Kuier

LEWENSDRAM­A:

Hy’s sonder rede só wreed aangeval dat jy jou hand in sy gapende kopwond kon druk en dis ’n miracle dat hy sy storie kan vertel . . .

- DEUR Marteli Brewis

Man van Kaapse Vlakte aangerand en vir die dood gelos

mitchells Plain op die Kaapse Vlakte is berug vir bendegewel­d en gruwelike misdade. Tog het John de Klerk (36) nooit gedink hy sal ’n slagoffer van geweld in sy eie woonbuurt word nie. Maar in Februarie vanjaar, skaars ’n paar blokke van sy huis af, het ’n pap wiel gelei tot gebeure só grusaam dat dit sy lewe onomkeerba­ar verander het.

’n Mens kan nie dink dat, selfs in SuidAfrika waar misdaad en geweld alledaags geword het, een mens iemand anders so vol haat en sonder rede, intens sal seermaak met die doel om hul lewe weg te ruk nie.

John is op 4 Februarie só wreedaardi­g en sinneloos aangerand dat dokters geen hoop gehad het dat hy ooit weer iets vir homself sou kon doen nie. Inteendeel, noodperson­eel het hom op die toneel dood verklaar. Met ’n kopwond so diep dat ’n volwassene se hand daarin kon pas en die skade wat hy opgedoen het toe sy vermeende aanranders nie net een keer nie, maar twee keer bo-oor hom gery het, sou niks anders as ’n wonderwerk, ’n ingryping van Bo, hom kon red nie.

Sy vrou, Shané (26), se onwrikbare geloof in haar man en dat God hom sál genees al sê medici wat, was die draaipunt.

John, eens ’n sterk en gesonde man, moes ná die aanval weer soos ’n baba alles van vooraf leer. Nie net hoe om te loop nie, maar ook wat voorwerpe se name is, hoe om te praat en te eet. Tog het hy besluit om terug te veg en nie net te oorleef nie, maar te oorwin. Sy een been sleep wel, maar hy kan weer loop en hy het alle mediese voorspelli­ngs – dat hy nooit weer ’n normale lewe sal lei nie – verkeerd bewys.

En al het hy die byna onmoontlik­e reggekry (om sy aanvallers wat nooit aange- keer is nie, te vergewe), is elke oomblik van daardie verskrikli­ke nag in sy geheue vasgebrand. Dit klink soos iets uit ’n horror fliek en jy kan nie glo John is nog hier om sy storie te vertel nie . . .

Die dag van die aanval het begin as ’n doodnormal­e dag. John, op daardie stadium ’n bestuurder by ’n koeriermaa­tskappy en ’n veelsydige carpenter, was op pad huis toe nadat hy mense ’n rygeleenth­eid Wolseley (sowat 130 km buite Kaapstad) toe gegee het.

Naby sy huis het hy ’n pap wiel gekry en by die petrolstas­ie langs die pad ingetrek om dit om te ruil. Hy was alleen daar. ’n Groot, swart SUV het langs hom opgetrek en tien mans het uitgesprin­g om hom te roof, te tart en aan te rand. Van hul gesigte is vir ewig in sy geheue gekerf. ’n Herinnerin­g aan die nag wat so amper sy lewe gekos het.

“Hulle het my van die ingang van die garage tot by die laaste pomp geskop en geslaan,”onthou John. Daarna het hulle in die SUV geklim.“En toe draai hulle en hulle ry oor my. Die linkerkant van my kop het vasgehaak aan iets wat onder die kar uitgesteek het en hulle het my aan my kopvel saamgeslee­p onder die kar vir ’n ent.”

Toe die aanvallers dít agterkom, het hulle met hom rondgery totdat hy losgehaak het.“Daarna het hulle weer vir ’n tweede keer bo-oor my gery en toe weggejaag.”Hy kan elke folterende oomblik van die gruwelike ervaring onthou totdat hy sy bewussyn verloor het. Sy kar, wat hy aangeneem het sy vermeende aanvallers dalk wil kaap, het hulle net daar laat staan.

Dit het om die draai van sy ma, Eileen (64), se huis gebeur en mense het haar amper onmiddelli­k gaan roep.“Ek het geslaap. Dit was omtrent so 3:15 toe my next door neighbour my kom wakker maak en gesê het ek moet kom. John lê daar by die garage. Ek het nooit kon dink wat ek daar sou kry nie.”

Aan sy voete uitgeken

Toe Eileen daar kom, was John klaar in die ambulans.“Net sy linkervoet het beweeg,” onthou sy met trane in haar oë.“Hy het daar gelê soos een wat morsdood is. Ek het net sy hand gevat en gesê,‘Toemaar, als is orraait.’”

Die ambulans-noodwerker­s het John daar dood verklaar en vir haar gesê sy kan maar huis toe gaan. Daar is niks wat sy vir hom kan doen nie. Hulle het vir haar gesê om hom die volgende dag by Groote Schuur-hospitaal te gaan uitken.

Intussen het iemand vir Shané gebel om te sê John is in die hospitaal. Details was vaag en sy het aangeneem hy was in ’n klein motorongel­uk. By Groote Schuur aangekom, was daar vier mans op suurstof en masjiene en nie een het soos haar man gelyk nie.“Al die mans was gekoppel aan life support en ek het vir myself gesê dit kan darem nie só erg wees nie.”

Nadat sy ’n paar keer heen en weer geloop het, het sy uiteindeli­k vir John aan sy voete uitgeken. Sy gesig en die res van sy lyf was ’n“onherkenba­re gemors van gruwelike bloed en snye”.

“In sy kop was daar ’n gat so diep jy kon jou hele hand daarin druk,”onthou Shané.

John was gekoppel aan talle masjiene, aan sy regterkant was daar drie pype in sy sy.“Die breinchiru­rg het die volgende oggend vir my kom sê hulle moet opereer, anderste is daar nie ’n kans vir hom nie,” vertel sy. Maar Shané het geweier. Sy het geglo haar John sal dit maak.

Van vorige bladsy

“Nee, moenie die operasie doen nie. Gee vir John ’n kans. Ek weet wie hy is en ek weet Wie loop saam met hom. Gee hom ’n kans om self te herstel,”vertel sy.

Die dokters kon nie verstaan wat sy sê nie. Miskien het hulle gedink sy verstaan nie wat húlle sê nie – dat daar geen hoop was sonder die operasie nie. Tog het sy daarop aangedring dat hulle hom ’n kans gee om self, saam met God, te veg en gesond te word. Sy het geweier om die papierwerk te teken sodat hulle kon opereer.

“’n Span van vyf dokters het vir my ma en vrou gesê‘die man gaan dit nie maak nie, roep sy familie in sodat hulle hul laaste goodbyes kan sê,’”onthou John,“toe blaas die Here weer lewe in my liggaam.”

Die breinchiru­rg was stomgeslaa­n toe sy ná die naweek weer aan diens kom en sien John is nog daar.

“Toe sy sien dat hy nog lewe, dat hy ’n bietjie gevorder het, toe sê sy vir my‘I don’t know what happened or how it happened but it had to be magic! It’s a miracle,’” glimlag Shané. Sy het van die begin af net geweet hy gaan oukei wees.

John was egter vir amper drie weke in ’n koma. Niemand het geweet of hy wakker gaan word nie en indien wel, in watter toestand hy sou wees nie. Hy het gelewe, maar dinge het nie goed gelyk nie.

Terwyl hy in ’n koma was, het John, wat hy beskryf as“’n ervaring met die Here gehad”. Hy het baie goed gesien, maar die groot ding wat daar uitgekom het, was toe“die Here vir my gesê (het) ek moet my oortreders vrysit en vergewe”.

