar verstaan nie. Sy móés net wegkom. Vir haar was hulle almal rugstekers, hulle simpatie was nie by haar nie.

Dis toe dat sy haar rekenaar by die huiswinkel gaan verpand het vir taxi-geld. Haar pa het gekeer en mooi gepraat, maar nie haar ma nie. Daar was nog te veel kwaad tussen hulle.

Dit was eers toe sy die koevert wat haar pa in haar hand gedruk het, oopmaak dat sy die papiertjie tussen die geld opgemerk het. Dit was die adres van The Haven Nagskuilin­g in Parow. Sy het met ’n skok besef dat sy glad aan ’n blyplek gedink het nie. Hulle het geen familie in die Kaap nie.

Dis hoe sy by The Haven uitgekom het. Dis ook hoe sy vir Tommy ontmoet het. Tommy werk by die nagskuilin­g. Toe hulle vir haar daardie aand sê dat Tommy die maatskapli­ke werker is, het sy uitgebars van die lag. Sy onthou daardie aand hoe sy skelm na Tommy se kant geloer het. Hy was vas aan die slaap.

Tommy se hele uiterlike is skerp in kontras met dié van ’n man met ’n profession­ele beroep. Maar dat hy ’n goeie maatskapli­ke werker is, kan sy van getuig. Dis Tommy wat haar oë oopgemaak en haar hart sag gemaak het. Dis ook Tommy wat haar oorreed het om haar matriek deur die pos te doen. Hy het vir haar die werk gekry by die administra­siekantoor van The Haven. Dis Tommy wat haar gehelp het om weer geloof te kry in haar medemens – maar bowenal in haarself.

Sy het geweet sy sal weer huis toe kom, maar het dit nog uitgestel, want sy wou eers iets van haar lewe maak. Sy wou voor haar ouers staan en vir hulle vertel hoe jammer sy is, hoe lief sy hulle het. Maar sy het te lank gewag, haar pa se hartaanval het haar vinniger huis toe laat kom.

Haar ma weet nie sy kom nie. Antie Bettie van langsaan het so nou en dan vir haar laat weet hoe dit met haar ouers gaan, en dis ook sý wat vir Amanda die tyding gestuur het.

Nou is sy op pad om haar pa te begrawe. Dit gaan een van die moeilikste dinge wees wat sy nog ooit moes doen.

Sy skrik as sy opmerk dat hulle amper by Springbok se afdraai is. Nog net tien minute dan is sy by die huis.

Toe draai die taxi in hul straat af. Die taxi stop voor hul deur en hulle laai hul bagasie af en stap met die paadjie na die voordeur.

Voordat sy kan klop, swaai die deur oop en haar ma staan daar. Kleiner en gryser as wat sy onthou. Sy sien die hartseer in haar ma se oë en haar hart pyn. Sy is onseker oor wat sy volgende moet doen.

Ma en dogter staan en staar mekaar aan, die onsekerhei­d op albei se gesigte. Dan steek Amanda se ma haar hand uit en neem haar verlore kind s’n in hare.

“My meisiekind het gekom . . .,”is al woorde wat oor haar lippe kom terwyl sy haar kind styf teen haar vasdruk. “Ja, Mamma, ek het gekom.” Sy het nie nodig om meer as dit te sê nie. Alles is daarin opgesluit.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa