Carte Blanche-joernalis stel nou haarself eerste
Sy is ’n toegewyde joernalis, vrou en ma en het uiteindelik ná ’n moeilike tyd besef sy verdien ook die beste deel van haarself.
As daar een joernalis is aan wie se verkeerde kant jy nié wil beland nie, is dit Devi Sankaree Govender (45) van Carte Blanche. Sy mag dalk fyn gebou wees, maar almal wat Carte Blanche kyk, weet sy vat nie drama nie en vra vrae wat al menige omstrede (en korrupte) karakter soos ’n kat op ’n warm plaat laat dans het.
Wanneer dit kom by ondersoekende joernalistiek is Carte Blanche, wat vanjaar al 29 jaar op TV is, in ’n klas van sy eie en op haar terrein staan Devi kop en skouers uit bo die res. Sy is vanjaar ook al 15 jaar by dié program.
Sy kom nie voor as iemand wat daarvan hou om in lofbetuigings te baai nie, maar of sy dit nou wil erken of nie, daar is min soos sy in Suid-Afrikaanse TV-joernalistiek.
Wanneer jy teenoor haar gaan sit en sy met haar pen en notas gewapen is, moet jy maar weet, afhangend van die onderwerp van die onderhoud, die stoel kan warm raak. Devi is nie aggressief nie, sy draai net nie doekies om nie en vra moeilike en soms ongemaklike vrae, maar wat die breër publiek beantwoord sal wil hê.
Devi is die tipe vrou wat jy aan jou kant wil hê wanneer jy jou voorberei vir ’n groot geveg. Sy pak ook haar werk met totale passie en oorgawe aan, selfs al weet sy dit kan ’n lelike nadraai vat (soos mense wat haar fisiek wil seermaak).
Maar daar is ook ’n ander, sagter kant aan haar, wat ons kon sien in haar onderhoud met Trevor Noah, wat vroeg Augustus uitgesaai was. Juis hieroor, is dit een van haar gunstelingonderhoude nóg.
Dis maklik om na Devi se tawwe werkspersoonlikheid te kyk en aan te neem sy is van nature kwaai, maar eintlik hou sy nie eens van konfrontasies nie.
“Ek is nie aggressief wanneer ek mense benader nie. Ek raak taf wanneer ons gaan sit vir die onderhoud,”sê Devi.“Die meeste mense dink ek is die heeltyd stug. Maar in my persoonlike lewe is ek heeltemal die teenoorgestelde. Ek is nogal snaaks. En eintlik hou ek van vrede; ek hou nie van koppe stamp nie.”
DROOMWERK
Dit was van hoërskool af vir Devi ’n droom om vir Carte Blanche te werk. Hierdie werk kom nie sonder sy uitdagings nie, maar sy sal dit nie sommer verruil nie. “In 1988 was ek in standerd 8 toe ek
Carte Blanche vir die eerste keer gekyk en gesê het dís wat ek wil doen. My ouers was bekommerd omdat joernaliste daai tyd (in die apartheidsjare) vermoor was, maar ek kon toe uiteindelik ’n naam sit by dit wat ek wou doen. En toe ek boonop ’n redenaarskompetisie wen, was dit bewys ek kán dit doen,”vertel sy.
Devi, wat die oudste van twee dogters is en in die plattelandse deel van KwaZuluNatal grootgeword het, kom uit ’n streng Hindoe-huishouding. Sy vertel laggend daar was niks van partytjies nie, maar sy het as kind geborge gevoel en het altyd haar ouers se volkome ondersteuning gehad.
“Omdat ek sonder broers grootgeword het, was ek nie bewus daarvan dat meisies dit of dat moet doen nie. My pa het my vroeg leer bestuur en ek het nooit ontmagtig gevoel nie, maar ek het wel grootgeword met die stereotipe dat kinders gesien en nie gehoor moet word nie,” vertel Devi voorts.
Maar Devi was van jongs uitgesproke en hierdie stereotipe het nie vatplek aan haar gekry nie.“In ons huis het ons vurige debatte oor enige ding gehad. Ek het altyd gesag uitgedaag, maar op ’n ondersoekende en nuuskierige wyse. Ek was nooit disrespekvol nie.”
So toe Carte Blanche in 1988 sy verskyning op televisie maak, was Devi reeds reg vir dié werk, wat sou vereis dat sy baie ondersoek doen, harde vrae vra en haarself goed kan uitdruk. Devi was ook nog altyd lief vir lees, ’n kenmerk van goeie joernaliste.
“My pa het nog altyd gesê doen waarvoor jy lief is, want jy gaan dit vir die res van jou lewe doen.”
Devi het ná skool ’n BA-graad met Engels en drama as hoofvakke gedoen. Ná sy haar graad ontvang het, het sy haar CV vir ’n paar plekke gestuur, maar net Lotus FM het teruggekom na haar toe. Devi, wat Engels grootgemaak is, het egter die oudisie gefaal omdat sy nie enige Indiese tale kan praat nie en sekere name verkeerd uitgespreek het. Sy is darem later die“graveyard”-skof aangebied, wat sy gevat het.
Sy is egter nie iemand wat gaan lê ná ’n terugslag nie en het aanhou probeer om in die uitsaaiwese te werk.
In 1995 het Devi ingestaan as TVaanbieder by die SAUK en tussendeur ’n
hoërdiploma in onderwys gedoen. Op die ou end was sy vir 10 jaar by die SAUK waar sy ’n geselsprogram aangebied het. Sy het ook in 1998 by dié geselsprogram die geleentheid gekry om ’n onderhoud met Madiba te doen.
Devi het toe sommer gewoeker en ook ’n gewilde rubriek vir ’n Sondagkoerant geskryf. Sy en haar man, Perumal, het in 2000 getrou. Hulle het later hul MBA-grade saam gedoen en in hul eerste jaar van MBA-studies word Devi toe swanger met hul dogter, Kaiyuree (nou 16), wat in hul tweede MBA-jaar gebore is. En vyf dae ná Kaiyuree se geboorte besluit Devi om aansoek te doen by Carte Blanche al was daar nie eens ’n pos oop nie!
“Baie mense wag vir dinge om eers in plek te val, maar ek is nie een van daai mense nie. Die heelal het nog altyd saamgesweer om my besluite te ondersteun. Ek glo ook nie daar moet eers posisies oop wees voor jy kan aansoek doen nie. En ses maande later bel Carte Blanche my en nooi my vir ’n onderhoud!”vertel Devi.
Sy het deeglik voorberei vir daardie onderhoud, sê Devi, want sy was ’n stap nader aan haar droom om vir Carte Blanche te werk. Toe sy by die gebou instap, het alles“net so bekend gevoel”.
Devi het die werk gekry, maar sê laggend haar eerste jaar (2002) by die program het glad nie goed begin nie. Sy het net drie stories daardie hele jaar gedoen.
“Mense het my aanhou vra hoekom hulle my dan nie op die program sien nie. Maar dit was ’n kombinasie van goed wat nie in my guns getel het nie, totdat ek in 2003 die storie oor die bestuurslisensiebedrog in Durban gedoen het. Ek het in 2005 Johannesburg (waar Carte Blanche is) toe getrek en nooit weer teruggekyk nie!”
TEEN ’N PRYS
En dis hoe Suid-Afrika aan Devi gewoond geraak het – die vrou wat skrik vir niks en korrupsie sal bloot lê vir die hele land om te sien. Nie almal hou egter hiervan nie en Devi se lewe was al talle kere in gevaar.
“In 2005 was ek vir die eerste keer aangerand toe ’n verkoopsman ons span in sy winkel toesluit en begin aanrand.
Ses maande later was ons weer toegesluit en moes vlug vir ons lewe toe ons kon uitkom. Mense raak baie ontsteld. Ek het baie lesse geleer en moes besluit of hierdie is wat ek regtig wil doen. En dit is,”sê Devi.
Sy werk baie hard, maar wanneer sy huis toe gaan, is sy ’n toegewyde vrou vir Perumal en ma vir Kaiyuree en haar seun, Sayuran (13). Haar toewyding om haar onderskeie rolle ewe goed te vervul, het egter teen ’n prys gekom.
Devi het einde verlede jaar op haar blog erken sy was op pad om uit te brand totdat sy besluit het sy verdien ook om eerste plek by haarself in te neem. Dit was nie net haar werk, wat sy al vir die afgelope 15 jaar met oorgawe doen of haar gesin, wat die beste deel van haar moet kry nie. Sý verdien dit meer as enigiemand anders.
“Ek het vergeetagtig begin raak en was baie geïrriteerd met my gesin terwyl ek die een is wat van vrede hou. Ek het ook bloeddrukprobleme ontwikkel en my hartspier het verswak en dit het alles binne drie maande gebeur! Ek het besef ek doen dit aan myself en het besluit om myself te kies.”
Devi het veranderings gemaak en dit gaan baie beter met haar gesondheid deesdae. Sy gaan gym toe, vervang soms tuisgemaakte etes met Woolworths se gaar hoender en rus wanneer sy moeg is. Sy maak ook nie ander se probleme hare nie.
“Ek het besef ek steel van myself en is nie my eie beste vriendin nie. As vrou voel ons altyd verantwoordelik vir almal behalwe onsself. Dís ons probleem,” sê sy.
Devi se passie en vuur vir haar werk, is bewonderenswaardig, maar so ook die toewyding tot haar gesin en nou ook haarself.