Kuier

INSPIRASIE:

Ná ’n brand moes sy help om stukke van haar uncle se lyk op te tel en daarna was sy vasbeslote om te sorg dat niemand ooit weer deur dieselfde trauma hoef te gaan nie.

- DEUR Elmarine Anthony

Vrou word brandbestr­yder om ander te help ná haar oom doodbrand

Sy moes een aand hulpeloos toekyk hoe haar uncle in sy sinkhut doodbrand. Die volgende dag het Deidré Dowries (53) en ander familieled­e nog stukke van sy lyk in die puin opgetel.

Ná hierdie traumaties­e aand, het Deidré haarself ’n doelwit gestel om ’n brandbestr­yder te word en lewens te red. Vandag is sy die enigste vroulike stasie-offisier in die Weskus-distrik.

In ’n kantoor by die Stellenbos­chbrandwee­rstasie, waar haar suksesvoll­e loopbaan byna 21 jaar gelede begin het, neem Deidré ons terug na die aand wat haar lewe vir altyd verander het.

Dit was ’n Woensdag in September 1994. Sy en haar ouers het uit die biduur gekom. Sy het skaars gelê toe haar antie aan hul deur klop en sê hul huis is aan die brand en haar uncle Anton is in die huis. In daardie tyd het die dorpie waarvan Deidré oorspronkl­ik is, Kylemore buite Stellenbos­ch, nog onder die verste van die twee brandweers­tasies in Stellenbos­ch geval en het die brandweer dus ’n bietjie lank gevat. “Dit was 1994 so daai tyd was daar nog sinkstrukt­ure. Ons kon nie ingaan nie. Die huis was well alight. Ons kon net kyk,” vertel Deidré terwyl sy haar kop skud.

“Dit was afgryslik, want die volgende oggend het ons gaan kyk en ons het nog dele van sy liggaam daar opgetel.”Deidré glimlag vir ’n kort rukkie, terwyl sy “iets besonders”onthou oor daardie dag.

“Wat die snaaksste van alles was, sy ID-boekie het gebrand, maar jy kon sy geboorteda­tum sien en sy ID-nommer het nie heeltemal gebrand nie. En dít nadat die huis heeltemal plat was en hy heeltemal verkool was. Dit was vir my iets besonders. Dít onthou ek soos daglig.”

Deidré het haar hartseer geneem en dit in ’n doelwit omskep om mense te help.

In 1996 op die ouderdom van 32, het sy as leerlingbr­andbestryd­er in Stellenbos­ch begin nadat die pos geadvertee­r is. Dít nadat sy vir jare ná matriek loswerkies gedoen het. Sy was die enigste vrou in haar groep om die fisiese assesserin­g klaar te maak. In daardie tyd was daar baie min vroue in die brandweer en slegs sewe vroue uit omtrent 120 rekrute het deur- gedring toe Deidré dit doen. Voorts was sy slegs een van vier vroue wat in 1996 by Stellenbos­ch-brandweers­tasie begin het.

Boonop was sy en nóg twee vroue die eerste en enigste mense van kleur by die stasie.

“Dit het natuurlik al baie verander, maar in daardie tyd het hulle vir ons ál die vuil jobs gegee. Ons skoonmaakp­ligte het die offisiere se kantore ingesluit en ons moes vir hulle koffie maak. Ons moes ook al die toilets skoonmaak en ek sê vir jou, lyk my daar was sommiges wat pille gedrink het sodat hulle die hele wêreld kon bemors.”

SY byt vas

Deidré het egter nie laat dit haar onderkry nie.“Ek het altyd vir hulle gesê, werk gaan nie vir my doodmaak nie. As ek die geleenthei­d kry, gaan ek bo julle wees.”

En dit het so gebeur. Tussen 1996 en 2008, het sy vier range geklim en in die jaar 2000 was sy slegs die tweede vrou in die Wes-Kaap om ’n diploma in brandtegno­logie te verwerf“om haarself toe te rus”.

“Ek het vir myself ’n doelwit gestel. Toe

ek in graad 7 was, het my onderwyser wat oorlede is, George Hector, gesê:‘Live with an aim and let that aim be high’. Dít het ek saam my gevat vir die res van my lewe. Ek wou die kwaliteit van my lewe verander en verhoog. Daai man (George) het jou geklap. Daai klappe het my goed gedoen,” lag Deidré.