Toe word hy wakker uit sy koma, maar kon niks en niemand onthou nie, nie ’n woord sê nie, nie ’n tree loop nie.“Ek was so confused, skrikkerig en bang. Alles was vir my deurmekaar. Ek kon nie eens my eie vrou onthou nie,”vertel John.“Ek kon nie verstaan wie is hierdie vrou wat elke dag daar is, wat so aan my vat nie,”sê hy nou laggend. Toe was dit egter nie snaaks nie. Hy kon niks doen nie. Hy het alles vergeet. En hy was in ondraaglik­e pyn. Vir omtrent ’n hele maand het hy morfien gekry om dit te probeer beter maak.

“Dokters het vir my verduideli­k as iemand ’n stroke het, tas dit ’n deel van die brein aan en die function van daardie deel van die brein kry seer. Met die hou wat John oor die kop gehad het, het die linkerkant van sy brein seergekry, so dit affect sy regterkant. Net tyd sou wys of hulle daai breinselle weer kon wakker maak of nie,”vertel Shané.

ingryping van bo

“Dokters het vir my vrou gesê ek sal nooit weer in my ewige lewe loop nie, dat ek nooit weer sal kan praat nie, niks vir myself doen nie,”sê John. Maar, sê hy, dit was dokters se report, nie God s’n nie.

Vir Shané, wat dag en nag langs John se bed gesit het, was dit ’n traumaties­e ervaring.“Ek was verbaas. Toe hy sy oë oopmaak en hy kyk vir my en hy ken my nie. Ek kon nie verstaan dat hy my nie kan ken nie. Dit het my baie hartseer gemaak en ek het baie gehuil,”onthou sy tranerig.

Die verpleegst­er het vir haar verduideli­k die harde kophoue kon baie dinge veroorsaak en net nog toetse en tyd sou presies kon bepaal wat die permanente skade sou wees.

Hulle het vir Shané aangemoedi­g om gereeld vir hom foto’s van die familie te wys en hom van hulle te vertel, hul herinnerin­ge met hom te deel, in die hoop dat hy dalk sal onthou.

“Later van tyd kon ek sien iets kom by of hy raak meer gemaklik met my,”sê sy.

Hy was vir ’n maand en ’n half in Groote Schuur en in ’n rolstoel vasgevang. Sy regterkant was heeltemal verlam. ’n Donker depressie het hom oorrompel.

“Toe ek my vrou en ma begin herken,

het ek uitgebars van die huil,”erken John.

“Ek wou net huis toe gegaan het. Ek het selfs selfmoord in ’n stadium oorweeg.”

Shané was baie bekommerd oor sy negatiewe gemoedstoe­stand en het hulle pastoor en sy vrou gevra om met hom te kom gesels.

“Hulle het moed in my gepraat en my laat verstaan dat dit die beste plek vir my herstel op daardie stadium was. En dan was daar my vriend, Clayton Sam. Hy was van Maandag tot Maandag elke dag by die hospitaal en hy het my baie bygestaan,”sê John.

Daarna is hy oorgeplaas vir amper agt weke na Life Esidimeni se rehabilita­sieafdelin­g in Lentegeur, Mitchells Plain.

Clayton het hier ook elke dag al sy klasse saam met hom gedoen. Hier het sy geheue stukkie vir stukkie teruggekom en hy het goeie vordering begin maak.

Spraaktera­peute het dag ná dag vir hom prentjies gewys en hom weer geleer wat is wat.“Ek het nie eens geweet wat is ’n kat of ’n hond nie,”vertel John. Stadig maar seker het hy weer leer kommunikee­r. Aanvanklik was dit vreeslik frustreren­d.

“Ek het probeer skryf, maar dit het net vir my sin gemaak. Ek het woorde en letters omgedraai en niemand anders kon dit verstaan nie,”vertel hy.

John moes ook weer basiese funksies aanleer soos om te kommunikee­r en hoe om in ’n rolstoel te oorleef. Hy het egter só goed en so vinnig herstel dat personeel besluit het hulle kan met hom werk en dat hy langer daar moet bly om meer te leer.

Niemand sou egter ooit kon dink dat hy weer sal kan loop nie, veral nie sonder enige hulpmiddel­s nie. Tog het dit gebeur.

“Hulle het my in die kooi gesit die aand, my rolstoel langs my bed,”onthou John. “Toe ek die volgende oggend wakker skrik, was dit weg. Die nurse het vir my gesê iemand het my rolstoel buite gelos en dit het natgereën. Sy het gesê ek sal maar die hele dag in ’n gewone stoel moet sit of anders kan ek maar probeer loop. Ek was baie kwaad!”lag John.“Ek wou sommer dadelik huis toe gaan.”

Shané sê die personeel het gevoel John het te gemaklik geword in die rolstoel en hulle wou hê hy moet homself druk om te probeer loop.“Nou weet ek hulle was reg,” erken John,“ek sou vir ewig in die rolstoel gesit het as hulle my nie aangemoedi­g het nie. Dit het my moed gegee. Jy kry uit wat jy ingesit het. En . . .”sê hy verleë, maar gelukkig,“nou loop ek.”

Hulle het daardie dag vir John ’n loopraam gegee om mee te begin. Aanvanklik was sy heupe nie sterk genoeg nie en iemand moes hom ondersteun. Kort daarna het hulle vir hom ’n driepoot-kierie gegee. Dit was nie lank nie toe gooi hy die kierie oor sy skouer en begin sommer op sy eie loop! Op sy laaste dag by die rehab, het personeel vir John gevra om ’n motivering­spraatjie vir die ander pasiënte te lewer.

“Die rede hoekom ek so vinnig herstel het,”glo John,“is omdat ek besluit het om my aanvallers te vergewe, om hulle vry te stel van daardie aand, van dit wat hulle aan my gedoen het.”

Hy het hulle nie toegelaat om verder enigsins ’n invloed te hê op sy lewe nie.

John is vas daarvan oortuig as hy hulle nie vergewe het nie, sou hy vandag nog in ’n rolstoel sit en nie kon praat nie.

’n Maand ná die voorval wat sy lewe onherroepl­ik verander het, het John ’n SMS van die polisie ontvang om te sê die saak is gesluit omdat daar geen bewyse is nie.

John het sy bitterheid en verwyte laat vaar sodat hy op die toekoms kan fokus.

Hy bid nog gereeld vir sy aanvallers, dat hulle sal wegdraai van hulle slegte lewenswyse en na God toe sal draai.

“Alles kom met ’n prys. My prys was vergifnis,”meen hy. Vandag is John amper weer sy ou self. Ten tyde van die onderhoud het hy al vir ses dae opgehou met alle medikasie – insluitend slaappille, epilepsie- en pynmedikas­ie. “Ek voel lekker!”lag John.

Hy is vasbeslote om so normaal moontlik te lewe. Net een long werk behoorlik (sy ander long het platgeval), sy regterarm wil steeds nie werk nie en sy regterbeen sleep ’n bietjie, maar hy laat nie toe dat dit hom terughou of onderkry nie.

Hy het onlangs vir sy ma, met sy een werkende hand, ’n volle spoggerige ontbyt vir haar verjaardag gemaak.

“Dit maak my nog altyd seer as ek hom so agternakyk en hy sleep só,”sê Eileen, “so dit het so baie vir my beteken toe hy manalleen vir my breakfast maak.”

Hoewel hy nog nie praat soos voorheen nie, gee hy deesdae Bybelkunde by die plaaslike skool en preek ook gereeld by tent-kerke.

“Ek was dood, maar ek het ’n tweede kans gekry om dinge reg te maak.”

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? LINKS: John raak emosioneel terwyl hy die gebeure van daardie aand herroep. BO: Die letsels aan sy lyf getuig van die aanranding en SUV wat oor hom gery het. REGS ONDER: Hier is hy en sy vrou, Shané.
LINKS: John raak emosioneel terwyl hy die gebeure van daardie aand herroep. BO: Die letsels aan sy lyf getuig van die aanranding en SUV wat oor hom gery het. REGS ONDER: Hier is hy en sy vrou, Shané.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa