Kuier

Vrou smaak sukses met hoenders

Sy ril net mooi niks vir bloed of binnegoed nie. Al het sy niks aan die begin van slag geweet nie, besit en bestuur sy nou haar eie abbatoir. DEUR ERNUSTA MARALACK

-

Daar is nie baie vroue wat hul hande sal opsteek as jy vra of hulle bereid is om hoenders vir ’n lewe te slag nie. Net die blote gedagte sal sommige laat ril, maar dis presies wat Essolita Poole (49) elke dag doen en sy sal dit vir bitter min dinge verruil. Essolita van Hopefield buite Kaapstad is die eienaar van Hopefield Abbatoir en lag alte lekker wanneer ons uitwys om met hoenders te werk, is nou nie juis almal se droomloopb­aan nie. Jy moet dan met bloed werk! Maar sy sê sy leef haar droom, want sy het vir baie lank gedroom om haar eie kleinhoewe te besit en ’n plaasbesta­an te voer. Sy wou wegkom van die gewoel van Mitchells Plain waar sy grootgewor­d het. Vir jare het Essolita daarvan gehou om naweke na vriende op Malmesbury (sowat 65 km weg van Hopefield) te gaan en te help om hul hoenders te voer, skoon en ook groot te maak. So, toe die geleenthei­d hom hier teen 1999 voordoen dat sy en haar man, Tyron, ’n kleinhoewe op die klein dorpie Hope- field kan koop, was dit die teken waarop Essolita gewag het. Toevallig het die kleinhoewe ’n abbatoir ook gehad en hoewel sy en haar man nie baie kennis gehad het hiervan nie, het hulle besluit om ’n kans te waag en hoenders te slag.

Essolita het in die apteek by Groote Schuur-hospitaal gewerk, maar het haar loopbaan en die Kaap verlaat vir ’n lewe op Hopefield. Hoewel die abbatoir-besigheid en die sakewêreld onbekende terrein vir haar was, het Essolita dit baasgeraak en is sy vandag, 16 jaar later, ’n bekroonde entreprene­ur wat ander vroue help om kos op die tafel te sit. Essolita se abbatoir is ook die enigste geregistre­erde abbatoir wat oop is vir die publiek en Kosher-hoender (ingevolge die Joodse geloof) slag.

Hulle kan tot 850 hoenders per dag slag, sê Essolita trots. Dis ook nie al wat hulle slag nie, hulle slag ganse en hase ook.

Essolita het ook haar oudste dogter, Kim (30), só geïnspiree­r dat dié nou ook op ’n kleinhoewe op Hopefield bly en self ’n hoenderbes­igheid begin het. Sy gaan die besigheid in die familie hou en haar hoenders by haar ma kom slag, sê Kim laggend. Sy hanteer ook die administra-

tiewe take van Hopefield Abbatoir terwyl Essolita meer hands-on met die eintlike slagproses­se is. (Essolita het ook twee seuns, Keegan, 22, en Lee, 18.)

Met ons aankoms by Hopefield Abbatoir wag Essolita ons in met ’n wit jas en gumboots aan. Sy groet met goedversor­gde hande en naels en ’n netjiese ponytail en vir ’n oomblik wonder jy of sy nou regtig die“abbatoir-vrou”is? Sy lyk eerder soos ’n gesondheid­sinspekteu­r wat net die dag kom besoek doen.

Maar dis wanneer Essolita oor haar besigheid begin praat dat dit duidelik word hierdie vrou weet waarvan sy praat én is passievol oor wat sy doen.

Met karre wat die heeltyd buite stop soos wat gewone mense hul hoenders en ganse aflaai om geslag te word en die klanke van werksaamhe­de in die abbatoir langsaan haar kantoortji­e, sê Essolita gemaklik daar was ’n tyd wat baie mense getwyfel het of sy bekwaam is om ’n abbatoir te besit en te bestuur.

“Omdat ek bruin is, kom baie mense en vra wie is in charge. As ek sê dis ek, sal hulle dieselfde vraag twee keer vra. Aan die begin het dit my gepla, maar toe het ek hulle gewys ek weet waarvan ek praat. Ek is oop vir die klein man daarbuite – die ou met die twee ganse, 20 of 100 hoenders, ons slag vir hulle,” sê Essolita.

NIKS GEWEET NIE

Sy erken voor sy in die hoenderbed­ryf ingegaan het, het sy nie veel geweet nie. Sy het net geweet hoe om na hoenders te kyk en geweet sy hou daarvan. Dis hoekom sy so gehunker het om uit Mitchells Plain na ’n rustiger omgewing toe te trek.

Sy en haar man het gekyk na kleinhoewe­s en hul droom het waar geword toe iemand hulle in die laat negentigs kontak om te hoor of hulle nog in een belangstel.“Die man het ons uitgebring na die kleinhoewe toe en‘lo en behold’, is hier ’n abbatoir wat een keer ’n week geslag het!” Nadat hulle die kleinhoewe gekoop het, het Essolita nog in die Kaap gewerk terwyl haar man op die kleinhoewe in Hopefield besig was om dinge reg te kry. Hulle het nog kontantvlo­ei nodig gehad terwyl hulle gewerk het om die besigheid behoorlik aan die gang te kry. Essolita het dan naweke Hopefield toe gegaan. Sy het ook daaraan gewerk om verbeterin­gs aan hul huis in Mitchells Plain aan te bring sodat hulle die waarde daarvan kon verhoog. Hulle het hul huis verkoop om die grond op Hopefield te koop en hul plaasbedry­wighede te befonds.

“Ek wou in die veld tussen diere wees, so my swaer het aangegaan met die abbatoir. Maar toe hy teruggaan Kaap toe, het ek die abbatoir oorgevat. Met die slagtery was daar ’n klomp bloed, maar omdat ek in ’n hospitaal gewerk het, het ek bloed geken.”

Sy vertel voorts besigheid was destyds baie min en hulle het daarom net een keer per week geslag. Essolita sê ’n inspekteur het toe elke maand by die abbatoir omgekom en sy het seker gemaak sy verstaan wat die vereistes is en het elke keer probeer verbeter.

Maar die besigheid was nie ’n wegholsuks­es nie en daar was baie onkostes aan die begin wat sy self gedra het, sê Essolita. Sy het nie geweet waar om vir hulp aan te klop nie of dat haar abbatoir geregistre­er moet wees nie. Mense het haar aangemoedi­g om die departemen­t van landbou te nader vir hulp om verbeterin­gs aan te bring. Sy het dit gedoen en hulp gekry, maar nie geld in die hand nie.

Essolita het ook ingeskryf vir entreprene­urkompetis­ies en het al in Land

bouweekbla­d verskyn. “Die publisitei­t het baie gehelp, want mense se grootste probleem was dat hulle nie ’n afsetgebie­d vir hul hoenders gehad het nie.”

Hoe meer mense van die publiek van Hopefield Abbatoir gehoor het en hul dienste begin gebruik het, hoe besiger het hulle geraak. Toe hulle ook die Koshermark begin bedien, het dit haar besigheid ’n verdere hupstoot gegee.

“Ek en my man het niks van die Koshermark geweet nie. Dit was ’n heel nuwe ervaring. Ek het só baie geleer. Met die Kosher-proses het ons meer uitgawes, so hulle betaal dubbel, want hierdie slagproses is baie intens,” vertel Essolita.

Nadat die besigheid so baie verbeter het, kon sy permanente werk aan 14 mense (waaronder drie mans) en so 20 ander vroue verskaf.

Werkskeppi­ng is baie belangrik vir Essolita, dis hoekom sy so hard werk om Hopefield Abbatoir aan die gang en winsgewend probeer hou.“Ek kom uit die Kaap uit en sien die tekortkomi­nge hier op Hopefield. Selfs as jy ’n brood of ’n pot kos op die tafel kan sit, maak dit ’n verskil.”

LESSE GELEER

Om jou eie besigheid te bestuur, is nie altyd maanskyn en rose nie, maar dit het vir Essolita waardevoll­e lesse oor entreprene­urskap geleer. Een van die grootste lesse wat sy geleer het, was om seker te maak sy hou van wat sy doen en om ’n gehaltepro­duk aan die mense te verskaf sodat goeie word of mouth kan uitgaan oor jou besigheid. Daar gaan beslis ook goeie én slegte tye wees,“maar ons het nooit opgegee nie”.

Sy het ook raad vir iemand wat die hoenderbed­ryf wil betree:“Kry ’n mark anders lê die hoender in jou freezer. Kyk ook na jou hoenders. Hoenders wat in nat hokke lê, kry skubbe. Jy sal ’n hoender soos ’n baba moet grootmaak, want dit vat hulle ses weke van geboorte af voor hulle geslag kan word.”

Essolita is bly sy put soveel genot uit haar besigheid, maar droom dat vroue mekaar baie meer aan die hand moet vat, markte vir hul produkte moet kry sodat hulle werk kan skep en sáám vorentoe kan gaan.

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Essolita Poole staan trots by haar hoenders. VAN LINKS: Essolita en haar werkers maak hoenders skoon.
HOOFFOTO: Essolita Poole staan trots by haar hoenders. VAN LINKS: Essolita en haar werkers maak hoenders skoon.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa