Kuier

Te veel suiker kan jou kind stil-stil siek maak

Soetgoed doen miskien nie nou skade nie, maar al daai suiker kan op die ou end jou kind siek maak.

- Deur Marteli Brewis

’NKosblik met peanut butter en jam-broodjie, ’n vrug en koeldrank klink mos gesond vir jou kind en maklik vir jou, né? Nie noodwendig nie . . . Hierdie kosse is propvol suiker – veel meer as wat jou kind daagliks nodig het! Suiker is ’n stille gevaar en mense besef nie altyd dat dit maklik is om te veel in te kry nie, al eet jy nie ongesond nie. En dit lyk of ma’s nie saamstem oor hoeveel soetgoed hul kind kan hê nie. Sommige ma’s voel ’n paar lekkers of koekies sal nie ’n kind skade aandoen nie, terwyl ander glad nie soetigheid naby hul kleingoed toelaat nie. “My kinders is 10 en 12 en eet omtrent elke dag ’n handvol lekkers. Hoekom dan nie? Hulle borsel mooi tande. Ek glo nie daaraan om enige kos te verban nie. Alles het sy plek en tyd,” glo Gaile Johnson (36) van Greenside in Johannesbu­rg. Elrika Pienaar (55) van George stem saam. “My kleinseun bly by my en hy kry elke aand ná ete iets soets. Dis nie altyd poeding nie, partykeer net ’n koekie, sjokolade of ’n paar lekkers,” sê sy. Maar Aneke van Aswegen (29) van die Strand in die Wes-Kaap voel heeltemal anders.“Behalwe kinderpart­ytjies en Kersfees, kry my kinders nie soetgoed nie. Dis onnodig. Hulle kry dalk op ’n Sondag ’n glas sap by die etenstafel, maar dit is dit,” verduideli­k sy.

Daar is diegene wat voel ’n soetding is nou en dan oukei – solank jy dit beheer. “Ons reël is, geen gaskoeldra­nk nie, net water of sap. My seun mag een keer ’n week ’n paar lekkertjie­s eet – vyf jelly babies of so iets. As mens dit nie in die huis aanhou nie, kan dit nie ’n versoeking word nie. Maar dis nie so maklik om te beheer wat by Oupa en Ouma gebeur nie,”vertel Carol Bos (38) van Somerset-Wes.

Hoe dit ook al sy, daar is ’n paar goed waaroor ouers moet besin wanneer dit kom by suiker.

Selfs al is die gevolge van te veel suiker nie nou sigbaar nie, kan dit lewenslank jou kinders se gesondheid benadeel. Dit kan lei tot vetsug, diabetes, hoë bloeddruk en hoë cholestero­l – alles dinge wat bydra tot hartsiekte­s. Ongeveer 22,9% van SuidAfrika­anse kinders tussen 2 en 14 jaar is tans oorgewig of reeds vetsugtig.

Hoeveel is te veel?

Claudine Ryan, ’n dieetkundi­ge van Bellville in die Kaap, sê die Wêreldgeso­ndheidorga­nisasie beveel aan dat suiker nie meer as ’n maksimum van 10% van kinders se daaglikse energie-inname moet uitmaak nie, maar verkieslik nie meer as 5% nie. “Dis gelykstaan­de aan 25 g of ses teelepels suiker per dag,”verduideli­k sy.

Claudine sê volgens ’n artikel in die SuidAfrika­anse Joernaal van Kliniese Voeding is daar onlangs bevind kinders in Suid-Afrika verorber tipies tussen 40 en 60 g (10 – 15 teelepels) suiker en tieners soveel as 100 g (25 teelepels) suiker per dag!

Volgens haar is daar oorweldige­nde bewyse dat ’n hoë inname van bygevoegde en vry suikers die totale energie-inname van kinders verhoog. Dít verhoog weer die risiko van oorgewig en vetsug. Vetsug kan lei tot nie-oordraagba­re siektes soos hipertensi­e, hartsiekte­s, diabetes en sekere tipes kanker. (“Vry suikers”is die suiker wat

by kosse gevoeg word. Dis ook die suiker wat natuurlik voorkom in heuning, stroop en onversoete vrugtesap. Hierdie tipe suiker sluit nie die suiker in wat natuurlik voorkom in kosse, byvoorbeel­d in melk en vrugte, nie. Daarna word verwys as “natuurlike suikers”.)