Ná 12 jaar by Stellenbos­ch-brandweers­tasie, het Deidré in Januarie 2009 as stasie-offisier by Vredenburg-brandweers­tasie begin. Toe sy in Stellenbos­ch gewerk het, kon sy dit nie meer vat om altyd te wonder as daar ’n noodgeval is, dat dit iemand sal wees wat sy ken nie.“As ek hier was en hulle sê daar was ’n ongeluk, dan sit jy in die lorrie en jou knieë bewe, want watter bekende is dit nou? Jou hele familie en vriende bly hier.”

Haar werk as stasie-offisier kom met baie uitdagings en mense se lewens hang soms af van die besluite wat sy maak.

“Daar is soms situasies waar ons moet onttrek as ek voel my mense is nie veilig nie. Jy kan nie vir iemand se vrou of man gaan sê,‘jou vrou of man het hul lewe verloor’nie. Jy moet soms kies: Óf jy gaan jou mense verloor, óf jy gaan daai brand uitsit (blus). Dis belangrik dat ek my mense se lewens beskerm,”verduideli­k Deidré.

Asof dít nie uitdagend genoeg is nie, wil mense soms nie die brandweer se hulp hê nie en word hulle soms aangeval.

Sy vertel van ’n aanval drie jaar gelede by ’n informele nedersetti­ng in Saldanha.

“Toe ek nog inkom, toe kom daai manne uit en toe reën dit klippe. Dit was net die Here se genade dat niemand in die lorrie seergekry het nie.”

Deidré voel sulke aanvalle is ongevraagd. Die mense was besig met ’n boendoehof (mob justice) en wou nie hê die brandweer moes die brand blus nie.

“Dit is nie reg nie. Laat ons egter daar staan, want as daar iets fout loop, sê hulle môre die brandweer was nie daar nie. Dis nie nodig om ons met klippe te gooi nie,” sê Deidré ’n bietjie ontstoke.

DIE TRAUMA

Ná 21 jaar raak die trauma wat met dié werk gepaardgaa­n, nie maklik nie. Sy sê ’n mens word nooit gewoond aan mense wat doodgaan nie.

“Jou gestel moet sterk wees en jou mindset moet reg wees. Jy moet aangaan met jou werk en jou emosies onder beheer hou. Dis nie altyd maklik nie, veral wanneer daar kinders betrokke is,”vertel Deidré.

Sy onthou ’n motorongel­uk ’n tyd terug toe sy op bystand was vir Piketberg. In een van die motors was die ouers en twee kinders van ses en agt jaar oud. Albei kinders was oorlede omdat hulle nie veiligheid­sgordels aangehad het nie. Die vrou was bewusteloo­s, maar die man was wakker en wou weet oor sy kinders.

“Ons het net die kinders toegegooi. Dis altyd emosioneel wanneer daar kinders betrokke is. Ons kon nie vir daai man sê sy kinders is dood terwyl ons hom moet uitsny nie. Die eerste ding wat hy gevra het is,‘waar is my kinders?‘Nee meneer, jou kinders is alright,’moes ons maar vir hom sê. Jy moet maar lieg. Jy het nie ’n ander keuse nie”.

Sy moes ook al een van haar kollegas aan die dood afstaan. Hy het by die toring by die werk geabseil en iets het verkeerd geloop. Hy het ’n week ná die ongeluk op haar verjaardag gesterf.“Dit was baie traumaties, want ons was aan diens.”

Deidré, die middelste kind van sewe kinders, verwerk die trauma deur met haar familie te praat. Sy gaan kuier elke tweede naweek op Kylemore.

“Ek het baie familie. As ek die naweek huis toe kom, dan praat ek maar.”

Sy beskryf haarself as ’n“lone ranger” omdat sy nie getroud is of kinders het nie.

Sy het gewoonlik op staptogte gegaan om te ontspan of by die see gaan sit. Deesdae kuier sy by familie, want sy het “genoeg in die berg geloop,”skerts sy.

Deidré geniet dit vreeslik om oor haar werk te praat. Haar passie om mense te help, brand nog net so sterk soos 21 jaar gelede.

 ??  ??
 ??  ?? HOOFFOTO: Deidré Dowries staan trots in haar uniform. BO: Sy en ’n voormalige kollega, Marc Rodgers, kyk na toerusting op die brandweerw­a. REGS: Deidré wys haar slag.
HOOFFOTO: Deidré Dowries staan trots in haar uniform. BO: Sy en ’n voormalige kollega, Marc Rodgers, kyk na toerusting op die brandweerw­a. REGS: Deidré wys haar slag.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa