WAT DIE HART VAN VOL IS
Woorde dra krag en dit word selfs kragtiger as jy daarin glo. Maar bepaal gesegdes of sogenaamde wyse woorde jou lewe?
Veni, vidi, vici! (Latyn vir: Ek het gekom, ek het gesien, ek het oorwin!)
Die welluidende uitspraak kom van Julius Caesar nadat hy blitsvinnig ’n opstand in een van die Romeinse provinsies onderdruk het. Kragtige woordspeling vir ’n ewe kragtige uitspraak.
Idiome, spreekwoorde en gesegdes is al van lankal af deel van die mens se daaglikse kommunikasie.
Dis tragies dat dit veral negatiewe gesegdes is wat dikwels aangehaal en voorgehou word om ongelukkige lewensomstandighede gelate te aanvaar en te rasionaliseer.
Idiome, uitdrukkings en gesegdes hoef nie jou se lewe te dikteer nie.
Albei my ouers was relatief ongeletterd. My ma het in haar volwasse jare ’n bietjie aandskool gegaan en kon later met moeite uit die Bybel lees en haar eie naam met groot inspanning in ’n bewerige handskrif skryf.
Vandat ek my verstand gekry het, het my ma by wit mense in service gewerk om my pa se inkomste aan te vul.
In hul eenvoud en armoede het my ouers hul bes gedoen om hul kinders “gelerentheid”te gee. Onder moeilike omstandighede het ons winter en somer trotseer om by die skool uit te kom.
Ekonomiese en sosiale uitdagings het ons uiteindelik in een van die dorp se agterbuurtes laat beland. Uiterste armoede het in hierdie agterbuurt geheers en sosiale euwels was aan die orde van die dag.
Tog het ek my skoolwerk ernstig opgeneem. Oor naweke moes ek dikwels wag tot ná die middernagtelike ure, totdat
Die spreekwoord sê so, daarom moet dit seker maar so wees! En só word ons slawe van ons eie konvensies.
die rumoer en gewoel in en rondom ons huisie eers tot bedaring kom, voordat ek by kerslig kon studeer. Hoewel ek gereeld om die topposisies in my standerd meegeding en baie keer ook bo uitgekom het, het min indien enige van my onderwysers vir my ’n akademiese toekoms ná matriek voorsien.“Dit is net ryk mense se kinders wat kan universiteit toe gaan,”moes ek dikwels aanhoor. Ek het gefokus gebly op my doelwit om die beste van my studies te maak. Ná matriek kon ek met spaargeld wat ek uit vakansiewerk verdien het, by die universiteit inskryf. Beurse, lenings, toekennings, deeltydse werk en ander meevallertjies het my verder deurgedra. Ek het ’n sukses van my studies gemaak en daarmee dié skynbaar retoriese vraag suksesvol uitgedaag:“Kan daar iets goeds uit Nasaret kom?”Ja, daar kán! Ek is ’n Paarliet, gebore en getoë. Ná nege jaar van senior lektorskap aan die universiteit, kon ek nie in my tuisdorp ’n permanente betrekking kry nie. Die uitdrukking:“’n Profeet word nie in sy eie land geëer nie”, kom dan instinktief by ’n mens op. Ek het egter vir myself gesê: As ’n profeet nie in sy eie land geëer word nie, moet hy seker na ’n ander land toe gaan. En dit is presies wat ek gedoen het. Ná verskeie aflosposte aan skole in die Wes-Kaap, is ek uiteindelik in Montagu by ’n voormalige model C-skool permanent aangestel. Daarna het sake net beter verloop.
Ek glo nie blindelings aan die beskouing “Alles gebeur met ’n doel”nie. Ek glo wel dat ’n mens die beste moet maak van enige situasie waarin jy beland. En wanneer jy terugdink, sal die volle impak van jou betrokkenheid – vir jouself, maar ook vir ander – wel duidelik blyk.
Myns insiens onderwerp baie mense hulself té geredelik aan uitdrukkings en gesegdes met negatiewe konnotasies, asof hul lot daarmee in graniet gegraveer is.
Uitdrukkings, spreekwoorde en gesegdes is bloot linguïstiese formules wat poog om bepaalde“lewenswaarhede”kripties, aangenaam en soms op ’n snaakse wyse te sê. Geskiedenis bewys egter dat sulke taaluitinge nie oral en altyd waar is nie.
Die gevaar bestaan egter dat dit mettertyd kan groei tot konvensies wat as rigied en bepalend beskou word. Die spreekwoord sê so, daarom moet dit seker maar so wees! En só word ons slawe van ons eie konvensies.
Menige konvensie het al verkrummel voor die aanslag van ’n vasbeslote gees, onwrikbare geloof en deursettingsvermoë. Dít is wat die lewe so interessant én opwindend maak!