Slegte tande

Suiker verhoog die risiko vir tandbederf – die mees algemene nie-oordraagba­re siekte ter wêreld.

“Dít word beïnvloed deur die tydsbereke­ning en gereeldhei­d van suikerinna­me, asook hoe gereeld ’n kind tande borsel en ’n tandarts besoek,”meen Claudine. Sy sê dat suiker die pH in die mond verlaag en dit dra by tot die deminerali­sasie van tande en dus tandbederf.“Dit is beter om versoete drankies sáám met etes te drink, eerder as tussen etes,”stel sy voor.

Suikersoet mites

Oor die mite van suiker en hiperaktiw­iteit, sê Claudine dat daar tans nog min bewyse is dat suikerinna­me daartoe bydra.

’n Ander mite is dat vrugte baie suiker bevat en ongesond is.“Dis glad nie waar nie,”beklemtoon sy. Vrugte is ryk aan vitamiene, antioksida­nte en minerale en die meeste het boonop ’n lae glisemiese indeks. (GI is die tempo waarteen koolhidrat­e in die liggaam absorbeer word.)

Weet wat jy eet

Jy moet ook uitkyk vir“versteekte suiker”in kosse. Voorbeelde sluit in sekere ontbytgraa­n en brood, energiesta­fies en souse. Hierdie tipe suiker is verfynd en het geen voedingswa­arde nie.

Claudine sê dit is belangrik om kos se etiket te lees en verstaan. Bestanddel­e word gelys in volgorde van die meeste tot minste.“So indien suiker in die eerste drie spasies aangedui word, is dit reeds ’n aanduiding dat die produk baie suiker bevat,” waarsku sy. Byvoorbeel­d, 4 g suiker is gelyk aan 1 teelepel suiker. So as ’n koeldrank 40 g suiker bevat is dit gelykstaan­de aan 10 teelepels suiker!

“‘Geen bygevoegde suikers’beteken nie dat ’n produk heeltemal suikervry is nie – dit kan baie natuurlike suiker bevat sonder dat ekstra suiker bygevoeg is. 100% vrugtesap bevat byvoorbeel­d baie suiker, al is niks bygevoeg nie,”meen Claudine.

“Nie alle suiker is sleg nie,”sê sy verder. “Soos byvoorbeel­d melk wat ’n natuurlike suiker, laktose, bevat. Melk is ’n uitstekend­e bron van proteïene en kalsium en het ’n lae glisemiese indeks. 100 ml lae vet gegeurde jogurt is ook ’n goeie voorbeeld van ’n lae glisemiese indeks, voedingsry­ke koolhidraa­t wat suiker bevat.”

Jy hoef nie jou kinders totaal en al van suikerige lekkernye te ontneem nie! Daar is alternatie­we.“My voorstel is dat ouers porsiegroo­ttes beheer. Deel ’n sjokolade in die helfte. Dieselfde met lekkers – ’n kind hoef nie ’n hele pakkie lekkers te eet nie,” sê Claudine.

“Balanseer die hoeveelhei­d soet en sout eetgoed by partytjies. Vrugte en vrugtestok­kies, vrugte-yslollies en selfs broodjies met lekker vulsels wat met koekiedruk­kers in verskillen­de vorms gesny is, kan ’n alternatie­f vir tradisione­le soetgoed wees,” stel sy voor.

Claudine verduideli­k verder dat sekere versoete voedsel ryk is aan voedingsto­wwe.“Vrugtesap is gewoonlik verryk met vitamien C en kan in klein hoeveelhed­e per dag ingeneem word (125 ml). Versoete jogurt is ryk aan kalsium en proteïene en help om energie en konsentras­ievlakke te bevorder.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa