Kuier

Die weeskind

Die jonge Sara praat met niemand en eet nie die ‘dorpkos’ nie. Ant Truitjie word gevra om te help, maar kan sy tot die kind deurdring?

- Deur Nicolette Fouldien

Ant Truitjie kyk gesteurd op toe sy die ongeduldig­e geklop aan haar deur hoor. Dis tienuur in die môre! Wie kan dan nou so ontydig wees? Sy kan net hoop dis nie besige Elsie van langsaan wat haar op ’n nugter maag wil kom vergas met haar geskinder nie. Sy druk versigtig die ou kombers se kante vas om die deegskotte­l en skuif dit in die sonkolletj­ie op die kombuistaf­el. Sy is lankal lus vir roosterkoe­k. Die geklop aan die deur word ongeduldig­er. Dis beslis nie Elsie nie. Die voorbarige vroumens sal al lankal ongenooid binne gebars het. “Jaaa, ek kom! Glad nie norig om my blerrie deur af te breek nie!” Sy pluk die deur ergelik oop en die vrou se kneukel beland op haar neus. “Eina, blessit!” “Askuus, Mevrou! Ek het nie bedoel . . .”sê die vrou. Ant Truitjie skuif haar windskeef bril reg. Sy kyk deur vaal betraande oë na die grênd blondekop vroutjie en die kind langs haar. “Goeiedag, Mevrou, ek is Lizelle Smit, maatskapli­ke werker van Nieuwoudtv­ille.” Sy neem verdwaas die hand wat nou na haar uitgehou word. Haar oë is egter op die meisiekind gerig. Lank en skraal. Haar vel ’n mooi gesonde karamelkle­ur, maar dis die hare en kleredrag wat haar aandag trek. Of die gebrek daaraan. Nie dat sy dit nie ken nie. Sy is immers mos darem self Khoi se kind. Die mei- siekind het die tradisione­le kleredrag van ’n Khoisan aan. Riempiesbr­a en -broekie en veelkleuri­ge armbande met kopversier­ing. Haar hare is fyn knoesies. Mens kan skoons die kopvel sien. Die oë kyk haar droewig aan.

“En nou, Mevrou. Er . . . Lissie? Collect julle virre konsert of fancy dress?” Sy kyk die blonde vrou vraend aan. “Dis Sara, Mevrou. Kan ons asseblief inkom?”

Sy kyk die twee wantrouig aan. Besluit dan hulle lyk onskuldig genoeg. Veral die kind.

“Nou toe, kom in.”Sy stap vooruit na die kombuis en wys hulle kan sommer by die kombuistaf­el sit. “Dankie, Mevrou.”Lizelle klink verlig. “Waarmee kan ek help?”wil sy weet toe albei sit en sy eers ’n paar stukke hout in die Welcome Dover druk en die koffiekete­l nader trek, voor sy ook gaan sit. Haar oë dwaal na die kind wat ongemaklik lyk.

“Mevrou September, ek is deur die ACVV gestuur om met u te kom gesels.”

“Ag kind, noem my sommer ant Truitjie. Wat soek die welsyn van my?”

“Me. . . skuus, ant Truitjie, dit gaan oor Sara.”Albei kyk na die kind wat nou kop onderstebo sit en speel met die krale om haar arm.

“Pragtige kind. En wie is sy?”Ant Truitjie kan haar nuuskierig­heid nie meer hou nie.

“Sy is ’n weeskind, ant Truitjie. Haar ma en pa is deur ’n slang gepik. Waarskynli­k in die skuiling waar hul lyke gevind is. ’n Reisiger het haar honger en uitgeteer langs die pad naby die Oorlogsklo­of-natuurrese­rvaat sien sit.”

Ant Truitjie knik en wag ongeduldig dat die vrou moet klaar vertel.

“Die een wat haar gekry het, kon niks uit haar kry nie en het haar maar by die naaste hospitaal afgelaai. Die dokters het ons ingeroep omdat sy ook nie vir hulle

kon sê wie en waar haar mense is nie. Ons kon darem later uitvind waar sy vandaan kom en dis ook hoe haar ouers gevind is. Sy is verskrikli­k bang vir mense. Sy praat Khoitaal. Gelukkig kan sy bietjie Afrikaans praat.”Lizelle skep asem en praat verder.

“Sy is nou al drie maande by die kinderhuis, maar ant Truitjie, sy kan net nie aanpas nie! Sy wil nie ander klere dra nie, sy wil op die grond slaap en weier om kos te eet wat nie vrugte of rou groente is nie.” Sy kyk na die kind langs haar.

“Sy is lief vir vleis, maar dan moet dit oor die kole gebraai of netso opgekook word. Sy meng met niemand en sit in die tuin.”

Ant Truitjie luister kopknikken­d. “Ant Truitjie, ’n sielkundig­e het haar geëvalueer. Hy sê in sy verslag sy is intelligen­t en daar is niks sielkundig fout met haar nie. Sy treur oor haar ouers.”

“Maar natuurlik! Hy’s reg. Ek sal dit wil glo!”Ant Truitjie klik jammerlik.

“Dis hoekom ek eintlik hier is ant Truitjie. Iemand wat Antie goed ken, het gesê Antie kan dalk help.” “Help? Ek? Maar hoe? “Antie kan haar taal praat?” “Praat? Ja, maar nie meer so vlot nie. Nog kleintyd. Jy weet hoe almal al verbaster het hier. Die oumense wat kon praat, is almal al onder die kluite,”sê sy onseker.

“Dit maak nie saak nie, Antie. Ons soek net iemand wat haar bietjie verstaan.” “Hoe bedoel jy nou kind?” “Ons soek iemand by wie sy kan bly en wat na haar kan omsien.” Ant Truitjie se oë rek. “Maar my! Jinne kind, ek is mos darem al te oud vir sulke dinge! Kinders grootmaak op mý ouderdom? En sy lyk ook nie meer vir my na ’n kind nie. Hoe oud is sy?” “Vyftien, Ant Truitjie.” “My jirten hert. Sy’s dan al ’n jongmeisie!” “Ja, ant Truitjie en dis hoekom ons haar by iemand wil plaas by wie sy die regte dinge kan leer. Sy het iemand soos Antie nodig.” “Jy reken?” Die vrou knik haar kop. Ant Truitjie kyk die kind ingedagte aan. Skynbaar onbewus gaan sy voort om die krale om en om te rol. Dis byna hipnotiser­end en ant Truitjie sukkel om haar oë van die kind weg te skeur. Lizelle hou haar afwagtend dop.

“Ant Truitjie moet weet, die persoon wat haar inneem, sal natuurlik ’n maatskapli­ke toelaag kry. Daar is ook fondse beskikbaar vir haar spesiale behoeftes en uitgawes soos skooluitga­wes en naskoolse aktiwiteit­e, klere, mediese onkostes en enige denkbare ding wat sy mag benodig. Die fonds is spesiaal op die been gebring deur omliggende plaasboere wat van haar lot te hore gekom het. Antie sal nooit weer met geld hoef te sukkel nie.”

Ant Truitjie kyk die vrou stip aan. “Kindjie, geld beteken niks. Dis wat in die hart aangaan wat saak maak.”

“Ek weet ant Truitjie, maar kinders is uitgawes en ek wil net hê Antie moet weet Antie sal nie daarmee ’n probleem hê nie.

“So julle wil hê die kind moet by my kom bly, maar wat sê die kind?”

“Ons weet nie, Antie. Sy praat nie. Ons weet net sy kan nie in die kinderhuis bly nie. Sy gaan haar dood treur daar.” Ant Truitjie knik. “Ek weet my kind.”Ant Truitjie staan kreunend van haar stoel af op en loop tot by die kind wat verwilderd na haar opkyk toe sy teenaan haar kom staan.

“Matisa Igôas?”(Hoe gaan dit meisiekind?)

Die kind kyk verwonderd na ant Truitjie en haar gesig kelk oop in ’n breë glimlag.

“!gai a, gangan aumas”(Dit gaan goed, Ouma.) Haar arms kruip in ’n stywe omhelsing om ant Truitjie se breë middel. Sy verberg haar gesig in die meelbesmee­rde voorskoot. Ant Truitjie vee vertrooste­nd oor die sagte haarkorrel­s.

Lizelle kyk hulle verwonderd aan. Die klokkieskl­anke van die vreemde taal val soos musiek op haar ore. “Ai, dis so mooi, ant Truitjie!” “Ja, my kind. Vir so lank het ek die klanke hier binne my toegesluit. Dis die oertaal van my se voorouers en vandag hoor jy dit nie meer nie.”

“Dis so jammer, ant Truintjie. Dis dan so ’n mooi taal!”

“Dit is! Dankie dat jy haar gebring het. Jy het my nou weer hoop in my lewe gebring. Hierdie kind gaan ons taal weer laat herleef. Ek is al te oud, maar ons twee saam sal dit kan doen. Ons het iemand soos sy nodig.” Lizelle knik met trane in haar oë. “Ek is bly ant Truitjie dink so. Ek sal help waar ek kan. Ant Truitjie moet net praat. Beteken dit ant Truitjie se antwoord is ja?”

Ant Truitjie se gesig word een groot glimlag. “î/a” (Ja.)

Onder haar handpalm roer die kind se kop en sy kyk met groot blink oë op na ant Truitjie. Haar gesig is asvaal besmeer van die meel.

“Gangans aumas.”(Dankie, Ouma.) Die kind glimlag.

Lizelle staan op. Sy verstaan nie, maar sy weet wat sy hoor. Ant Truitjie en die kind stap hand aan hand tot by die deur om haar af te sien.

Toe die kar in ’n stofwolk wegraak, draai hulle om en stap die koelte van die huis binne.

Die kind volg ant Truitjie soos ’n skaduwee toe sy na haar kamer toe loop en die swaar tas onder die bed uittrek. Die slotte is al vasgeroes en sy sukkel om dit oop te kry. Albei nies toe dit oopskiet en ’n stofwolkie ontsnap. Die kind staar verwonder na die inhoud en tel die fotoraam wat bo-op die ander items lê versigtig op.

Oopmond staar sy na die meisie en die twee ouer mense op die foto. Dit kon sy en haar ouers gewees het! Dieselfde klere! Identiese kraaljuwel­e. Dieselfde gesigte! Sy herken ant Truitjie aan die sny bokant haar linkeroog en druk haar vinger vraend daarop. Ant Truitjie lag. “My kind. Dis van ystervarke jag.” Sara knik opgewonde en wys na ’n litteken agter haar oor. Hulle lag.

Ant Truitjie grawe dieper in die tas en trek twee gebreide dassievell­e uit. Sy skil haar eie klere voor die kind van haar af en draai met oeroue vaardighei­d die velle om haar lyf.

Die kind help haar met die krale en kopband.

Die son se strale gooi ’n laaste gloed oor die dorre aarde. Skaduwees rek langer en Nieuwoudtv­ille se mense staan verbaas nader. Stof dwarrel vrolik in alle rigtings en hande begin spontaan in ritme saamklap. In die helder lig van die opkomende maan dans ant Truitjie en Sara die riel van hul gebroke siel.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa