Kuier

Blindheid keer nie hoopvolle man van God nie

Hy het sy oë toegemaak om vir ander te bid. Maar toe hy sy oë oopmaak, is sy wêreld in duisternis gedompel. En só het hy in ’n oogwink blind geword en tog was dit nie die einde van sy stryd nie . . .

- Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Dit klink soos ’n toneel uit ’n fliek: Die hoofspeler kry almal in die vertrek se aandag, vra hulle om hul oë te sluit sodat hy ’n kragtige gebed kan doen en toe hy“amen”sê en sy oë oopmaak, is dit skielik stikdonker voor hom. Hy vra of hulle die vertrek se ligte afgesit het, maar hulle het nie. Hy het letterlik binne ’n oogwink blind geraak en sy lewe sou nooit weer dieselfde wees nie.

Maar dis nie ’n fliek nie. Dís die realiteit van Roderick Witbooi (36) van Mamre in die Wes-Kaap. Hy het een aand sowat tien jaar gelede skielik tydens ’n gebedsessi­e sy oë oopgemaak, maar kon niks meer sien nie. Sy wêreld wat ’n paar minute vantevore nog helder en kleurvol was en hy vriende en familie se glimlagte en gesigsuitd­rukkings kon sien, was daarna net een kleur – pikswart. Hy is sonder waarskuwin­g in ’n wêreld van niksheid gedompel.

“Ek het gedink mense maak ’n grap en het aanhoudend gesê hulle moet die ligte aanskakel. Ek wou nie glo dat ek skielik binne ’n oomblik kon blind word nie. Ek is na die mense langsaan, maar selfs daar was dit donker en toe raak ek ’n bietjie bekommerd, want ek het dan niks makeer nie,” vertel hy.

Dit was die begin van ’n lang pad na aanvaardin­g en ’n groot toets van sy geloof.

Vir Roderick, toe nog ’n jongman van 26, was hierdie ’n klipharde slag en hy het nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Skielik kon hy nie meer eenvoudige dinge soos stap, aantrek of ’n koppie koffie sonder moeite doen nie. Hy moes sy werk as welsynbeam­pte waaroor hy so passievol was, opgee en iets anders vind om te doen.

God het ’n plan

Volgens hom was die aanvanklik­e verlies aan sy sig egter net die eerste van drie groot toetse, wat soos hy dit stel, die Here op sy pad gesit het. Dit was die begin van sy dans met die dood, want daar was gewasse op sy brein.

Die eerste gewas het sy sig weggevat, maar sy lewe was nog nie buite gevaar nie.

“Dokters kon alles verwyder, maar die herstel in die hospitaal het my sommige dae ondergekry. Daar was dae wat die realiteit dat ek dalk nooit weer my ouers, my meisie of enigiets anders weer sou sien nie, my hard getref het. Ek is gelukkig genoeg dat ek nog altyd op my ouers kon staatmaak,”vertel hy.

“Ek het depressief geraak en sommige aande net begin huil. Daardie aande het ek my ma gebel en het sy vir my die gesang, ‘Open the eyes of my heart, Lord Jesus’oor die foon gesing en dit het altyd gehelp om my te kalmeer.

“Vir my pa was niks te veel nie. As ek braaivleis wou hê, kon ek net my pa bel en het hy dan uit Mamre Groote Schuur- hospitaal toe gery om dit vir my te bring.

“As iemand met ’n sterk geloof, het ek besef selfmoord kan nooit ’n opsie wees nie, want dit gaan teen alles waarin ek glo. In daardie oomblik het ek net vir die Here gebid en gesê ek sit my vertroue in Hom en glo dat daar ’n rede vir dit is. Dat Hy alleen weet hoekom Hy my sig weggeneem het.”

Die eerste breingewas is verwyder en Roderick het ’n bietjie van sy sig teruggekry. Maar toe ontwikkel ’n tweede gewas in 2012 net toe sy lewe weer op dreef is en ’n derde een is verlede jaar ontdek. Dis ook verwyder, maar nou is hy in daardie senutergen­de fase waarin dokters met behandelin­g probeer keer dat dit wéér teruggroei . . .

Behalwe sy sig en sy werk het Roderick ook die liefde van sy lewe verloor toe die eerste gewas toeslaan. In daardie stadium het die vrou in sy lewe hom ook in die steek gelaat toe sy hom verneuk het. Maar Roderick het jare later weer liefde gevind by Miché Roiley (29) van Steenberg buite Kaapstad.

Volgens Roderick wys dit net hoe God al die tyd met ’n plan gewerk het, want Miché is blind en hy sou haar dalk nooit ontmoet het as hy nie ook sy sig verloor het nie.

Ek mag dalk nie fisies kan sien nie, maar ek ‘sien’ wat saak maak en dít is wat belangrik. Roderick Witbooi

Vandag het hulle ’n dogtertjie, Roché (3), wat nie blind is nie.

Dis reeds vir Roderick baie moeilik om te aanvaar dat hy dalk nooit sal weet hoe sy dogter lyk nie of dat hy nie sal kan sien hoe sy eendag op haar troudag gaan lyk nie.

Maar hy het reeds ver gevorder deur homself as aromaterap­eut te kwalifisee­r om geld te verdien. En as jy hom aan die werk sien, sal jy nooit glo hy is blind nie. Hy gebruik nie baie ’n loopstok nie en dra ook nie bril nie.

Hy het seker gemaak hy leer sy omgewing ken sodat hy nie permanent met ’n stok hoef te loop nie. Sy eerste stok is aan hom geskenk, maar hy het probeer om vir kilometers daarsonder te stap en het selfs alleen winkel toe gestap sodat hy nie van ander afhanklik hoef te wees nie.

Omdat hy so onafhankli­k is en hy sy ander sintuie so goed laat ontwikkel het, het hy ’n natuurlike aanvoeling gehad vir dit wat rondom hom aangaan. Dit het hom nie net gehelp om te weet wanneer daar goed in sy pad is nie, maar dit het hom ook met sy masserings en aromaterap­ie gehelp.

“Toe ek nie meer by die welsyn kon werk nie, moes ek iets anders soek om te doen. Ek kon nie net by die huis sit en niks doen nie. Ek is iemand wat daarvan hou om besig te wees,”sê hy.

Tydens sy welsynwerk het Roderick kinders uit gevaarlike omgewings gehaal en hulle op veiliger plekke geplaas. Dit het hom laat besef hy moet dieselfde vir homself doen.

“Jou attitude bepaal alles en jy het ’n keuse om elke dag gelukkig of hartseer te wees. Toe ek met die aromaterap­ie begin, het ek besef daar is so baie wat ek met my hande kan doen sonder om te kan sien en ek het dit regtig begin geniet. My opleier het gesê ek is ’n natural en dat ek ’n spesiale aanvoeling vir mense het. Ek kan vir jou sê wat met jou fout is voordat ek nog aan jou raak.”

Roderick kan mense se energie voel en as hy op jou konsentree­r, kan hy deur jou energie op sy lyf voel waar jy pyn het en waarop hy tydens die massering moet konsentree­r. Hy gebruik dan pressure points en massering saam met sy aromaterap­ie om vir mense verligting te bring en hulle te laat ontspan.

Hy voel dit is juis hierdie spesiale aanvoeling vir mense se pyne wat sy kliënte laat terugkom.

Volgens Roderick is daar min mense wat dadelik agterkom dat hy blind is, veral omdat hy die meeste van die tyd sonder ’n stok en ’n bril loop.

nog slegte nuus

Maar net toe hy dink sy lewe is weer op koers, het ’n tweede gewas in 2012 ontwikkel en dokters moes daardie een ook verwyder. Roderick sê dokters het nie baie hoop gehad nie omdat die gewas groot was en op ’n sensitiewe plek gesit het.

“Ek kon nie glo toe ek hoor ek het ’n tweede gewas nie. Maar daardie keer was ek nie so bang soos die eerste keer nie omdat ek geweet het wat om te verwag. Maar dis nooit ’n maklike ding om deur te maak nie en kon dit net doen met die liefde en ondersteun­ing van familie en vriende,”sê Roderick.

Soos met die eerste gewas, het Roderick aan sy geloof vasgeklou. Die tweede gewas is suksesvol verwyder en dit was vir hom nóg ’n bewys dit was nog nie sy tyd om te sterf nie.

Die tweede operasie het egter sy laaste bietjie sig weggevat. Hy het die tweede keer makliker herstel, maar die lewe het weer vir hom emosionele uitdagings gegee toe hy in hierdie tyd met sy vorige meisie uitgemaak het.

Maar al hierdie uitdagings het Roderick laat besef dinge gebeur in die lewe en hy moet aanbeweeg.

Gelukkig het hy vir Miché, sy meisie van die afgelope ses jaar en ma van sy kind,

ontmoet.

Al weet hulle nie hoe die ander een lyk nie, ken hulle mekaar se siele en is dit genoeg vir hom, sê Roderick.

Die dag van Roché se geboorte, drie jaar gelede, was een van die gelukkigst­e dae in Roderick se lewe, maar ook een van die moeilikste.

Almal droom van daardie dag wanneer jy jou baba vir die eerste keer kan sien, maar Roderick en Miché moes staatmaak op hul ouers om vir hulle te beskryf hoe hul dogtertjie lyk.

Voor hy verder praat, wel die emosies weer in hom op. Sy trane loop en hy bly vir ’n oomblik stil voor hy vertel hoe sy ouers sy en Miché se oë moes wees.

“Roché het groen oë, is lig van kleur en het ’n baie mooi glimlag. Wanneer sy kwaad is, lyk sy soos ek en wanneer sy glimlag, lyk sy soos haar ma. Só het ander mense ons vertel,”voeg Roderick by.

Maar al kan hy haar nie fisies sien nie, gee hy nie om nie en het hy vrede daarmee gemaak. Hy glo nog vas dat hy haar eendag sal sien.

“Ek hoef Roché nie fisies te sien nie, want die siel is meer belangrik en dit‘sien’ek elke dag. Sy is my inspirasie en die rede hoekom ek nog glo dat ek weer sal kan sien. Ons het nooit vir haar verduideli­k ons is blind nie, maar dis asof sy net weet. Voor Roché kon praat, het sy ons uit die pad uitgestoot as sy sien ons gaan teen iets loop en noudat sy kan praat, sal sy altyd vir ons sê wanneer ons versigtig moet wees,” vertel hy met ’n trotse glimlag.

stryd is nie oor nie

Maar soos die noodlot dit wil hê, midde-in een van die gelukkigst­e tye in sy lewe, sak Roderick inmekaar op 7 November verlede jaar op ’n bus op pad werk toe. Soos met albei van sy vorige breingewas­se, was daar nie veel teken iets is fout nie, maar dokters het toe ’n derde breingewas ontdek.

Dit was die grootte van sy duim en het binne agt dae so groot soos ’n tennisbal gegroei.

Hierdie keer het hy regtig gedink hy gaan dit nie maak nie, maar dokters het gesê hy is net betyds hospitaal toe ge- bring. Dokters kon nie die hele gewas verwyder nie en Roderick moes die afgelope paar maande bestraling ontvang om die bietjie wat oor gebly het, te probeer krimp.

“Ek glo wanneer ek nou in Oktober teruggaan dokter toe, sal daar niks meer oor wees nie. Dalk sal ek selfs eendag weer kan sien, maar as ek nie weer my sig terugkry nie, sal ek steeds met trots my dogter skool toe stap en ek sal nie hartseer wees nie. Ek mag dalk nie fisies kan sien nie, maar ek sien wat saak maak en dít is wat belangrik is.”

Baie van ons kan onsself nie eens indink hoe dit moet voel om soos Roderick jou sig in ’n oogwink te verloor nie. Maar hy wys dat selfs in ons donkerste tye, het ons iets om voor te lewe en kan jy steeds ’n verskil maak.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? LINKS: Roderick, sy meisie, Miché Roiley, en hul dogter, Roché Witbooi. ONDER: Hier is hy besig om een van sy kliënte te masseer.
LINKS: Roderick, sy meisie, Miché Roiley, en hul dogter, Roché Witbooi. ONDER: Hier is hy besig om een van sy kliënte te masseer.
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa